Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • rs bl. 298-bl. 304
  • Neutraliteit

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Neutraliteit
  • Redenering uit die Skrif
  • Soortgelyke materiaal
  • “Hulle is geen deel van die wêreld nie”
    Jehovah se Getuies—Verkondigers van God se Koninkryk
  • “Redding behoort aan Jehovah”
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2002
  • Hoekom kies Jehovah se Getuies om nie deel te neem aan nasionalistiese seremonies nie?
    Algemene vrae oor Jehovah se Getuies
  • “Hulle is geen deel van die wêreld nie”
    Aanbid die enigste ware God
Sien nog
Redenering uit die Skrif
rs bl. 298-bl. 304

Neutraliteit

Definisie: Die posisie van diegene wat nie kant kies vir of hulle steun gee aan enige van twee of meer strydende partye nie. Dit is ’n feit van eertydse en eietydse geskiedenis dat ware Christene in elke nasie en onder alle omstandighede probeer het om algehele neutraliteit te handhaaf ten opsigte van botsings tussen faksies van die wêreld. Hulle bemoei hulle nie met ander as dié aan patriotiese seremonies wil deelneem, in die weermag wil dien, by ’n politieke party wil aansluit, hulle vir ’n politieke amp verkiesbaar wil stel of wil stem nie. Maar self dien hulle slegs Jehovah, die God van die Bybel; hulle het hulle lewens onvoorwaardelik aan hom toegewy en gee hulle volle steun aan sy Koninkryk.

Watter tekste beïnvloed Christene se gesindheid teenoor die gesag van sekulêre regerings?

Rom. 13:1, 5, 7: “Laat elke mens hom onderwerp aan die magte wat oor hom gestel is [“owerhede”, NAV; “hoëre owerhede”, NW], want daar is geen mag behalwe van God nie . . . Daarom is dit noodsaaklik om jou te onderwerp, nie alleen ter wille van die straf nie, maar ter wille van die gewete. . . . Betaal dan aan almal wat aan hulle verskuldig is: belasting aan die wat belasting, tol aan die wat tol, vrees aan die wat vrees, eer aan die wat eer toekom.” (Geen regering kan sonder God se toestemming bestaan nie. Ten spyte van die gedrag van individuele amptenare betoon ware Christene eerbied aan hulle vanweë die amp wat hulle beklee. Aanbidders van Jehovah betaal byvoorbeeld belastings eerlik in ruil vir die dienste waarby enigeen baat kan vind, ongeag wat regerings met die belastinggeld doen.)

Mark. 12:17: “Jesus . . . sê vir hulle: Betaal aan die keiser wat die keiser toekom, en aan God wat God toekom.” (Christene het dus nog altyd besef dat hulle nie alleen geld in die vorm van belasting aan die sekulêre regering moet “betaal” nie, maar ook hulle verhewener verpligtinge teenoor God moet nakom.)

Hand. 5:27-29: “[’n Woordvoerder vir die Joodse Hoë Raad] het hulle gevra en gesê: Het ons julle [die apostels] nie uitdruklik verbied om in dié Naam [van Jesus Christus] te leer nie? En kyk, julle het Jerusalem met julle leer vervul; en julle wil die bloed van hierdie Man op ons bring. En Petrus en die apostels antwoord en sê: Ons moet aan God meer gehoorsaam wees as aan die mense.” (Wanneer die gebooie van menseheersers regstreeks bots met die vereistes van God, volg ware Christene die voorbeeld van die apostels deur gehoorsaamheid aan God eerste te stel.)

Watter tekste het nog altyd ware Christene se gesindheid teenoor deelname aan vleeslike oorlogvoering beïnvloed?

Matt. 26:52: “Toe sê Jesus vir hom: Sit jou swaard in sy plek terug; want almal wat die swaard neem, sal deur die swaard vergaan.” (Kon daar ooit ’n belangriker saak wees om voor te veg as om die Seun van God te beskerm? Tog het Jesus hier getoon dat daardie dissipels hulle nie tot die wapens van fisiese oorlogvoering moes wend nie.)

Jes. 2:2-4: “Aan die einde van die dae sal die berg van die huis van die HERE vasstaan op die top van die berge . . . En Hy sal oordeel tussen die nasies en regspreek oor baie volke; en hulle sal van hul swaarde pikke smee en van hul spiese snoeimesse; nie meer sal nasie teen nasie die swaard ophef nie, en hulle sal nie meer leer om oorlog te voer nie.” (Individue uit alle nasies moet persoonlik besluit watter weg hulle wil bewandel. Diegene wat op Jehovah se oordeel ag slaan, gee blyk dat hy hulle God is.)

2 Kor. 10:3, 4: “Hoewel ons in die vlees wandel, voer ons die stryd nie volgens die vlees nie; want die wapens van ons stryd is nie vleeslik nie, maar kragtig deur God om vestings neer te werp.” (Paulus sê hier dat hy nooit van vleeslike wapens soos bedrog, hoogdrawende taal of krygstuig gebruik gemaak het om die gemeente teen valse leerstellings te beskerm nie.)

Luk. 6:27, 28: “Ek [Jesus Christus] sê vir julle wat luister: Julle moet jul vyande liefhê en goed doen aan die wat vir julle haat. Seën die wat vir julle vervloek, en bid vir die wat julle beledig.”

Het Jehovah dan nie eertydse Israel toegelaat om oorlog te voer nie?

Jehovah het eertydse Israel beveel om oorlogvoering te gebruik om die land in besit te neem wat hy as hulle erfenis aangedui het en om volke tereg te stel wie se verdorwe gebruike en trotsering van die ware God meegebring het dat Jehovah hulle beskou het as mense wat nie langer verdien om te lewe nie (Deut. 7:1, 2, 5; 9:5; Lev. 18:24, 25). Barmhartigheid is nietemin aan Ragab en aan die Gibeoniete betoon omdat hulle geloof in Jehovah getoon het (Jos. 2:9-13; 9:24-27). In die Wetsverbond het God reëls neergelê vir oorlogvoering wat hy sou goedkeur; hy het uitsonderings vasgestel en bepaal hoe hierdie oorlogvoering moes geskied. Dit was waarlik heilige oorloë van Jehovah. Dit geld nie vir die vleeslike oorlogvoering van enige hedendaagse nasie nie.

Met die totstandkoming van die Christengemeente het ’n nuwe situasie ontstaan. Christene is nie onder die Mosaïese Wet nie. Christus se volgelinge moes dissipels van die mense van alle nasies maak; mettertyd sou daar dus aanbidders van die ware God in al daardie nasies wees. Maar wat is die beweegrede van daardie nasies wanneer hulle oorlog voer? Is dit om die wil van die Skepper van die ganse aarde te doen, of is dit om volksbelange te bevorder? Indien ware Christene in een nasie teen ’n ander nasie oorlog sou voer, sou hulle teen medegelowiges veg, teen mense wat tot dieselfde God as hulle om hulp gebid het. Christus het sy volgelinge gepas beveel om die swaard neer te lê (Matt. 26:52). Hyself, wat nou in die hemele verheerlik is, sou voortaan diegene teregstel wat die ware God en Sy wil trotseer.—2 Thess. 1:6-8; Openb. 19:11-21.

Wat openbaar die sekulêre geskiedenis oor die gesindheid van die vroeë Christene ten opsigte van krygsdiens?

“’n Noukeurige hersiening van al die beskikbare informasie toon dat geen Christen tot op die tyd van Marcus Aurelius [Romeinse keiser van 161 tot 180 G.J.] ’n soldaat geword het nie; en dat geen soldaat, nadat hy ’n Christen geword het, in krygsdiens gebly het nie.”—The Rise of Christianity (Londen, 1947), E. W. Barnes, bl. 333.

“Ons, wat sat was van oorlog, van wedersydse slagting en elke boosheid, het elkeen oor die hele aarde ons oorlogswapens omgeskep—ons swaarde in ploegskare, en ons spiese in landbougereedskap—en ons kweek vroomheid, geregtigheid, menseliefde, geloof en hoop aan, wat ons van die Vader self ontvang deur Hom wat gekruisig is.”—Justinus Martyr in “Dialoog met Trifo, ’n Jood” (2de eeu G.J.), The Ante-Nicene Fathers (Grand Rapids, Mich.; herdruk van die Edinburgse uitgawe van 1885), geredigeer deur A. Roberts en J. Donaldson, Dl. I, bl. 254.

“Hulle het geweier om enige aktiewe deelname te hê aan die burgerlike administrasie of die militêre verdediging van die ryk. . . . dit was vir die Christene onmoontlik om die rol van soldate, van magistrate, of van vorste aan te neem sonder om ’n heiliger plig te verloën.”—History of Christianity (New York, 1891), Edward Gibbon, bl. 162, 163.

Watter tekste het nog altyd ware Christene se gesindheid teenoor betrokkenheid by politieke geskille en bedrywighede beïnvloed?

Joh. 17:16: “Hulle is nie van die wêreld nie, net soos Ek [Jesus] nie van die wêreld is nie.”

Joh. 6:15: “Toe Jesus merk dat hulle [die Jode] wou kom en Hom met geweld neem om Hom koning te maak, het Hy weer weggegaan na die berg, Hy alleen.” Later het hy vir die Romeinse goewerneur gesê: “My koninkryk is nie van hierdie wêreld nie; as my koninkryk van hierdie wêreld was, sou my dienaars geveg het, dat Ek nie aan die Jode oorgelewer word nie. Maar nou is my koninkryk nie van hier nie.”—Joh. 18:36.

Jak. 4:4: “Egbrekers en egbreeksters, weet julle nie dat die vriendskap van die wêreld vyandskap teen God is nie? Wie dan ’n vriend van die wêreld wil wees, word ’n vyand van God.” (Waarom is die saak so ernstig? Omdat “die hele wêreld”, volgens 1 Johannes 5:19, “in die mag van die Bose lê”. In Johannes 14:30 het Jesus Satan “die owerste van hierdie wêreld” genoem. Onder wie se beheer sal ’n persoon dan werklik beland as hy enige wêreldlike faksie hoegenaamd ondersteun?)

Wat sê sekulêre geskiedskrywers oor die vroeë Christene se gesindheid teenoor betrokkenheid by die politiek?

“Die vroeë Christendom is weinig verstaan en is met min guns bejeën deur diegene wat oor die heidense wêreld geheers het. . . . Die Christene het geweier om sekere pligte van Romeinse burgers na te kom. . . . Hulle wou geen politieke amp beklee nie.”—On the Road to Civilization, A World History (Philadelphia, 1937), A. Heckel en J. Sigman, bl. 237, 238.

“Die Christene was afsydig teenoor en afgeskeie van die staat, soos ’n priesterlike en geestelike ras, en daar moet toegegee word dat die Christelike godsdiens die burgerlike lewe oënskynlik slegs op die suiwerste wyse kon beïnvloed, deur daadwerklik daarna te streef om al hoe meer vroomheid by die burgers van die staat in te skerp.”—The History of the Christian Religion and Church, During the Three First Centuries (New York, 1848), Augustus Neander, uit Duits in Engels vertaal deur H. J. Rose, bl. 168.

Watter tekste het nog altyd ware Christene se gesindheid teenoor seremonies waar vlae gehys en volksliedere gesing word, beïnvloed?

1 Kor. 10:14: “Vlug vir die afgodediens.” (Ook Exodus 20:4, 5)

1 Joh. 5:21: “My kinders, bewaar julleself van die afgode.”

Luk. 4:8, NAV: “Daarop antwoord Jesus: ‘Daar staan geskrywe: Die Here jou God moet jy aanbid en Hom alleen dien.’”

Kyk ook Daniël 3:1-28.

Het sulke patriotiese simbole en seremonies werklik godsdienstige betekenis?

“[Geskiedskrywer] Carlton Hayes het lank gelede daarop gewys dat die ritus van vlagaanbidding en eedaflegging in ’n Amerikaanse skool ’n godsdiensgebruik is. . . . En in ’n reeks sake het die Appèlhof eindelik bevestig dat hierdie daaglikse ritusse godsdienstig van aard is.”—The American Character (New York, 1956), D. W. Brogan, bl. 163, 164.

“Vroeë vlae was feitlik uitsluitlik godsdienstig van aard . . . Die eeuelange volksbanier van Engeland—die rooi kruis van Sint Joris—was ’n godsdienstige; trouens, dit wil voorkom of die hulp van godsdiens immer ingeroep is om heiligheid aan landsvlae te verleen, en die oorsprong van baie kan teruggevoer word tot ’n heilige banier.”—Encyclopædia Britannica (1946), Dl. 9, bl. 343.

“In ’n openbare seremonie onder die voorsitterskap van die vise-president van die [Militêre Hooggeregs]hof op 19 November is die Brasiliaanse vlag vereer. . . . Nadat die vlag gehys is, het die Minister-Generaal van die leër, Tristao de Alencar Araripe, homself soos volg oor die viering uitgespreek: ‘ . . . vlae het ’n godheid van patriotiese godsdiens geword wat aanbidding oplê . . . Die vlag word vereer en aanbid . . . Die vlag word aanbid, net soos die Vaderland aanbid word.’”—Diario da Justiça (Federale hoofstad, Brasilië), 16 Februarie 1956, bl. 1906.

Wat sê die sekulêre geskiedenis oor die vroeë Christene se gesindheid teenoor patriotiese seremonies?

“Christene het geweier om . . . offerandes aan die keiser te bring—min of meer dieselfde as om vandag te weier om die vlag te salueer of die eed van getrouheid af te lê. . . . Baie min Christene het van hulle geloof afstand gedoen, hoewel daar gewoonlik ’n altaar met vuur daarop vir hulle gerief in die arena gehou is. Al wat ’n gevangene moes doen, was om ’n knippie reukwerk op die vlam te strooi en dan is daar ’n Offersertifikaat aan hom gegee en is hy vrygelaat. Daar is ook noukeurig aan hom verduidelik dat hy nie die keiser aanbid nie; bloot die goddelike karakter van die keiser as hoof van die Romeinse staat erken. Nogtans het byna geen Christene gebruik gemaak van die geleentheid om te ontkom nie.”—Those About to Die (New York, 1958), D. P. Mannix, bl. 135, 137.

“Die daad van keiseraanbidding het daaruit bestaan om ’n knippie reukwerk of ’n paar druppels wyn te sprinkel op ’n altaar wat voor ’n beeld van die keiser gestaan het. Omdat ons so ver van daardie situasie verwyder is, sien ons moontlik geen verskil tussen daardie daad . . . en die oplig van die hand om die vlag of ’n vername heerser van die staat te salueer nie—’n blyk van hoflikheid, eerbied en patriotisme. Baie mense in die eerste eeu het die saak moontlik net so beskou, maar nie die Christene nie. Hulle het die hele saak as een van godsdiensaanbidding beskou waarin die keiser as ’n god erken is en gevolglik as ontrouheid teenoor God en Christus, en hulle het geweier om dit te doen.”—The Beginnings of the Christian Religion (New Haven, Conn.; 1958), M. F. Eller, bl. 208, 209.

Beteken die neutraliteit van Christene dat hulle nie in die welsyn van hulle naaste belangstel nie?

Beslis nie. Hulle is deeglik vertroud met die volgende gebod wat deur Jesus herhaal is, en probeer pligsgetrou om dit toe te pas: “Jy moet jou naaste liefhê soos jouself” (Matt. 22:39). Ook die raad wat deur die apostel Paulus opgeteken is: “Laat ons dan . . . aan almal goed doen, maar die meeste aan die huisgenote van die geloof” (Gal. 6:10). Hulle is daarvan oortuig dat hulle hul naaste geen groter weldaad kan bewys as om die goeie nuus van God se Koninkryk aan hulle te verkondig nie, want daardie Koninkryk sal die probleme waarmee die mensdom te kampe het permanent oplos en sal diegene wat dit aanneem die wonderlike vooruitsig gee om vir ewig te lewe.

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel