Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • hb bl. 22-26
  • Die Bloed wat werklik lewens red

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Die Bloed wat werklik lewens red
  • Hoe kan bloed jou lewe red?
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • DIE ENIGSTE BLOED WAT LEWENSREDDEND IS
  • GENIET DIE LEWE WAT DEUR BLOED GERED WORD
  • Red jou lewe met bloed—Hoe?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1991
  • Heg die regte waarde aan jou gawe van lewe
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2004
  • Waardeer die heiligheid van lewe en bloed
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1978
  • Vasbeslote wat lewe en bloed betref
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1978
Sien nog
Hoe kan bloed jou lewe red?
hb bl. 22-26

Die Bloed wat werklik lewens red

Sekere punte is duidelik uit die voorgaande inligting. Hoewel baie mense bloedoortappings as lewensreddend beskou, hou dit baie gevare in. Elke jaar sterf duisende as gevolg van oortappings; ’n menigte ander word baie siek en ondervind langtermyngevolge. Selfs uit ’n fisiese oogpunt is dit dus vandag verstandig om ag te slaan op die Bybel se opdrag om jou te ‘onthou van bloed’.—Handelinge 15:28, 29.

Pasiënte word teen baie gevare beskerm as hulle bloedlose mediese behandeling aanvra. Bekwame geneeshere wat die uitdaging aanvaar het om hierdie soort behandeling op Jehovah se Getuies toe te pas, het ’n behandelingswyse ontwikkel wat veilig en doeltreffend is, soos talle mediese verslae toon. Geneeshere wat kwaliteitsbehandeling sonder bloed gee, boet nie kosbare mediese beginsels in nie. Hulle toon eerder agting vir ’n pasiënt se reg om kennis te dra van risiko’s en voordele sodat hy ’n oorwoë keuse kan maak ten opsigte van wat aan sy liggaam en lewe gedoen gaan word.

Ons is nie naïef wat hierdie saak betref nie, want ons besef dat nie almal met hierdie beskouing sal saamstem nie. Mense verskil ten opsigte van hulle gewete, sedelike norme en mediese beskouing. Ander, waaronder sommige dokters, sal dit dus moeilik vind om ’n pasiënt se besluit te aanvaar om hom van bloed te onthou. Een chirurg van New York het geskryf: “Ek sal nooit vergeet hoe ek, as ’n jong intern, 15 jaar gelede langs die bed van een van Jehovah se Getuies gestaan het wat hom weens ’n duodenumseer doodgebloei het nie. Die pasiënt se wense is gerespekteer en geen oortappings is toegedien nie, maar ek kan nog onthou hoe vreeslik gefrustreerd ek toe as geneesheer gevoel het.”

Hy het ongetwyfeld geglo dat bloed lewensreddend sou wees. Die jaar nadat hy dit geskryf het, het The British Journal of Surgery (Oktober 1986) egter berig dat maagdermbloeding voor die gebruik van oortappings “’n sterftesyfer van net 2,5 persent” gehad het. Sedert oortappings algemeen geword het, ‘berig die meeste groot studies ’n sterftesyfer van 10 persent’. Waarom ’n sterftesyfer wat vier maal so hoog is? Die navorsers het beweer: “Dit wil voorkom of ’n vroeë bloedoortapping die hiperstollingsreaksie op bloeding belemmer en sodoende herbloeding bevorder.” Toe die Getuie met die bloeiende seer bloed geweier het, kon sy keuse in werklikheid sy kanse op oorlewing vergroot het.

Hierdie selfde chirurg het bygevoeg: “Die verloop van tyd en die behandeling van talle pasiënte is geneig om ’n mens se perspektief te verander, en vandag vind ek dat die vertroue tussen ’n pasiënt en sy geneesheer en die plig om ’n pasiënt se wense te respekteer baie belangriker is as die nuwe mediese tegnologie wat ons omring. . . . Dit [is] interessant dat die frustrasie nou plek gemaak het vir ontsag en eerbied vir daardie betrokke pasiënt se onwrikbare geloof.” Die geneesheer het afgesluit: ‘Dit herinner my daaraan dat ek altyd ’n pasiënt se persoonlike en godsdienstige wense moet respekteer, afgesien van my gevoelens of die gevolge.’

Jy besef moontlik reeds iets wat baie geneeshere na “verloop van tyd en die behandeling van talle pasiënte” begin besef. Selfs met die beste mediese behandeling in die beste hospitale sterf mense vroeër of later. Hulle sterf, met of sonder bloedoortappings. Ons almal word oud, en die einde van die lewe kom nader. Dit is nie fatalisties nie. Dit is realisties. Dit is ’n lewensfeit dat mense doodgaan.

Die gegewens toon dat mense wat God se wet op bloed veronagsaam dikwels onmiddellik of later benadeel word; sommige sterf selfs van die bloed. Diegene wat nie sterf nie, het nie eindelose lewe verkry nie. Bloedoortappings red hulle lewe dus nie permanent nie.

Die meeste mense wat, om godsdiens- en/of mediese redes, bloed weier maar alternatiewe mediese terapie aanvaar, vaar baie goed. Hulle kan hulle lewe sodoende met jare verleng. Maar nie eindeloos nie.

Die feit dat alle mense onvolmaak is en mettertyd doodgaan, bring ons by die sentrale waarheid oor wat die Bybel omtrent bloed sê. As ons hierdie waarheid verstaan en waardeer, sal ons sien hoe bloed in werklikheid lewe—ons lewe—kan red, en dit vir ewig.

DIE ENIGSTE BLOED WAT LEWENSREDDEND IS

Soos vroeër genoem is, het God vir die hele mensdom gesê dat hulle nie bloed mag eet nie. Waarom nie? Omdat bloed lewe verteenwoordig (Genesis 9:3-6). Hy het dit verder verduidelik in die Wet wat aan Israel gegee is. Ten tyde van die bekragtiging van die Wet is die bloed van geofferde diere op ’n altaar gebruik (Exodus 24:3-8). Van die afsonderlike wette het aandag geskenk aan die feit dat alle mense onvolmaak is; hulle is sondig, soos die Bybel dit stel. God het vir die Israeliete gesê dat hulle kon toon dat hulle versoening vir hulle sondes nodig het deur diere aan hom te offer (Levitikus 4:4-7, 13-18, 22-30). Dit is weliswaar wat God op daardie tydstip van hulle verlang het en nie wat hy vandag van ware aanbidders verlang nie. Tog is dit nou vir ons van groot belang.

God self het verduidelik op watter beginsel daardie offers berus het: “Die siel [of, lewe] van die vlees is in die bloed, en Ek het dit aan julle op die altaar gegee om vir julle siele versoening te doen; want die bloed bewerk versoening deur die siel. Daarom het Ek aan die kinders van Israel gesê: Niemand van julle mag bloed eet nie.”—Levitikus 17:11, 12.

Op die eertydse feesdag wat die Versoendag genoem is, het Israel se hoëpriester bloed van geofferde diere in die heiligste deel van die tempel ingeneem, die middelpunt van God se aanbidding. Dit was ’n simboliese manier om God te vra om die mense se sondes te vergewe (Levitikus 16:3-6, 11-16). Daardie offers het nie werklik alle sonde weggeneem nie en moes dus elke jaar herhaal word. Hierdie gebruik van bloed het nietemin ’n betekenisvolle patroon vasgestel.

’n Belangrike leerstelling in die Bybel is dat God uiteindelik een volmaakte offer sou voorsien wat ten volle versoening kon doen vir die sondes van alle gelowiges. Dit word die losprys genoem, en dit behels die offer van die voorspelde Messias, of Christus.

Die Bybel vergelyk die Messias se rol met wat op die Versoendag gebeur het: “Christus, wat opgetree het as Hoëpriester van die toekomstige weldade, het deur die groter en volmaakter [tempel] wat nie met hande gemaak is nie, . . . ook nie met die bloed van bokke en kalwers nie, maar met sy eie bloed, een maal ingegaan in die heiligdom [hemel] en ’n ewige verlossing teweeggebring. En byna alles word met bloed gereinig volgens die wet, en sonder bloedvergieting vind daar geen vergifnis plaas nie.”—Hebreërs 9:11, 12, 22.

Dit word derhalwe duidelik waarom ons God se beskouing oor bloed moet hê. Ooreenkomstig sy reg as Skepper het hy die eksklusiewe gebruik daarvan bepaal. Die eertydse Israeliete het moontlik gesondheidsvoordele geniet omdat hulle nie diere- of mensebloed ingeneem het nie, maar dit was nie die belangrikste rede nie (Jesaja 48:17, NW). Hulle mag nie hulle lewe met bloed onderhou het nie, nie omdat dit ongesond was nie, maar hoofsaaklik omdat dit vir God onheilig was. Hulle moes hulle onthou van bloed, nie omdat dit besoedel was nie, maar omdat dit kosbaar was om vergifnis te verkry.

Die apostel Paulus het die volgende oor die losprys verduidelik: “In Hom [Christus] het ons die verlossing deur sy bloed, die vergifnis van die misdade na die rykdom van sy genade” (Efesiërs 1:7). Die oorspronklike Griekse woord wat daar aangetref word, word korrek met “bloed” vertaal, maar ’n aantal Bybelvertalings begaan ’n fout deur dit met die woord “dood” te vervang. Die klem op ons Skepper se beskouing van bloed en die offerwaarde wat hy daarmee in verband gebring het, kan lesers dus ontgaan.

Die Bybel se tema draai om die feit dat Christus as ’n volmaakte losprysoffer gesterf het, maar dat hy nie dood gebly het nie. Volgens die patroon wat God op die Versoendag vasgestel het, is Jesus tot hemelse lewe opgewek om “voor die aangesig van God vir ons te verskyn”. Hy het daar die waarde van sy offerbloed aangebied (Hebreërs 9:24). Die Bybel beklemtoon dat ons enige weg moet vermy wat daarop sal neerkom dat ons ‘die Seun van God vertrap en sy bloed as van gewone waarde ag’. Dit is die enigste manier waarop ons ’n goeie verhouding en vrede met God kan geniet.—Hebreërs 10:29, NW; Kolossense 1:20.

GENIET DIE LEWE WAT DEUR BLOED GERED WORD

Wanneer ons verstaan wat God oor bloed sê, kry ons die grootste respek vir die lewensreddende waarde daarvan. Die Skrif beskryf Christus as die een wat “ons liefgehad het en ons van ons sondes gewas het in sy bloed” (Openbaring 1:5; Johannes 3:16). Ja, deur middel van Jesus se bloed kan ons algehele en blywende vergifnis van ons sondes verkry. Die apostel Paulus het geskryf: “Nou dat ons geregverdig is in sy bloed, [sal ons] deur Hom gered word van die toorn.” Dit is hoe lewe vir ewig deur bloed gered kan word.—Romeine 5:9; Hebreërs 9:14.

Jehovah God het lank gelede die versekering gegee dat ‘al die nasies van die aarde hulle kan seën’ deur middel van Christus (Genesis 22:18, NW). Daardie seën sluit in dat die aarde weer tot ’n paradys herstel word. Dan sal die gelowige mensdom nie meer deur siekte, veroudering of selfs die dood geteister word nie; hulle sal seëninge geniet wat die tydelike hulp wat medici ons nou kan bied ver oortref. Ons het hierdie wonderlike belofte: “God sal al die trane van hulle oë afvee, en daar sal geen dood meer wees nie; ook droefheid en geween en moeite sal daar nie meer wees nie, want die eerste dinge het verbygegaan.”—Openbaring 21:4.

Hoe verstandig is dit dan tog vir ons om al God se vereistes ter harte te neem! Dit sluit in dat ons sy gebooie oor bloed gehoorsaam en dit nie eers in mediese situasies misbruik nie. Sodoende sal ons nie net vir vandag lewe nie. Ons sal eerder ons hoë agting toon vir lewe, met inbegrip van ons toekomstige vooruitsig op ewige lewe as volmaakte mense.

[Venster op bladsy 25]

God se volk het geweier om hulle lewe met bloed te onderhou, nie omdat dit ongesond was nie, maar omdat dit onheilig was, nie omdat bloed besoedel was nie, maar omdat dit kosbaar was.

[Prent op bladsy 24]

“In Hom [Jesus] het ons die verlossing deur sy bloed, die vergifnis van die misdade.”—Efesiërs 1:7

[Prent op bladsy 26]

Die redding van lewe deur middel van Jesus se bloed open die weg tot eindelose, gesonde lewe in ’n aardse paradys

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel