Hoofstuk 11
Hoe dit gekom het dat ons as Jehovah se Getuies bekend staan
GEDURENDE die vroeë dekades van hulle hedendaagse geskiedenis is daar dikwels van hulle net as Bybelstudente gepraat. Wanneer ander gevra het wat die naam van die organisasie is, het ons broers dikwels geantwoord: “Ons is Christene.” Broer Russell het in antwoord op so ’n vraag in Die Wagtoring (Engelse uitgawe) gesê: “Ons sonder ons nie van ander Christene af deur ’n onderskeidende of persoonlike naam aan te neem nie. Ons is tevrede met die naam Christen, waaronder die vroeë heiliges bekend gestaan het.”—September 1888.
Hoe het dit dan gekom dat ons vandag as Jehovah se Getuies bekend staan?
Die naam Christen
Ware volgelinge van Jesus Christus het in die eerste eeu van hulleself en van medegelowiges as “die broeders”, “die vriende” en “die gemeente van God” gepraat, en hulle doen dit vandag nog (Hand. 11:29; 3 Joh. 15; 1 Kor. 1:2). Hulle het ook van Christus as “die Heer” gepraat en van hulleself as “diensknegte van Jesus Christus” en “diensknegte van God” (Kol. 3:24, NW; Filip. 1:1; 1 Pet. 2:16). Sulke benamings is vryelik in die gemeente gebruik, en almal het dit daar goed verstaan.
In die eerste eeu is daar van die leefwyse wat om geloof in Jesus Christus (en, by uitbreiding, om die gemeente self) gedraai het as “die Weg” gepraat (Hand. 9:2; 19:9). Verskeie vertalings van Handelinge 18:25 toon dat dit ook “die weg van Jehovah”,a genoem is. Daarenteen het sommige wat buite die gemeente was dit spottend “die sekte van die Nasareners” genoem.—Hand. 24:5.
Getroue volgelinge van Jesus Christus het teen 44 G.J., of nie lank daarna nie, as Christene begin bekend staan. Sommige sê dat dit buitestanders was wat hulle Christene genoem het en dat hulle dit op ’n kleinerende wyse gedoen het. Maar ’n aantal Bybelse leksikograwe en kommentators sê dat ’n werkwoord wat in Handelinge 11:26 gebruik word op Goddelike leiding of openbaring dui. Daardie teks lui dus soos volg in die New World Translation: “Dit is in Antiochië dat die dissipels die eerste keer deur Goddelike voorsienigheid Christene genoem is.” (Soortgelyke vertalings word gevind in Robert Young se Literal Translation of the Holy Bible, hersiene uitgawe van 1898; The Simple English Bible van 1981 en Hugo McCord se New Testament van 1988.) Die naam Christen was teen ongeveer 58 G.J. selfs aan Romeinse amptenare goed bekend.—Hand. 26:28.
Terwyl Christus se apostels nog gelewe het, was die naam Christen onderskeidend en spesifiek (1 Pet. 4:16). Almal wat bely het dat hulle Christene is, maar wie se leringe of gedrag hulle bewering weerspreek het, is uit die Christengemeenskap gesit. Maar soos Jesus voorspel het, het Satan ná die dood van die apostels saad gesaai wat naamchristene voortgebring het. Hierdie voorgewende Christene het ook die naam Christen gebruik (Matt. 13:24, 25, 37-39). Toe die afvallige Christelike godsdiens mense tot bekering begin dwing het, het sommige gesê dat hulle Christene is bloot om vervolging te vermy. Mettertyd is enige Europeër wat nie ’n Jood, ’n Moslem of ’n ateïs was nie dikwels as ’n Christen beskou, ongeag sy opvattinge of gedrag.
Neerhalende byname
Hierdie situasie het sedert die 16de eeu vir die Hervormers ’n probleem geskep. Hoe kon hulle hulle onderskei van ander wat beweer het dat hulle Christene is, aangesien die naam Christen so losweg gebruik is?
Hulle het hulle dikwels maar berus in die gebruik van ’n neerhalende bynaam wat deur hulle vyande aan hulle gegee is. Derhalwe was dit Martin Luther se teologiese teenstanders in Duitsland wat aanvanklik sy naam vir sy volgelinge gebruik en hulle Lutherane genoem het. Diegene wat met John Wesley in Engeland geassosieer het, is as Metodiste bestempel omdat hulle buitengewoon presies en metodies was in die nakoming van godsdienspligte. Die Baptiste het eers die bynaam Anabaptiste (wat “Herdopers” beteken) weerstaan, maar geleidelik die naam Baptiste as ’n soort kompromis aanvaar.
Wat van die Bybelstudente? Die geestelikes het hulle Russelliete en Rutherfordiete genoem. Maar so ’n naam sou sektariese verdeeldheid aangemoedig het. Dit sou strydig gewees het met die vermaning wat die apostel Paulus aan die vroeë Christene gegee het toe hy geskryf het: “Want as die een sê: Ek is van Paulus; en die ander: Ek van Apollos—is julle nie vleeslik [dit wil sê vleeslik in julle beskouing pleks van geestelik] nie?” (1 Kor. 3:4). Sommige mense het hulle “Millennial Dawnists” genoem; maar Christus se Duisendjarige Heerskappy was maar een van hulle leringe. Ander het hulle die “Wagtoring-mense” genoem; maar dit was ook nie gepas nie, want Die Wagtoring was maar een van die publikasies wat hulle gebruik het om Bybelwaarheid te versprei.
’n Naam was nodig waaraan hulle uitgeken kon word
Dit het mettertyd al hoe duideliker geword dat die gemeente van Jehovah se knegte benewens die naam Christene werklik ’n naam nodig gehad het waaraan hulle uitgeken kon word. Die naam Christen het ’n verwronge betekenis in die openbaar gekry omdat mense wat beweer het dat hulle Christene is dikwels min of geen idee gehad het wie Jesus Christus is, wat hy geleer het en wat hulle moet doen as hulle werklik sy volgelinge is nie. Namate ons broers se begrip van God se Woord verbeter het, het hulle ook duidelik gesien dat dit nodig is om afgeskeie van daardie godsdiensstelsels te wees wat wederregtelik beweer het dat hulle Christene is en om van hulle onderskei te word.
Ons broers het weliswaar dikwels van hulleself as Bybelstudente gepraat, en in 1910 het hulle begin om die naam Internasionale Bybelstudente-vereniging in verband met hulle vergaderinge te gebruik. In 1914 het hulle, om verwarring te voorkom met hulle wetlike korporasie wat as die Internasionale Bybelstudente-vereniging bekend gestaan het, die naam Geaffilieerde Bybelstudente vir hulle plaaslike groepe aangeneem. Maar hulle aanbidding het meer as ’n studie van die Bybel behels. Daarbenewens was daar ander wat ook die Bybel bestudeer het—sommige het dit toegewyd gedoen; ander het dit as kritici gedoen en baie het dit gedoen bloot omdat hulle dit as goeie literatuur beskou het. Toe, ná broer Russell se dood, het sommige van die vroeëre metgeselle geweier om met die Wagtoringgenootskap en die Internasionale Bybelstudente-vereniging saam te werk, en hulle het selfs die werk van hierdie genootskappe teëgestaan. Hierdie splintergroepies het ’n verskeidenheid name gebruik, en sommige van hulle het aan die naam Geaffilieerde Bybelstudente vasgeklou. Dit het verdere verwarring veroorsaak.
Maar toe, in 1931, het ons die waarlik onderskeidende naam Jehovah se Getuies aangeneem. Skrywer Chandler W. Sterling praat hiervan as “die grootste geniale idee” van J. F. Rutherford, wat destyds die Wagtoringgenootskap se president was. Daardie skrywer het dit as ’n slim stap beskou wat die groep nie net van ’n amptelike naam voorsien het nie, maar wat dit ook vir hulle maklik gemaak het om te sê dat al die Bybelse verwysings na “getuie” en “getuienis” spesifiek op hulle as Jehovah se Getuies van toepassing is. Daarenteen het A. H. Macmillan, ’n bestuursmedewerker van drie presidente van die Wagtoringgenootskap, oor daardie aankondiging deur broer Rutherford gesê: “Daar bestaan by my geen twyfel nie—nie destyds of nou nie—dat die Here hom daarin gelei het, en dit is die naam wat Jehovah wil hê ons moet dra, en ons is baie gelukkig en baie verheug om dit te hê.” Watter beskouing word deur die feite gesteun? Was die naam ‘’n geniale idee’ van broer Rutherford of was dit die gevolg van Goddelike voorsienigheid?
Gebeure wat die aandag op die naam gevestig het
Jehovah het Jesaja die volgende in die agtste eeu v.G.J. laat opteken: “Julle is my getuies, spreek [Jehovah, NW], en my kneg wat Ek uitverkies het, sodat julle kan weet en My kan glo en insien dat dit Ek is—voor My is daar geen God geformeer nie, en ná My sal daar geeneen wees nie. . . . Julle is my getuies, spreek [Jehovah, NW], en Ek is God” (Jes. 43:10, 12). Soos die Christelike Griekse Geskrifte toon, word baie van die profesieë wat Jesaja opgeteken het in verband met die Christengemeente vervul. (Vergelyk Jesaja 8:18 met Hebreërs 2:10-13; Jesaja 66:22 met Openbaring 21:1, 2.) Tog is Jesaja 43:10, 12 nooit gedurende die eerste 40 jaar wat Die Wagtoring uitgegee is breedvoerig bespreek nie.
Maar daarna het hulle studie van die Skrif die aandag van Jehovah se knegte op belangrike nuwe gebeure gevestig. God se Koninkryk met Jesus as die Messiaanse Koning is in 1914 in die hemele opgerig. In 1925, die jaar toe dit in Die Wagtoring verduidelik is, is daar in 11 verskillende nommers van die tydskrif aandag geskenk aan die profetiese bevel in Jesaja hoofstuk 43 om getuies van Jehovah te wees.
Die hoofartikel in Die Wagtoring (Engelse uitgawe) van 1 Januarie 1926 het die gedagteprikkelende vraag gevra: “Wie sal Jehovah eer?” Gedurende die daaropvolgende vyf jaar het Die Wagtoring in 46 verskillende nommers altyd die een of ander gedeelte van Jesaja 43:10-12 bespreek en die teks elke keer op ware Christene toegepas.b En in 1929 is daar getoon dat die verering van Jehovah se naam die vernaamste geskil is waarby die hele intelligente skepping betrokke is. En Jesaja 43:10-12 is herhaaldelik bespreek in verband met die verantwoordelikheid wat Jehovah se knegte in hierdie geskil het.
Die feite toon dus dat ’n studie van die Bybel daartoe gelei het dat die aandag herhaaldelik gevestig is op hulle plig om getuies van Jehovah te wees. Dit was nie die naam van ’n groep wat ter sprake was nie, maar die werk wat hulle moes doen.
Maar hoe moes daardie getuies bekend staan? Wat sou ’n gepaste naam wees met die oog op die werk wat hulle gedoen het? Op watter gevolgtrekking het God se Woord gedui? Hierdie kwessie is op 24-30 Julie 1931 by ’n byeenkoms in Columbus, Ohio, VSA, bespreek.
’n Nuwe naam
Die groot letters JW het voorop die byeenkomsprogram gepryk. Wat het dit beteken? Daar is eers op Sondag, 26 Julie, verduidelik wat dit beteken. Broer Rutherford het daardie dag die openbare toespraak “Die Koninkryk, die hoop van die wêreld” gehou. Toe die spreker in daardie toespraak geïdentifiseer het wie verkondigers van God se Koninkryk is, het hy in die besonder na die naam Jehovah’s Witnesses (Jehovah se Getuies) verwys.
Broer Rutherford het hierdie bespreking later daardie dag verder gevoer in nog ’n toespraak waartydens hy die redes bespreek het waarom hulle ’n onderskeidende naam nodig gehad het.c Op watter naam het die Skrif self gedui? Die spreker het Handelinge 15:14 aangehaal, wat die aandag vestig op God se voorneme om ‘’n volk vir sy Naam’ uit die nasies aan te neem. In sy toespraak het hy beklemtoon dat Jesus Christus “die getroue en waaragtige Getuie” is, soos Openbaring 3:14 sê. Hy het van Johannes 18:37 melding gemaak, waar Jesus gesê het: “Hiervoor het Ek in die wêreld gekom, om vir die waarheid te getuig.” Hy het die aandag op 1 Petrus 2:9, 10 gevestig wat sê dat God se knegte ‘die deugde moet verkondig van Hom wat hulle uit die duisternis geroep het tot sy wonderbare lig’. Hy het verskeie tekste uit Jesaja bespreek, wat destyds nie almal duidelik verstaan is nie, maar toe het hy die hoogtepunt van sy toespraak met Jesaja 43:10-12 bereik, wat onder andere hierdie Goddelike bevel bevat: ‘Julle is my getuies, spreek Jehovah, en Ek is God.’ Tot watter gevolgtrekking het Jehovah se Woord hulle dus gelei? Watter naam sou strook met die wyse waarop God hulle wel reeds gebruik het?
Die duidelike antwoord is verstrek in ’n resolusie wat by daardie geleentheid geesdriftig aangeneem is.d Daardie resolusie het ten dele gesê:
“Ten einde ons ware posisie bekend te maak, en omdat ons glo dat dit in ooreenstemming met God se wil is soos in sy Woord geopenbaar, VERKLAAR ons die volgende:
“DAT ons broer Charles T. Russell baie liefhet vir die werk wat hy gedoen het, en dat ons met genoeë erken dat die Here hom gebruik het en sy werk grootliks geseën het, maar dat dit strydig is met God se Woord om ons die naam ‘Russelliete’ te laat welgeval; dat die Wagtoring- Bybel- en Traktaatgenootskap en die Internasionale Bybelstudente-vereniging en die Peoples Pulpit Association maar net name van korporasies is wat ons as Christenvolk het, beheer en gebruik om ons werk in gehoorsaamheid aan God se bevele te doen, maar dat nie een van hierdie name behoorlik pas by of van toepassing is op ons as ’n liggaam van Christene wat in die voetstappe van ons Heer en Meester, Christus Jesus, volg nie; dat ons studente van die Bybel is, maar dat ons as ’n liggaam van Christene wat ’n vereniging vorm, weier om die naam ‘Bybelstudente’ of soortgelyke name te aanvaar of as sodanig bekend te staan as identifikasie van ons behoorlike posisie voor die Here; ons weier om die naam van enige man te dra of daaronder bekend te staan;
“DAT ons, aangesien ons met die kosbare bloed van Jesus Christus ons Here en Verlosser gekoop en deur Jehovah God geregverdig en verwek en tot sy koninkryk geroep is, sonder aarseling ons absolute trou en toewyding aan Jehovah God en sy koninkryk verklaar; dat ons knegte van Jehovah God is wat beveel is om ’n werk in sy naam te doen en om, in gehoorsaamheid aan sy bevel, van Jesus Christus te getuig en om aan die mense bekend te maak dat Jehovah die ware en almagtige God is; daarom neem ons die naam wat deur die Here God se mond gespreek is met vreugde aan, en ons wil graag bekend staan as en genoem word by die naam Jehovah se getuies.—Jes. 43:10-12.”e
Nadat die hele resolusie voorgelees is, het ’n dawerende applous getoon dat die gehoor ten volle saamgestem het met wat gesê is.
Hulle aanvaar die verantwoordelikheid
Wat ’n eer is dit tog om die naam van die enigste ware God, die Soewerein van die heelal, te dra! Maar daardie naam gaan met verantwoordelikheid gepaard. Dit is ’n verantwoordelikheid wat ander godsdiensgroepe nie wil hê nie. Soos broer Rutherford in sy toespraak gesê het: “Gelukkig is hulle wat ’n naam kan aanneem wat niemand anders onder die son wil hê nie behalwe diegene wat volkome en sonder voorbehoud aan Jehovah toegewy is.” Maar hoe gepas is dit tog dat Jehovah se knegte God se persoonlike naam dra, dat hulle dit bekend maak en dat dit opvallend saamgaan met die bekendmaking van sy voorneme!
Enige groep of persoon wat in die naam van Jehovah spreek, stel hulleself onder verpligting om sy woord in waarheid oor te dra (Jer. 23:26-28). Hulle moet nie net Jehovah se voorsienings, wat tot die seën van liefhebbers van geregtigheid sal lei, bekend maak nie, maar ook sy oordele oor diegene wat ongeregtigheid beoefen. Net soos Jehovah sy profete in die verlede beveel het, moet sy getuies vandag niks van God se woord weglaat deur te versuim om dit bekend te maak nie (Jer. 1:17; 26:2; Eseg. 3:1-11). Hulle moet die “jaar van die welbehae van die HERE” asook “’n dag van die wraak van onse God” uitroep (Jes. 61:1, 2). Diegene wat die resolusie hierbo aangeneem het, het besef dat hulle daardie verantwoordelikheid het, en hulle het in die laaste deel van die resolusie gesê:
“As Jehovah se getuies is dit ons uitsluitlike en enigste doel om sy gebooie ten volle te gehoorsaam; om bekend te maak dat hy die enigste ware en almagtige God is; dat sy Woord die waarheid is en dat sy naam alle eer en heerlikheid moet ontvang; dat Christus God se Koning is wat hy op sy troon van gesag geplaas het; dat sy koninkryk nou gekom het en dat ons in gehoorsaamheid aan die Here se gebooie nou hierdie goeie nuus moet verkondig tot ’n getuienis vir die nasies en dat ons die heersers en die mense moet inlig aangaande Satan se wrede en neerdrukkende organisasie, en veral wat ‘die Christendom’ betref, wat die goddeloosste deel van daardie sigbare organisasie is, en aangaande God se voorneme om Satan se organisasie spoedig te vernietig en dat hierdie luisterryke daad vinnig gevolg sal word deur die vrede en voorspoed, vryheid en gesondheid, geluk en die ewige lewe wat Christus die Koning vir die gehoorsame volke van die aarde sal bring; dat God se koninkryk die hoop vir die wêreld is en daar geen ander is nie en dat hierdie boodskap verkondig moet word deur diegene wat as Jehovah se getuies bekend staan.
“Ons nooi alle mense wat volkome aan Jehovah en sy koninkryk toegewy is nederig uit om ook deel te neem aan die verkondiging van hierdie goeie nuus aan ander, sodat die regverdige standaard van die Here opgehef kan word, sodat die volke van die aarde kan weet waar om die waarheid en hoop op verligting te vind, en bowenal sodat die groot en heilige naam van Jehovah God verheerlik en verhoog kan word.”
Dit was nie net in Columbus, Ohio, in Amerika, nie, maar tot in Australië dat gehore dawerend gejuig het toe daardie nuwe naam aangekondig is. In Japan is daar ná ure se gesukkel in die middel van die nag net ’n kort stukkie van die program met ’n kortgolfradio opgevang. Dit is onmiddellik vertaal. Gevolglik het daardie groepie die resolusie en die dawerende applous gehoor. Matsoeë Isjii was saam met hulle daar, en sy het later geskryf dat hulle ‘in eenheid met hulle broers in Amerika van vreugde gejuig het’. Ná die byeenkoms in Columbus het byeenkomste en gemeentes van Jehovah se Getuies in al die lande waar hulle hulle bediening voortgesit het, gesê dat hulle geheel en al met daardie resolusie saamstem. Om maar een voorbeeld te noem, kan ons na die berig uit Noorweë kyk: “By ons jaarlikse byeenkoms . . . in Oslo het ons almal opgestaan en met groot geesdrif ‘Ja’ geroep toe ons ons nuwe naam ‘Jehovah se getuies’ aangeneem het.”
Meer as net ’n naam
Was die wêreld oor die algemeen daarvan bewus dat ons broers hierdie nuwe naam aangeneem het? Ja, beslis! Die toespraak waartydens die aankondiging van die naam aanvanklik gedoen is, is uitgesaai tydens die grootste radiokoppeling tot op daardie stadium. Daarbenewens het die resolusie wat die nuwe naam uiteengesit het in die boekie Die Koninkryk, die hoop van die wêreld verskyn. Jehovah se Getuies het ná die byeenkoms miljoene eksemplare van hierdie boekie in baie tale in Noord- en Suid-Amerika, Europa, Afrika, Asië en die eilande van die see versprei. Hulle het die boekies nie net van huis tot huis aangebied nie, maar het ’n spesiale poging aangewend om ’n eksemplaar in die hande van elke regeringsamptenaar, belangrike sakeman en geestelike te kry. Sommige wat nog in 1992 gelewe het, kon hulle aandeel aan daardie belangrike kampanje nog goed onthou.
Nie almal het die boekie beleefd aanvaar nie. Eva Abbott onthou nog toe sy die huis van ’n geestelike in die Verenigde State verlaat het die boekie by haar verbygevlieg gekom en op die grond beland het. Sy wou dit nie daar laat lê nie en het dit toe opgetel; maar ’n yslike hond het gegrom, dit uit haar hand gegryp en dit na sy baas, die predikant, geneem. Sy het gesê: “Wat ek nie kon aflewer nie, het die hond afgelewer!”
Martin Poetzinger, wat later as ’n lid van die Bestuursliggaam van Jehovah se Getuies gedien het, het gesê: “Mense het ons by elke huis verbaas aangekyk wanneer ons ons voorgestel het met die woorde: ‘Ek kom vandag as een van Jehovah se getuies na u toe.’ Mense het hulle kop geskud of gevra: ‘Maar julle is nog Bybelstudente, nie waar nie? Of het julle by ’n nuwe sekte aangesluit?’” Daardie situasie het geleidelik verander. Etlike dekades nadat hulle hulle onderskeidende naam begin gebruik het, het broer Poetzinger geskryf: “Wat ’n verandering! Nog voor ek ’n woord sê, sê mense: ‘Jy moet een van Jehovah se getuies wees.’” Ja, hulle ken nou die naam.
Daardie naam is nie net ’n benaming nie. Of hulle nou oud of jonk, manlik of vroulik is, al Jehovah se Getuies neem deel aan die werk om van Jehovah en sy grootse voorneme te getuig. C. S. Braden, ’n professor in godsdiensgeskiedenis, het gevolglik geskryf: “Jehovah se Getuies het letterlik die aarde met hulle getuieniswerk oordek.”—These Also Believe.
Hoewel ons broers se getuieniswerk reeds wêreldwyd gedoen is voor hulle die naam Jehovah se Getuies aangeneem het, kan ’n mens nou sien dat Jehovah hulle vir ’n selfs groter werk voorberei het—die insameling van ’n groot menigte wat deur Armageddon heen behoue sal bly met die geleentheid om vir ewig op ’n paradysaarde te lewe.
[Voetnote]
a New World Translation of the Holy Scriptures; A Literal Translation of the New Testament . . . From the Text of the Vatican Manuscript, deur Herman Heinfetter, asook ses vertalings in Hebreeus. Sien ook die voetnoot oor Handelinge 19:23 in die New World Translation of the Holy Scriptures.
b Die volgende hoofartikels het onder andere gedurende hierdie tydperk in Die Wagtoring (Engelse uitgawe) verskyn: “Jehovah en sy werke”, “Eer sy Naam”, “’n Volk vir sy Naam”, “Sy Naam word verhoog”, “Die getroue en waaragtige Getuie”, “Loof Jehovah!” “Verheug jou in Jehovah”, “Jehovah oppermagtig”, “Die verheerliking van sy Naam”, “Sy Naam” en “Sing tot eer van Jehovah”.
c Sien die artikel “’n Nuwe naam” in Die Wagtoring (Engelse uitgawe) van 1 Oktober 1931.
d Die Wagtoring (Engelse uitgawe), 15 September 1931, bl. 278-9.
e Hoewel daar oortuigende bewyse is dat Jehovah hulle gelei het om die naam Jehovah se Getuies aan te neem, het Die Wagtoring (1 Julie 1944, bl. 8 [Engelse uitgawe, 1 Februarie 1944]; 1 Oktober 1957, bl. 607 [Engelse uitgawe]) en die boek “New Heavens and a New Earth” (bl. 231-7) later daarop gewys dat hierdie naam nie die “nuwe naam” is waarvan daar in Jesaja 62:2; 65:15 en Openbaring 2:17 gepraat word nie, hoewel die naam pas by die nuwe verhouding waarvan daar in die twee tekste in Jesaja gepraat word.
[Lokteks op bladsy 149]
‘Die dissipels is deur Goddelike voorsienigheid Christene genoem’
[Lokteks op bladsy 150]
Die naam Christen het ’n verwronge betekenis in die openbaar gekry
[Lokteks op bladsy 151]
Hulle was meer as Bybelstudente
[Lokteks op bladsy 157]
“Julle is my getuies, spreek [Jehovah, “NW”], en Ek is God”
[Venster op bladsy 151]
Die naam Jehovah se Getuies in die Amerikas
Arabies شهود يهوه
Armeens Եհովայի Վկաներ
Chinees 耶和華見證人
Engels Jehovah’s Witnesses
Frans Témoins de Jéhovah
Grieks Μάρτυρες του Ιεχωβά
Groenlands Jehovap Nalunaajaasui
Italiaans Testimoni di Geova
Japannees エホバの証人
Koreaans 여호와의 증인
Papiamento Testigonan di Jehova
Pools Świadkowie Jehowy
Portugees Testemunhas de Jeová
Samoaans Molimau a Ieova
Spaans Testigos de Jehová
Sranantongo Jehovah Kotoigi
Tagalog Mga Saksi ni Jehova
Viëtnamees Nhân-chứng Giê-hô-va
[Venster op bladsy 152]
Ander het dit gesien
Dit was nie net “Die Wagtoring” wat uit die Bybel getoon het dat Jehovah getuies op aarde sou hê nie. H. A. Ironside het byvoorbeeld in die boek “Lectures on Daniel the Prophet” (wat in 1911 uitgegee is) gepraat van diegene op wie die kosbare beloftes van Jesaja hoofstuk 43 ’n vervulling sou hê en gesê: “Hulle sal Jehovah se getuies wees en hulle sal getuig van die krag en heerlikheid van die enigste ware God wanneer die afvallige Christendom hulle laat bedrieg om die leuen van die Antichris te glo.”
[Venster op bladsy 153]
Die naam Jehovah se Getuies in die Ooste en die eilande van die Stille Oseaan
Bengaals যিহোবার সাক্ষিরা
Bicol, Cebuano, Hiligaynon,
Samar-Leyte, Tagalog Mga Saksi ni Jehova
Bislama Ol Wetnes blong Jeova
Chinees 耶和華見證人
Engels Jehovah’s Witnesses
Fidjiaans Vakadinadina i Jiova
Goedjarati યહોવાહના સાક્ષીઓ
Hindi यहोवा के साक्षी
Hiri Motu Iehova ena Witness Taudia
Iloko Dagiti Saksi ni Jehova
Indonesies Saksi-Saksi Yehuwa
Japannees エホバの証人
Kanarees ಯೆಹೋವನ ಸಾಕ್ಷಿಗಳು
Koreaans 여호와의 증인
Malabaars യഹോവയുടെ സാക്ഷികൾ
Mahratti यहोवाचे साक्षीदार
Marshallees Dri Kennan ro an Jeova
Myanmaans ယေဟောဝါသက်သေများ
Nepalees यहोवाका साक्षीहरू
Nieu-Guinee-Pidgin Ol Witnes Bilong Jehova
Niueaans Tau Fakamoli a Iehova
Palauaans reSioning er a Jehovah
Pangasinaans Saray Tasi nen Jehova
Ponapeaans Sounkadehde kan en Siohwa
Rarotonga Au Kite o Iehova
Russies Свидетели Иеговы
Samoaans, Tuvaluaans Molimau a Ieova
Singalees යෙහෝවාගේ සාක්ෂිකරුවෝ
Salomons-eilandse Pidgin all’gether Jehovah’s Witness
Tahitiaans Ite no Iehova
Tamil யெகோவாவின் சாட்சிகள்
Teloegoe యెహోవాసాక్షులు
Thai พยานพระยะโฮวา
Tonga Fakamo‘oni ‘a Sihova
Trukees Ekkewe Chon Pwarata Jiowa
Oerdoe
Viëtnamees Nhân-chứng Giê-hô-va
Yapees Pi Mich Rok Jehovah
[Venster op bladsy 154]
Die naam Jehovah se Getuies in Afrika
Afrikaans Jehovah se Getuies
Amharies የይሖዋ ምሥክሮች
Arabies شهود يهوه
Chicheŵa Mboni za Yehova
Cibemba Inte sha kwa Yehova
Efịk Mme Ntiense Jehovah
Engels Jehovah’s Witnesses
Ewe Yehowa Ðasefowo
Frans Témoins de Jéhovah
Ga Yehowa Odasefoi
Gun Kunnudetọ Jehovah tọn lẹ
Hausa Shaidun Jehovah
Ibo Ndịàmà Jehova
Kiluba Ba Tumoni twa Yehova
Kinyarwanda Abahamya ba Yehova
Kirundi Ivyabona vya Yehova
Kisi Seiyaa Jɛhowaa
Kwanyama Eendombwedi daJehova
Lingala Batemwe ya Jéhovah
Luganda Abajulirwa ba Yakuwa
Malgassies Vavolombelon’i Jehovah
Moors A Zeova Kaset rãmba
Ndonga Oonzapo dhaJehova
Portugees Testemunhas de Jeová
Sango A-Témoin ti Jéhovah
Sepedi Dihlatse tša Jehofa
Suid-Sotho Lipaki tsa Jehova
Sjona Zvapupu zvaJehovha
Silozi Lipaki za Jehova
Swahili Mashahidi wa Yehova
Tigrinya ናይ የሆዋ መሰኻኽር
Tshiluba Bantemu ba Yehowa
Tsonga Timbhoni ta Yehovha
Tswana Basupi ba ga Jehofa
Twi Yehowa Adansefo
Venda Ṱhanzi dza Yehova
Xhosa amaNgqina kaYehova
Joroeba Ẹlẹ́rìí Jehofa
Zulu oFakazi BakaJehova
[Venster op bladsy 154]
Die naam Jehovah se Getuies in Europa en die Midde-Ooste
Albanees Dëshmitarët e Jehovait
Arabies شهود يهوه
Armeens Եհովայի Վկաներ
Bulgaars Свидетелите на Йехова
Kroaties Jehovini svjedoci
Tsjeggies svĕdkové Jehovovi
Deens Jehovas Vidner
Nederlands Jehovah’s Getuigen
Engels Jehovah’s Witnesses
Estnies Jehoova tunnistajad
Fins Jehovan todistajat
Frans Témoins de Jéhovah
Duits Jehovas Zeugen
Grieks Μάρτυρες του Ιεχωβά
Hebreeus עדי־יהוה
Hongaars Jehova Tanúi
Yslands Vottar Jehóva
Italiaans Testimoni di Geova
Macedonies,Serwies Јеховини сведоци
Maltees Xhieda ta’ Jehovah
Noors Jehovas vitner
Pools Świadkowie Jehowy
Portugees Testemunhas de Jeová
Roemeens Martorii lui Iehova
Russies Свидетели Иеговы
Slowaaks Jehovovi svedkovia
Sloweens Jehovove priče
Spaans Testigos de Jehová
Sweeds Jehovas vittnen
Turks Yehova’nın Şahitleri
Oekraïns Свідки Єгови
[Prent op bladsy 155]
Die voorletters JW (sonder ’n verduideliking) het groot aandag getrek by die byeenkoms van 1931. Die betekenis daarvan is in ’n opwindende toespraak oor die nuwe naam verduidelik
[Prente op bladsy 156]
Hulle was trots daarop om vir ander te vertel dat hulle Getuies van Jehovah is