Deel 3
’n Unieke bron van hoër wysheid
1, 2. Waarom moet ons die Bybel ondersoek?
1 Is daardie hoër wysheid in die Bybel opgeteken? Kan dit ons die regte antwoorde op die belangrike vrae oor die doel van die lewe gee?
2 Dit is beslis die moeite werd om die Bybel te ondersoek. Een rede is dat dit die merkwaardigste boek is wat ooit saamgestel is, heeltemal anders as enige ander boek. Beskou die volgende feite.
Die oudste boek met die grootste verspreiding
3, 4. Hoe oud is die Bybel?
3 Die Bybel is die oudste boek wat nog saamgestel is, aangesien sommige dele ongeveer 3 500 jaar gelede geskryf is. Dit is baie eeue ouer as enige ander boek wat as heilig beskou word. Die eerste van die 66 boeke wat daarin vervat is, is ongeveer duisend jaar voor Boeddha en Confucius en sowat tweeduisend jaar voor Mohammed geskryf.
4 Die geskiedenis wat in die Bybel opgeteken is, gaan terug tot by die begin van die mensdom en verduidelik hoe ons hier op aarde gekom het. Dit neem ons selfs terug na die tyd voor die menseskepping en gee ons feite oor hoe die aarde geskep is.
5. Hoeveel ou manuskripte van die Bybel bestaan daar in vergelyking met dié van ou sekulêre geskrifte?
5 Van ander godsdienstige boeke, en selfs niegodsdienstige boeke, het slegs ’n paar afskrifte van hulle ou manuskripte behoue gebly. Daar bestaan ongeveer 11 000 handgeskrewe afskrifte van die Bybel of dele daarvan in Hebreeus en Grieks, waarvan sommige dateer uit die tyd kort nadat die oorspronklike geskrifte geskryf is. Hulle het behoue gebly ten spyte van die kwaaiste denkbare aanvalle wat al teen die Bybel gedoen is.
6. Hoe groot is die Bybel se verspreiding?
6 Die Bybel is ook verreweg die boek met die grootste verspreiding in die geskiedenis. Ongeveer driemiljard Bybels of dele daarvan is al in sowat tweeduisend tale versprei. Na bewering het 98 persent van die mensdom toegang tot die Bybel in hulle eie taal. Daar is geen ander boek wat daardie verspreiding eers naastenby ewenaar nie.
7. Wat kan oor die Bybel se akkuraatheid gesê word?
7 Daar is boonop geen ander antieke boek wat met die Bybel se akkuraatheid kan vergelyk nie. Wetenskaplikes, geskiedskrywers, argeoloë, geograwe, taalkundiges en ander bevestig voortdurend die akkuraatheid van Bybelverslae.
Wetenskaplike akkuraatheid
8. Hoe akkuraat is die Bybel ten opsigte van wetenskaplike sake?
8 Hoewel die Bybel byvoorbeeld nie as ’n wetenskaphandboek geskryf is nie, strook dit met ware wetenskap wanneer dit wetenskaplike sake aanroer. Maar ander antieke boeke wat as heilig beskou word, bevat wetenskaplike mites, onjuisthede en blatante onwaarhede. Hier is net vier van die talle voorbeelde van die Bybel se wetenskaplike akkuraatheid:
9, 10. Wat het die Bybel, in teenstelling met die onwetenskaplike opvattings van sy tyd, gesê oor hoe die aarde gesteun word?
9 Hoe die aarde in die ruimte gehou word. In antieke tye toe die Bybel geskryf is, was daar baie bespiegelinge oor hoe die aarde in die ruimte gehou word. Party het geglo dat die aarde gesteun word deur vier olifante wat op ’n groot seeskilpad staan. Aristoteles, ’n Griekse filosoof en wetenskaplike van die vierde eeu v.G.J., het geleer dat die aarde onmoontlik in die leë ruimte kon hang. Hy het eerder geleer dat die hemelliggame aan die oppervlak van soliede, deursigtige sfere vas is en dat elke sfeer binne-in ’n ander sfeer is. Die aarde was kwansuis aan die binneste sfeer vas en die sterre aan die buitenste sfeer.
10 Die Bybel het nie die eienaardige, onwetenskaplike opvattings weerspieël wat bestaan het toe dit geskryf is nie, maar het (in ongeveer 1473 v.G.J.) dié eenvoudige verklaring gemaak: ‘God hang die aarde op oor ’n niks’ (Job 26:7). In die oorspronklike Hebreeus beteken die woord wat hier vir “’n niks” gebruik word letterlik “niks nie”, en dit is die enigste keer dat dit in die Bybel voorkom. Die beeld wat dit skep van ’n aarde wat omring is deur leë ruimte word deur geleerdes erken as ’n merkwaardige voorstelling vir sy tyd. Die Theological Wordbook of the Old Testament sê: “Job 26:7 beskryf op treffende wyse dat die destyds bekende wêreld in die ruimte hang, en daardeur loop dit ’n toekomstige wetenskaplike ontdekking vooruit.”
11, 12. Wanneer het mense die waarheid van Job 26:7 besef?
11 Die Bybel het hierdie akkurate verklaring meer as 1 100 jaar vóór Aristoteles gemaak. Tog is Aristoteles se opvattings nog sowat 2 000 jaar ná sy dood as feite geleer! Uiteindelik, in 1687 G.J., het sir Isaac Newton sy bevindings gepubliseer dat die aarde in verhouding tot ander hemelse voorwerpe deur wedersydse aantrekkingskrag, dit wil sê swaartekrag, in die ruimte gehou word. Maar dit was byna 3 200 jaar nadat die Bybel so duidelik gesê het dat die aarde “oor ’n niks” hang.
12 Ja, byna 3 500 jaar gelede het die Bybel korrek gesê dat die aarde geen sigbare steun het nie, ’n feit wat strook met die wette van swaartekrag en beweging, wette wat mense maar eers onlangs begryp het. “Hoe Job die waarheid geweet het”, het een geleerde gesê, “is ’n vraag wat nie maklik beantwoord kan word deur diegene wat die inspirasie van die Heilige Skrif loën nie.”
13. Wat het mense eeue gelede oor die vorm van die aarde geglo, maar wat het hulle beskouing verander?
13 Die vorm van die aarde. The Encyclopedia Americana het gesê: “Die vroegste denkbeeld wat mense van die aarde gehad het, en wat aan ons bekend is, was dat dit ’n plat, vaste verhoog in die middel van die heelal is. . . . Die begrip van ’n bolvormige aarde is eers tydens die Renaissance algemeen aanvaar.” Sommige vroeë seevaarders was selfs bang dat hulle oor die rand van die plat aarde sou seil. Maar toe het die uitvinding van die kompas en ander verbeteringe langer seereise moontlik gemaak. Hierdie “ontdekkingsreise”, verduidelik ’n ander ensiklopedie, “het getoon dat die wêreld rond is, nie plat soos die meeste mense geglo het nie”.
14. Hoe het die Bybel die aarde se vorm beskryf, en wanneer?
14 Maar lank voor sulke reise, ongeveer 2 700 jaar gelede, het die Bybel gesê: “Hy sit bo die kring van die aarde” (Jesaja 40:22). Die Hebreeuse woord wat hier met “kring” vertaal is, kan ook “sfeer” beteken, soos verskeie naslaanwerke toon. Ander Bybelvertalings sê derhalwe “die aardbol” (Douay Version) en “die ronde aarde”.—Moffatt.
15. Waarom is die Bybel nie deur onwetenskaplike opvattings oor die aarde beïnvloed nie?
15 Die Bybel is dus nie deur die destydse onwetenskaplike opvattings beïnvloed oor hoe die aarde gesteun word en wat sy vorm is nie. Die rede daarvoor is eenvoudig: Die Outeur van die Bybel is die Skepper van die heelal. Hy het die aarde geskep, en hy behoort dus te weet waaraan dit hang en wat die vorm daarvan is. Toe hy die Bybel geïnspireer het, het hy derhalwe seker gemaak dat geen onwetenskaplike opvattings daarin vervat is nie, ongeag hoeveel mense destyds daaraan geglo het.
16. Hoe stem die samestelling van lewende dinge ooreen met wat die Bybel sê?
16 Die samestelling van lewende dinge. “Die HERE God het die mens geformeer uit die stof van die aarde”, sê Genesis 2:7. The World Book Encyclopedia sê: “Al die chemiese elemente waaruit lewende dinge bestaan, is ook in lewelose materie aanwesig.” Daarom word al die basiese chemiese stowwe waaruit lewende organismes, onder andere die mens, bestaan ook in die aarde self aangetref. Dit strook met die Bybel se verklaring wat die materiaal identifiseer waarmee God mense en alle ander lewende dinge geskep het.
17. Wat is die waarheid oor die ontstaan van lewende dinge?
17 “Volgens hulle soorte.” Die Bybel sê dat God die eerste mensepaar geskep het en dat alle ander mense van hulle afgestam het (Genesis 1:26-28; 3:20). Dit sê dat hierdie beginsel ook vir ander lewende dinge, soos visse, voëls en soogdiere, gegeld het, naamlik dat hulle “volgens hulle soorte” voortgebring het (Genesis 1:11, 12, 21, 24, 25). Dit is presies wat wetenskaplikes in die natuurlike skepping aangetref het, dat elke lewende ding van ’n ouer van dieselfde soort af kom. Daar is geen uitsondering nie. In hierdie verband sê die fisikus Chet Raymo: “Lewe bring lewe voort; dit gebeur voortdurend in elke sel. Maar hoe het nielewende dinge lewe voortgebring? Dit is een van die grootste onbeantwoorde vrae in die biologie, en tot dusver kon bioloë maar nog net blinde raaiskote waag. Lewelose materie het op die een of ander manier in lewende materie verander. . . . Dit lyk of die skrywer van Genesis op die ou end tog reg was.”
Geskiedkundige akkuraatheid
18. Wat sê ’n regsgeleerde oor die Bybel se geskiedkundige akkuraatheid?
18 Die Bybel bevat die akkuraatste antieke geskiedenis van enige boek wat bestaan. Die boek A Lawyer Examines the Bible beklemtoon die Bybel se geskiedkundige akkuraatheid soos volg: “Terwyl liefdesverhale, legendes en valse getuienis versigtig is om die betrokke gebeure in die een of ander afgeleë plek en die een of ander onbepaalde tyd te plaas, en daardeur die eerste reëls skend wat ons as regsgeleerdes aangaande goeie pleidooie leer, dat ‘die verklaring tyd en plek moet gee’, gee die Bybelverslae met die grootste akkuraatheid vir ons die datum en plek van die dinge waarvan daar vertel word.”
19. Wat sê een bron oor die Bybel se geskiedkundige besonderhede?
19 The New Bible Dictionary sê: “[Die skrywer van Handelinge] plaas sy vertelling in die raamwerk van die destydse geskiedenis; sy bladsye is vol verwysings na stadsmagistrate, provinsiale goewerneurs, vasalkonings, en dies meer, en hierdie verwysings strook keer op keer heeltemal met die betrokke plek en tyd.”
20, 21. Wat sê ’n Bybelkenner oor die Bybel se geskiedenis?
20 S. Austin Allibone sê in The Union Bible Companion: “Sir Isaac Newton . . . was ook ’n vooraanstaande beoordelaar van antieke geskrifte, en hy het die Heilige Skrif met groot sorg ondersoek. Wat is sy bevinding in hierdie verband? ‘Ek vind’, sê hy, ‘meer gewisse tekens van egtheid in die Nuwe Testament as in enige ongewyde [sekulêre] geskiedenis.’ Dr. Johnson sê dat ons meer bewyse het dat Jesus Christus op Kalvarie gesterf het, soos in die Evangelies opgeteken staan, as wat ons het dat Julius Caesar in die Kapitool gesterf het. Ons het inderdaad baie meer bewyse.”
21 Hierdie bron voeg by: “Vra enigiemand wat die waarheid van die Evangeliegeskiedenis bevraagteken watter rede hy het om te glo dat Caesar in die Kapitool gesterf het of dat keiser Karel die Grote in 800 deur pous Leo III tot keiser van die Weste gekroon is . . . Hoe weet jy dat iemand soos Karel I [van Engeland] ooit gelewe het en onthoof is en dat Oliver Cromwell in sy plek begin heers het? . . . Die ontdekking van die wet van die swaartekrag word aan sir Isaac Newton toegeskryf . . . Ons glo al die bewerings wat so pas oor hierdie manne gemaak is; en wel omdat ons historiese bewyse van die waarheid daarvan het. . . . As party nóg weier om te glo nadat sodanige bewyse voorgelê is, beskou ons hulle as koppige dwase of as hopeloos onkundig.”
22. Waarom weier party om die Bybel se egtheid te aanvaar?
22 Dan kom hierdie bron tot die slotsom: “Wat sal ons dan sê van diegene wat ondanks die oorvloedige bewyse wat nou met betrekking tot die egtheid van die Heilige Skrif voorgelê word, beweer dat hulle nie daardeur oortuig is nie? . . . Ons het sekerlik rede om tot die slotsom te kom dat die fout eerder by die hart as by die hoof lê;—dat hulle nie iets wíl glo wat hul trots verneder en hulle sal dwing om ’n ander lewe te lei nie.”
Interne harmonie en openhartigheid
23, 24. Waarom is die Bybel se interne harmonie so merkwaardig?
23 Gestel dat daar in die tyd van die Romeinse Ryk met ’n boek begin is, dat daar deur die Middeleeue heen daaraan geskryf is en dit in hierdie 20ste eeu voltooi is en dat talle verskillende skrywers daartoe bygedra het. Watter resultaat sou jy verwag as die skrywers sulke uiteenlopende agtergronde soos dié van soldaat, koning, priester, visserman, herder en dokter gehad het? Sou jy ’n harmoniese en samehangende boek verwag? ‘Beslis nie!’ sê jy dalk. Wel, die Bybel is onder sulke omstandighede geskryf. Tog is dit deurlopend harmonies, nie net wat algemene begrippe nie, maar ook die fyn besonderhede betref.
24 Die Bybel is ’n versameling van 66 boeke wat oor ’n tydperk van 1 600 jaar, van 1513 v.G.J. tot 98 G.J., deur sowat 40 verskillende skrywers geskryf is. Die skrywers was van verskillende lewensterreine, en baie het geen kontak met die ander skrywers gehad nie. Die boek wat geskryf is, het nietemin deurlopend ’n sentrale, samehangende tema, asof dit deur een persoon geskryf is. En die Bybel is nie ’n produk van die Westerse beskawing soos party mense dink nie, maar is deur Oosterlinge geskryf.
25. Watter bewering van die Bybelskrywers word deur die Bybel se eerlikheid en openhartigheid ondersteun?
25 Terwyl die meeste skrywers van die ou tyd net oor hulle suksesse en goeie punte geskryf het, het die Bybelskrywers hulle eie foute, sowel as die tekortkominge van hulle konings en leiers, openlik erken. Moses se tekortkominge is in Numeri 20:1-13 en Deuteronomium 32:50-52 opgeteken, en hý het daardie boeke geskryf. Jona 1:1-3 en 4:1 vertel van die tekortkominge van Jona, wat self daardie verslae geskryf het. Mattheüs 17:18-20; 18:1-6; 20:20-28 en 26:56 beskryf slegte eienskappe wat Jesus se dissipels aan die dag gelê het. Die Bybelskrywers se eerlikheid en openhartigheid staaf dus hulle bewering dat hulle deur God geïnspireer is.
Sy voortreflikste kenmerk
26, 27. Waarom is die Bybel so akkuraat ten opsigte van wetenskaplike en ander sake?
26 Die Bybel self toon waarom dit so akkuraat ten opsigte van wetenskaplike, geskiedkundige en ander sake is en waarom dit so harmonies en eerlik is. Dit toon dat die Opperwese, die almagtige God, die Skepper van die heelal, die Bybel se Outeur is. Hy het menslike Bybelskrywers bloot as sy penvoerders gebruik en hulle deur sy magtige werkende krag beweeg om te skryf wat hy hulle geïnspireer het om op skrif te stel.
27 Die apostel Paulus sê in die Bybel: “Die hele Skrif is deur God ingegee en is nuttig tot lering, tot weerlegging, tot teregwysing, tot onderwysing in die geregtigheid, sodat die mens van God volkome kan wees, vir elke goeie werk volkome toegerus.” En die apostel Paulus het ook gesê: “Toe julle die woord van God ontvang het wat deur ons verkondig is, [het] julle dit aangeneem . . . nie as die woord van mense nie, maar, soos dit waarlik is, as die woord van God.”—2 Timotheüs 3:16, 17; 1 Thessalonicense 2:13.
28. Waar kom die Bybel dan vandaan?
28 Die Bybel is dus van een Outeur—God—afkomstig. En met sy ontsagwekkende krag kon hy maklik sorg dat die integriteit van wat geskryf is tot in ons dag behoue bly. Sir Frederic Kenyon, ’n vooraanstaande kenner op die gebied van Bybelmanuskripte, het in 1940 die volgende hieroor gesê: “Die laaste grond vir enige twyfel dat die Skrif ons bereik het wesenlik soos dit geskryf is, is nou uit die weg geruim.”
29. Hoe kan God se vermoë om te kommunikeer, geïllustreer word?
29 Die mens het die vermoë om radio- en televisieseine van duisende kilometers in die ruimte af, selfs van die maan af, na die aarde te stuur. Ruimteverkenningstuie het al fisiese inligting en foto’s van planete wat honderdmiljoene kilometers hiervandaan is na die aarde teruggesein. Die mens se Skepper, die Skepper van radioseine, kon dit tog sekerlik ook gedoen het. Dit was vir hom werklik eenvoudig om sy almagtige krag te gebruik om woorde en beelde oor te dra na die verstand van die mense wat hy gekies het om die Bybel te skryf.
30. Wil God hê mense moet uitvind wat sy doel vir hulle is?
30 Daar is boonop baie dinge omtrent die aarde en die lewe daarop wat bewys dat God in die mensdom belangstel. Dit is dus te verstane dat hy mense sou wou help om uit te vind wie hy is en wat sy doel vir hulle is deur hierdie dinge in ’n boek—’n permanente dokument—te laat opteken.
31. Waarom is ’n geïnspireerde boodskap wat neergeskryf is baie beter as inligting wat mondelings oorgelewer word?
31 Dink ook hoeveel beter ’n boek is wat God as skrywer het as inligting wat bloot mondelings deur mense oorgelewer is. Mondelingse oorlewering sou nie betroubaar wees nie, want mense sou die boodskap parafraseer en mettertyd sou die betekenis verdraai word. Hulle sou die inligting wat deur die gesproke woord oorgedra moes word vanuit hulle eie oogpunt oordra. Maar die kanse is baie kleiner dat ’n permanente, geskrewe verslag wat deur God geïnspireer is foute sal hê. Boonop kan ’n boek gekopieer en vertaal word sodat mense wat verskillende tale lees daarby kan baat vind. Is dit dan nie redelik dat ons Skepper so ’n middel gebruik het om inligting te voorsien nie? Ja ongetwyfeld, aangesien die Skepper sê dat dit is wat hy gedoen het.
Vervulde profesieë
32-34. Wat het die Bybel wat geen ander boek bevat nie?
32 Die Bybel dra daarbenewens in ’n baie unieke opsig die stempel van Goddelike inspirasie: Dit is ’n boek van profesieë wat in die verlede onfeilbaar vervul is en vandag nog in die fynste besonderhede vervul word.
33 Die vernietiging van eertydse Tirus, die val van Babilon, die herbouing van Jerusalem en die opkoms en val van die konings van Medo-Persië en Griekeland is byvoorbeeld in fyn besonderhede in die Bybel voorspel. Die profesieë was so akkuraat dat sommige kritici tevergeefs probeer sê het dat hulle ná die gebeure geskryf is.—Jesaja 13:17-19; 44:27–45:1; Esegiël 26:3-6; Daniël 8:1-7, 20-22.
34 Jesus se profesieë oor die vernietiging van Jerusalem in 70 G.J. is akkuraat vervul (Lukas 19:41-44; 21:20, 21). En profesieë oor “die laaste dae” wat deur Jesus en die apostel Paulus gegee is, word tot in die kleinste besonderhede in ons tyd vervul.—2 Timotheüs 3:1-5, 13; Mattheüs 24; Markus 13; Lukas 21.
35. Waarom kan Bybelprofesieë alleenlik van die Skepper af kom?
35 So ’n akkurate voorspelling van toekomstige gebeure kon nie die produk van enige menseverstand, hoe intelligent ook al, wees nie. Dit kon slegs die produk van die almagtige en alwyse Skepper van die heelal se verstand wees, soos ons in 2 Petrus 1:20, 21 lees: “Geen profesie van die Skrif [is] ’n saak van eie uitlegging . . . nie; want geen profesie is ooit deur die wil van ’n mens voortgebring nie, maar, deur die Heilige Gees gedrywe, het die heilige mense van God gespreek.”
Dit gee die antwoord
36. Wat vertel die Bybel ons?
36 Die Bybel lewer dus op baie maniere bewys dat dit die geïnspireerde Woord van die Opperwese is. As sodanig vertel dit ons waarom die mens op die aarde is, waarom daar soveel lyding is, wat vir ons voorlê en hoe toestande sal verbeter. Dit leer ons dat daar ’n almagtige God is wat mense en hierdie aarde met ’n doel geskep het en dat sy doel verwesenlik gaan word (Jesaja 14:24). Die Bybel leer ons ook wat ware godsdiens is en hoe ons dit kan vind. Dit is derhalwe die enigste bron van hoër wysheid wat ons die waarheid oor al die belangrike vrae van die lewe kan vertel.—Psalm 146:3; Spreuke 3:5; Jesaja 2:2-4.
37. Wat moet oor die Christendom gevra word?
37 Hoewel daar ’n menigte bewyse is dat die Bybel eg en waar is, ontstaan die vraag of almal wat sê dat hulle die Bybel aanvaar werklik die leringe daarin volg. Beskou byvoorbeeld die nasies wat beweer dat hulle die ware Christelike godsdiens beoefen, dit wil sê die Christendom. Hulle het al eeue lank toegang tot die Bybel. Maar weerspieël hulle denke en dade werklik God se hoër wysheid?
[Prente op bladsy 11]
Sir Isaac Newton het geglo dat die aarde in verhouding tot ander hemelse voorwerpe deur swaartekrag in die ruimte gehou word
Die beeld wat die Bybel skep van ’n aarde wat omring is deur leë ruimte word deur geleerdes erken as ’n merkwaardige voorstelling vir sy tyd
[Prent op bladsy 12]
Sommige vroeë seevaarders was selfs bang dat hulle oor die rand van die plat aarde sou seil
[Prent op bladsy 13]
Daar is meer bewyse dat Jesus Christus bestaan het as wat daar is dat Julius Caesar, keiser Karel die Grote, Oliver Cromwell of pous Leo III gelewe het
[Prent op bladsy 15]
Die Titusboog in Rome lewer bewys dat Jesus se profesieë oor Jerusalem se vernietiging in 70 G.J. vervul is