Hoofstuk 14
Wie se gesag moet jy erken?
1, 2. Is alle vorme van gesag nadelig? Verduidelik.
“GESAG” is vir baie mense ’n aanstootlike woord. Dit is verstaanbaar, want gesag word dikwels misbruik—by die werk, in die gesinskring en deur regerings. Die Bybel is realisties en sê: “Die een mens heers oor die ander tot sy ongeluk” (Prediker 8:9). Ja, baie het ander oorheers deur tiranniek en selfsugtig op te tree.
2 Maar nie alle gesag is nadelig nie. Daar kan byvoorbeeld gesê word dat ons liggaam gesag oor ons uitoefen. Dit “beveel” ons om asem te haal, te eet, te drink en te slaap. Is dit verdrukkend? Nee. Dit is tot ons beswil dat ons aan hierdie eise gehoor gee. Terwyl onderworpenheid aan ons liggaamlike behoeftes moontlik onwillekeurig is, is daar ander vorme van gesag wat ons gewillige onderdanigheid vereis. Kyk na ’n paar voorbeelde.
DIE OPPERGESAG
3. Waarom word Jehovah tereg “Soewereine Heer” genoem?
3 Jehovah word meer as 300 keer in die Bybel (NW) “Soewereine Heer” genoem. ’n Soewerein is iemand wat oppergesag besit. Wat gee Jehovah die reg tot hierdie status? Openbaring 4:11 antwoord: “U is waardig, Jehovah, ja, ons God, om die heerlikheid en die eer en die krag te ontvang, want u het alles geskep, en weens u wil het hulle bestaan en is hulle geskep.”
4. Hoe oefen Jehovah sy gesag uit?
4 As ons Skepper het Jehovah die reg om sy gesag uit te oefen soos hy wil. Dit klink miskien skrikwekkend, veral as ons daaraan dink dat God ’n “oorvloed van dinamiese energie” het. Hy word “God, die Almagtige”, genoem—’n uitdrukking wat in Hebreeus die gedagte van oorweldigende krag bevat (Jesaja 40:26, NW; Genesis 17:1). Nietemin toon Jehovah sy krag op ’n welwillende wyse, want sy vernaamste eienskap is liefde.—1 Johannes 4:16.
5. Waarom is dit nie moeilik om ons aan Jehovah se gesag te onderwerp nie?
5 Hoewel Jehovah gewaarsku het dat hy onberouvolle oortreders sou straf, het Moses hom hoofsaaklik geken as “die ware God, die getroue God, wat die verbond en liefderyke goedhartigheid hou in die geval van dié wat hom liefhet en dié wat sy gebooie onderhou” (Deuteronomium 7:9, NW). Dink net daaraan! Die Oppergesag van die heelal dwing ons nie om hom te dien nie. Ons word eerder tot hom aangetrek weens sy liefde (Romeine 2:4; 5:8). Dit is selfs ’n genot om ons aan Jehovah se gesag te onderwerp, want sy wette is altyd tot ons uiteindelike beswil.—Psalm 19:8, 9.
6. Hoe het die geskil oor gesag in die tuin van Eden ontstaan, en met watter gevolg?
6 Ons eerste ouers het God se soewereiniteit verwerp. Hulle wou self besluit wat goed en wat sleg is (Genesis 3:4-6). Gevolglik is hulle uit hulle Paradystuiste verdryf. Daarna het Jehovah mense toegelaat om gesagstrukture te skep wat hulle in staat sou stel om in ’n ordelike, ofskoon onvolmaakte, gemeenskap te lewe. Wat is party van hierdie gesagdraende instansies, of owerhede, en in watter mate verwag God dat ons ons aan hulle moet onderwerp?
“DIE HOËR OWERHEDE”
7. Wie is “die hoër owerhede”, en wat is hulle posisie met betrekking tot God se gesag?
7 Die apostel Paulus het geskryf: “Laat elke siel onderdanig wees aan die hoër owerhede, want daar is geen gesag behalwe deur God nie.” Wie is die “hoër owerhede”? Pau–lus se woorde in die daaropvolgende verse toon dat hulle menslike regeringsowerhede is (Romeine 13:1-7; Titus 3:1). Die mens se regeringsowerhede het nie by Jehovah ontstaan nie, maar hy laat hulle toe om te bestaan. Paulus kon dus skryf: “Die bestaande owerhede is deur God in hulle relatiewe posisies geplaas.” Wat toon dit omtrent sulke aardse gesag? Dat dit ondergeskik is aan God se gesag (Johannes 19:10, 11). Christene moet hulle dus deur hulle Bybelopgeleide gewete laat lei wanneer die mens se wet met God se wet bots. Hulle “moet eerder aan God as heerser gehoorsaam wees as aan mense”.—Handelinge 5:29.
8. Hoe vind jy baat by die hoër owerhede, en hoe kan jy jou onderdanigheid aan hulle toon?
8 Maar oor die algemeen tree die goewermentele hoër owerhede op as ‘God se dienaar tot ons beswil’ (Romeine 13:4). In watter opsigte? Wel, dink aan al die dienste wat die hoër owerhede voorsien, soos posaflewering, polisiebeskerming, brandbeveiliging, sanitasie en opvoeding. “Dit is waarom julle ook belastings betaal”, het Paulus geskryf, “want hulle is God se openbare dienaars wat voortdurend juis met dié doel dien” (Romeine 13:6). Ons moet ‘ons eerlik gedra’ wanneer dit by belasting of enige ander regsvereiste kom.—Hebreërs 13:18.
9, 10. (a) Hoe pas die hoër owerhede in by God se reëling? (b) Waarom sou dit verkeerd wees om die hoër owerhede teë te staan?
9 Soms misbruik die hoër owerhede hulle mag. Onthef dit ons van ons verantwoordelikheid om aan hulle onderdanig te bly? Nee. Jehovah sien die misdrywe van hierdie owerhede (Spreuke 15:3). Die feit dat hy menseheerskappy duld, beteken nie dat hy hulle verdorwenheid deur die vingers sien nie; en hy verwag ook nie dat ons dit moet doen nie. Trouens, God gaan binnekort “al [hierdie] koninkryke verbrysel en daar ’n einde aan maak” (Daniël 2:44). Maar totdat dit gebeur, is die hoër owerhede van nut.
10 Paulus het verduidelik dat “hy wat die owerheid teëstaan teen die reëling van God stelling ingeneem” het (Romeine 13:2). Die hoër owerhede is God se “reëling” in die sin dat hulle ’n mate van orde handhaaf, waarsonder chaos en anargie sou heers. Dit sou onskriftuurlik en sinloos wees om hulle teë te staan. Ter toeligting: Stel jou voor dat jy ’n operasie ondergaan het en dat die wond met steke toegewerk is. Hoewel die steke iets vreemds vir die liggaam is, is hulle vir ’n beperkte tyd nuttig. Dit kan nadelig wees om hulle te vroeg te verwyder. Menslike regeringsowerhede is eweneens nie deel van God se oorspronklike voorneme nie. Maar totdat sy Koninkryk ten volle oor die aarde heers, hou menseregerings die gemeenskap aanmekaar en verrig hulle ’n funksie wat strook met God se wil vir vandag. Ons moet dus aan die hoër owerhede onderdanig bly, terwyl ons die voorkeur aan God se wet en gesag gee.
GESAG IN DIE GESIN
11. Hoe sal jy die beginsel van hoofskap verduidelik?
11 Die gesin is die fundamentele eenheid van die mensegemeenskap. Daarin kan ’n man en ’n vrou lonende kameraadskap vind, en kinders kan beskerm en opgelei word vir die lewe as volwassenes (Spreuke 5:15-21; Efesiërs 6:1-4). So ’n edele reëling moet só georganiseer word dat dit gesinslede in staat stel om in vrede en harmonie te lewe. Jehovah se manier om dit te doen, is deur die beginsel van hoofskap, wat in hierdie woorde in 1 Korintiërs 11:3 opgesom word: “Die Christus [is] die hoof . . . van elke man; die man weer is die hoof van die vrou; God weer is die hoof van die Christus.”
12, 13. Wie is die gesinshoof, en wat kan geleer word uit die manier waarop Jesus hoofskap uitoefen?
12 Die man is die gesinshoof. Daar is egter ’n hoof bo hom—Jesus Christus. Paulus het geskryf: “Mans, hou aan om julle vrouens lief te hê, net soos die Christus ook die gemeente liefgehad en homself daarvoor oorgegee het” (Efesiërs 5:25). ’n Man weerspieël sy onderdanigheid aan Christus wanneer hy sy vrou behandel soos Jesus altyd die gemeente behandel het (1 Johannes 2:6). Groot gesag is aan Jesus gegee, maar hy oefen dit met die allergrootste teerheid, liefde en redelikheid uit (Matteus 20:25-28). As ’n mens het Jesus nooit sy gesagsposisie misbruik nie. Hy was “saggeaard en nederig van hart”, en hy het sy volgelinge “vriende” eerder as “slawe” genoem. “Ek sal julle verkwik”, het hy hulle belowe, en dit is wat hy gedoen het.—Matteus 11:28, 29; Johannes 15:15.
13 Jesus se voorbeeld leer mans dat Christelike hoofskap nie ’n posisie van streng oorheersing is nie. Dit is eerder ’n posisie van respek en selfopofferende liefde. Dít skakel beslis fisiese of mondelinge mishandeling van ’n huweliksmaat uit (Efesiërs 4:29, 31, 32; 5:28, 29; Kolossense 3:19). As ’n Christenman sy vrou só sou mishandel, sal sy ander goeie werke waardeloos wees en sal sy gebede verhinder word.—1 Korintiërs 13:1-3; 1 Petrus 3:7.
14, 15. Hoe help die kennis van God ’n vrou om aan haar man onderdanig te wees?
14 Wanneer ’n man Christus se voorbeeld navolg, is dit vir sy vrou makliker om die woorde van Efesiërs 5:22, 23 na te kom: “Laat vrouens onderdanig wees aan hulle mans soos aan die Here, want ’n man is die hoof van sy vrou, soos die Christus ook die hoof van die gemeente is.” Net soos ’n man aan Christus onderdanig moet wees, moet ’n vrou aan haar man onderdanig wees. Die Bybel stel dit ook duidelik dat bekwame vrouens eer en lof vir hulle godvrugtige wysheid en vlyt verdien.—Spreuke 31:10-31.
15 ’n Christenvrou se onderdanigheid aan haar man is relatief. Dit beteken dat God eerder as die mens gehoorsaam moet word as onderdanigheid in ’n sekere saak God se wet sou skend. Selfs dan moet ’n vrou se ferm standpunt met ’n “stille en sagmoedige gees” getemper word. Dit moet duidelik wees dat die kennis van God van haar ’n beter vrou gemaak het (1 Petrus 3:1-4). Dieselfde geld vir ’n Christenman wie se vrou ’n ongelowige is. Sy uitlewing van Bybelbeginsels moet van hom ’n beter man maak.
16. Hoe kan kinders die voorbeeld navolg wat Jesus as kind gestel het?
16 Efesiërs 6:1 sit die rol van kinders uiteen en sê: “Wees gehoorsaam aan julle ouers in eenheid met die Here, want dít is regverdig.” Christenkinders volg die voorbeeld van Jesus na, wat aan sy ouers onderdanig gebly het terwyl hy grootgeword het. As ’n gehoorsame seun het hy “deurentyd toegeneem in wysheid en in fisiese groei en in guns by God en die mense”.—Lukas 2:51, 52.
17. Watter uitwerking kan die manier waarop ouers gesag uitoefen op hulle kinders hê?
17 Die manier waarop ouers hulle verantwoordelikhede nakom, kan ’n uitwerking daarop hê of hulle kinders gesag sal respekteer of daarteen in opstand sal kom (Spreuke 22:6). Ouers kan hulle dus gerus afvra: ‘Oefen ek my gesag op ’n liefdevolle of ’n hardvogtige wyse uit? Is ek permissief?’ Daar word van ’n godvrugtige ouer verwag om liefdevol en bedagsaam dog ferm in die handhawing van godvrugtige beginsels te wees. Paulus het gepas geskryf: “Vaders, moenie julle kinders irriteer [letterlik ‘hulle tot toorn prikkel’] nie, maar hou aan om hulle in die dissipline en verstandsregulering van Jehovah op te voed.”—Efesiërs 6:4; Kolossense 3:21.
18. Hoe moet ouerlike dissipline toegedien word?
18 Ouers moet hulle opvoedingsmetodes ondersoek, veral as hulle wil hê dat hulle kinders gehoorsaam moet wees en hulle sodoende vreugde moet verskaf (Spreuke 23:24, 25). In die Bybel is tug, oftewel dissipline, hoofsaaklik ’n vorm van onderrigting (Spreuke 4:1; 8:33). Dit word met liefde en sagmoedigheid verbind, nie met woede en wreedheid nie. Christenouers moet dus met wysheid optree en hulle beheers wanneer hulle hulle kinders dissiplineer.—Spreuke 1:7.
GESAG IN DIE GEMEENTE
19. Hoe het God voorsiening gemaak vir goeie orde in die Christengemeente?
19 Aangesien Jehovah ’n ordelike God is, is dit redelik dat hy gesaghebbende en goedgeorganiseerde leierskap vir sy volk sou voorsien. Gevolglik het hy Jesus as die Hoof van die Christengemeente aangestel (1 Korintiërs 14:33, 40; Efesiërs 1:20-23). Onder Christus se onsigbare leierskap het God ’n reëling gemagtig waarvolgens aangestelde ouer manne in elke gemeente gretig, gewillig en liefdevol as herders oor die kudde toesig hou (1 Petrus 5:2, 3). Bedieningsknegte help hulle op verskillende maniere en lewer waardevolle diens in die gemeente.—Filippense 1:1.
20. Waarom moet ons onderdanig wees aan aangestelde Christen- ouer manne, en waarom is dit voordelig?
20 Paulus het met betrekking tot Christen- ouer manne geskryf: “Wees gehoorsaam aan dié wat die leiding onder julle neem en wees onderdanig, want hulle waak oor julle siele as dié wat rekenskap sal gee; sodat hulle dit met vreugde kan doen en nie met ’n gesug nie, want dit sal vir julle skadelik wees” (Hebreërs 13:17). God het wyslik aan Christenopsieners die verantwoordelikheid gegee om na die geestelike behoeftes van die gemeentelede om te sien. Hierdie ouer manne maak nie ’n geestelikeklas uit nie. Hulle is knegte en slawe van God, wat na die behoeftes van hulle medeaanbidders omsien, net soos ons Heer, Jesus Christus, gedoen het (Johannes 10:14, 15). Die wete dat skriftuurlik bekwame manne in ons vooruitgang en geestelike groei belangstel, spoor ons aan om saam te werk en onderdanig te wees.—1 Korintiërs 16:16.
21. Hoe probeer aangestelde ouer manne om mede-Christene geestelik te help?
21 Skape dwaal soms af of word deur skadelike wêreldse elemente bedreig. Onder die leierskap van die Hoofherder is ouer manne as onderherders wakker ten opsigte van die behoeftes van dié wat onder hulle sorg is en skenk hulle ywerig persoonlike aandag aan hulle (1 Petrus 5:4). Hulle besoek lede van die gemeente en moedig hulle aan. Omdat ouer manne weet dat die Duiwel die vrede van God se volk wil versteur, openbaar hulle die wysheid van bo wanneer hulle probleme hanteer (Jakobus 3:17, 18). Hulle werk hard om eendrag en eenheid in die geloof te bewaar, iets waaroor Jesus self gebid het.—Johannes 17:20-22; 1 Korintiërs 1:10.
22. Watter hulp verskaf die ouer manne in gevalle van oortreding?
22 Sê nou ’n Christen kom iets slegs oor of raak mismoedig omdat hy ’n sonde gepleeg het? Vertroostende Bybelraad en die ouer manne se opregte gebede ten behoewe van hom kan help om hom tot geestelike gesondheid te herstel (Jakobus 5:13-15). Hierdie manne, wat deur die heilige gees aangestel is, het ook die gesag om dissipline toe te dien en enigiemand tereg te wys wat ’n sondige weg volg of wat die geestelike en sedelike reinheid van die gemeente in gevaar stel (Handelinge 20:28; Titus 1:9; 2:15). Dit is dalk vir persone nodig om ernstige oortredings aan te meld om die gemeente skoon te hou (Levitikus 5:1). As ’n Christen wat ’n ernstige sonde gepleeg het skriftuurlike dissipline en teregwysing aanvaar en bewys lewer van opregte berou, sal hy gehelp word. Diegene wat God se wet aanhoudend en sonder berou oortree, word natuurlik uitgesit.—1 Korintiërs 5:9-13.
23. Wat voorsien Christenopsieners tot die beswil van die gemeente?
23 Die Bybel het voorspel dat geestelik volwasse manne onder Jesus Christus as Koning aangestel sou word om God se volk te vertroos, te beskerm en te verkwik (Jesaja 32:1, 2). Hulle sou die leiding neem as evangeliedienaars, herders en onderrigters om geestelike groei te bevorder (Efesiërs 4:11, 12, 16). Hoewel Christenopsieners medegelowiges soms teregwys, bestraf en vermaan, help die toepassing van die ouer manne se gesonde leer wat op God se Woord gebaseer is om almal op die weg na die lewe te hou.—Spreuke 3:11, 12; 6:23; Titus 2:1.
AANVAAR JEHOVAH SE BESKOUING VAN GESAG
24. Oor watter kwessie word ons daagliks op die proef gestel?
24 Die eerste man en vrou is oor die kwessie van onderdanigheid aan gesag op die proef gestel. Dit is nie verbasend dat ons daagliks op ’n soortgelyke wyse op die proef gestel word nie. Satan die Duiwel bevorder ’n opstandige gees onder die mensdom (Efesiërs 2:2). Die weg van onafhanklikheid word op verleidelike wyse voortrefliker as dié van onderdanigheid voorgestel.
25. Watter voordele bring dit mee wanneer ons die wêreld se opstandige gees verwerp en ons onderwerp aan gesag wat God uitoefen of toelaat?
25 Ons moet egter die wêreld se opstandige gees verwerp. As ons dit doen, sal ons vind dat godvrugtige onderdanigheid ryk belonings meebring. Ons sal byvoorbeeld die kwellinge en frustrasies vermy wat algemeen is onder dié wat moeilikheid soek met die sekulêre owerhede. Ons sal die wrywing verminder wat so dikwels in baie gesinne voorkom. En ons sal die voordele van hartlike, liefdevolle omgang met ons mede-Christengelowiges geniet. Bowenal sal ons godvrugtige onderdanigheid tot ’n goeie verhouding met Jehovah, die Oppergesag, lei.
TOETS JOU KENNIS
Hoe oefen Jehovah sy gesag uit?
Wie is “die hoër owerhede”, en hoe bly ons aan hulle onderdanig?
Watter verantwoordelikheid plaas die beginsel van hoofskap op elke gesinslid?
Hoe kan ons onderdanigheid in die Christengemeente toon?
[Venster op bladsy 134]
ONDERDANIG, NIE ONDERMYNEND NIE
Deur middel van hulle openbare predikingswerk wys Jehovah se Getuies op God se Koninkryk as die mensdom se enigste hoop op ware vrede en veiligheid. Maar hierdie ywerige verkondigers van God se Koninkryk ondermyn geensins die regerings waaronder hulle lewe nie. Inteendeel, die Getuies is van die eerbiedigste en mees wetsgehoorsame burgers. “As al die godsdiensorganisasies soos Jehovah se getuies was”, het ’n amptenaar in ’n Afrikaland gesê, “sou ons geen moorde, inbrake, jeugmisdaad, gevangenes en atoombomme gehad het nie. Deure sou nie dagin en daguit gesluit word nie.”
Omdat hulle dit besef, het amptenare in baie lande toegelaat dat die predikingswerk van die Getuies ongehinderd voortgaan. In ander lande is verbooie of beperkings opgehef toe die owerheid besef het dat Jehovah se Getuies ’n goeie invloed is. Dit is soos die apostel Paulus oor gehoorsaamheid aan die hoër owerhede geskryf het: “Hou aan om goed te doen, en jy sal lof van hom ontvang.”—Romeine 13:1, 3.