Hoofstuk Vyf
Die vryheid wat aanbidders van Jehovah geniet
1, 2. (a) Watter soort vryheid het God die eerste mensepaar gegee? (b) Noem party van die wette wat Adam en Eva se bedrywighede gerig het.
TOE Jehovah die eerste man en vrou geskep het, het hulle baie groter vryheid geniet as wat enige mens vandag het. Hulle tuiste was ’n paradys, die pragtige Tuin van Eden. Geen siekte het hulle lewensgenot bederf nie, want hulle het volmaakte verstande en liggame gehad. Die dood het nie op hulle gewag soos op almal wat sedertdien gelewe het nie. Hulle was ook nie robotte nie, maar het die wonderlike gawe van wilsvryheid gehad, die vermoë om hulle eie besluite te neem. Maar as hulle wou voortgaan om hierdie wonderlike vryheid te geniet, moes hulle God se wette respekteer.
2 Dink byvoorbeeld aan die fisiese wette wat God ingestel het. Hierdie wette is natuurlik nie in soveel woorde gestel nie, maar Adam en Eva is so gemaak dat dit doodnatuurlik was om hierdie wette te gehoorsaam. Hulle het honger geword wanneer hulle moes eet; hulle het dors geword wanneer hulle moes drink; die son het gesak wanneer hulle moes slaap. Jehovah het hulle ook ’n taak gegee. Daardie taak was in werklikheid ’n wet omdat dit hulle handelswyse sou rig. Hulle moes kinders voortbring, beheer oor al die lewensvorme op die aarde uitoefen en die grense van die Paradys uitbrei totdat dit die hele aarde insluit (Genesis 1:28; 2:15). Wat ’n liefdevolle, voordelige wet was dit tog! Dit het hulle werk gegee wat waarlik bevredigend was en hulle in staat gestel het om hulle vermoëns ten volle en op ’n heilsame manier te gebruik. Hulle het ook groot vryheid gehad om besluite te neem oor hoe hulle hulle taak sou uitvoer. Wat meer sou enigiemand wou hê?
3. Hoe kon Adam en Eva leer om hulle vryheid om besluite te neem, wyslik te gebruik?
3 Toe Adam en Eva die voorreg gegee is om besluite te neem, het dit natuurlik nie beteken dat sommer enige besluit wat hulle neem, goeie gevolge sou hê nie. Hulle moes hulle vryheid om besluite te neem, binne die perke van God se wette en beginsels uitoefen. Hoe kon hulle leer wat dit is? Deur na hulle Maker te luister en sy werke waar te neem. God het Adam en Eva die nodige intelligensie gegee om toe te pas wat hulle geleer het. Aangesien hulle volmaak geskep is, sou hulle natuurlike neiging wees om God se eienskappe te weerspieël wanneer hulle besluite neem. Ja, hulle sou seker maak dat hulle dit doen as hulle werklik waardeer het wat God vir hulle gedoen het en hom wou behaag.—Genesis 1:26, 27; Johannes 8:29.
4. (a) Het die bevel wat aan Adam en Eva gegee is om nie van die vrug van een boom te eet nie, hulle van hulle vryheid beroof? (b) Waarom was dit ’n gepaste vereiste?
4 God het dus tereg besluit om hulle toegewydheid aan hom as hulle Lewegewer op die proef te stel, sowel as hulle gewilligheid om binne die perke te bly wat hy gestel het. Jehovah het aan Adam hierdie bevel gegee: “Van al die bome van die tuin mag jy tot versadiging toe eet. Maar wat die boom van die kennis van goed en kwaad betref, daarvan mag jy nie eet nie, want die dag as jy daarvan eet, sal jy sekerlik sterf” (Genesis 2:16, 17). Nadat Eva geskep is, is sy ook van hierdie wet in kennis gestel (Genesis 3:2, 3). Het hierdie beperking hulle van hulle vryheid beroof? Beslis nie. Hulle het ’n oorvloed van allerhande heerlike kossoorte gehad wat hulle kon eet sonder om die vrugte van daardie spesifieke boom te eet (Genesis 2:8, 9). Dit was net gepas dat hulle erken dat die aarde aan God behoort, aangesien hy dit geskep het. Hy het dus die reg om wette te maak wat by sy voorneme pas en die mensdom tot voordeel strek.—Psalm 24:1, 10.
5. (a) Hoe het Adam en Eva die wonderlike vryheid verloor wat hulle gehad het? (b) Wat het die plek geneem van die vryheid wat Adam en Eva geniet het, en watter uitwerking het dit op ons gehad?
5 Maar wat het gebeur? ’n Engel wat deur selfsugtige ambisie aangedryf is, het sy wilsvryheid misbruik en Satan geword, wat “Teenstander” beteken. Hy het Eva bedrieg deur haar te verseker van iets wat in stryd was met God se wil (Genesis 3:4, 5). Adam het hom by Eva geskaar en ook God se wet verbreek. Omdat hulle iets geneem het wat nie aan hulle behoort het nie, het hulle hulle wonderlike vryheid verloor. Sonde het hulle meester geword, en soos God gewaarsku het, het die dood uiteindelik gevolg. Die erfenis wat hulle aan hulle nakomelinge oorgedra het, was sonde—wat geopenbaar word in ’n aangebore neiging om verkeerd te doen. Sonde het ook swakhede meegebring wat tot siekte, veroudering en die dood lei. Die neiging om verkeerd te doen, wat vererger word deur die invloed van Satan, het ’n mensegemeenskap voortgebring met ’n geskiedenis van haat, misdaad, onderdrukking en oorloë wat miljoene lewens geëis het. Wat ’n teenstelling vorm dit tog met die vryheid wat God in die begin aan die mensdom gegee het!—Deuteronomium 32:4, 5; Job 14:1, 2; Romeine 5:12; Openbaring 12:9.
Waar vryheid gevind kan word
6. (a) Waar kan ware vryheid gevind word? (b) Van watter soort vryheid het Jesus gepraat?
6 Met die oog op die benarde toestande wat vandag heers, is dit glad nie verbasend dat mense na groter vryheid smag nie. Maar waar kan ware vryheid gevind word? Jesus het gesê: “As julle in my woord bly, is julle werklik my dissipels, en julle sal die waarheid ken, en die waarheid sal julle vrymaak” (Johannes 8:31, 32). Hierdie vryheid is nie die soort waarop mense hoop wanneer hulle een heerser of regeringsvorm ten gunste van ’n ander verwerp nie. Hierdie vryheid dring eerder deur tot die kern van die mens se probleme. Wat Jesus bespreek het, was vryheid van slawerny aan die sonde (Johannes 8:24, 34-36). As iemand dus ’n ware dissipel van Jesus Christus word, vind ’n merkwaardige verandering in sy lewe plaas—hy word bevry!
7. (a) In watter sin kan ons nou vry van sonde wees? (b) Wat moet ons doen om daardie vryheid te hê?
7 Dit beteken nie dat ware Christene vandag nie meer die uitwerking van die aangebore neiging tot sondige gedrag voel nie. Aangesien hulle sonde geërf het, voer hulle nog steeds ’n stryd as gevolg daarvan (Romeine 7:21-25). Maar as iemand werklik in ooreenstemming met Jesus se leringe lewe, sal hy nie meer ’n slaaf van die sonde wees nie. Sonde sal nie meer vir hom soos ’n diktator wees wat hom bevele gee wat hy blindelings moet gehoorsaam nie. Hy sal nie vasgevang wees in ’n doellose lewenswyse wat hom met ’n slegte gewete laat nie. Hy sal ’n rein gewete voor God hê, omdat sondes van die verlede vergewe is op grond van sy geloof in die offerande van Christus. Sondige neigings probeer dalk die oorhand kry, maar wanneer hy weier om in ooreenstemming daarmee op te tree omdat hy aan die rein leringe van Christus dink, toon hy dat sonde nie meer sy meester is nie.—Romeine 6:12-17.
8. (a) Watter vryhede gee die ware Christelike godsdiens ons? (b) Wat behoort ons gesindheid teenoor wêreldlike heersers te wees?
8 Dink aan die vryhede wat ons as Christene geniet. Ons is bevry van die uitwerking van valse leringe en van slawerny aan bygelowe en sonde. Die wonderlike waarhede oor die toestand van die dooies en die opstanding het ons bevry van ’n onredelike vrees vir die dood. Die wete dat onvolmaakte menseregerings binnekort deur God se regverdige Koninkryk vervang gaan word, bevry ons van wanhoop (Daniël 2:44; Matteus 6:10). Maar hierdie vryheid regverdig nie ’n oneerbiedige gesindheid teenoor die regeringsowerheid en hulle wette nie.—Titus 3:1, 2; 1 Petrus 2:16, 17.
9. (a) Hoe help Jehovah ons liefdevol om die grootste mate van vryheid te geniet wat nou vir mense moontlik is? (b) Hoe kan ons wyse besluite neem?
9 Jehovah laat ons nie deur ons foute uitvind wat die beste manier is om te lewe nie. Hy weet hoe ons gemaak is, wat ons ware tevredenheid verskaf en wat tot ons ewige welsyn is. Hy is bewus van gedagtes en gedrag wat ’n mens se verhouding met Hom en met jou medemens kan bederf en moontlik selfs kan verhoed dat jy in die nuwe wêreld kom. Jehovah leer ons liefdevol van al hierdie dinge deur middel van die Bybel en sy sigbare organisasie (Markus 13:10; Galasiërs 5:19-23; 1 Timoteus 1:12, 13). Daarna is dit ons verantwoordelikheid om ons godgegewe wilsvryheid te gebruik om te besluit hoe ons gaan reageer. As ons, in teenstelling met Adam, ter harte geneem het wat die Bybel ons leer, sal ons wyse besluite neem. Ons sal toon dat ’n goeie verhouding met Jehovah vir ons die belangrikste in die lewe is.
Die begeerte na ’n ander soort vryheid
10. Watter soort vryheid het party wat Jehovah se Getuies is, nagestreef?
10 Soms begeer party jongmense wat Jehovah se Getuies is—sowel as ander wat nie so jonk is nie—’n ander soort vryheid. Die wêreld lyk dalk aantreklik, en hoe meer hulle daaraan dink, hoe sterker word hulle begeerte om die onchristelike dinge te doen wat in die wêreld gewild is. Sulke persone is dalk nie van plan om dwelms te misbruik, te veel te drink of hoerery te pleeg nie. Maar hulle begin omgaan met mense wat nie ware Christene is nie en wil deur hulle aanvaar word. Hulle begin moontlik selfs hulle spraak en gedrag naboots.—3 Johannes 11.
11. Van waar kom die versoeking om verkeerd te doen soms?
11 Soms kom die versoeking om by onchristelike gedrag betrokke te raak, van iemand wat sê dat hy Jehovah dien. Dit was die geval met party van die vroeë Christene, en dit kan ook in ons dag gebeur. Sulke mense wil dikwels dinge doen wat hulle dink genotvol sal wees, maar hierdie dinge is strydig met God se wet. Hulle spoor ander aan om ’n bietjie “pret” te hê. Hulle ‘beloof vryheid, terwyl hulle self slawe van verderflikheid is’.—2 Petrus 2:19.
12. Wat is die tragiese gevolge van gedrag wat strydig is met God se wette en beginsels?
12 Die vrugte van hierdie sogenaamde vryheid is altyd sleg, aangesien dit ongehoorsaamheid aan God se wette beteken. Byvoorbeeld, ongeoorloofde seks kan lei tot emosionele ontwrigting, siekte, die dood, ongewenste swangerskap en die verbrokkeling van ’n huwelik (1 Korintiërs 6:18; 1 Tessalonisense 4:3-8). Dwelmmisbruik kan geïrriteerdheid, onduidelike spraak, dowwe sig, duiseligheid, asemhalingsprobleme, hallusinasies en die dood tot gevolg hê. Dit kan tot verslawing lei, wat kan veroorsaak dat ’n mens jou tot misdaad wend om die gewoonte te onderhou. Drankmisbruik het soortgelyke gevolge (Spreuke 23:29-35). Mense wat by hierdie gedrag betrokke raak, dink moontlik dat hulle vry is, maar dan vind hulle te laat uit dat hulle slawe van die sonde geword het. En wat ’n wrede meester is die sonde tog! As ons nou oor die saak redeneer, kan dit help om ons teen so ’n ondervinding te beskerm.—Galasiërs 6:7, 8.
Waar probleme begin
13. (a) Hoe word die begeertes wat tot probleme lei, dikwels gewek? (b) Wie se beskouing moet ons hê as ons wil verstaan wie “slegte omgang” is? (c) Beklemtoon Jehovah se beskouing wanneer jy die vrae in paragraaf 13 beantwoord.
13 Dink ’n bietjie aan waar probleme dikwels begin. Die Bybel verduidelik: “Elkeen word beproef deurdat hy deur sy eie begeerte meegesleep en verlok word. Daarna, wanneer die begeerte vrugbaar geword het, baar dit sonde; en wanneer die sonde volbring is, bring dit die dood voort” (Jakobus 1:14, 15). Hoe word die begeerte gewek? Deur wat in die verstand ingaan. Dit is dikwels as gevolg van omgang met mense wat nie Bybelbeginsels toepas nie. Ons weet natuurlik almal dat ons “slegte omgang” moet vermy (1 Korintiërs 15:33). Maar wie is slegte omgang? Hoe beskou Jehovah die saak? As ons oor die volgende vrae redeneer en die teksverwysings naslaan, behoort dit ons te help om tot die regte gevolgtrekkings te kom.
Beteken die feit dat sekere mense eerbaar voorkom dat hulle goeie omgang is? (Genesis 34:1, 2, 18, 19)
Kan hulle gesprekke, moontlik hulle grappe, toon of ons werklik noue omgang met hulle moet hê? (Efesiërs 5:3, 4)
Hoe voel Jehovah as ons intiem omgaan met mense wat hom nie liefhet nie? (2 Kronieke 19:1, 2)
Waarom moet ons op ons hoede wees as ons werk of skoolgaan saam met mense wat nie dieselfde oortuigings as ons het nie? (1 Petrus 4:3, 4)
Om televisie of na rolprente te kyk, die Internet te gebruik en boeke, tydskrifte en koerante te lees, is maniere waarop ons met ander omgaan. Teen watter soort materiaal uit hierdie bronne moet ons op ons hoede wees? (Spreuke 3:31; Jesaja 8:19; Efesiërs 4:17-19)
Wat vertel ons keuse van vriende vir Jehovah van die soort mense wat ons is? (Psalm 26:1, 4, 5; 97:10)
14. Watter wonderlike vryheid lê voor vir diegene wat nou die raad van God se Woord getrou toepas?
14 God se nuwe wêreld is voor die deur. Deur middel van God se hemelse Koninkryk sal die mensdom bevry word van die invloed van Satan en sy hele goddelose stelsel van dinge. Die gehoorsame mensdom sal geleidelik van al die gevolge van sonde bevry word, wat sal lei tot volmaakte verstande en liggame, sodat ons die ewige lewe in die Paradys sal kan geniet. Die hele skepping sal uiteindelik die vryheid geniet wat in volle ooreenstemming met “die gees van Jehovah” is (2 Korintiërs 3:17). Sou dit sin maak om dit alles op die spel te plaas omdat ons nou die raad van God se Woord verontagsaam? Mag ons almal duidelik toon dat ons werklik “die glorieryke vryheid van die kinders van God” wil hê deur vandag ons Christelike vryheid wyslik te gebruik.—Romeine 8:21.
Hersieningsbespreking
• Watter soort vryheid het die eerste mensepaar geniet? Hoe vergelyk dit met wat die mensdom nou ondervind?
• Watter vryheid het ware Christene? Hoe verskil dit van wat die wêreld as vryheid beskou?
• Waarom is dit so belangrik om slegte omgang te vermy? In teenstelling met Adam, wie se besluite aanvaar ons oor wat sleg is?
[Prente op bladsy 46]
God se Woord waarsku: “Moenie mislei word nie. Slegte omgang bederf nuttige gewoontes”