HOOFSTUK TWEE
Profete wie se boodskappe ons kan raak
1. Waarom moet jy belangstel in die 12 profete wat die laaste boeke van die Hebreeuse Geskrifte geskryf het?
WIL jy graag 12 boodskappers van God leer ken? Hierdie spesifieke 12 het gelewe voordat Jesus op die aarde was; jy kan hulle dus nie persoonlik ontmoet nie. Jy kan hulle nietemin leer ken en let op hoe hulle “die groot dag van Jehovah” goed in gedagte gehou het. En wat jy sal leer, is werklik belangrik vir elke Christen wat tereg daarna streef om Jehovah se groot dag in gedagte te hou.—Sefanja 1:14; 2 Petrus 3:12.
2, 3. Hoe kan ons ons met die ondervindinge van die 12 profete vereenselwig?
2 Daar is ’n menigte manne wat in die Skrif profete genoem word—baie Bybelboeke dra die naam van ’n profeet. Soos die ander profete, is die 12 manne wat ons gaan bespreek, voorbeelde van getrouheid en moed. Party van hulle het die groot vreugde gesmaak om te sien hoe hulle boodskap harte en verstande verander, sodat mense tot God teruggekeer het. Ander het bittere teleurstelling ervaar wanneer hulle gesien het hoe eiesinnige mense Jehovah se standaarde skend en sy wil teëstaan. Party van hierdie 12 het gefrustreerd gevoel omdat verklaarde aanbidders van Jehovah om hulle ’n oorgeruste en genotsugtige gesindheid geopenbaar het.
3 Soos ons, het hierdie 12 profete in tye gelewe wat gekenmerk is deur politieke onrus, maatskaplike beroering en godsdienstige verval. Aangesien hulle mense was “met gevoelens soos ons s’n”, het hulle sekerlik ook met hulle eie vrese en uitdagings te kampe gehad (Jakobus 5:17). Hulle het nietemin vir ons ’n goeie voorbeeld gestel, en hulle boodskappe moet in gedagte gehou word, aangesien dit in die “profetiese geskrifte” opgeteken is tot voordeel van ons “op wie die eindes van die stelsels van dinge gekom het”.—Romeine 15:4; 16:26; 1 Korintiërs 10:11.
12 PROFETE IN HULLE TYE
4. Wat het jy opgelet omtrent die volgorde waarin die 12 profete gelewe het, en wie van hulle het Jehovah eerste verwek om sy volk te waarsku en aan te spoor?
4 Jy dink dalk dat die volgorde waarin die boeke Hosea tot Maleagi in jou Bybel voorkom, ooreenstem met die chronologiese volgorde waarin hierdie profete gelewe het. Dit is nie die geval nie. Die profete Jona, Joël, Amos, Hosea en Miga het byvoorbeeld almal in die negende en agtste eeu v.G.J. gelewe.a Gedurende hierdie tyd was baie konings in die suidelike koninkryk van Juda sowel as die noordelike koninkryk van Israel ontrou. En hulle onderdane het hulle voorbeeld gevolg, wat God se toorn oor hulle gebring het. Dit was in hierdie tyd dat die Assiriërs en later die Babiloniërs na wêreldoorheersing gestreef het. Min het die Israeliete besef dat Jehovah hierdie twee wêreldmoondhede as sy skerpregters sou gebruik! Maar jy weet dat God Israel en Juda voortdurend deur middel van getroue profete gewaarsku het.
5. Watter groep profete het Jehovah se oordeel verkondig toe Juda en Jerusalem verwoesting in die gesig gestaar het?
5 Toe die tyd vir sy oordeel oor Juda en Jerusalem nader gekom het, het Jehovah nog ’n groep kragtige woordvoerders verwek. Wie was in hierdie groep? Die profete Sefanja, Nahum, Habakuk en Obadja. Hulle het almal gedurende die sewende eeu v.G.J. gedien. Die tragiesste gebeure wat hierdie tydperk gekenmerk het, was die vernietiging van Jerusalem deur die Babiloniërs in 607 v.G.J. en die wegvoering van die Jode in ballingskap. Weer eens het sake verloop net soos God gewaarsku het in profesieë wat geuiter is deur party van hierdie einste manne wat hy gestuur het om namens hom te spreek. Hulle het die volk probeer waarsku oor dinge wat verkeerd was, soos dronkenskap en geweldpleging, maar die volk wou nie verander nie.—Habakuk 1:2, 5-7; 2:15-17; Sefanja 1:12, 13.
6. Hoe het Jehovah die oorblyfsel wat uit ballingskap teruggekeer het, aangespoor?
6 Nadat God se volk uit ballingskap teruggekeer het, het hulle bekwame leierskap sowel as vertroosting en vermaning nodig gehad om hulle aandag op ware aanbidding gevestig te hou. Nog ’n groep profete—Haggai, Sagaria en Maleagi—het in hierdie behoefte voorsien. Hulle het in die sesde en vyfde eeu v.G.J. gedien. Wanneer jy meer van hierdie 12 moedige verdedigers van Jehovah se soewereiniteit en van hulle werk leer, sal jy belangrike lesse opmerk wat jy gedurende ons gevaarlike tye in jou bediening kan toepas. Kom ons bespreek nou hierdie profete in die volgorde waarin hulle gedien het.
’N STRYD OM HARDKOPPIGE NASIES TE RED
7, 8. Hoe kan Jona se ondervindinge ons aanspoor om ’n gebrek aan vertroue die hoof te bied?
7 Het jy al ooit ’n vertrouenskrisis ondervind en miskien gevoel dat jou geloof afneem? Dan is Jona se ondervindinge vir jou besonder nuttig. Jona het in die negende eeu v.G.J. gelewe. Jy weet waarskynlik dat God Jona gestuur het na Nineve, die hoofstad van die opkomende Assiriese Ryk. Jona moes die goddeloosheid van die Nineviete veroordeel. Maar in plaas van na sy toewysing te gaan—omtrent 900 kilometer noordoos van Jerusalem—het Jona op ’n skip geklim wat onderweg was na ’n hawe wat moontlik in Spanje was. Ja, hy was op pad na ’n bestemming 3 500 kilometer in die teenoorgestelde rigting! Wat dink jy? Is Jona aangedryf deur vrees, ’n tydelike verlies van geloof of selfs gegriefdheid oor enige moontlike berou wat die Nineviete sou toon en wat dit vir hulle moontlik sou maak om dan later vyandig teenoor Israel op te tree? Die Bybel sê nie spesifiek vir ons nie. Maar ons kan sien waarom ons moet oppas dat ons nie verkeerde denke ontwikkel nie.
8 Jy weet hoe Jona op God se teregwysing gereageer het. Toe Jona in “’n groot vis” was wat hom ingesluk het, het hy erken: “Redding behoort aan Jehovah” (Jona 1:17; 2:1, 2, 9). Nadat Jona wonderdadig gered is, het hy sy opdrag uitgevoer, maar hy was baie teleurgesteld toe Jehovah nie die Nineviete vernietig het nie omdat hulle op Jona se boodskap ag geslaan en berou getoon het. Jehovah het die profeet, wat egotisme geopenbaar het, weer liefdevol tereggewys. En hoewel party dalk op Jona se foute sal konsentreer, het God hom as ’n gehoorsame en getroue kneg beskou.—Lukas 11:29.
9. Hoe kan jy baat vind by Joël se profetiese boodskap?
9 Was jy al ooit gefrustreerd wanneer mense jou Bybelboodskap as alarmisties bestempel het? Die boodskap van die profeet Joël, wie se naam “Jehovah is God” beteken, is ook so beskou deur sy landgenote. Hy het blykbaar sy profesieë omstreeks 820 v.G.J., in die dae van koning Ussia, in Juda opgeteken. Joël en Jona se dienstye het moontlik oorvleuel. Joël het gepraat van ’n plaag vernietigende sprinkane wat in swerms sou kom om die land te verwoes. Ja, God se vreesinboesemende dag was naby. Maar jy sal vind dat Joël se boodskap nie net onheil voorspel het nie. Op ’n positiewe toon het hy aangedui dat die getroues ‘dié sou wees wat ontkom’ (Joël 2:32). Berouvolles kan hulle verheug oor Jehovah se seën en vergifnis. Hoe gerusstellend moet dit tog vir ons wees om in gedagte te hou dat dit ook deel van ons boodskap is! Joël het voorspel dat God se werkende krag, sy heilige gees, “op elke soort vlees” uitgestort sou word. Kan jy sien hoe jy by hierdie profesie betrokke is? En Joël het beklemtoon wat die enigste gewisse manier is om redding te verkry: “Elkeen wat die naam van Jehovah aanroep, sal veilig wegkom.”—Joël 2:28, 32.
10. Hoe het Jehovah ’n nederige seisoensarbeider gebruik?
10 Jy kan simpatie hê vir Amos as jy soms getref word deur die erns van die boodskap wat ons moet verkondig, gewoonlik aan mense wat nie daarop reageer nie. Amos was nie die seun van ’n profeet of lid van ’n groep profete nie; hy was maar net ’n skaapwagter en ’n seisoensarbeider. Hy het geprofeteer gedurende die tyd van koning Ussia van Juda, teen die einde van die negende eeu v.G.J. Ondanks sy nederige afkoms het Amos (wie se naam “’n Las wees; ’n Las dra” beteken) gewigtige boodskappe oorgedra wat teen Juda, Israel en omliggende nasies gerig was. Is dit nie vir jou aanmoedigend om te weet dat Jehovah ’n doodgewone mens in staat kan stel om sulke belangrike werk te doen nie?
11. Hoe ver was Hosea bereid om te gaan om God se wil te doen?
11 Het jy jou al ooit afgevra: ‘Watter opofferings sal ek bereid wees om te maak om Jehovah se wil te doen?’ Dink aan Hosea, wat omtrent dieselfde tyd as Jesaja en Miga gelewe het en ongeveer 60 jaar lank as ’n profeet gedien het. Jehovah het Hosea beveel om met Gomer, “’n vrou van hoerery”, te trou (Hosea 1:2). Net een van die drie kinders aan wie Gomer later geboorte gegee het, was blykbaar Hosea s’n. Waarom sou Jehovah enigiemand vra om die vernedering van huweliksontrou te verduur? Jehovah het ’n les omtrent lojaliteit en vergifnis oorgedra. Die noordelike koninkryk was ontrou aan God net soos ’n owerspelige vrou aan haar man. Jehovah sou nietemin sy liefde vir sy volk toon en hulle probeer help om berou te hê, wat beslis vir ons ’n bemoedigende gedagte is.
12. Hoe kan jy daarby baat vind om die voorbeeld van Miga en die uitwerking van sy profesieë te ondersoek?
12 Stem jy nie saam dat vandag se kritieke tye dit vir jou moeilik maak om vrymoedigheid en volkome vertroue op Jehovah aan te kweek nie? As jy hierdie eienskappe aan die dag lê, sal jy soos Miga wees. Miga was ’n tydgenoot van Hosea en Jesaja en het in die agtste eeu v.G.J., gedurende die bewind van die Judese konings Jotam, Agas en Hiskia, boodskappe teen die nasies Juda en Israel verkondig. Uiterste sedelike verdorwenheid en afgodediens het die noordelike koninkryk van Israel verontreinig, wat vernietig is toe Samaria in 740 v.G.J. deur die Assiriërs verower is. Juda het geweifel tussen gehoorsaamheid en ontrouheid aan Jehovah. Ondanks onheilspellende gebeure was dit vir Miga vertroostend om te sien dat sy godgegewe boodskap Juda se verval in geestelike verdorwenheid en uiteindelike rampspoed tydelik teruggehou het. Hoe vertroostend is dit tog vir ons om te sien dat party wel gunstig reageer op ons boodskap van redding!
’N DREIGENDE STORM WORD VOORUITGESIEN
13, 14. (a) Hoe kan Sefanja se voorbeeld jou in jou aanbidding help? (b) Watter geestelike hervorming het Sefanja se werk help teweegbring?
13 Namate die Egiptiese en die Assiriese wêreldmoondhede gekwyn het, het Babilon prominenter geword. Sy opgang sou weldra dramatiese gevolge vir die nasie Juda hê. God se profete was daar om Jehovah se aanbidders te waarsku en te vermaan. Beskou party van hierdie profete, terwyl jy in gedagte hou dat Christene vandag ook ’n waarskuwingsboodskap verkondig.
14 As jy moes wegbreek van familietradisies om Jehovah se wil te doen, kan jy met Sefanja simpatiseer. Hy was moontlik ’n agter-agterkleinseun van koning Hiskia en ’n familielid van koning Josia—dus ’n lid van Juda se koningshuis. Tog het Sefanja gehoorsaam ’n oordeelsboodskap teen die verdorwe leierskap in Juda oorgedra. Sy naam beteken “Jehovah het verberg”. Hy het beklemtoon dat ’n mens net deur God se barmhartigheid “verberg [kan] word in die dag van Jehovah se toorn” (Sefanja 2:3). Gelukkig het Sefanja se moedige verkondiging vrug gedra. Jong koning Josia het die leiding geneem in ’n geestelike hervorming en het die afgode verwyder, die tempel herstel en ware aanbidding weer ingestel (2 Konings, hoofstukke 22-23). Sefanja en sy medeprofete (Nahum en Jeremia) het die koning ongetwyfeld gehelp of raad gegee. Ongelukkig was die berou van die meeste Jode net oppervlakkig. Nadat Josia in ’n geveg gesterf het, het hulle tot afgodediens teruggekeer. Net ’n paar jaar later is hulle in Babiloniese gevangenskap weggevoer.
15. (a) Waarom het Nineve die ongunstige boodskap verdien wat deur Nahum oorgedra is? (b) Wat kan jy leer uit wat met Nineve gebeur het?
15 Jy voel dalk dat jy onbelangrik is, dat jy nie iemand is wat op die voorgrond is nie. Christene het die groot voorreg om “medewerkers” van God te wees, en tog geniet die meeste persoonlik nie groot aansien nie (1 Korintiërs 3:9). Net so weet ons niks meer van die profeet Nahum nie as dat hy afkomstig was van ’n dorpie met die naam Elkos, wat moontlik in Juda geleë was. Maar sy boodskap was gewigtig en belangrik. Hoe so? Nahum het teen die hoofstad van die Assiriese Ryk, Nineve, geprofeteer. Die stad se mense het gunstig gereageer op Jona se werk, maar na ’n ruk het hulle weer in hulle ou weë verval. Klipsnywerk wat gevind is op die terrein van eertydse Nineve, toon dat dit, soos Nahum gesê het, ’n “stad van bloedvergieting” was (Nahum 3:1). Daardie snywerk toon hoe wreed krygsgevangenes behandel is. Nahum het die algehele vernietiging van Nineve in beskrywende en dramatiese taal voorspel. Sy boodskap is bewaarheid, net soos die boodskap wat ons vandag dra, bewaarheid sal word.
16, 17. Wat kan ons uit die geval van Habakuk leer as ons verwagtings oor die einde nog nie ten volle vervul is nie?
16 Deur die eeue heen is party Bybellesers se verwagtings met betrekking tot die dag van Jehovah nie vervul nie. Ander voel dalk gefrustreerd deur die skynbare vertraging van God se oordeel. Hoe voel jy? Habakuk het die kwellinge wat hy begryplikerwys gehad het, uitgespreek en gevra: “Hoe lank, o Jehovah, moet ek om hulp roep, sonder dat u hoor? . . . Waarom is plundering en geweld voor my?”—Habakuk 1:2, 3.
17 Habakuk het gedurende ’n veelbewoë tyd van die Judese geskiedenis geprofeteer, ná die bewind van goeie koning Josia maar voor Jerusalem se vernietiging in 607 v.G.J. Ongeregtigheid en geweld het hoogty gevier. Om hulle aan die kant van Egipte te skaar, het Habakuk gewaarsku, sou Juda nie van die bloeddorstige Babiloniërs red nie. Hy het op ’n lewendige en dramatiese wyse geskryf en hierdie vertroostende gedagte gemeld: “Wat die regverdige betref, deur sy getroue geloof sal hy bly lewe” (Habakuk 2:4). Hierdie woorde moet vir ons werklik belangrik wees, want die apostel Paulus het dit in drie boeke van die Christelike Griekse Geskrifte aangehaal (Romeine 1:17; Galasiërs 3:11; Hebreërs 10:38). Verder gee Jehovah ons deur Habakuk die versekering: “Die visioen is nog vir die vasgestelde tyd . . . Dit sal nie laat wees nie.”—Habakuk 2:3.
18. Waarom het Jehovah Obadja beveel om teen Edom te profeteer?
18 Die profeet Obadja geniet die onderskeiding dat hy die kortste boek van die Hebreeuse Geskrifte geskryf het—net 21 verse. Al wat ons van hom weet, is dat hy teen Edom geprofeteer het. Die Edomiete was nakomelinge van Jakob se broer en was dus die Israeliete se ‘broers’ (Deuteronomium 23:7). Maar Edom het God se volk baie onbroederlik behandel. In 607 v.G.J., omtrent die tyd toe Obadja sy boek geskryf het, het hulle die paaie versper en vlugtende Jode aan die vyandelike Babiloniërs uitgelewer. Jehovah het die algehele verwoesting van Edom voorspel, ’n profesie wat vervul is. Soos in die geval van Nahum, weet ons dalk min van Obadja, maar hoe bemoedigend is dit tog om te besef dat God persone wat miskien onbeduidend voorkom, as Sy boodskappers kan gebruik!—1 Korintiërs 1:26-29.
BOODSKAPPE WAT AANSPOOR, VERTROOS EN WAARSKU
19. Hoe het Haggai gehelp om God se volk te versterk?
19 Haggai is die eerste van drie profete wat gedien het nadat ’n getroue oorblyfsel in 537 v.G.J. uit Babiloniese ballingskap teruggekeer het. Haggai was moontlik in die eerste groep wat teruggekeer het. Tesame met goewerneur Serubbabel en hoëpriester Josua en in samewerking met die profeet Sagaria het Haggai die Jode probeer aanspoor om teenstand van buite en hulle eie onverskilligheid as gevolg van materialisme te bowe te kom. Hulle moes die werk volbring waarvoor hulle teruggekom het: die herbouing van Jehovah se tempel. Haggai se vier reguit boodskappe, wat in 520 v.G.J. gegee is, het die aandag gevestig op Jehovah se naam en soewereiniteit. Wanneer jy die boek lees, sal jy die uitdrukking “Jehovah van die leërs” 14 keer vind. Haggai se kragtige boodskappe het die volk beweeg om hulle bouwerk aan die tempel te hervat. Versterk dit jou nie ook om te weet dat Jehovah as Soewereine Heerser onbeperkte krag het en dat hy bevel voer oor ontsaglike leërs van geesskepsele nie?—Jesaja 1:24; Jeremia 32:17, 18.
20. Watter heersende gesindheid het Sagaria bestry?
20 Jy voel dalk soms mismoedig wanneer jy ’n gebrek aan ywer sien in party wat God gedien het. Dan kan jy jou met die profeet Sagaria vereenselwig. Soos sy tydgenoot Haggai, het hy die moeilike taak gehad om medeaanbidders aan te spoor om voort te gaan met die werk totdat die tempel voltooi is. Sagaria het hom beywer om die volk te versterk om hierdie ontsaglike taak aan te pak. Ondanks die gemaksugtige gesindheid van die mense om hom het hy hulle probeer aanspoor om sterk geloof te hê en dade wat daarmee ooreenstem. En hy het daarin geslaag. Sagaria het tallose profesieë oor die Christus opgeteken. Ons kan ook krag put uit die boodskap dat “Jehovah van die leërs” mense wat sy guns soek, nie sal vergeet nie.—Sagaria 1:3.
IN AFWAGTING VAN DIE MESSIAS
21. (a) Waarom was Maleagi se boodskap uiters nodig? (b) Met watter versekering sluit die boek Maleagi die Hebreeuse Geskrifte af?
21 Die laaste van die 12 profete, Maleagi, het sy naam, wat “My boodskapper” beteken, gestand gedoen. Ons weet min van hierdie profeet, wat in die middel van die vyfde eeu v.G.J. gelewe het. Maar na aanleiding van sy profesie weet ons wel dat hy ’n onbevreesde woordvoerder was wat God se volk bestraf het vir hulle sondes en huigelary. Die toestande wat Maleagi beskryf het, is baie dieselfde as dié wat uitgebeeld is deur Nehemia, wat waarskynlik ’n tydgenoot van Maleagi was. Waarom was Maleagi se boodskap uiters nodig? Die ywer en geesdrif wat die profete Sagaria en Haggai etlike dekades vroeër aangewakker het, het verflou. Die Jode se geestelike toestand was beroerd. Maleagi het hom moedig teen trotse en huigelagtige priesters uitgespreek, en hy het die volk gekritiseer oor hulle halfhartige aanbidding en die offerandes wat hulle gebring het. Maar net soos God se Woord ons van ’n wonderlike toekomshoop verseker, het Maleagi die koms voorspel van die Messias se voorloper, Johannes die Doper, en daarna van Christus self. Maleagi se boodskap sluit die Hebreeuse Geskrifte op ’n positiewe toon af deur vir ons te belowe dat “die son van regverdigheid beslis [sal] skyn” vir dié wat God se naam vrees.—Maleagi 4:2, 5, 6.
22. Wat is jou waarnemings aangaande die karakter en die boodskap van die 12 profete?
22 Jy kan sien dat die manne wat die laaste 12 boeke van die Hebreeuse Geskrifte geskryf het, geloof en vaste oortuiging gehad het (Hebreërs 11:32; 12:1). Hulle voorbeeld en boodskap kan ons waardevolle lesse leer terwyl ons gretig uitsien na “Jehovah se dag” (2 Petrus 3:10). Kyk nou hoe hierdie profetiese boodskappe jou ewige toekoms kan raak!
a Vergelyk dit met die tydkaart op bladsye 20 en 21. Daar sal jy byvoorbeeld sien dat Miga sowel as Hosea gedurende ’n tydperk gedien het toe Jesaja ’n profeet van God in Jerusalem was.