Hoofstuk 22
Waarom is daar soveel reëls?
Noem ’n paar van jou gesin se reëls. ․․․․․
Dink jy gesinsreëls is altyd regverdig?
□ Ja □ Nee
Watter reël is vir jou die moeilikste om te gehoorsaam? ․․․․․
HUISREËLS, soos dit soms genoem word, is die moets en moenies wat jou ouers vir jou vasgestel het. Hierdie reëls behels dalk vereistes in verband met huiswerk, daaglikse takies en inkomtye, sowel as beperkings op jou gebruik van die telefoon, die TV en die rekenaar. Party reëls strek verder as die huis en beheer jou gedrag by die skool en jou keuse van vriende.
Voel jy ingehok deur hierdie beperkings? Dalk voel jy soos die volgende jongmense:
“Die feit dat ek ’n vaste inkomtyd gehad het, het my ontsettend geïrriteer! Ek het dit gehaat wanneer ander later as ek kon uitbly.”—Allen.
“Dis aaklig wanneer jou selfoonoproepe gemonitor word. Ek voel asof ek soos ’n kind behandel word!”—Elizabeth.
“Dit het vir my gevoel of my ouers my sosiale lewe probeer vernietig, asof hulle nie wou hê dat ek enige vriende moet hê nie!”—Nicole.
Hoewel jongmense dikwels hulle ouers se reëls oortree, erken die meeste van hulle dat daar tog reëls nodig is om algehele chaos te vermy. Maar as huisreëls noodsaaklik is, waarom is party van hulle dan so irriterend?
“Ek is nie meer ’n baba nie!”
Miskien ontstel die reëls jou omdat jy voel dat jy soos ’n kind behandel word. Jy wil uitroep: “Ek is nie meer ’n baba nie!” Jou ouers voel natuurlik dat hulle reëls noodsaaklik is om jou te beskerm en jou voor te berei op die verantwoordelikhede van volwassenheid.
Maar dit lyk dalk of die reëls in julle huis nie saam met jou “grootgeword” het nie. Jy voel dalk ingehok, soos ’n meisie met die naam Brielle, wat van haar ouers gesê het: “Hulle het heeltemal vergeet hoe dit voel om so oud soos ek te wees. Hulle wil nie hê dat ek my eie opinie moet uitspreek, keuses moet maak of ’n volwassene moet wees nie.” ’n Meisie met die naam Allison voel dieselfde. “Dit lyk nie of my ouers verstaan dat ek 18 jaar oud is en nie 10 nie”, sê sy. “Hulle moet my meer vertrou!”
Dit kan besonder irriterend wees om huisreëls te gehoorsaam as dit lyk of jou broers en susters meer vryheid gegee word. Byvoorbeeld, ’n jong man met die naam Matthew dink terug aan sy tienerjare en sê van sy sussie en sy niggies: “Die meisies het met ‘moord’ weggekom!”
Geen reëls?
Dis te verstane dat jy dalk uitsien na ’n tyd wanneer jy nie meer onder jou ouers se gesag sal wees nie. Maar sal jy regtig beter af wees sonder hulle beperkings? Jy weet moontlik van jongmense van jou ouderdom wat so laat kan uitbly as wat hulle wil, kan aantrek wat hulle wil en saam met hulle vriende kan gaan wanneer en waarheen hulle ook al wil. Miskien is hulle ouers eenvoudig te besig om agter te kom wat hulle kinders doen. In elk geval, die Bybel toon dat hierdie benadering tot die grootmaak van kinders nie suksesvol sal wees nie (Spreuke 29:15). Die gebrek aan liefde wat jy in die wêreld sien, is grotendeels as gevolg van die selfsugtige mense daarin, waarvan baie grootgeword het in huise waar daar geen beperkings was nie.—2 Timoteus 3:1-5.
Moet dus nie jongmense beny wat toegelaat word om te doen wat hulle wil nie; probeer eerder jou ouers se reëls beskou as ’n bewys van hulle liefde vir en besorgdheid oor jou. Deur redelike beperkings te stel, volg hulle Jehovah God se voorbeeld na, wat vir sy volk gesê het: “Ek sal jou insig gee en jou onderrig in die weg wat jy moet gaan. Ek sal raad gee met my oog op jou.”—Psalm 32:8.
Maar soms voel jy dalk oorweldig deur jou ouers se reëls. Hoe kan jy ’n bietjie verligting kry?
Kommunikasie wat werk
Of jy nou graag meer vryheid wil verkry of net minder gefrustreerd wil wees met al jou ouers se beperkings, die sleutel is goeie kommunikasie. ‘Maar ek het al met my ouers probeer praat, en dit werk net nie!’ sê party dalk. As dit is hoe jy voel, vra jou af: ‘Kan ek leer om beter te kommunikeer?’ Kommunikasie is ’n noodsaaklike middel wat (1) ander kan help om jou te verstaan of (2) jou kan help om te verstaan waarom jy nie jou sin kry nie. Ja, as jy die voorregte van ’n volwassene wil geniet, is dit net redelik dat jy soos ’n volwassene moet kan kommunikeer. Hoe kan jy dit doen?
Leer om jou emosies te beheers. Goeie kommunikasie vereis selfbeheersing. Die Bybel sê: “’n Sot laat al sy gees uit, maar hy wat wys is, hou dit tot op die laaste kalm” (Spreuke 29:11). Moet dus nie kerm, dikmond rondloop en kinderagtig te kere gaan nie. Toegegee, jy is dalk lus om die deur toe te slaan of om stampvoet in die huis rond te loop wanneer jou ouers jou beperk. Maar sulke gedrag sal moontlik tot meer reëls lei—nie tot groter vryheid nie.
Probeer jou ouers se standpunt insien. Tracy, ’n jong Christen in ’n enkelouergesin, sê: “Ek vra my af: ‘Wat probeer my ma bereik met haar reëls?’” Tracy se gevolgtrekking? “Sy probeer my help om ’n beter mens te word” (Spreuke 3:1, 2). As jy sulke empatie toon, kan dit jou help om goeie kommunikasie met jou ouers te hê.
Byvoorbeeld, sê nou jou ouers wil nie eintlik hê dat jy ’n sekere geselligheid moet bywoon nie. Moenie daaroor stry nie, vra eerder: “Sou dit ’n verskil maak as ’n verantwoordelike, betroubare vriend saam met my gaan?” Jou ouers sê dalk nog steeds nee. Maar as jy verstaan waaroor hulle besorg is, het jy ’n beter kans om ’n aanvaarbare voorstel te maak.
Bou jou ouers se vertroue in jou op. Dink aan ’n man wat aan ’n bank geld skuld. As hy sy paaiemente gereeld betaal, sal hy die bank se vertroue wen, en die bank sal hom in die toekoms dalk selfs meer krediet gee. Dis dieselfde by die huis. Jy is gehoorsaamheid aan jou ouers verskuldig. As jy bewys dat jy betroubaar is—selfs in klein dingetjies—sal jou ouers jou in die toekoms heel moontlik meer vertrou. Maar as jy jou ouers gedurig teleurstel, moet jy nie verbaas wees as hulle jou “krediet” beperk of selfs stop nie.
Wanneer jy ’n reël oortree het
Jy sal heel moontlik vroeër of later ’n reël oortree—versuim om jou takies uit te voer, te lank oor die telefoon praat of te laat inkom (Psalm 130:3). Dan sal jy die situasie maar aan jou ouers moet verduidelik! Hoe kan jy keer dat ’n slegte situasie erger word?
Praat die waarheid. Moenie stories vertel nie. As jy dít doen, sal dit die vertroue wat jou ouers nog in jou het, ondermyn. Wees dus eerlik en gee spesifieke besonderhede (Spreuke 28:13). Moenie verskonings maak of verklein wat gebeur het nie. En onthou altyd dat ‘’n sagte antwoord woede afkeer’.—Spreuke 15:1.
Vra verskoning. Dis gepas om verskoning te vra vir die bekommernis, teleurstelling of ekstra werk wat jy veroorsaak het, en dit kan jou straf ligter maak. Maar jy moet opreg spyt wees.
Aanvaar die gevolge (Galasiërs 6:7). Jou eerste reaksie is dalk om beswaar te maak teen die straf, veral as dit onregverdig lyk. Maar dis ’n teken van volwassenheid as jy verantwoordelikheid aanvaar vir jou dade. Die beste is dalk eenvoudig om hard te werk om jou ouers se vertroue terug te wen.
Skryf hier neer aan watter van die drie punte hierbo jy die hardste moet werk. ․․․․․
Onthou, jou ouers het die verantwoordelikheid om ’n redelike mate van beheer oor jou gedrag uit te oefen. Daarom praat die Bybel van “die gebod van jou vader” en “die wet van jou moeder” (Spreuke 6:20). Maar jy hoef nie te voel dat huisreëls jou hele lewe sal versuur nie. Inteendeel, as jy jou aan jou ouers se gesag onderwerp, belowe Jehovah dat dit op die lange duur “met jou goed [sal] gaan”!—Efesiërs 6:1-3.
LEES MEER OOR HIERDIE ONDERWERP IN DEEL 1, HOOFSTUK 3
Is een van jou ouers aan dwelms of alkohol verslaaf? Vind uit hoe jy dit kan hanteer.
SLEUTELTEKSTE
“Eer jou vader en jou moeder . . . sodat dit met jou goed mag gaan.”—Efesiërs 6:2, 3.
WENK
As jy wil hê dat jou ouers jou meer vryheid moet gee, moet jy eers ’n rekord van gehoorsaamheid aan hulle reëls opbou. Wanneer jy ’n reputasie vir gehoorsaamheid het, sal hulle dalk meer geneig wees om jou versoeke toe te staan.
HET JY GEWEET . . . ?
Navorsing toon dat jongmense wie se ouers reëls liefdevol toepas, dikwels op akademiese gebied uitblink, makliker met ander oor die weg kom en gelukkiger is.
AKSIEPLAN!
As ek ’n huisreël oortree, sal ek sê ․․․․․
Ek kan my ouers se vertroue in my opbou deur ․․․․․
Wat ek graag vir my ouer(s) hieroor wil vra ․․․․․
WAT DINK JY?
● Waarom lyk dit soms of jou ouers oorbeskermend teenoor jou is?
● Waarom oorreageer jy soms op beperkings?
● Hoe kan jy beter met jou ouers kommunikeer?
[Lokteks op bladsy 183]
Wanneer jy jonk is, dink jy gewoonlik jy weet alles. So wanneer jou ouers jou beperk, is dit maklik om vir hulle kwaad te word. Maar hulle reëls is eintlik vir jou eie beswil.’’—Megan
[Venster op bladsy 186]
Is dit regtig voortrekkery?
Het jy al ooit gewonder: ‘Waarom kan ouers almal nie presies dieselfde behandel nie?’ As jy het, dink hieraan: Gelyke behandeling is nie altyd regverdig nie, en regverdige behandeling is nie altyd gelyk nie. Die vraag is dus eintlik: Word jou behoeftes oor die hoof gesien? Byvoorbeeld, kan jy op jou ouers staatmaak wanneer jy hulle raad, hulp of ondersteuning nodig het? As dit die geval is, kan jy dan in alle eerlikheid sê dat jy onregverdig behandel word? Aangesien jy en jou broers en susters individue met verskillende behoeftes is, is dit eenvoudig onmoontlik vir jou ouers om julle almal te alle tye dieselfde te behandel. Dis wat Beth besef het. Sy is nou 18 en sê: “Ek en my broer is twee verskillende mense en moet verskillend behandel word. Noudat ek terugkyk, kan ek nie glo dat ek dit nie kon insien toe ek jonger was nie.”
[Venster/Prent op bladsy 189]
Werkblad
Praat met jou ouers!
Die vorige twee hoofstukke het bespreek hoe jy kritiek deur jou ouers en huisreëls kan hanteer. Sê nou jy voel dat jou ouers op een of albei van hierdie gebiede te streng is? Hoe kan jy ’n gesprek daaroor met hulle begin?
● Kies ’n tyd wanneer jy ontspanne is en jou ouers nie te besig is nie.
● Praat uit die hart, maar moenie te emosioneel raak nie. Betoon die nodige respek aan jou ouers.
As jy dink dat jou ouers oorkrities is, kan jy sê: “Ek probeer hard om te doen wat reg is, maar dis moeilik as ek voel dat ek die hele tyd gekritiseer word. Kan ons daaroor praat?”
Skryf hieronder neer hoe jy ’n gesprek oor hierdie onderwerp met jou ouers sal begin.
․․․․․
✔WENK: Gebruik Hoofstuk 21 om die ys te breek. Dalk sal jou ouers bereid wees om die inligting in daardie hoofstuk met jou te bespreek.
As jy voel dat jou ouers jou nie genoeg vryheid gee nie, kan jy sê: “Ek wil graag bewys dat ek meer verantwoordelik kan wees sodat ek die een of ander tyd meer vryheid kan kry. Waaraan dink julle moet ek werk?”
Skryf hieronder neer hoe jy ’n gesprek oor hierdie onderwerp met jou ouers kan begin.
․․․․․
✔WENK: Lees weer deur Hoofstuk 3 in Deel 1. Maak dan ’n lys van enige vrae wat jy het oor wat jy gelees het.
[Prent op bladsy 184, 185]
Gehoorsaamheid aan jou ouers se reëls is soos om skuld aan die bank af te betaal—hoe betroubaarder jy is, hoe meer vertroue (of krediet) sal jy ontvang