Hoofstuk 23
Sê nou my ouer is verslaaf aan dwelms of alkohol?
“My pa het gesê hy gaan iewers heen om aan die kar te werk, maar ons het heeldag niks van hom gehoor nie. My ma het hom probeer bel. Geen antwoord nie. ’n Rukkie later het ek gesien dat sy bekommerd lyk en haar regmaak om uit te gaan. ‘Ek gaan kyk waar jou pa is’, het sy vir my gesê.
“Later het my ma teruggekom—alleen. ‘Pa was nie daar nie, nè?’ het ek gevra. ‘Nee’, het sy geantwoord.
“Op daardie oomblik het ek besef dat my pa weer met sy ou streke besig is. Dit was nes die vorige keer. Jy sien, my pa is verslaaf aan dwelms. En teen die tyd dat hy by die huis gekom het, was ek en my ma senuweewrakke. Ek het hom die volgende dag basies geïgnoreer—iets waaroor ek verskriklik sleg voel.”—Karen, 14.
DIE lewe saam met ’n ouer wat aan dwelms of alkohol verslaaf is, veroorsaak daagliks groot ontsteltenis vir miljoene jongmense. As een van jou ouers in so ’n verslawing verstrik geraak het, kan hy of sy jou dalk in die verleentheid stel, frustreer en selfs kwaad maak.
Mary is byvoorbeeld grootgemaak deur ’n pa wat voor ander na ’n gawe mens gelyk het. Maar hy was in die geheim ’n alkoholis, en by die huis het hy op sy gesin gevloek en geskel. “Toe ons kinders was, het mense na ons toe gekom en vir ons gesê hoe wonderlik ons pa is en hoe gelukkig ons daaroor kan wees”, vertel Mary met bitterheid.a
Hoe kan jy dit hanteer as een van jou ouers aan alkohol of dwelms verslaaf is?
Redes vir die verslawing
Om mee te begin, help dit om ’n bietjie insig in jou ouer se probleem te kry. “’n Man met begrip verwerf bekwame leiding”, sê Spreuke 1:5. Dit sal dus goed wees as jy ’n bietjie kan uitvind oor wat verslawing is, wie aan alkohol of dwelms verslaaf raak, en waarom.
Byvoorbeeld, ’n alkoholis is nie net iemand wat soms te veel drink nie. Hy is eerder iemand met ’n chroniese drankprobleem.b Hy is behep met alkohol—selfs obsessief daaroor—en as hy eers begin, kan hy nie sy drinkery beheer nie. Sy verslawing veroorsaak probleme wat ’n skadelike uitwerking het op sy gesin, werk en gesondheid.
Al raak sekere mense weens hulle fisiese samestelling makliker aan alkohol verslaaf, speel emosionele faktore blykbaar ook ’n rol. Om die waarheid te sê, in baie gevalle het alkoholiste negatiewe gevoelens oor hulleself (Spreuke 14:13). Sommige van hulle het in ’n gesin grootgeword waar húlle ouers alkoholiste was. Vir sulke mense verdof drank dalk die pyn van emosionele wonde uit hulle kinderjare. Dieselfde faktore is moontlik betrokke by dwelmverslawing.
Drank of dwelms vererger natuurlik net ’n persoon se probleme; sy denke en emosies raak nou selfs meer verwronge. Daarom het jou ouer moontlik baie hulp van ’n opgeleide persoon nodig om van sy verslawing los te breek.
Pas jou verwagtinge aan
Dis waar dat die probleem nie sal weggaan net omdat jy verstaan waarom jou ouer hom so swak gedra nie. Maar as jy ’n bietjie insig in sy verslawing het, kan dit jou help om jou ouer met meer empatie te beskou.
Sal jy byvoorbeeld van ’n ouer met ’n gebreekte been verwag om saam met jou sokker te speel? Sê nou jy weet dat die besering deur jou ouer se eie dwase gedrag veroorsaak is? Jy sal sekerlik teleurgesteld wees. Maar jy sal besef dat jou ouer se vermoë om saam met jou sokker te speel, ernstig beperk sal wees totdat sy besering genees het. As jy dít aanvaar, sal dit jou help om jou verwagtinge aan te pas.
Net so het ’n ouer wat ’n alkoholis of ’n dwelmverslaafde is, emosionele en verstandelike beperkings. Ja, die beperkings is nou wel deur sy eie toedoen. En jy het dalk die reg om ontsteld te wees oor jou ouer se dwase gedrag. Maar totdat jou ouer hulp kry om sy verslawing te genees, sal hy ernstig beperk wees in sy vermoë om vir jou te sorg. As jy sy verslawing beskou as ’n besering wat hom beperk, kan dit jou help om jou verwagtinge aan te pas.
Wat jy kan doen
Die feit bly staan dat jy met die gevolge van jou ouer se gedrag moet saamleef totdat hy sy lewe in orde kry. Wat kan jy intussen daaromtrent doen?
Moenie verantwoordelikheid aanvaar vir jou ouer se verslawing nie. Jou ouer—en jou ouer alleen—dra die verantwoordelikheid vir sy verslawing. “Elkeen sal sy eie vrag dra”, sê Galasiërs 6:5. Dis nie jou plig om jou ouer se probleem op te los nie en ook nie om hom teen die gevolge van sy verslawing te beskerm nie. Byvoorbeeld, jy hoef nie namens hom vir sy baas leuens te vertel of hom van die stoep af in die huis in te sleep as hy sy roes daar lê en afslaap nie.
Moedig jou ouer aan om hulp te kry. Die grootste probleem vir jou ouer is dalk om te erken dat hy wel ’n probleem het. Wanneer hy nugter en kalm is, kan die ouer wat nie ’n verslaafde is nie en die ouer kinders vir hom vertel hoe sy gedrag die gesin raak en wat hy daaromtrent moet doen.
Dit sal dalk ook goed wees as jou verslaafde ouer sy antwoorde op die volgende vrae neerskryf: Wat sal van my en my gesin word as ek aanhou drink of dwelms gebruik? Wat sal gebeur as ek met die gewoonte breek? Wat moet ek doen om hulp te kry?
As jy moeilikheid sien kom, gee pad. “Gaan . . . weg voordat die rusie uitgebreek het”, sê Spreuke 17:14. Moenie jouself in gevaar stel deur by ’n rusie betrokke te raak nie. Gaan, indien moontlik, na jou kamer of ’n vriend se huis toe. As die gevaar van geweld bestaan, het jy dalk hulp van buite nodig.
Erken jou gevoelens. Party jongmense voel skuldig omdat hulle kwaad is vir ’n verslaafde ouer. Dis net normaal om kwaad te wees, veral as jou ouer se verslawing veroorsaak dat hy jou nie die liefde en ondersteuning gee wat jy nodig het nie. Toegegee, die Bybel plaas jou nou wel onder die verpligting om jou ouer te eer (Efesiërs 6:2, 3). Maar “eer” beteken dat jy sy gesag respekteer, soos ’n mens ’n polisieman of ’n regter se gesag moet respekteer. Dit beteken nie dat jy jou ouer se verslawing goedkeur nie (Romeine 12:9). En jy is ook nie ’n slegte mens as jy sy drinkery of dwelmmisbruik haat nie; verslawing is immers haatlik!—Spreuke 23:29-35.
Vind opbouende assosiasie. Wanneer die lewe by die huis chaoties is, kan jy vergeet wat dit is om ’n normale lewe te hê. Daarom is dit belangrik dat jy met mense assosieer wat geestelik en emosioneel gesond is. Lede van die Christengemeente kan jou baie liefde en ondersteuning gee en kan jou van tyd tot tyd wegneem van die spanning by die huis (Spreuke 17:17). Assosiasie met Christengesinne kan jou ook ’n goeie voorbeeld van die gesinslewe gee om die slegte voorbeeld wat jy by die huis sien, teë te werk.
Probeer hulp kry vir jouself. Dit help regtig as jy met ’n ervare, betroubare volwassene oor jou gevoelens kan praat. Gemeentelike ouer manne is gewillig om jou te help wanneer jy hulle nodig het. Die Bybel sê dat hierdie manne “soos ’n skuilplek teen die wind en ’n skuiling teen die reënstorm [kan] wees, soos waterstrome in ’n waterlose land, soos die skaduwee van ’n groot, swaar rots in ’n uitgeputte land” (Jesaja 32:2). Jy hoef dus nie bang of skaam te wees om na hulle toe te gaan vir vertroosting en raad nie.
Skryf hier neer watter van die ses stappe hierbo jy eerste sal probeer toepas. ․․․․․
Jy kan dalk nie die situasie by die huis verander nie, maar jy kán die uitwerking wat dit op jou het, verander. Moenie jou ouer probeer beheer nie; fokus eerder op die persoon wat jy wel kan beheer—jouself. ‘Hou aan om julle eie redding te bewerk’, het die apostel Paulus geskryf (Filippense 2:12). Dit sal jou help om ’n positiewe uitkyk te behou, en dit kan selfs jou ouer beweeg om hulp vir sy verslawing te probeer kry.
Sê nou jou ouers stry gedurig? Hoe kan jy dit hanteer?
[Voetnote]
a As jy mishandel word deur ’n ouer wat ’n alkoholis is, sal dit goed wees as jy hulp probeer kry. Praat met ’n volwassene wat jy vertrou. As jy een van Jehovah se Getuies is, kan dit ’n gemeentelike ouer man of ’n ander ryp Christen wees.
b Hoewel ons na die alkoholis of verslaafde as ’n man verwys, geld die beginsels wat hier bespreek word, ook vir vroue.
SLEUTELTEKSTE
“Die insig van ’n mens vertraag beslis sy toorn.”—Spreuke 19:11.
WENK
Moenie jou ouer haat nie; ontwikkel eerder ’n gesonde haat vir jou ouer se verkeerde gedrag.—Spreuke 8:13; Judas 23.
HET JY GEWEET . . . ?
In die Bybel kan “eer” bloot beteken dat ’n mens regmatige gesag erken (Efesiërs 6:1, 2). Om ’n ouer te eer, vereis dus nie dat jy altyd sy gedrag moet goedkeur nie.
AKSIEPLAN!
As my ouer begin skel of gewelddadig raak, sal ek ․․․․․
Ek kan my ouer aanmoedig om hulp te kry deur ․․․․․
Wat ek graag vir my ouer(s) hieroor wil vra ․․․․․
WAT DINK JY?
● Wat veroorsaak dat party mense aan alkohol of dwelms verslaaf raak?
● Waarom is jy nie verantwoordelik vir jou ouer se verslawing nie?
● Watter aspekte van jou situasie kan jy beheer, en hoe kan jy dit doen?
[Lokteks op bladsy 192]
Ek weet dat my ouers my dalk in die toekoms in die verleentheid sal stel, maar ek weet ook dat Jehovah my die krag sal gee om te volhard as ek op hom vertrou.’’—Maxwell
[Venster op bladsy 198]
As ’n ouer ophou om Jehovah te dien
Wat kan jy doen as een van jou ouers ophou om volgens Bybelstandaarde te lewe—en dalk selfs sê dat hy nie meer deel van die Christengemeente wil wees nie?
● Besef dat Jehovah jou nie verantwoordelik hou vir jou ouer se gedrag nie. Die Bybel sê: “Elkeen van ons [sal] vir homself aan God rekenskap gee.”—Romeine 14:12.
● Vermy die neiging om jou te vergelyk met ander jongmense wie se omstandighede beter is (Galasiërs 5:26). ’n Jong man wie se pa sy gesin verlaat het, sê: “In plaas van oor sulke gedagtes te tob, is dit beter om te konsentreer op maniere waarop jy die situasie kan hanteer.”
● Hou aan om respek te betoon aan ’n ouer wat ’n verkeerde weg ingeslaan het, en gehoorsaam sy opdragte as dit nie met God se standaarde bots nie. Jehovah se bevel dat kinders hulle ouers moet eer, hang nie daarvan af of die ouer ’n gelowige is of nie (Efesiërs 6:1-3). Wanneer jy jou ouers, ten spyte van hulle tekortkominge, eer en aan hulle gehoorsaam is, bewys jy dat jy Jehovah liefhet.—1 Johannes 5:3.
● Geniet noue omgang met die Christengemeente. Daar kan jy deur ’n groot geestelike gesin aangemoedig word (Markus 10:30). ’n Jong man met die naam David was bang dat gemeentelede hom en ander in sy gesin sou vermy omdat sy pa opgehou het om Jehovah te dien. Maar hy was verniet bang. “Niemand het ons laat voel asof hulle ons verwerp het nie”, sê hy. “Dit het my oortuig dat die gemeente werklik omgee.”
[Prent op bladsy 194]
As jy jou ouer se verslawing beskou as ’n besering wat hom beperk, kan dit jou help om jou verwagtinge aan te pas