Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w78 6/1 bl. 22-24
  • Vrae van lesers

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Vrae van lesers
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1978
  • Soortgelyke materiaal
  • Jou beskouing van seks—Maak dit saak?
    Ware vrede en veiligheid—Hoe kan jy dit vind?
  • Eer die goddelike huweliksreëling!
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1983
  • “Moenie vir mekaar omgang weier nie”
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1981
  • Behou God se beskouing van seks
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1983
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1978
w78 6/1 bl. 22-24

Vrae van lesers

• Bevat die Bybel enige spesifieke definisies van wat sedelik of wat onsedelik is wat geslagsgemeenskap tussen man en vrou betref? Is dit die verantwoordelikheid van ouere manne in die gemeente om te probeer om beheer onder gemeentelede in hierdie intieme aangeleenthede uit te oefen?

Daar moet erken word dat die Bybel geen spesifieke reëls of beperkings aangee waar dit kom by die manier waarop ’n man en sy vrou geslagsgemeenskap het nie. Daar is kort beskrywings van gepaste liefdesbetuigings, soos in Spreuke 5:15-20 en verskeie verse in die Hooglied van Salomo (1:13; 2:6; 7:6-8). Hierdie verse en tekste soos Job 31:9, 10 bevat minstens ’n aanduiding van wat gebruiklik of normaal was wat liefkosing en geslagsgemeenskap betref en stem ooreen met wat vandag oor die algemeen as gebruiklik en normaal beskou word.

Die kragtigste raad in die Skrif is dat ons volkome liefde vir God en liefde vir ons naaste soos vir onsself moet hê; ’n man moet sy vrou so lief soos sy eie liggaam hê en haar koester en aan haar eer bewys (Matt. 22:37-40; Ef. 5:25-31; 1 Pet. 3:7). Soos die apostel sê: “Die liefde . . . handel nie onwelvoeglik nie, soek nie sy eie belang nie, word nie verbitterd nie” (1 Kor. 13:4, 5). Dit sal sekerlik verhoed dat ’n mens buitengewone gebruike op jou huweliksmaat afdwing wat deur die maat as onsmaaklik of selfs aanstootlik en verdorwe beskou word.

Verder as hierdie basiese riglyne gaan die Skrif nie, en dus kan ons niks meer doen as om raad te gee wat in ooreenstemming is met wat die Bybel sê nie. In die verlede het daar in hierdie tydskrif kommentaar verskyn in verband met sekere buitengewone geslagsgebruike, soos mondelike geslagsomgang, binne die huweliksverbintenis en dit is gelykgestel met growwe geslagsonsedelikheid. Op grond hiervan is die gevolgtrekking gemaak dat diegene wat hulle aan sulke geslagsgebruike skuldig maak, uitgesit kon word as hulle hulle nie bekeer nie. Die standpunt is ingeneem dat die ouere manne in die gemeente die gesag gehad het om sodanige gebruike in die huweliksverbintenis te ondersoek en in ’n geregtelike hoedanigheid op te tree.

Na sorgvuldige verdere oorweging van hierdie saak is ons egter daarvan oortuig dat dit, in die lig van die feit dat duidelike Skriftuurlike instruksies ontbreek, aangeleenthede is waarvoor die egpaar self die verantwoordelikheid voor God moet dra en dat hierdie huweliksintiemhede nie binne die bevoegdheid van die ouere manne van die gemeente val sodat hulle moet probeer om dit te beheer of persone op grond van sulke aangeleenthede alleen uit die gemeente kan sit nie.a Indien enigiemand ’n ouere man om raad wil nader, kan hy of sy dit natuurlik doen en kan die ouere man Skriftuurlike beginsels met so ’n persoon bespreek en as ’n herder optree, maar hy moenie probeer om, as ’t ware, die huwelikslewe van die persoon wat navraag doen te reguleer nie.

Dit moet nie beskou word as die vergoeliking van al die verskillende geslagsgebruike waaraan mense hulle skuldig maak nie, want dit is geensins die geval nie. Dit getuig eenvoudig van ’n skerp sin van verantwoordelikheid om die Skrif te laat voorskryf en om nie ’n dogmatiese standpunt in te neem waar die getuienis blykbaar nie ’n voldoende grondslag bied nie. Dit getuig ook van vertroue in die begeerte van Jehovah se volk as ’n geheel om alles soos vir hom te doen en om sy lieflike hoedanighede in al hulle doen en late te weerspieël. Dit getuig van ’n bereidwilligheid om die oordeel van sulke intieme huweliksaangeleenthede te laat in die hande van Jehovah God en sy Seun, wat die wysheid en kennis het van alle omstandighede wat nodig is om die regte beslissings te gee. Ons kan gerus onthou dat ‘ons almal voor die regterstoel van God gestel sal word’ en dan ‘sal elkeen van ons vir homself aan God rekenskap gee’ (Rom. 14:7-10, 12, vgl. NW). “Ons moet almal voor die regterstoel van Christus verskyn, sodat elkeen kan ontvang wat hy deur die liggaam verrig het, volgens wat hy gedoen het, of dit goed is of kwaad.”—2 Kor. 5:10.

Ons kan gerus ook besef dat toe die apostel sy raad in Kolossense 3:5, 6 geskryf het, hy dit nie net aan ongetroude persone gerig het nie, maar ook aan getroudes. Hy het gesê: “Maak dood dan julle lede wat op die aarde is, naamlik hoerery, onreinheid, hartstog, slegte begeertes en gierigheid, wat afgodediens is.” In 1 Thessalonicense 4:3-7 vermaan Paulus verder dat “elkeen van julle moet weet om sy eie [vat] te verkry in heiligheid en eer, nie in hartstogtelike begeerlikheid [hebsugtige seksuele begeerte, NW] soos die heidene wat God nie ken nie . . . Want God het ons nie tot onreinheid geroep nie, maar tot heiligmaking.”

Deur sy verwysing na “hartstogtelike begeerlikheid” of “seksuele begeerte” veroordeel die apostel beslis nie normale seksuele begeerte wat binne die huweliksreëling tereg tot uiting kom nie. Ons het ’n normale begeerte na voedsel en drank en kan dit op ’n behoorlike wyse bevredig. Maar ’n mens kan ’n vraat of ’n dronkaard word deur genotsugtig en onbeteueld te eet en te drink. Net so kan ’n mens so met seks behep raak dat die bevrediging van seksuele begeerte voorrang het en op sigself die hoofdoel word eerder as om ’n ondergeskikte aanvulling te wees van die betoning van liefde waarop die Bybel aandring. Wanneer dit die geval is, bereik die indiwidu die punt van hebsug ‘wat afgodediens is’, en dit is die geslagsbegeerte wat verafgood word.—Ef. 5:3, 5; Filip. 3:19; Kol. 3:5.

Wat dan van die situasie waar ’n getroude persoon, moontlik ’n vrou, ’n ouere man in die gemeente nader met die klagte dat haar huweliksmaat van haar misbruik maak deur seksuele gebruike op haar af te dwing wat sy as afstootlik en verdorwe verwerp? As die huweliksmaat bereid is om die saak te bespreek, kan die ouere man, moontlik in die teenwoordigheid van ’n ander ouere man, aanbied om die egpaar te probeer help om hulle probleem op te los en aan hulle Skriftuurlike raad te gee.

Gestel ’n getroude persoon beweer dat sekere seksuele gebruike van die huweliksmaat afstootlik genoeg is om binne die bestek van die Griekse uitdrukking porneia te val soos dit in Mattheüs 19:9 (“hoerery”) gebruik word? Soos reeds aangetoon is, bevat die Skrif geen spesifieke inligting wat ’n mens in staat stel om sekere seksuele gebruike binne die huwelik positief as porneia—of as nie sodanig nie—uit te ken nie. Die Griekse uitdrukking kom van ’n woord wat die grondbetekenis het van om “te verkoop” of om “’n mensself oor te gee aan”, en dus het porneia die betekenis dat ’n mens jouself “verkoop of oorgee aan wellus of onkuisheid”. Die werkwoordvorm (porneuo) sluit onder andere die betekenis van “om te verliederlik” in (Liddell en Scott se Greek—English Lexicon). As ’n getroude persoon meen dat die seksuele gebruike van die maat, hoewel daar nie iemand buite die huwelik daarby betrokke is nie, nietemin van so ’n growwe aard is om ’n duidelike oorgawe aan onkuisheid of ’n verliederliking in onkuisheid te wees, dan moet dit sy of haar eie besluit en verantwoordelikheid wees.

So ’n persoon kan aanvoer dat die omstandighede ’n Skriftuurlike grondslag vir egskeiding bied. Indien dit die geval is, moet hy of sy volle verantwoordelikheid voor God aanvaar vir enige egskeidingstappe wat gedoen word. Daar kan nie van ouere manne verwag word om hulle (Skriftuurlike) goedkeuring aan ’n egskeiding te heg as hulle nie seker van die grond is nie. Hulle is terselfdertyd nie gemagtig om hulle gewete aan ’n ander op te lê as dit ’n twyfelagtige aangeleentheid is nie (Jak. 4:11, 12). Nadat hulle die Skriftuurlike raad gegee het wat hulle meen gepas is, kan hulle aan die betrokke persoon die erns van die saak en die volle verantwoordelikheid wat op hom of haar sal rus as daar geskei word, verduidelik. As ’n persoon eenvoudig ’n voorwendsel soek om die huweliksbande te verbreek, kan so ’n persoon maar net God se onguns verwag, want waar dit kom by so ’n verraderlike handelwyse met ’n mens se maat, sê God: “Ek haat egskeiding” (Mal. 2:16). “God sal hoereerders en egbrekers oordeel”, en iemand wat bloot onder ’n voorwendsel skei en dan weer trou, sal nie aan daardie oordeel ontkom nie (Hebr. 13:4). Die ouere manne kan daarvan seker wees dat die Here op sy bestemde tyd “die verborge dinge van die duisternis in die lig sal bring en die bedoelinge van die harte openbaar sal maak” (1 Kor. 4:4, 5). Iemand wat bedrog en verraad saai, sal onvermydelik lyding maai, want “God laat Hom nie bespot nie”.—Gal. 6:7, 8.

Net soos die ouere manne in die gemeente hulle broers en susters die reg vergun om hulle eie gewetensbesluite te neem in sake waarin die Skrif nie duidelik is nie, so het die ouere manne ook ’n reg om hulle eie gewentensbesluite te neem wat betref hulle beskouing van diegene wat verdag optree. As hulle opreg meen dat die optrede van ’n gemeentelid in hierdie aangeleenthede van so ’n aard is dat hulle hom of haar nie gewetensgetrou vir ’n voorbeeldige diens binne die gemeente kan aanbeveel nie, is dit hulle prerogatief.—1 Tim. 1:19; 3:2-12; 5:22.

[Voetnoot]

a Daar is verwys na die apostel se verklarings in Romeine 1:24-27 (NW) in verband met “die natuurlike gebruik” van manlike en vroulike liggame. Soos duidelik blyk en deurgaans erken is, word hierdie verklarings in verband met homoseksualiteit gemaak. Hulle verwys nie regstreeks na seksuele gebruike deur man en vrou nie. Daar moet ook erken word dat selfs liefdebetuigings wat volkome normaal en algemeen tussen man en vrou is, “onnatuurlik” vir persone van dieselfde geslag en onsedelik vir ongetroude mense sal wees. Dus is enige leiding wat deur hierdie apostoliese verklarings ten opsigte van seksuele gebruike binne die huweliksreëling verskaf word onregstreeks en moet dit net as van ’n oorredende aard en nie as ’n oortuigende aard beskou word, dit wil sê, nie as ’n grondslag vir bindende maatstawwe om te oordeel nie. Terselfdertyd bestaan die moontlikheid en miskien ’n waarskynlikheid dat party seksgebruike wat tans deur homoseksuele persone beoefen is. Indien dit die geval is, sal dit gewis aan hierdie gebruike ten minste ’n onsmaaklike oorsprong gee. Dit is dus nie ’n saak wat die gewetensgetroue Christen sommer ligtelik kan afmaak net omdat daar nie regstreeks na getroude persone in bogemelde tekste verwys word nie.

    Afrikaanse publikasies (1975-2027)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel