Dit is nou die aangewese tyd om die UNIVERSELE SOEWEREIN TE VERWELKOM
1, 2. Voor wie word die “Seun van ’n mens”, volgens die afbeelding in hoofstuk sewe van Daniël, ingebring, en wat word aan hom gegee?
DIE UNIVERSELE SOEWEREIN is “die Oue van dae”, Jehovah. Dit is na hom toe dat die verheerlikte “Seun van die mens”, Jesus Christus, in 1914 G.J. gekom het vir ’n aandeel in die “koninkryk van die wêreld”.
2 Die profeet Daniël het dit voorspel deur te sê: “Kyk, met die wolke van die hemel het Een gekom soos die Seun van ’n mens, en Hy het gekom tot by die Oue van dae, en hulle het Hom nadergebring voor Hom. En aan Hom is gegee heerskappy en eer en koningskap; en al die volke en nasies en tale het Hom vereer; sy heerskappy is ’n ewige heerskappy wat nie sal vergaan nie, en sy koninkryk een wat nie vernietig sal word nie.”—Dan. 7:13, 14.
3. Wie word volgens Daniël 7:27 ook in daardie ewige koninkryk ingebring?
3 Later in hierdie “tyd van die einde” is 144 000 geesverwekte dissipels van Christus in daardie koninkryk ingebring. Dit is net soos Daniël 7:27 voorspel het: “Dan word die koningskap en die heerskappy en die grootheid van die koninkryke onder die ganse hemel gegee aan die volk van die heiliges van die Allerhoogste; hulle koninkryk is ’n ewige koninkryk, en al die heerskappye sal hulle vereer en gehoorsaam wees.”—Dan. 12:4; Openb. 14:1-3; 20:4, 6.
4. Van watter hemelse regering is die “groot menigte” van vandag onderdane?
4 Omdat die Oue van dae sy Gesalfde Seun Jesus saam met hom in “die koninkryk van die wêreld” laat deel, word dit “die koninkryk van onse Here en van sy Christus” (Openb. 11:15, NW). Aldus word die hele wêreld aardse mense-onderdane van die Universele Soewerein Jehovah en sy Christus. Hierdie aardse onderdane sluit nou die “groot menigte” in wat in die gesig in Openbaring 7:9-17 aan ons bekend gestel word. Hierdie gesig is eers in 1935 G.J. verstaan.
5. Waarna het Jesus, volgens Openbaring 3:21, sy geesverwekte dissipels 63 jaar na Pinkster van 33 G.J. aanmoedig om uit te sien?
5 Vandag verstaan die “groot menigte” goed dat daar twee belangrike persone aan die “koninkryk van onse Here en van sy Christus” verbonde is, naamlik die Here Jehovah en sy Seun, Christus Jesus; ook dat hierdie besondere regering waaraan hulle onderworpe is, nie van Pinkster van 33 G.J. af nie, maar van 1914 G.J. af dagteken. Gevolglik sien die “groot menigte” dat Christus Jesus sy geesverwekte dissipels 63 jaar na Pinkster nog steeds aangespoor het om na daardie koninkryk uit te sien met die woorde: “Aan hom wat oorwin, sal Ek gee om saam met My te sit op my troon, soos Ek oorwin het en saam met my Vader op sy troon gaan sit het” (Openb. 3:21). Hulle moes nog daardie komende hemelse koninkryk beërf as “erfgename van God en mede-erfgename van Christus” (Rom. 8:17). Jesus Christus is die vernaamste Erfgenaam van God, en sy dissipels is ondergeskikte erfgename.—Hebr. 1:1, 2.
6. Was die geesverwekte dissipels, volgens 2 Petrus 1:10, 11, alreeds in daardie koninkryk of moes hulle dit nog ingaan?
6 Die Koninkryk waarvan daardie geesverwekte dissipels op aarde “mede-erfgename van Christus” was, is dus nie iets waarin hulle sedert die uitstorting van heilige gees op Pinkster van 33 G.J. was nie. Om daardie rede het die apostel Petrus, toe hy sy tweede brief omstreeks 64 G.J., of 30 jaar na Pinkster, geskryf het, sy mede-Christene soos volg vermaan: “As julle dit doen, sal julle nooit struikel nie. Want so sal ryklik aan julle verleen word die ingang in die ewige koninkryk van onse Here en Saligmaker, Jesus Christus.”—2 Pet. 1:10, 11.
7. Deur middel waarvan word daardie toegang tot die koninkryk aan hulle verleen, en watter tydelike verhouding met Jesus Christus gaan dus verby?
7 Op God se bestemde tyd word daardie toegang tot die hemelse koninkryk ryklik aan die 144 000 mede-erfgename van Christus verleen deur middel van die “eerste opstanding”. Dan sal hulle nie langer die geesverwekte onderdane op aarde onder “die Seun van [God se] liefde” wees nie. Daardie tydelike verhouding met die verheerlikte Jesus Christus sal vir ewig iets van die verlede wees. Hulle sal die hemelse, onsterflike, onverganklike konings saam met hom wees (2 Tim. 2:11, 12; Openb. 20:4, 6). Dit beteken dat die tydelike staat van onderworpenheid wat van Pinkster van 33 G.J. af en terwyl hulle nog in die vlees op aarde was op hulle van toepassing was vir ewig verby sal wees (Kol. 1:13). Omdat hulle reine en getroue lewens op aarde gelei het, beërf hulle “die koninkryk van Christus en van God”.—Ef. 5:5.
8. Het die duisendjarige bewind van Christus in 1914 begin, en wat toon die voorspelde “teken” in hierdie opsig?
8 Die 1000-jarige bewind van Jesus Christus saam met sy 144 000 mede-erfgename het nie in 1914 met die inhuldiging van die “koninkryk van die wêreld . . . die koninkryk van onse Here en van sy Christus” begin nie. Wat wel destyds vir Jesus Christus begin het, was sy amptelike, koninklike “teenwoordigheid” of parousia waarna sy apostels, volgens Mattheüs 24:3 (NW) verneem het. Sy “teenwoordigheid” in Koninkryksmag het nie begin toe God hom gebruik het om met Pinkster van 33 G.J. heilige gees uit te giet nie (2 Thess. 2:2). Slegs vandat die Tye van die Nasies in 1914 geëindig het, het die voorspelde “teken” sigbaar geword om te toon dat die Seun van God onsigbaar in Koninkryksmag aanwesig is in die “koninkryk van die wêreld”.
9. Wat moes die dissipels weet was naby as hulle die “teken” sien, en waarom moes hulle nie neerslagtig wees nie?
9 Hierdie koninkryk het die opdrag om die teenswoordige goddelose stelsel van dinge te vernietig. In Jesus se profesie wat die dinge meld wat die betekenisvolle “teken” uitmaak, het hy verwys na die Koninkryk wanneer dit op die punt staan om hierdie vernietigingswerk te doen en aan sy apostels gesê: “So moet julle ook weet dat die koninkryk van God naby is wanneer julle hierdie dinge sien gebeur” (Luk. 21:31). Deur sy toegewese taak te verrig sal hierdie koninkryk die getroue dissipels van Christus wat nog op die aarde is van verdere verdrukking deur die Heidense nasies bevry. Dit verklaar waarom Jesus vir sy dissipels gesê het: “As hierdie dinge begin gebeur, kyk dan na bo en hef julle hoofde op, omdat julle verlossing naby is.”—Luk. 21:28.
10. Wanneer vind die “verlossing” van die geesverwekte oorblyfsel plaas, en wat sluit dit in?
10 Die oorblyfsel geesverwekte dissipels van Christus wat nog op die aarde is, het gesien hoe “hierdie dinge” destyds in 1914 G.J. begin gebeur. Hulle bevryding van die teenswoordige goddelose stelsel van dinge vind plaas wanneer die koninklike “klip” wat uit die berg van God se soewereiniteit gekap is die “beeld” van wêreldlike politieke heerskappy op die aarde tref en dit in die “oorlog van daardie groot dag van die almagtige God” by Armageddon vernietig (Dan. 2:44, 45; Openb. 16:14, 16). Hulle “verlossing” sluit ook in dat hulle later van die aardse toneel af weggeneem en in “die ewige koninkryk van onse Here en Saligmaker, Jesus Christus”, ingebring word deur die “eerste opstanding” uit die dode (2 Pet. 1:11; Openb. 20:4, 6). Dit sal hulle in staat stel om as konings saam met Jesus Christus te regeer gedurende die millennium wanneer Satan die Duiwel en sy demone gebind en in die afgrond gevange gehou word sodat hulle nie langer in staat is om onsigbaar die mensdom se aangeleenthede te oorheers nie.—Openb. 20:1-3.
11. Wie anders sal dan verlos word, maar omdat hulle watter besluit ignoreer, sal die Heidense nasies nie verlos word nie?
11 Verlossing kom ook nader vir die “groot menigte” sagmoedige mense wat hulle nou by die geesverwekte oorblyfsel aan die kant van “die koninkryk van onse Here en van sy Christus” skaar. Maar die Heidense nasies het die Koninkryks-“besluit” waarvan daar aan hulle kennis gegee is, geïgnoreer, soos beskryf in Psalm 2:1-9: “Waarom woel die nasies [sedert 1914] en bedink die volke nietige dinge? Die konings van die aarde staan gereed, en die vorste hou saam raad teen die HERE en teen sy Gesalfde [sy Christus] . . . Ek wil vertel van die besluit: Die HERE het aan My [Christus] gesê: U is my Seun, vandag het Ek self U gegenereer. Eis van My, en Ek wil nasies gee as u erfdeel en die eindes van die aarde as u besitting. U sal hulle verpletter met ’n ysterstaf, U sal hulle stukkend slaan soos ’n erdepot.”—Openb. 7:9, 10; 11:15, vgl. NW.
KONINKRYKSPREDIKING GAAN GEPAARD MET NEUTRALITEIT
12. Watter posisie neem Jehovah se Getuies, ondanks die einde van die Tye van die Nasies in 1914, teenoor wêreldlike politiek in?
12 Sedert 1914 het die “koninkryk van onse Here en van sy Christus” ’n reg om in te meng. Beteken dit dat Jehovah se Christengetuies ’n reg het om hulle met wêreldlike politiek te bemoei? Kan hulle soos Katolieke en Protestante kant kies, vir hierdie of daardie politieke party, of selfs teen gevestigde regerings saamsweer en rewolusies aanstig? Glad nie! Onversetlik het hulle die voorbeeld van die Lam, Jesus Christus, gevolg en is hulle “nie van die wêreld nie”. Hulle bly streng by die koninkryk wat in 1914 in die hemele gebore is (Joh. 17:14, 16; Openb. 12:1-12). Ten spyte van die vurige vervolging wat op hulle toegespits is weens hulle Christelike neutraliteit in wêreldse botsings, gehoorsaam hulle die profetiese woorde van hulle hemelse Leier, Jesus Christus, toe hy gesê het: “Hierdie evangelie van die koninkryk sal verkondig word in die hele wêreld tot ’n getuienis vir al die nasies; en dan sal die einde kom.”—Matt. 24:14; Mark. 13:10.
13. Waarom het die einde van die Tye van die Nasies en die aanvang van Christus se duisendjarige bewind dus nie saamgeval nie?
13 Hierdie Koninkryksgetuieniswerk moet gedoen word voordat hierdie stelsel van dinge eindig en Christus se duisendjarige bewind begin. Gevolglik het die geboorte van God se koninkryk in die hemel in 1914 nie die begin van Christus se duisendjarige bewind beteken nie. Volgens Bybelprofesieë moet daar nog baie dinge gebeur voordat hierdie stelsel van dinge eindig en die weg baan vir Christus se duisendjarige bewind saam met sy 144 000 geesverwekte dissipels.—Openb. 20:4, 6.
14. Wat is Satan vasbeslote om met die nasies te doen voordat hy in die afgrond gewerp word, en waarom?
14 Satan is vasbeslote om, voordat hy en sy demonengele ’n duisend jaar lank in die afgrond gewerp word, al die nasies in vernietiging in te sleep en aldus te voorkom dat hulle gedurende Christus se duisendjarige bewind Sy onderdane word. Met hierdie doel voor oë lei hy al die wêreldlike nasies na die slagveld te Armageddon om daar teen Jehovah God en sy Christus te veg (Openb. 16:13-16). Satan die Duiwel sal dus verantwoordelik wees vir die ewige “wee” wat die heidense nasies daar sal tref (Openb. 12:12; 19:11-21). Hoe kan ons voorkom dat ons saam met daardie nasies vernietig word?
15. Wat het Jehovah se Getuies ondervind omdat hulle weier om saam met die Heidense nasies onder Satan op te trek, en waarom?
15 Ons moet weier om as bondgenote saam met die heidense nasies op te trek na hulle stryd teen Jehovah God, die Almagtige, by Armageddon. Hierdie weiering het groot ontberinge vir Jehovah se Christengetuies meegebring. Veral sedert die uitwerping van Satan die Duiwel en sy demonengele uit die hemel is hierdie aangewese mede-erfgename van Christus die vernaamste teiken van die toornige Satan die Duiwel (Openb. 12:13-17). Dit is sy doel om hulle hulle onkreukbaarheid aan God te laat prysgee en hulle aldus onbekwaam te maak om as konings saam met Christus te heers gedurende die tien eeue waartydens al die demone in die afgrond gevange gehou word. Satan die Duiwel is daarop uit om te voorkom dat Christus ’n voltallige 144 000 medekonings in die hemelse wêreldregering het. Sal Satan die Duiwel hierin slaag? Nooit!
16. Hoe sal die weg vir ’n demonvrye millennium gebaan word, en om wat te laat geld sal God se wêreldregering in die hande van Christus heers?
16 Net so min as wat ’n erdwurm sal kan verhoed dat ’n trekker oor hom loop, sal Satan en al sy aardse nasies waarvan hy die onsigbare heerser is daarin slaag om God se inkomende wêreldregering lam te lê en te stuit! Benewens sy neerlaag tydens die vroeëre oorlog in die hemel, sal Satan sien hoe sy misleide nasies by Armageddon verslaan word. Hy sal sien hoe Christus onweerstaanbaar sy “ystersepter” gebruik en al die versamelde nasies stukkend slaan soos blote erdepotte wat deur ’n pottebakker gemaak is (Ps. 2:8, 9; Openb. 12:5). Dan sal Satan en sy demone deur die seëvierende Christus gegryp word, gebind word en in die afgrondagtige tronk gewerp word wat daarna ’n duisend jaar lank stewig verseël word. Gedurende daardie demonvrye duisend jaar sal God se wêreldregering in die hande van Christus heers om God se regmatige soewereiniteit te laat geld.—Openb. 20:1-6.
VERWELKOM “DIE EREKONING”!
17. Wat moet ons nou, in navolging van wie se voorbeeld, doen om ons geloof in die sekerheid van wêreldregering te toon?
17 Goddelike wêreldregering om die verdrukte, sterwende mensdom te verlig en te seën is dus gewis! Glo ons daardie feit? Ons geloof in daardie verblydende feit verg dat ons nou iets doen! Wat? Doen wat die toegewyde, gedoopte “groot menigte”, wat begin vorm aanneem het 20 jaar na die geboorte van God se koninkryk in 1914, doen. Hulle begroet “die koninkryk van onse God en van sy Christus” as die enigste hoop op ewigdurende verlossing! Volgens die profetiese gesig in Openbaring 7:9-17 stel die “groot menigte” hulle lewens reg en dien hulle Jehovah God nou by sy geestelike tempel! As ons hierdie selfde handelwyse navolg, sal dit verseker dat ons tydens die “oorlog van daardie groot dag van die almagtige God” by Armageddon aan die seëvierende kant is (Openb. 16:14, 16; 19:11-21). Dan sal daar vir ons die weg open tot Paradys op aarde onder die beste regering wat die mensdom nog ooit gehad het! Ons begeerte om die beste te geniet dwing ons om nou vir die koms daarvan voor te berei!
18. Wat bring die Soewereine Heer nou saam met hom, en wat moet ons dus as Syne erken?
18 Sien nou, met die geloofsoog, die seëvierende opmars van die Soewereine Heer van die hele skepping. Hy bring met hom wêreldregering in die hande van Christus tot seën van al die geslagte van die aarde, lewend en dood. Laat ons sy regmatige soewereiniteit erken en die woorde van Psalm 24:1, 2 ons eie maak: “Die aarde behoort aan [Jehovah] en die volheid daarvan, die wêreld en die wat daarin woon; want Hý het dit gegrond op die see en dit vasgestel op die strome.” Ja, geen onderaardse water sal ooit opstoot om die aarde soos ’n vloed te oorstroom nie, en terselfdertyd het die sewe see perke wat deur die Skepper vir hulle gestel is.
19, 20. Soos tydens watter geleentheid het ons nou, volgens Psalm 24, rede om soos die burgers van eertydse Jerusalem te wees?
19 Ons het nou rede om te wees soos die burgers van eertydse Jerusalem in die jaar 1070 v.G.J. Dit was toe koning Dawid die heilige verbondsark deur die Levitiese priesters na die stadspoorte laat dra het. Terwyl die vreugdevolle stad die naderende optog met die simbool van God se teenwoordigheid dopgehou het, het hulle die uitroep gehoor:
20 “Hef op julle hoofde, o poorte, ja, verhef julle, ewige deure, dat die Erekoning kan ingaan!”
21. (a) Waarom is die poorte en die ou ingange van Jerusalem aangesê om hulleself hoër te maak? (b) Waarom was dit toe passend om bekend te maak dat Jehovah “geweldig in die stryd” is?
21 Sodat die naam van hierdie koninklike Persoon oral verkondig kan word, vra die wagte by die poorte: “Wie is tog die Erekoning?” Dadelik en sonder skaamte antwoord die priesters: “[Jehovah], sterk en geweldig, [Jehovah] geweldig in die stryd” (Ps. 24:7, 8, vgl. NW). A, dit is dus geen geringe indiwidu wat in die koninklike stad wil inkom nie. Dit is die mees verhewe Persoon in die hele heelal, Jehovah “die Erekoning”. Om daardie rede is die poorte en die ou ingange skynbaar te laag. Gevolglik moet hulle hulself verhoog sodat so ’n verhewe koning kan deurgaan. Hy is baie meer verhewe as koning Dawid, wat in Jerusalem op “die troon van [Jehovah]” gesit het (1 Kron. 29:23). Vroeër het ander konings deur die ou poorte van die stad gegaan, maar nie een so heerlik of so magtig soos Jehovah, die allerhoogste God nie. Hy was die Een wat die stryd gevoer het en vir koning Dawid die oorwinning oor die eertydse heidense bewoners van die stad, die Jebusiete, gegee het. Hy was ook die Een wat aan koning Dawid die oorwinning gegee het oor die Filistyne tydens hulle twee pogings om Dawid af te sit van sy troon in die pasverowerde stad Jerusalem.—2 Sam. 5:4-25.
22. Hoe is “[Jehovah] van die leërskare” toe gesimboliseer, en op watter soort sending het hy aldus die ingange van Jerusalem genader?
22 Dit was op ’n vreedsame sending dat die Stryderkoning, Jehovah, soos gesimboliseer deur die verbondsark, Jerusalem in 1070 v.G.J. genader het. Uit eerbied vir sy hoogheid styg die uitroep weer vanaf die aankomende marsjeerders op: “Hef op julle hoofde, o poorte, ja, hef op, ewige deure, dat die Erekoning kan ingaan!” Weer word die vraag gestel: “Wie is dan tog die Erekoning?” Dan kom daar die gerusstellende antwoord: “[Jehovah] van die leërskare—Hy is die Erekoning!”—Ps. 24:7-10.
23. (a) Waarom is Jehovah van die leërskare veral sedert 1914 “die Erekoning”? (b) Wat sal hy by Armageddon handhaaf, en wat sal hy daarna vir die mensdom doen?
23 Vandag, in hierdie jaar 1978 G.J., kom die “oorlog van daardie groot dag van die almagtige God” by Armageddon nader. Nou, sedert die Tye van die Nasies in 1914 geëindig het, is “[Jehovah] van die leërskare” veral “die Erekoning”. Waarom so? Want “God is Koning van die hele aarde”, soos Psalm 47:8 voorspel het, daar hy weer as Universele Soewerein ten opsigte van die aarde optree. Hy sal sy mag vertoon deur verder “die koninkryk van die wêreld . . . die koninkryk van onse Here en van sy Christus” by Armageddon te handhaaf (Openb. 11:15-18, NW). Jehovah se Christus, die Seun groter as koning Dawid, is die een wat op die troon geplaas is om Hom in daardie wêreldregering te verteenwoordig. Eers sal Jehovah, vergesel deur sy Seun en die hemelse engeleleërskare, vandag se goddelose stelsel van dinge uit die heelal uitwis. Dan sal hy die mensdom seën met regverdige wêreldheerskappy in die hande van sy Seun, Jesus Christus. Die verwesenliking van hierdie wonderlike vooruitsig kom al hoe nader!
24. Wat verdien Jehovah van die leërskare dus nou?
24 Verdien hierdie Erekoning, Jehovah van die leërskare, nie om op hartgrondige wyse deur ons verwelkom te word nie? Alte seker, ja! Kom dan in, o ons Erekoning!