Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w78 6/15 bl. 3-5
  • Rehabilitasie van gevangenes—Kan dit slaag?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Rehabilitasie van gevangenes—Kan dit slaag?
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1978
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • DIE IWAHIG-GEVANGENIS
  • PREDIKINGSWERK BINNE IWAHIG
  • SUKSESVOLLE REHABILITASIE
  • WAAROM DIE VERANDERING?
  • ’n Bendelid ontvang ’n presidentsbegenadiging
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1978
  • Vraebus
    Ons Koninkryksbediening—2003
  • “Julle het my indruk van Jehovah Se Getuies verander”
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1999
  • Is ware rehabilitasie moontlik?
    Ontwaak!—2001
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1978
w78 6/15 bl. 3-5

REHABILITASIE VAN GEVANGENES—Kan dit slaag?

“EK BESKOU myself volkome vry! Ek is vry van die duisternis wat my voorheen vasgeknel het.”

“Elke dag van my lewe is ek gelukkig!”

Hierdie is betuiginge van twee gevangenes van die Iwahig-strafkolonie in die Filippyne. Albei is aan moord skuldig bevind, en het reeds baie jare in die gevangenis deurgebring. Maar hulle het iets gevind wat aan hulle meer vreugde verskaf het as enigiets wat hulle gedurende hulle vorige jare van vryheid besit het.

DIE IWAHIG-GEVANGENIS

Die Iwahig-gevangenis en strafkolonie—om dit sy volle naam te gee—verskil van baie ander gevangenisse. Dit is geleë op die eiland Palawan, die lang eiland in die Filippynse reeks wat suidwes tot in die Chinese See strek. Die gevangenis beslaan 38 612 hektaar en voorsien huisvesting aan omtrent 5 000 gevangenes. Hulle word egter eerder colonos (koloniste) as prisoniers genoem.

In die grootste deel van die gevangenisgebied is daar geen hoë mure of tralies nie. Daar is geen gewapende wagte nie en baie van die gevangenes beweeg volkome vry rond. Party dra nie uniforms nie. Die meeste woon in slaapsale en werk om die vernaamste gewasse van die kolonie te kweek: rys, mielies, kopra, timmerhout, rottang en ’n klein hoeveelheid bamboes.

Die colonos ontvang elke maand ’n klein kontanttoelae wat hulle kan aanvul deur handwerk te maak en te verkoop. Enkeles wat getoon het dat hulle betroubaar is en wat hulle gesinne kan onderhou, word toegelaat om hulle in te bring om in die kolonie te woon. Hierdie persone woon in duplekswoonstelle; die nodige lewensmiddele word vry aan hulle voorsien, en hulle kan gewasse verbou en lewende hawe teel om koste te bestry.

Dissipline word gehandhaaf, maar die colonos geniet groter vryheid namate dit blyk dat hulle betroubaar is. Party help selfs om die kolonie te bestuur. Daarbenewens word daar opleiding in verskillende vaardighede voorsien en aan ongeletterdes word daar onderwys in basiese lees, skryf en rekene gegee. Vryetydsbedrywighede word toegelaat, waaronder swem, verskeie mededingende sportsoorte, musiekprogramme en pieknieks, terwyl sommige godsdiensvergaderinge op Sondae toegelaat word.

Oor die jare heen was Iwahig vrugbare grond vir die werk van Jehovah se Getuies om dissipels te maak. Maar hoe het hierdie bedrywigheid van Jehovah se Getuies hier begin?

PREDIKINGSWERK BINNE IWAHIG

Baie persone het oor die jare heen aan hierdie bedrywigheid deelgeneem, en Domingo Obispo was een van die eerste.a Hy was besig om ’n lang vonnis in die Muntinlupa-gevangenis naby Manila uit te dien en het begin om vergaderinge wat deur ’n plaaslike ouere man van Jehovah se Getuies in daardie gevangenis gehou is by te woon. Uiteindelik het hy aanvaar wat hy uit die Bybel geleer het en ’n Getuie geword. En toe hy na Iwahig verplaas is, het hy aan ander meegedeel wat hy geleer het.

In ’n ander geval is ’n man wat een van Jehovah se Getuies was, weens slegte gedrag uit sy gemeente gesit. Hy het ’n baie ernstige misdaad begaan en is in die gevangenis gesit. In die gevangenis het hy begin berou kry, net soos koning Manasse van die ou tyd (2 Kron. 33:10-13). Toe hierdie man na Iwahig oorgeplaas is, het hy uiteindelik met ouere manne in die nabygeleë Puerto Princesa-gemeente in aanraking gekom en hulle kon sien dat sy berou opreg was. Daarom is hy terug ontvang as een van Jehovah se Getuies en het hy in die kolonie begin preek.

Dan was daar die man wat uit Iwahig ontsnap het. Hy het na ’n dorp in Palawan gegaan en as ’n private burger begin lewe. Een van Jehovah se Getuies het vir hom gepreek en die ontsnapte bandiet het geglo wat hy geleer het. Toe het sy gewete hom begin kwel, dus het hy ’n ouere man in die gemeente geraadpleeg. Wat moes hy doen?

Die Christelike ouere man het aan hom raad gegee wat op die apostel Paulus se woorde in vers een van Romeine hoofstuk 13 gegrond is. Hy is daarop gewys dat dit die verantwoordelikheid van ’n ware Christen is om aan die keiser te betaal wat die keiser toekom. Derhalwe het hy, vergesel van ’n aantal Christenvriende, na die kolonie toe teruggegaan en homself oorgegee. Nou is hy ’n betroubare gevangene en is hy as ’n onderwyser van ander gevangenes aangewys. Hy gebruik hierdie toewysing as ’n geleentheid om die boodskap van die ware Christendom te versprei.

Die meeste van diegene wat nou in Iwahig Jehovah se Getuies word, is bereik deur prediking wat in die kolonie self gedoen word. Die traktaat “Is dit al wat die lewe inhou?” is aan een van die manne gegee. Verbaas om te vind dat Jehovah se Getuies in die gevangenis bedrywig is, het hy ingestem om ’n Bybelstudie te hê waartydens die studiehulp “Die waarheid wat lei tot die ewige lewe” gebruik is. Die man het gereageer op wat hy geleer het en geleidelik sy lewe verander totdat hy voldoen het aan die vereistes om as ’n Christen gedoop te word.

Om van huis tot huis (of van slaapsaal tot slaapsaal) te preek word in die kolonie verbied. Twee maal per week word daar egter ’n hoofdelike telling gehou en by hierdie geleenthede word almal byeengeroep om seker te maak dat niemand vermis word nie. Dit is die tyd wat deur die Getuies benut word om vir hulle mede-gevangenes te getuig. Bybelstudies word met hulle onder die bome of in die groot pawiljoen van die plein gehou.

En op Sondae word Christelike ouere manne van die Puerto Princesa-gemeente toegelaat om in die gevangenis self ’n Bybelstudie te hou waartydens “Die Wagtoring” as studiehulp gebruik word. Belangstellendes word genooi om dit by te woon. Voorheen is hierdie vergaderinge in die gevangenisbiblioteek gehou, maar uit waardering vir die werk wat deur Jehovah se Getuies gedoen word, het die bestuur nou reëlings getref om ’n groot Koninkryksaal op onkoste van die kolonie te laat bou.

Onlangs het die owerheid sekere colonos toegelaat om die kringbyeenkomste van Jehovah se Getuies wat buite die gevangenis gehou word by te woon. Die ouere manne van die naburige gemeente aanvaar verantwoordelikheid vir hierdie persone, en die gevangenes word van net een ongewapende wag vergesel. Hulle dra burgerklere en word nie geboei nie. By elkeen van die laaste drie byeenkomste is daar van hierdie mans gedoop. In Mei 1977 is twee van die 12 wat dit bygewoon het, gedoop. Die ander Getuies by die byeenkomste verheug hulle altyd daarin om met hulle Christenbroers van Iwahig af om te gaan.

SUKSESVOLLE REHABILITASIE

Die resultaat van die bedrywigheid van Jehovah se Getuies was ’n algehele hervorming van sekere verstokte misdadigers. Hoewel dit dikwels waar is dat mense hulle weer aan misdade skuldig maak nadat hulle uit die gevangenis gekom het, het baie van hierdie persone volkome verander. In die woorde van die apostel Paulus is hulle ‘afgewas’.—1 Kor. 6:11.

Die permanentheid van die hervorming word gesien in die ervaring van een man wat, nadat hy ’n vonnis van 15 jaar vir moord uitgedien het, vrygelaat is en ’n pionier, soos Jehovah se Getuies voltydse predikers noem, geword het. Ander wat vrygelaat is, het soveel vordering gemaak dat hulle gerespekteerde ouere manne geword het in die Christengemeente waaraan hulle verbonde is.

Die doel van die Iwahig-strafkolonie is “hervorming” eerder as “straf”. Die lede van die bestuur is derhalwe verheug oor die veranderinge wat hulle sien in daardie gevangenes wat Jehovah se Getuies geword het. Een strafopsigter het uitgeroep: “Ek wens dat al die gevangenes hier Jehovah se Getuies was!”

Die waarnemende veiligheidsbeampte van die kolonie het gesê: “Ek wil hê dat hierdie geloof baie bekeerlinge hier moet hê, want ek het opgemerk dat die oomblik wanneer hulle Jehovah se Getuies word ek baie goeie dinge in hulle gewoontes en eienskappe sien.

“Daardie lid van julle, Sanchez, was die vernaamste onrusstoker hier—’n dronklap, ’n strawwe roker en vol ondeugde. Hy was ’n doring in my vlees. Hoe hy die moed gehad het om te verander is iets wat ek nie weet nie. Al wat ek weet, is dat hy een van Jehovah se Getuies geword het en daar het jy dit!”

WAAROM DIE VERANDERING?

Wat is dit wat moordenaars, verkragters, brandstigters en sluipmoordenaars verander in Christene met ’n goeie lewenswandel? Volgens die manne self is dit die hervormingsvermoë van God se Woord en die goeie omgang met godvrugtige mense. Een het gesê dat hy getrek is deur die Bybel se belofte van ewige lewe, en dat God al die trane van die oë van die lydende mensdom sal afvee, sowel as siekte en die dood sal verwyder (Joh. 5:24; Openb. 21:4). Daar hy die slegte sy van die lewe gesien het, was hierdie beloftes so reg na sy hart.

’n Ander een het gesê dat daar ’n ware Christelike broederliefde bestaan onder die gevangenes wat Jehovah se Getuies geword het, en dit is dit wat hom getrek het. Nou sê hy dat hy daarna wil strewe om “’n goeie dienaar van Jehovah God” te wees.

Ander het gesê dat wanneer hulle met Jehovah se Getuies omgegaan het dit die eerste keer in hulle hele lewe was dat hulle soos ordentlike mense behandel is. Die werklikheid van hierdie liefde word gesien in die geval van een van die gevangenes toe hy vrygelaat sou word. Hy sê dat “sy oë vol trane geword het” omdat hy van sy geliefde Christenbroers moes afskeid neem.

Selfs in die gevangenis word die Bybel se vermoë om harte te genees en mense te verander dus op dramatiese wyse getoon. Wanneer hulle in die lig van God se Woord kom, ondervind hierdie mense, wat weens vorige oortreding opgesluit is, die werklike vryheid wat Jesus beloof het toe hy gesê het: “Julle sal die waarheid ken, en die waarheid sal julle vrymaak” (Joh. 8:32). Hulle is dankbaar vir die goedertierenheid van hulle God, Jehovah, wat hulle toegelaat het om ware vryheid en blywende rehabilitasie te vind selfs terwyl hulle nog in die gevangenis was. Julle sal dit geniet om die volgende ervaring van een van hierdie manne te lees, soos dit deur homself vertel word.

[Voetnoot]

a Op bladsy 6 van hierdie tydskrif kan jy die ervaring van Domingo Obispo lees soos hy dit self vertel.

    Afrikaanse publikasies (1975-2027)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel