“DIE KONINKRYK VAN ONSE HERE EN VAN SY CHRISTUS” NEEM OOR
1. Wanneer sal die 144 000 geesverwekte dissipels van Christus ophou om aardse onderdane van sy geestelike koninkryk te wees?
ONS stel almal belang in die heersers van ons inkomende wêreldregering. Mettertyd sal al 144 000 van Christus se getroue geesverwekte dissipels onder daardie heersers tel. Dan sal hulle nie meer aardse onderdane van ’n geestelike koninkryk van Christus wees nie, maar hulle sal saam met hom konings in die hemel wees. Hierdie vooruitsig strook met die woorde van Openbaring 5:9, 10 (vgl. NW) wat gerig is aan Jesus Christus, die Lam van God: “U is geslag en het ons vir God met u bloed gekoop uit elke stam en taal en volk en nasie, en het ons konings en priesters vir onse God gemaak, en ons sal as konings [oor] die aarde heers.”
2. Uit watter deel van die mensdom sal die heersers van die inkomende wêreldheerskappy dus kom?
2 Let asseblief op! Daardie geïnspireerde verklaring sê nie dat die geofferde Lam van God mense vir God uit net die 12 stamme van die een nasie Israel wat Hebreeus gepraat het, gekoop het nie. Die heersers van ons inkomende wêreldregering sal nie net bestaan uit persone wat uit daardie klein Joodse nasie gekoop is nie. Die heersers in daardie wêreldregering sal nie net in die vleeslike nasie Israel gewortel wees nie, selfs al was die Lam van God, Jesus Christus, self ’n besnede Hebreeussprekende Jood of Israeliet toe hy ’n volmaakte man op aarde was. Daar hy nou in die hemel is, sal hy nie meer geken word volgens die vlees wat hy opgeoffer het nie (2 Kor. 5:16). Dienooreenkomstig sal daar saam met hom in die wêreldregering verbonde wees persone wat eens lede van “elke stam en taal en volk en nasie” was.
3. In wie op aarde sal die heersers dus belangstel, en waarom?
3 Die heersers sal dus vanuit alle nasies kom. Om hierdie rede sal hulle vanselfsprekend in alle lede van die mensdom belangstel, ongeag kleur, ras, stam, nasie of taal. Dit is presies hoe dit moet wees, aangesien die Lam van God vir die hele mensdom gesterf het en nie net vir een bepaalde volk of nasie nie.
4. Wie se eiendom is die burgery van al die nasies in werklikheid, en waarom?
4 Vandag beskou die politieke regerings hulle burgers as Staatseiendom. Aldus ontsê sulke regerings God die Skepper en sy geofferde Seun Jesus Christus alle reg op eienaarskap. Maar binnekort sal daar in die hemelse Hof van Goddelike Geregtigheid bewys gelewer word dat die Lam van God, Jesus Christus, hier op aarde geslag is vir die burgery van al die nasies. Omdat hy hulle gekoop het, behoort hulle almal aan Hom en nie aan enige mens of mense nie. Hulle is Christus se eiendom, ja, ook die eiendom van sy hemelse Vader, Jehovah God. Hierdie aankoop is dus nie beperk tot die 144 000 wat saam met Christus konings in die hemelse regering gaan wees nie. Ons moet eerder die breë beskouing van die Seun van God hê wat Johannes die Doper gehad het toe hy na die gedoopte Jesus gewys en gesê het: “Dáár is die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem!” Ja, van die wêreld!—Joh. 1:29.
5. Oor hoe ’n groot gebied sal die inkomende koninklike regering heers, en wie sal die Messiaanse Koning as sy onderdane hê?
5 In volle ooreenstemming met daardie feit sal die inkomende koninklike regering globaal, aardwyd wees. In verband met die Messiaanse Heerser sê die profesie in Sagaria 9:10: “Dan sal Hy [die Vredevors] aan die nasies vrede verkondig, en sy heerskappy sal wees van see tot see, en van die Eufraat tot aan die eindes van die aarde.” In soortgelyke taal sê die profesie in Psalm 72:7, 8: “In sy dae sal die regverdige bloei en volheid van vrede, totdat die maan nie meer is nie. En hy sal heers van see tot see en van die Rivier tot by die eindes van die aarde.” Hierdie profesie is nie deur die valse Christendom vervul nie, hoewel dit beweer dat dit Christus se koninkryk is en vandag beweer dat dit amper ’n duisendmiljoen lidmate het, hoewel die aan die baie sektes en denominasies rondom die aarde behoort. Die nasies wat bely dat hulle Christelik is, is die mees rusversteurende politieke entiteite van die mensegemeenskap. Hulle het nie getoon dat hulle die verenigde onderdane van die Vredevors, Christus, is nie.—Jes. 9:5.
6. Hoe het die nasies van die Christendom laat blyk dat hulle nie onderdane van die Vredevors is nie?
6 Was dit nie hulle wat veroorsaak het dat wêreldvrede tydens die jare 1914-1918 deur wêreldoorlog verpletter is nie? Twintig of meer deelnemers van die 28 nasies en ryke wat uiteindelik by die oorlog betrokke was, het beweer dat hulle Christelik is. En oor watter geskil het hulle oorlog gevoer? Dit was die geskil van wêreldoorheersing. Nee, nie wêreldoorheersing deur Jesus Christus nie, maar wêreldoorheersing deur diegene wat as oorwinnaars uit die globale stryd tree. Maar die Eerste Wêreldoorlog het nie die geskil finaal besleg nie. Een-en-twintig jaar later het hulle begin om dit op ’n groter skaal uit te baklei. En nou, 32 jaar na die einde van die Tweede Wêreldoorlog, is die geskil van wêreldoorheersing nog nie tot die bevrediging van wêreldlike nasies besleg nie. Die politieke situasie bou op tot ’n derde gewelddadige, globale wapenstryd.
7. Watter aankondiging wat deur Jehovah se Christengetuies aan hulle gemaak is, het wêreldlike nasies, wat hulle eie soewereiniteit eerste stel, in die wind geslaan?
7 Tot vandag toe het die nasies wat hulle nasionale soewereiniteit eerste stel die dinge in die wind geslaan wat Jehovah se Christengetuies selfs tydens gewelddadige vervolging aan hulle verkondig het. Wat het hulle verkondig? Dit: Dat hulle geleentheid om die wêreld te regeer sonder inmenging deur God se koninkryk vroeg tydens die noordelike herfs van die oorloggeteisterde jaar 1914 geëindig het. Of, om die taal van Jesus Christus se profesie te gebruik, die “tye van die nasies”, “die vasgestelde tye van die nasies” het verstryk. Toe het die tyd wat deur die Soewerein van die heelal, Jehovah God, bepaal is, vir hom aangebreek om “die koninkryk van onse Here en van sy Christus” op te rig. Hy het die koninkryk van sy Christus opgerig, nie in Jerusalem daar in die Midde-Ooste nie, maar in die hemel, aan sy eie regterhand (Luk. 21:24, AB; NW). Omdat dit bo in die hemel plaasgevind het, was dit vir ons onsigbaar. Maar bewyse daarvan is voor ons oë in die dinge wat Jesus Christus voorspel het as ’n sigbare “teken” vir ons.—Matt, hfste. 24 en 25; Mark. 13:3-37; Luk. 21:5-36.
GAAN IN “DIE KONINKRYK VAN ONSE HERE EN VAN SY CHRISTUS”
8. Van wanneer af is daardie “teken” sigbaar, en die tyd vir watter aankondiging het dit aangedui?
8 Hoeveel van ons het daardie “teken” gesien en die betekenis daarvan gesnap soos dit sedert die einde van die Tye van die Nasies in 1914 voor ons oë ontvou het? Dit dui aan dat dit toe die bestemde tyd was vir groot stemme in die hemel om aan te kondig: “Die koninkryk van die wêreld het die koninkryk van onse Here en van sy Christus geword, en hy sal as koning regeer tot in alle ewigheid.”—Openb. 11:15, NW.
9. Hoe vergelyk hierdie “koninkryk” met die een wat in Kolossense 1:13 gemeld word, en wie regeer as koning daarin?
9 Laat ons weer na daardie aankondiging luister en oplet wat dit sê. Nie ‘en hulle sal as konings regeer tot in alle ewigheid’ nie, maar “en hy sal as koning regeer tot in alle ewigheid”. Wie is die Een van wie dit gesê word dat hy as koning sal regeer tot in alle ewigheid? Hy moet die vernaamste een wees van wie daar in die aankondiging gepraat word, die een wat ’n Christus of Gesalfde het. Hy moet die een wees van wie daar as “onse Here” gepraat word. Die een wat in die hemel “onse Here” genoem word, is die Vernaamste Een, en “sy Christus” is die ondergeskikte een, die bykomende een. Die regering word derhalwe “die koninkryk van onse Here en van sy Christus” genoem, en dit is iets met groter afmetinge en groter omvang as “die koninkryk van die Seun van sy liefde”, waarvan daar in Kolossense 1:13 gepraat word, ’n koninkryk waarvan die apostel Paulus melding maak ongeveer 35 jaar voordat Johannes die Openbaring geskrywe het. Dit is dus eintlik Jehovah God wat begin regeer wanneer die “koninkryk van die wêreld” oorgeneem word. Hy is “die God van die aarde”.—Openb. 11:4; Sag. 14:3-9.
10. Dit is dus die begin waarvan vir die “Koning van die eeue”?
10 Dat die voorgaande die regte toepassing van die uitdrukking “onse Here” is, word gestaaf deur wat die 24 ouderlinge gesê het terwyl hulle voor die goddelike troon aanbid het: “Ons dank U, Here God, Almagtige, wat is en wat was en wat kom, dat U u groot mag aangeneem en as koning geheers [of, begin heers] het” (Openb. 11:16, 17, vgl. NW). Dit is dus die begin van ’n spesiale tydperk in die universele heerskappy van God, “die Koning van die eeue”.—1 Tim. 1:17; Openb. 15:3, NW.
11. Watter soort rol vervul die simboliese manlike kind wat vir God se “vrou gebore word, maar wie oefen in wese die koningskap uit?
11 Dit is die koningskap van Jehovah God wat verhef word selfs in wat in verband met die geboorte van ’n nakomeling uit God se hemelse “vrou” gesê word. Die nakomeling word afgebeeld as ’n manlike kind “wat al die nasies met ’n ystersepter sou regeer”. Dit beteken ongetwyfeld dat die simboliese manlike kind al die politieke nasies van die aarde in stukkies sou verbreek soos wanneer voorwerpe van pottebakkersklei stukkend geslaan word. Dit het dus ’n regeringsrol om te vervul. Maar wie is dit wat in wese die koningsmag uitoefen? Dit word duidelik gestel in die woorde: “En haar kind is weggeruk na God en sy troon.”—Openb. 12:1-5.
12. Wie is dit wat die simboliese manlike kind op die troon plaas, en van wie word dienooreenkomstig daarna gesê dat hy die koninkryk het, en aan wie word gesag gegee?
12 God is die Een wat hierdie simboliese manlike kind op die troon plaas. God is die bron van alle regmatige heerskappy. Aan die simboliese kind word daar ’n posisie ondergeskik aan God se koningskap gegee. As ’n regeringsagentskap van God word daar daarvan gepraat as iets wat splinternuut is, so nuut soos ’n pasgebore babatjie, nie as iets wat alreeds van Pinkster van 33 G.J. af bestaan nie. Derhalwe word daar, wanneer daar ná die geboorte van hierdie simboliese manlike kind oorlog in die hemel uitbreek en die oorwinning uiteindelik behaal word en Satan en sy demone uitgewerp word, gehoor hoe ’n groot stem in die hemel sê: “Nou het die heil en die krag en die koningskap die eiendom [van wie?] van onse God geword, en die mag van sy Christus; want die aanklaer van ons broeders is neergewerp” (Openb. 12:7-10). Dus word dit weer gesê dat die koninkryk dié van onse God is. Hy is inderwaarheid die Een wat regeer, en sy Christus of Gesalfde, Jesus, kry “mag” om op ’n ondergeskikte manier onder die Here God te regeer.
13. Wat van Jehovah was aan die einde van die Tye van die Nasies in 1914 in die gedrang, en hoe is dit lank tevore ten opsigte van ons aarde geopenbaar?
13 Daar is ’n grondige Skriftuurlike rede waarom sake só, met die klem op die koningskap van Jehovah God, gestel word. Dit is Sy universele soewereiniteit wat in die gedrang is wanneer die oorname van die “koninkryk van die wêreld” aan die einde van die Tye van die Nasies in 1914 plaasvind. Tweeduisend-vyfhonderd-en-twintig jaar vantevore het Jehovah ’n koninkryk op die aarde gehad wat hom te midde van die Heidense nasies verteenwoordig het. Dit was die koninkryk van die koningshuis van Dawid te Jerusalem. Daar is gesê dat Dawid en sy koninklike opvolgers op “die troon van [Jehovah]” in die hoofstad van die nasie sit (1 Kron. 29:23, vgl. NW). Kort voor sy dood het Dawid ’n milde bydrae gegee om ’n tempel vir Jehovah te bou en toentertyd het hy gesê: “Aan U HERE, kom toe die koningskap en die selfverhoging as Hoof oor alles” (1 Kron. 29:11). Die koninkryk van die koningshuis van Dawid was dus ’n openbaring van die universele soewereiniteit van Jehovah God ten opsigte van die aarde.
14. Watter onderbreking was daar, ondanks God se ewige verbond met Dawid vir ’n koninkryk, in die bewind van Dawid se nakomelinge op die troon?
14 In ooreenstemming met God se verbond met koning Dawid vir ’n ewige heerskappy, het die koningshuis van Dawid op “die troon van [Jehovah]” in Jerusalem gesit tot in die noordelike somer van 607 v.G.J. In daardie tragiese tyd het die Babiloniese leërs Jerusalem verower en dit vernietig, en koning Sedekia is as ’n balling na Babilon toe weggevoer. Daarop het die algehele verwoesting van die land Juda, teen die middel van die sewende maanmaand, Tisjri, van daardie jaar gevolg. Hoewel die oorlewende Joodse ballinge 70 jaar later in Jerusalem en die land Juda herstel is, is “die troon van [Jehovah]” nie weer in Jerusalem herstel om deur ’n nakomeling van Dawid met die koninklike reg op die kroon en die septer beklee te word nie. Waarom nie?
15. Hoe is die onderbreking van Jehovah se soewereiniteit ten opsigte van ons aarde in ’n droom van koning Nebukadnesar afgebeeld?
15 Dit was omdat die Tye van die Nasies destyds, vanaf die verwoesting van die land Juda in die jaar 607 V.G.J., ’n aanvang geneem het en 2 520 jaar, tot 1914 G.J., moes duur. Jehovah se soewereiniteit ten opsigte van hierdie aarde was soos die hoë boom wat in Nebukadnesar se droom gesien is. Daardie boom is afgekap en net sy penwortel of onderstam is in die grond gelaat. Daar moes “sewe tydperke” oor die boomstam heengaan voordat daar weer lote daaruit kon groei. Daarom is daar bande van yster en koper om die boomstam gebind en moes dit daar bly totdat die “sewe tydperke” verstryk het (Dan. hfst. vier). Getrou aan hierdie afbeelding sou Jehovah se universele soewereiniteit dit weer aan die einde van “sewe tydperke” van ongehinderde Heidense oorheersing van die aarde ten opsigte van ons aarde laat geld.
16, 17. (a) Watter koninkryk sou op daardie bestemde tyd Jehovah se besitting word, en watter aankondiging sou passend wees? (b) Wat moet by die vernietiging van Babilon die Grote ter bevestiging van Jehovah se heerskappy aangekondig word?
16 Op daardie bestemde tyd in God se rooster vir gebeurtenisse was dit gepas dat ‘die koninkryk van die wêreld die koninkryk van onse Here en van sy Christus word’ (Openb. 11:15, NW). Dit sal grondige rede wees vir grenslose vreugde aan die kant van almal in die hemel en op die aarde wat gebid het dat God weer eens sy volle soewereiniteit moet laat geld ten opsigte van ons aarde, waar die Heidense moondhede so lank wêreldoorheersing uitgeoefen het. Dan, en nie toe die heilige gees op Pinkster van 33 G.J. uitgestort is nie, sou dit die regte tyd wees vir die aankondiging van Psalm 97:1, 9 (NW) om gemaak te word: “Jehovah self het koning geword! Laat die aarde bly wees. Laat die baie eilande hulle verheug. Want U, o Jehovah, is die Allerhoogste oor die hele aarde; U is baie hoog verhewe bo alle ander gode.” (Ook Psalm 99:1, NW.) Later sal die vernietiging van Babilon die Grote (die wêreldryk van valse godsdiens) Jehovah se koningskap bevestig. Met ’n Halleluja sal die uitroep weerklink:
17 “Halleluja! want die Here God, die Almagtige, het die koningskap aanvaar.”—Openb. 19:6.
18. Wie neem dan sy mag aan om as koning te regeer, en watter geskenk gee hy dan aan sy Seun?
18 Hierdie aankondigings laat die feit uitstaan dat dit die Soewereine Heer Jehovah is wat aan die einde van die “sewe tydperke” van Heidense oorheersing weer oor ons aarde begin regeer. Dit is Hy wat sy groot mag aanvaar en “die koninkryk van die wêreld” oorneem (Openb. 11:15-17, NW). Dan gee hy aan sy Seun, Jesus Christus, ’n aandeel in “die koninkryk van die wêreld”. Aldus deel “sy Christus” in iets wat hy nooit tevore gehad het nie, as ’n gawe van die Soewereine Heer Jehovah. Dit is presies die gawe wat Hy beloof het om hom te gee. Dit was omstreeks dit tyd toe hy die koninkryk van Dawid se dinastie te Jerusalem sou omverwerp en verwoes. Aan die laaste regerende nakomeling van koning Dawid het hy toe gesê: “Die tulband moet weg, en die kroon moet af! Dit bly nie so nie: . . . Puinhoop, puinhoop, puinhoop sal Ek dit maak. Ook dit sal nie bly nie—totdat Hy kom wat daarop reg het, en aan Hom sal Ek dit gee.”—Eseg. 21:25-27.
19. Waarom kon dit waarop Jesus wettig die “reg” verkry het, volgens sy eie profesie in Lukas 21:24, selfs nie op Pinkster van 33 G.J. aan hom gegee word nie?
19 Omdat Jesus Christus in die vlees getrou was tot die dood toe was hy die een “wat daarop reg het”. Hy is Dawid se Permanente Erfgenaam. Maar dit waarop hy “reg het”, is nie in 33 G.J. nadat hy hemel toe opgevaar het, aan hom gegee nie. Vier-en-veertig dae voor sy hemelvaart het hy sy profesie gegee wat in Lukas 21:5-36 opgeteken staan. Hierin het hy die vernietiging voorspel wat oor die destydse Jerusalem sou kom, wat wel in 70 G.J. onder die hande van Romeinse legioene gekom het. In verband daarmee het hy gesê: “Hulle [die Jode] sal deur die skerpte van die swaard val en as krygsgevangenes geneem word na al die nasies, en Jerusalem sal vertrap word deur die nasies totdat die tye van die nasies vervul is” (Luk. 21:24). Dus kon dit waarop hy die “reg het” nie in 33 G.J. aan hom gegee word nie, selfs nie eers op Pinkster van daardie jaar nie.
20. Waarop het Jesus, volgens Esegiël 21:25-27, wettig die “reg” verkry, en slegs wat kon Dawid aan Jesus as sy Permanente Erfgenaam bemaak?
20 Dít waarop Jesus Christus die “reg” verkry het, was die Dawidiese koninkryk, ’n aardse koninkryk, waarvan die “tulband” en die “kroon” deur Dawid en sy koninklike nakomelinge gedra is (Eseg. 21:25-27). As ’n volmaakte mens is Jesus in die koninklike geslag van Dawid gebore, wat hom natuurlik in aanmerking laat kom het vir die Dawidiese koninkryk (Rom. 1:3, 4; Luk. 1:32, 33). Aangesien Dawid ’n aardse koning was, kon hy niks meer as wat hy self gehad het, ’n aardse koninkryk, aan Jesus Christus bemaak nie. Die engel Gabriël het vir Jesus se aardse moeder, die maagdelike Jodin Maria, gesê dat God aan hom “die troon van sy vader Dawid” sou gee. Is hierdie koninkryk in 33 G.J. aan Jesus gegee toe hy terug hemel toe opgevaar en aan God se regterhand gaan sit het? Dawid se koninkryk is in 607 v.G.J. omvergewerp om vir die “sewe tydperke” van Heidense wêreldoorheersing, of, 2 520 jaar lank van 607 v.G.J. af buite werking te bly.—Hand. 1:6.
21. Op watter optrede van God moes Jesus dus wag voordat hy sy reg op Dawid se koninkryk kon uitoefen?
21 Die verheerlikte Jesus Christus moes dus aan God se regterhand wag totdat die Tye van die Nasies in 1914 G.J. geëindig het voordat hy die regte van Dawid se aardse koninkryk kon uitoefen (Hebr. 10:12, 13). Hy moes wag totdat Jehovah God sy “groot mag” as Universele Soewerein aangeneem het en die Tye van die Nasies ten einde gebring het en die “koninkryk van die wêreld” aangeneem het. Dan kon God Jesus, as die Permanente Erfgenaam van koning Dawid, nooi om met Hom in die “koninkryk van die wêreld”, ’n koninkryk oor die hele mensdom op aarde, te deel.—Openb. 11:15, NW.
22. Wanneer is die nuwe koninkryk dus voortgebring, en hoe is dit in Bybelprofesieë afgebeeld?
22 Die simboliese “klip” wat in koning Nebukadnesar se droom gesien is, is dus in 1914, nie in 33 G.J. nie, uit die groot berg wat Jehovah se universele soewereiniteit afgebeeld het, gekap (Dan. 2:34, 35, 44, 45). Dit was ook toe dat Jehovah God met sy “voete” gaan staan het op die simboliese “Olyfberg” en dat die berg middeldeur gesplyt het om twee berge te vorm, een na die noorde en die ander na die suide (Sag. 14:4, 9). Dit kom ooreen met die geboorte van die manlike kind deur God se hemelse “vrou”, soos afgebeeld in Openbaring 12:1-5. Aldus is daar ’n nuwe “koninkryk” voortgebring, ’n nuwe openbaring van God se soewereiniteit ten opsigte van ons aarde. Dit is toe dat God sy aangewese Koning op die troon geplaas het om sy wetlike “reg” uit te oefen. Die simboliese bande van koper en yster om die “penwortel [onderstam]” van God se onderbroke soewereiniteit ten opsigte van ons aarde is verwyder. Die voorgeskrewe “sewe tydperke” het nou oor die onderstam heengegaan.—Dan. 4:23, 26, vgl. NW.
[Prent op bladsy 13]
Daar die 144 000 mede-erfgename uit “elke stam” gekies word, sal hulle vanselfsprekend in alle lede van die mensdom belangstel