Bloedskendige Huwelike—Hoe moet Christene hulle beskou?
ENKELE jare gelede het ’n hof in ’n Skandinawiese land besluit dat daar nie opgetree moes word teen ’n man wat met sy suster in ’n huweliksverhouding gelewe het nie. ’n Lid in die land se parlement het gesê dat hy ’n verandering in die land se bloedskandewette sou aanbeveel sodat so ’n verhouding nie onwettig sou wees nie. Soortgelyke gevalle in baie lande kan aangehaal word.
Wat kan as ’n bloedskendige huwelik bestempel word? Watter inligting voorsien die Bybel wat Christene kan help om te bepaal hoe hulle dit moet beskou?
“Bloedskande” verwys na geslagsgemeenskap tussen naasbestaandes. Die Engelse woord “incest” word afgelei van die Latyne woord incestus. Maar in Latyn beteken incestus eenvoudig “onkuisheid”. Dit sluit dus veel meer in as die Engelse woord wat daarvan afgelei word. Alle bloedskande is natuurlik onkuisheid, maar nie alle onkuisheid is bloedskande nie. Die beperkte betekenis wat aan die Engelse woord geheg word, is toe te skrywe aan die feit dat incestus voorkom in die Latynse “Vulgata” se weergawe van Levitikus 18:17, waar geslagsgemeenskap binne sekere familieverhoudinge beskrywe word.a Engelse Katolieke vertalings het die woord in ’n verengelsde vorm gebruik en mettertyd het dit die beperkte betekenis van geslagsgemeenskap of huwelik tussen naasbestaandes verkry.
Die belangrike punt vir diegene wat God se Woord eerbiedig, is egter nie die Latynse of Engelse uitdrukking wat gebruik word nie, maar wat die Skrif aangaande die verhouding self sê. In die eerste plek het die Wetsverbond wat aan die nasie Israel gegee is sekere huweliksbetrekkinge tussen bloedverwante verbied (Lev. 18:7-18; 20:14, 19-21; Deut. 27:23). Vir Christene is ’n belangrike faktor die begeerte om die huwelik eerbaar te hou en om te vermy om dit in oneer te bring, en ook om die gewete van ander, binne sowel as buite die Christengemeente, in aanmerking te neem.—Hebr. 13:4; 1 Kor. 10:32, 33; 2 Kor. 4:2.
Die Wetsverbond se verbod op sekere huweliksbetrekkinge tussen naasbestaandes voorsien sekerlik ’n leidende beginsel. Maar die feit bly staan dat Christene nie onder daardie Wet is wat aan vleeslike Israel gegee is nie. Derhalwe is die Christengemeente nie gemagtig om te probeer om daardie Wet te handhaaf deur daarop aan te dring dat daar aan die kode daarvan vasgehou moet word deur elke verbode huweliksbetrekking wat daarin opgenoem word te vermy nie.—Hand. 15:10, 11; Rom. 6:14; Gal. 2:21.
Daar kan gemeld word dat sekere aspekte van die verbooie blykbaar bedoel was om die orde van erfregte onder die Israeliete te bewaar. Blykbaar was die nabyheid van bloedverwantskappe of nabyheid van familieverwantskap weens huwelik alleen nie die faktore wat bepaal het of die verhouding moreel of immoreel was nie. So kon ’n neef nie met sy tante trou nie, maar dit was nie verbode vir ’n oom om met sy niggie te trou nie (Lev. 18:12-14). Die nabyheid van bloedverwantskap (of, as tantes en ooms deur die huwelik daarby betrokke was, die nabyheid van familieverwantskap) was klaarblyklik in albei gevalle nie groter of minder nie. Nogtans was die een geoorloof en die ander nie.
’n Man kon nie met sy broer se weduwee trou nie, iets wat vandag in baie lande nie as bloedskendig beskou sou word nie. En tog kan daarop gelet word dat, onder die Wetsverbond, waar ’n man gesterf het sonder om ’n erfgenaam te verwek, die Wet verwag het dat sy broer die weduwee as sy vrou moes neem om ’n erfgenaam in sy broer se naam voort te bring. Dit toon dat sodanige verwantskap nie op sigself of in wese sleg of immoreel geag is nie.—Lev. 18:16; Deut. 25:5, 6.
’n Huwelik tussen volle neef en niggie, waar bloedverwantskap taamlik naby was, was nie verbode nie. Huwelik met ’n halfsuster was verbode maar geen verbod word gemeld op ’n huwelik tussen ’n seun en sy vader se stiefdogter nie, dit wil sê ’n aangenome dogter, nie die nakomeling van die seun se ouers nie.—Lev. 18:11.b
BELANGRIKE FAKTORE VIR CHRISTENE
Die feit dat Christene nie onder die Wetsverbond is nie, beteken sekerlik nie dat enige huwelik tussen bloedverwante, hoe na ook al, vir Christene aanneemlik is nie. Dit is opmerklik dat die “Encyclopædia Britannica” (Micropædia, DI. V, bl. 323) in ’n bespreking van bloedskande na ’n huwelik tussen ouers en kinders en tussen broers en susters verwys en sê dat “bloedskande universeel veroordeel en gewoonlik met afsku begroet word”. In ’n ander artikel (Macropædia, DI. 10, bl. 479) sê dit: “Die naaste wat ons kom aan ’n universele reël wat in alle bekende menslike kulture gevind word, is die bloedskandeverbod—die verbod op geslagsgemeenskap tussen ’n man en sy moeder, suster, dogter of ander gespesifiseerde bloedverwant.” Dit praat (bl. 480) van die “basiese drietal” van moeder, suster en dogter wat in sodanige bloedskandeverbooie gevind word.
As ons na die geïnspireerde Christelike Griekse Skrifte blaai, blyk dit duidelik dat toe die apostel Paulus aan Timotheüs geskrywe het dat hy “bejaarde vroue soos moeders, jongeres soos susters in alle reinheid” moet bejeën, sy opdrag die krag daarvan geput het uit die feit dat geslagsgemeenskap met ’n mens se eie moeder of vleeslike suster as totaal onaanneemlik, in wese, immoreel is (1 Tim. 5:2). En aangesien sulke geslagsgemeenskap, soos ons gesien het, byna in alle gebiede met afkeer beskou word, blyk dit duidelik dat so ’n verhouding nie die Bybel se opdrag “Laat die huwelik in alle opsigte eerbaar wees”, vervul nie.—Hebr. 13:4.
Hoewel dit hoogs onwaarskynlik is dat so iets kan gebeur, ly dit geen twyfel nie dat enigiemand wat so ’n ouer-kind- of ’n broer-suster-verbintenis aangaan bepaald onaanneemlik in die Christengemeente van Jehovah se Getuies sal wees en derhalwe nie vir doop kwalifiseer nie tensy die verbintenis eers ontbind word. Enigiemand wat ’n gedoopte lid van die gemeente is en so ’n verbintenis aangegaan het, sal tereg uit die gemeente gesit word en kan slegs daarin herstel word as die verbintenis ontbind word.
VERWANTSKAPPE BUITE DIE GESINSKRING
Wat van gevalle buite die gesinskring? Met die oog op die feit dat die Wetsverbond nie op Christene van krag is nie, is daar blykbaar nie genoegsame Skriftuurlike grond om in hierdie verband ’n onbuigsame posisie in te neem nie, hoewel die gemeente, hoe nader die huwelik aan sodanige intieme bloedverwantskap kom, des te meer moet laat blyk dat hulle die verbintenis as onwenslik beskou. Hier speel die Skriftuurlike beginsel van liefde ’n groot rol, aangesien dit bekend is dat hoe nader die bloedverwantskap is des te groter die waarskynlikheid van genetiese gebreke in nakomelinge sal wees (Rom 13:8-10). Dit is ook ’n feit dat ’n gemeenskap se “afsku vir die bloedskande” oor die algemeen “afneem hoe verder die persone aan mekaar verwant is” (“Encyclopædia Britannica”, Micropædia, DI. V, bl. 323). Hoewel ’n verbintenis tussen familielede buite die gesinkring dus miskien nie uitsetting verg nie, kan die ouere manne van die gemeente sekerlik in aanmerking neem hoe naverwant diegene is wat hulle in sodanige verbintenis bevind, en ook watter uitwerking dit op die gemeente en die gemeenskap het, en dit hulle dan laat lei wanneer hulle besluit tot watter mate hulle sulke persone in die gemeente wil gebruik.
Familieskap is miskien nie deur bloedverwantskap nie maar deur huwelik (aangetroude verwantskap). In hierdie opsig strewe ’n Christen tereg daarna om dinge te vermy wat openbare vooroordeel sal verwek weens ’n skending van gekoesterde maatstawwe. Hoewel die gevaar van genetiese risiko’s nie by die saak betrokke is wanneer familielede wat nie bloedverwante is nie trou, kan die nabyheid van hulle familieskap nogtans ’n uitwerking op die eerbaarheid van die huwelik in die oë van die gemeenskap hê. Soos aangetoon is, moet die Christen ernstig besorgd wees hieroor (Hebr. 13:4). Net soos die apostel moet ons begeer om “geen oorsaak van struikeling” vir diegene om ons heen te wees nie.—1 Kor. 10:32, 33.
Wat kan in hierdie verband gesê word oor die geval wat in 1 Korinthiërs 5:1 beskrywe word? Hier beskrywe die apostel ’n immorele verhouding tussen ’n man en sy vader se vrou, blykbaar die man se stiefmoeder. Die verhaal sê nie dat daar ’n huwelik by betrokke was nie en die apostel noem dit inderdaad “hoerery” (porneia). Die verslag sê nie dat die man se vader nog gelewe het nie, hoewel die woorde in 2 Korinthiërs 7:12, as dit op hierdie geval van toepassing is, sou aandui dat hy wel nog gelewe het. Die man was dus skynbaar nie met sy stiefmoeder getroud nie, maar het onsedelik saam met haar gelewe. Maar selfs al gaan dit nie hier om ’n huwelik nie, toon Paulus se verwysing hierna as ’n geval van hoerery van so ’n aard dat dit “selfs onder die heidene nie bekend is nie”, duidelik dat die familieverwantskap wat bestaan het die hoerery besonder skandelik gemaak het.—1 Kor. 5:1.
HOE OM DIE NODIGE EWEWIG IN ONS STANDPUNT TE BEHOU
Dit is natuurlik nie die plig van die Christengemeente om op volkome gelykvormigheid aan al die verskillende wêreldlike maatstawwe ten opsigte van bloedskande aan te dring nie, en ook nie om op te tree as handhawers van die keiser se wette wat sekere huwelike verbied nie (wette waarvan party selfs verder gaan as wat deur die Wetsverbond verbied word). Mensewette en hulle omskrywinge van “bloedskande” is nie konsekwent nie maar toon ’n groot verskeidenheid. In party gemeenskappe kan ’n man wat binne sy familiegroep of dorpsgroep of, in party gevalle, selfs binne sy stam trou as bloedskendig beskou word. In ander gemeenskappe geld byna die omgekeerde en word ’n persoon veroordeel as hy nie binne sy stam of familiegroep trou nie (Hastings se “Encyclopædia of Religion and Ethics”, DI. IV, bl. 253). In party Oosterse gemeenskappe word dit as onbehoorlik beskou as persone wat dieselfde van het met mekaar trou, al is hulle ook hoe verlangs familie (“Encyclopædia Britannica”, Micropædia, DI. 5, bl. 32). In party lande of state kan huwelike tussen volle neefs en niggies wetlike erkenning verkry, in ander weer nie.
Hoewel hierdie faktore nie die maatstaf vir moraliteit is wat ’n mens se aanvaarding in die Christengemeente of die uitsetting daaruit beheer nie, kan hulle ’n uitwerking daarop hê of ’n mens in die gemeente gebruik word in ’n posisie waar jy vir ander ’n voorbeeld moet stel. Baie sal afhang van die ernstigheid waarmee die gemeenskap in die omgewing ’n verbintenis van sekere familielede beskou, of dit die oorsaak van ’n groot skandaal is en of dit bloot nou en dan ongunstige kommentaar uitlok.—1 Tim. 3:7, 10.
Waar persone so ’n verbintenis aangegaan het voordat hulle gedoop is, en hulle nie lede van dieselfde gesin is nie en miskien alreeds kinders het, sal die beginsel wat in 1 Korinthiërs 7:24 aangegee word skynbaar op sulke situasies toegepas kan word. In party gevalle kan die verbintenis van so ’n aard wees dat daar nie in die gebied wetlike erkenning daaraan verleen word nie. As die betrokke partye na ’n plek kan gaan waar dit verkrygbaar is, sal dit voordelig wees daar dit ’n mate van eerbaarheid aan die verbintenis in die oë van ander kan verleen. Indien dit nie moontlik is nie, en die partye graag gedoop wil word en andersins aan die vereistes voldoen, kan hulle die geleentheid gegee word om ’n verklaring te teken waarin hulle plegtig belowe om aan hulle bestaande verbintenis getrou te bly. Dit sal beskou word as ’n blyk dat húlle hulle verbintenis as bindend aanvaar en nie noodwendig dat die gemeente die verbintenis goedkeur nie.
Diegene wat innig besorgd is daaroor om God se guns en seën te hê en te behou sal sekerlik daarteen waak om iets te doen wat sy Naam en Woord in ’n ongunstige lig sal stel. Hoewel hulle nie meer onder die Wetsverbond is wat aan die Israeliete gegee is nie, sal hulle as ware Christene ernstige aandag skenk aan die geïnspireerde woorde van die apostel: “Gebruik nie net julle vryheid as ’n aanleiding vir die vlees nie, maar dien mekaar deur die liefde.”—Gal. 5:13.
[Voetnote]
a Die Hebreeuse woord wat so vertaal word, is die woord zimmah. Strong omskrywe die betekenis daarvan as “’n plan, veral ’n slegte”. Keil-Delitzsch se: “letterlik versinsel, plan.” Die Septuaginta het die Griekse woord asebyma daarvoor gebruik en Liddell-Scott se hierdie woord beteken “goddelose of oneerbiedige daad, ontheiliging”. In die New World Translation word dit as “losbandige gedrag” weergegee.
b Let op dat die lys op bladsy 1041 van die boek Aid to Bible Understanding so ’n huwelik verkeerdelik aangee as een wat verbode is. Die teks (Levitikus 18:11) se inderdaad spesifiek die dogter “wat deur jou vader verwek is”; dus nie ’n aangenome dogter nie. Die tabel in die Watchtower van 1 Februarie 1975, bladsy 73, laat tereg enige verbod om met ’n mens se stiefsuster te trou weg.