VERSIER DIE LEER VAN GOD IN ALLES
“Die koninkryk van God is nie spys en drank nie, maar geregtigheid en vrede en blydskap in die Heilige Gees.”—Rom. 14:17.
1. Watter faktore wat ’n bron van moeilikheid kan wees, bestaan daar in elke Christengemeente?
VERSKILLE van mening, smaak en gevoelens bestaan onder enige groep mense. Dit geld ook van opregte Christene. Hierdie verskille kan die vrede en eenheid van die gemeente versteur as sy lede meen dat hulle eie sienswyse beter is of die is waarna almal hulle moet skik.
2, 3. (a) Watter soort verskille het daar in die gemeente te Rome bestaan? (b) Wat was die kern van die raad wat Paulus gegee het aan diegene in die gemeente wat verskillende menings gehuldig het?
2 In die 14de hoofstuk van Romeine behandel die apostel Paulus meningsverskille in die Christengemeente te Rome. Hierdie verskille het in verband gestaan met dinge wat die gemeente raak—verskille wat party gemeen het bepaald op die een of ander manier beslis moes word sodat daar met die ware aanbidding van God voortgegaan kon word. Die grondleringe van die Bybel was nie daarby betrokke nie. Die aangeleenthede waaroor die geskil was, was in verband met gewetensbeskouings van die minder belangrike alledaagse lewensbedrywighede. Die apostel het daarop gewys dat die Christen groot vryheid in hierdie dinge het. Maar hy het ook gewaarsku dat ’n Christen nie hierdie vryheid onbeteueld moes gebruik of probeer om ’n ander se vryheid te beperk nie.
3 Die een Christen se gewete laat hom toe om ’n sekere reg uit te oefen. Paulus het so ’n persoon egter aangespoor om matig te wees in sy dade as hy weet dat hulle vir die gewete van ’n broer aanstootlik is. Die persoon wat ’n gewete het wat in party opsigte oorgevoelig is, is andersyds vermaan om nie sy broer te veroordeel as hy iets doen wat die Skrif veroorloof nie, al kan hyself dit nie sonder gewetenskwelling doen nie.
ONS WERK DALK TEEN ONS EIE BELANGE
4. Watter goed probeer die Christen doen?
4 Dan sê die apostel: “Laat dan van die goeie wat aan julle behoort, nie kwaad gespreek word nie” (Rom. 14:16). ’n Christen werk hard om goed te doen, sodat hy “die leer van God, ons Verlosser, in alles kan versier” voor die oë van elkeen, sodat almal die Christelike leer met die hoogste eerbied sal beskou (Tit. 2:10). Hy wil hê dat sy lewe ’n lewende getuienis moet wees vir wat hy en die gemeente leer, soos die apostel Petrus vermaan: “[Behou] ’n goeie gewete, sodat in die saak waarin hulle van julle kwaad spreek soos van kwaaddoeners, húlle beskaam mag word wat julle goeie lewenswandel in Christus belaster.”—1 Pet. 3:16.
5. Hoe kan daar van “die goeie” wat die Christen doen kwaad gespreek word?
5 Hoe jammer sal dit tog nie wees nie as ’n mens, nadat jy so versigtig in al hierdie aangeleenthede van Christelike lewe was, hierdie goeie invloed vir ware aanbidding vernietig deur daarop te staan om iets te doen wat op sigself heeltemal reg—‘goed’—is, maar wat in die oë van ’n oorgevoelige Christenbroer verkeerd lyk. Die broer kan geneig wees om met ander minagtend hieroor te praat. Of die een of ander daad van die Christen kan deur die hele gemeenskap verkeerd vertolk word. Hierdie daad sal nie een wees wat op sigself verkeerd is nie. Maar omdat ander dit veroordeel, kan dit die Christen se goeie naam bederf. Dit kan die boodskap van die “goeie nuus” wat die gemeente so hard werk om te verkondig en aan ander te leer smaad aandoen. Derhalwe sal dit beter wees as die Christen hom daarvan weerhou om sekere vryhede, selfs regte vryhede, waaroor die gewete van ’n ander Christen miskien swak is, te geniet of te gebruik.
6. Watter raad word daar aan die Christen met ’n té nougesette gewete gegee?
6 Daarenteen is dit ook noodsaaklik dat ’n Christen met ’n té nougesette gewete hom weerhou van kritiek oor ’n ander wat van sy vryheid gebruik maak en inderdaad niks verkeerds doen nie. Hy oordeel sy broer. Hy moet sy siening regstel. (Vergelyk 2 Korinthiërs 13:11.) Anders sal hy voortdurend die vrede van die gemeente versteur. Omdat hy sy broer oordeel, moet hy ’n baie groot deel van die skuld dra vir die moeilikheid wat deur sy kritiese gesindheid veroorsaak word. Hy moet liewer daarna strewe om volle rypheid te bereik en stewig gevestig te raak, om sy geloof op alle gebiede sterk te maak, sodat hy nie geneig sal wees om ander te laat struikel of om hulle te veroordeel nie. As hy nie hiermee vordering maak nie, kan hy ’n voortdurende bron van moeilikheid wees en die “goeie nuus” smaad aandoen.—Hebr. 5:12-14; Ps. 119:165.
KONINKRYK VAN GOD BESTAAN UIT BELANGRIKER DINGE
7, 8. Wat word bedoel met die apostel Paulus se verklaring: “Die koninkryk van God is nie spys en drank nie”?
7 Die apostel kom tot die kern van die saak wanneer hy sê: “Want die koninkryk van God is nie spys en drank nie, maar geregtigheid en vrede en blydskap in die Heilige Gees” (Rom. 14:17). Ware aanbidding en die dinge wat op die koninkryk van God en sy gemeente betrekking het, het nie hierdie fisiese aangeleenthede as kern nie. Soos Jesus gesê het: “Daar is niks wat van buite af in die mens ingaan wat hom onrein kan maak nie; maar die dinge wat van hom uitgaan, dit is die dinge wat die mens onrein maak.”—Mark. 7:15.
8 Dit kan van baie ander dinge van die lewe gesê word. Kleredrag en persoonsversorging, vermaak, sekulêre werk en ander persoonlike aangeleenthede is nie die noodsaaklike dinge vir die “bevordering van die evangelie” nie (Filip. 1:12). As daar geen werklike skending van die Skrif is nie en as daar matigheid aan die dag gelê word deur uiterstes of betrokkenheid by wêreldlike oortreding te vermy, val hierdie aangeleenthede nie binne die gebied waarin ons deur ons broers geoordeel moet word nie.—Vergelyk Spreuke 11:2.
9. Hoe is die koninkryk van God “geregtigheid en vrede en blydskap in die Heilige Gees”?
9 Dit is die leer aangaande die koninkryk van God wat die verreweg voortrefliker vrug van geregtigheid sal voortbring in die verkondigers daarvan en in diegene wat die boodskap hoor (Tit. 2:12; 1 Pet. 2:11). Elkeen moet bereid wees om van sy eie wil en begeertes en private bevrediginge afstand te doen ter wille van die vrede van die gemeente. As ’n Christen werklik toelaat dat die heilige gees in hom werk en hom rig, sal hy vreugde hê weens sy vertroue dat hy vir God welgevallig is. Die doel van die koninkryk van God is om hierdie belangrike dinge van die gees te bevorder.—Rom. 8:6, 13.
10. Hoe is die Christen wat Christus ter bevordering van Koninkryksbelange dien vir God welgevallig en by die mense geag?
10 Met die oog daarop dat hy hierdie verhewe doelwitte het, vestig ’n ryp Christen sy aandag op die sake wat werklik met die kenmerke en beginsels van die koninkryk van God te doen het. “Want hy wat Christus hierin dien, is aan God welgevallig en by die mense geag” (Rom. 14:18). As hy Christus ter bevordering van hierdie belangrike dinge dien, sal hy sekerlik God se goedkeuring wegdra, en sal ander Christene hom liefhê omdat hy redelik en verstandig is. Sy lewensweg sal hom by mense buite aanbeveel. Al wil party ook nie Christene word nie sal sy gedrag hom by hulle gewetens aanbeveel.—2 Kor. 4:2.
STREWE DIE GEMEENTE SE VREDE NA
11. Waaraan moet die lede van die gemeente al hulle energie wy in plaas daarvan om fout te vind?
11 “Laat ons dan”, sê die apostel, “najaag wat tot vrede en onderlinge stigting dien” (Rom. 14:19). Hy raai aldus die gemeente aan om alle oorsake van twis tersyde te stel en harmonies met mekaar te lewe. Sy beroep op hulle is om die dinge te doen wat mekaar geestelik opbou, in plaas daarvan om fout te vind of om andersyds hardkoppig op ’n persoonlike reg—die dinge wat ander afbreek—aan te dring. Paulus beveel aan dat hulle werk sodat almal kan “kom tot die eenheid van die geloof en van die kennis van die Seun van God, tot ’n volwasse man, tot die mate van die volle grootte van Christus”, en “terwyl ons in liefde . . . in alles . . . opgroei in Hom wat die Hoof is, naamlik Christus”. Dan kan hulle eensgesind en met ware krag en doeltreffendheid die boodskap van redding aan die mensdom bring.—Ef. 4:13, 15.
12. Hoe kan ’n Christen voorkom dat hy “die werk van God afbreek”?
12 Diegene wat tot ’n kennis van die waarheid gekom het, is die werk van God. Baie tyd en krag is ook deur die dienaars van God bestee om hierdie persone met groot sorg en teerheid te onderrig en by te staan. Hulle is “die akker van God, die gebou van God” (1 Kor. 3:9). Kan enige Christen ooit so oneerbiedig en vernietigend wees om hierdie werk af te breek? Die apostel vermaan: “Moenie ter wille van voedsel die werk van God afbreek nie. Alles is wel rein [want die Mosaïese wet in verband met rein en onrein dinge is deur middel van Christus afgeskaf], maar dit is verkeerd vir ’n mens om te eet as dit tot aanstoot is. Dit is goed om geen vleis te eet of wyn te drink of iets te doen waardeur jou broeder aanstoot neem of struikel . . . nie” (Rom. 14:20, 21). As ons iemand anders deur ons voorbeeld lei om ’n weg strydig met sy gewete in te slaan, of as ons probeer om die weg wat ons verkies op ’n ander af te dwing, kan ons al die goeie werk wat God se gees met daardie persoon verrig het, afbreek, al besef ons self ook nie watter skade ons aanrig nie.—Vergelyk 1 Korinthiërs 3:17.
STREEF DAARNA OM GOD TE VERHEERLIK, NIE JOUSELF TE BEHAAG NIE
13. Hoe moet ’n mens jou geloof “vir jouself voor die aangesig van God” behou?
13 Die gevolgtrekking wat jy moet maak, is dus: “Het jy geloof? Behou dit vir jouself voor die aangesig van God” (Rom. 14:22). Die geloof waarvan daar hier melding gemaak word, het betrekking op die onderwerp van bespreking. Dit beteken klaarblyklik nie geloof in die koninkryk van God en die belangrike dinge in verband daarmee nie, want hierdie geloof moet openlik aan almal bekend gemaak word (Matt. 28:19, 20). Paulus verwys na die geloof wat ’n Christen het dat Christus se offerande ons bevry het van voormalige beperkinge, soos om sekere voedselsoorte te eet en sekere dae te hou—dinge wat nie die werklike elemente van die koninkryk van God is nie, maar nou eenvoudig sake van persoonlike voorkeur of mening is (Gal. 4:8-11). Die raad is dus: ‘Moenie jou mening op ander afdwing nie.’ As jy weet dat ’n sekere ding wat jy weet nie verkeerd is nie in die gemoedere van party bevraagteken word, moet jy hulle nie probeer oorweldig, of ’n vertoning van jou “vryheid” maak nie. Dan sal God jou bedagsame houding respekteer. Hy sal verstaan waarom jy jou weerhou het van iets wat werklik ’n Christelike reg is. Maar as jy weet dat as jy hierdie sekere ding doen dit nie gewetenswroeginge in ander sal veroorsaak nie, kan jy voortgaan. God sal besef dat jy ’n goed opgeleide gewete het en oordeelkundig te werk gaan. God sal in albei gevalle sien dat jou geloof opreg is. Dit is sy oordeel wat tel. Hy sien dat jy gewetensgetrou sowel as met liefde handel in die beoefening van jou geloof.
14. Waarom is die man “wat homself nie oordeel in wat hy vir geoorloof ag nie” gelukkig?
14 Vir die ander een wat gewetensgetrou aarsel om ’n sekere stap te doen, sê die apostel voorts: “Gelukkig is hy wat homself nie oordeel in wat hy vir geoorloof ag nie” (Rom. 14:22). Deur nooit sy gewete te verkrag nie sal die Christen gemoedsrus hê. Maar as hy aan die korrektheid van ’n sekere handelwyse twyfel, moet hy dit sonder aarseling verwerp of laat staan. Wat ’n persoon ook al goedkeur, moet nie sy gewete skend nie, hoe aantreklik dit ook al is of watter argument iemand anders ook al aanvoer. As hy daarenteen vind dat daardie argument op die Skrif gegrond is en deeglik oortuig raak dat dit reg is, kan hy sy gewetensbeskouing dienooreenkomstig aanpas.—Rom. 14:5.
15. (a) Hoe is ’n man veroordeel as hy voortgaan en ’n ding doen wanneer hy twyfel of dit reg is? (b) Hoe kan hy die gehalte van sy gewete verbeter? (Ef. 3:14-19; 1 Thess. 5:11).
15 “Maar hy wat twyfel as hy eet, is veroordeel, omdat dit nie uit die geloof is nie; en alles wat nie uit die geloof is nie, is sonde” (Rom. 14:23). Die apostel rig hierdie opmerking aan diegene wat bely dat hulle Christene is, nie aan ongelowiges nie. Wat ’n persoon doen, moet iets wees wat geensins sy gewete pla nie. As sy gewete hom pla, veroordeel hy homself. En hy moet voortdurend na ’n heldere beeld van die Christelike geloof strewe, sodat hy ’n meer gebalanseerde gewete kan verkry. Hoewel nie alles wat ’n Christen doen, regstreeks met die bekendmaking van die “goeie nuus” in verband staan nie, doen hy alles wat hy doen, selfs op die gebied van vermaak en ontspanning, met die oog daarop om homself en ander op te bou.
16. Wat moet ’n Christen doen voordat hy enige stap doen sodat hy “alles tot verheerliking van God” sal doen?
16 Ter opsomming, die wyse raad van die apostel is: “Doen alles tot verheerliking van God” (1 Kor. 10:31). Voordat jy ’n stap doen, moet jy vra: ‘Sal dit tot vrede van die gemeente strek, sodat God se gees vryelik onder almal sal werk?’ ‘Sal my optrede sodanig wees dat dit geen smaad oor die naam van God en Christus bring nie?’ ‘Sal dit die werk van God in die gemeente opbou en nie afbreek nie?’ Die Christen wat sy lewe in volle ooreenstemming met ’n regte, gebalanseerde, rein gewete voor God kan bring, is inderdaad gelukkig. So ’n Christen strek die gemeente van God tot seën.
[Prent op bladsy 18]
In plaas daarvan om ’n ander persoon te oorreed om in stryd met sy gewete op te tree, moet ons liewer dat die heilige gees hom lei terwyl hy God se Woord bestudeer