Vrede en veiligheid
Wanneer sal dit kom?
Uit watter bron?
Wat sal dit vir die mensdom beteken?
“[Dit is God] wat die oorloë laat ophou tot die einde van die aarde, die boog verbreek en die spies stukkend slaan, die strydwaens met vuur verbrand.”—Ps. 46:10.
IN SY KOMMENTAAR oor die vooruitsig vir 1978 het die weeklikse joernaal “U.S. News & World Report” in sy uitgawe vir 26 Desember 1977 gesê dat dit “’n Deurslaggewende jaar” moet wees. Die skrywer het voorts gesê: “Belangrike besluite moet teen ’n agtergrond van stygende optimisme geneem word. Moeilikhede? Volop. Maar ’n tyd van vrede en voorspoed neem vorm aan.” Met hierdie woorde het die joernaal die verwagting van miljoene weergegee dat vrede en veiligheid ‘net om die draai’ kan wees.
In baie dele van die aarde gaan die geroep om “Vrede, vrede” op. Maar kan ons werklik en optimisties sê dat daar vandag wêreldvrede op die gesigseinder gesien kan word? Of is die situasie eerder soortgelyk aan die waarvoor Israel in die dae van die profeet Jeremia te staan gekom het? Die wêreldsituasie was toe kritiek. Want die verpletterende Babiloniese oorlogsmasjien was besig om op te trek in sy veldtog van wêreldverowering. Die mense het waansinnig na die een of ander hoop op vrede gesoek. Nogtans het die profeet verklaar dat hulle “sê: Vrede, vrede!—terwyl daar geen vrede is nie.”—Jer. 8:11.
WATTER GRONDSLAG VIR VREDE?
Gestel jy is van plan om ’n nuwe huis te bou. Waar sal jy dit bou? Sal jy ’n buurt kies wat bekend is vir sy misdade? Sal jy dit bou in ’n gebied waar die mense mekaar beveg oor rasse-, godsdienstige en maatskaplike geskille? Sal jy na ’n gemeenskap trek waar wantroue, haat en allerhande gewelddadigheid hoogty vier? Sal jy bowendien, as jy jou huis bou, probeer om dit “veilig” te maak deur ’n voorraad van allerhande brisante springstowwe in die kelderverdieping aan te hou? Jy sal tog seker nie so ’n huis beplan nie!
Vandag se wêreld bou egter juis so! Vandat die totale oorlog die eerste keer in 1914 toegeslaan het, is die wêreldmilieu nog altyd vol toenemende gewelddadigheid. Nasionalistiese, rasse- en gods- dienstige haat het baie volke van die aarde verswelg. Nogtans beweer politieke leiers dat hulle vrede in hierdie wêreld kan bewerkstellig. Party is miskien baie opreg in wat hulle beweer. Maar kan hulle werklik daarin slaag?
Op watter soort fondament bou hulle? Is dit ’n vaste fondament van wedersydse vertroue en liefde? Of is dit eerder ’n onvaste fondament van vrees en haat? Die fondament waarop die wêreldmoondhede bou, is letterlik ’n plofbare. Gedurende 1976 het die nasies van die aarde meer as 260 miljard rand aan bewapening bestee en in 1977 het die bedrag opgeskiet tot byna 350 miljard rand. Die wapenwedloop ruk hand-uit. Watter soort fondament is dit om ’n wêreld van vrede en veiligheid op te bou? Ons kan maar net sê dat dit hopeloos en onmoontlik is.
Dit is juis van ons dag dat die profeet Daniël gepraat het toe hy die hoogtepunt van die eeue-lange stryd tussen die “koning van die Noorde” en die “koning van die Suide” voorspel het. Vandag word hierdie twee konings uitgeken as die opponerende blokke van Kommunistiese en kapitalistiese nasies in hulle stryd om wêreldoorheersing. Hulle gaan voort met die eeue-oue spel van diplomasie: “En wat die twee konings betref, hulle hart sal wees om kwaad te doen; en aan een tafel sal hulle leuens spreek, maar dit sal nie geluk nie” (Dan. 11:27). Hoe harder hulle oor “vrede en veiligheid” praat des te verder wyk hierdie begeerlike doel. ’n Huis van ware vrede kan nooit op ’n fondament van wantroue en mededingende bewapening—’n fondament versterk deur voorraadstapels kern- en ander afgryslike wapens—gebou word nie. Dit kan nooit in ’n milieu van internasionale haat, misdadigheid en gewelddadigheid gebou word nie.
“SOOS ’N DIEF IN DIE NAG”
Die nasies hou egter aan om oor “vrede en veiligheid” te praat. Aldus jaag hulle ’n dwaallig na. Want wat profeteer die Bybel aangaande hulle pogings? Die apostel Paulus deel ons mee: “Die dag van die Here kom net soos ’n dief in die nag. Want wanneer hulle sê: Vrede en veiligheid—dan oorval ’n skielike verderf hulle soos die barensnood ’n swanger vrou, en hulle sal sekerlik nie ontvlug nie” (1 Thess. 5:2, 3). Die geroep om vrede en veiligheid styg alreeds al hoe hoër. En dit kan verwag word dat terwyl die nasies betekenisvol “vrede en veiligheid” uitroep “die dag van die Here” plotseling in al sy woede sal losbreek. Dit sal kom net soos die onverwagse aankoms van ’n dief in die nag. Soos skielike barensnood sal die dag van afrekening die nasies van die aarde inhaal en sal goddelike strafgerig aan hulle voltrek word.—Sef. 3:8.
Dit sal nie onbeheerde vernietiging wees, asof ’n kernoorlog die beskawing volkome van die aarde af sal uitwis nie. Dit sal eerder ’n beheerde, selektiewe vernietiging wees wat deur die almagtige God gebring word oor “die wat God nie ken nie en . . . die wat aan die evangelie van onse Here Jesus nie gehoorsaam is nie” (2 Thess. 1:8). Ware liefhebbers van vrede en veiligheid kan daarvan seker wees dat Jehovah steeds vir hulle “’n toevlug en sterkte, as hulp in benoudhede” sal bly.—Ps. 46:2-8.
Verbasende gebeurtenisse sal op die aarde gesien word terwyl hierdie “groot verdrukking” sy gang gaan (Matt. 24:21). Dit sal iets ten gevolge hê wat geen SALT (Strategic Arms Limitation Talks) of ontwapeningskonferensies eers begin regkry het nie—die algehele ontwapening van die nasies. Ons word na ’n voorskou van hierdie wêreldskuddende gebeurtenisse genooi: “Kom, aanskou die dade van die HERE, wat verskriklike dinge oor die aarde bring, wat die oorloë laat ophou tot by die einde van die aarde, die boog verbreek en die spies stukkend slaan, die strydwaens met vuur verbrand.”—Ps. 46:9, 10.
Hierdie beslissende optrede deur die almagtige God, Jehovah, het ’n doel. Die nasies het deur die eeue heen getoon en toon nog steeds dat hulle nie bestendige vrede en veiligheid vir die volke van die aarde kan bring nie. Elke geleentheid is aan hulle gegee en hulle het elke soort regering probeer. Hulle het almal egter hulle huis op ’n verkeerde fondament gebou. In mededinging met mekaar stapel hulle nou hulle kern- en ander wapens al hoe hoër op in hulle wedywering met mekaar om ’n onvaste magsewewig te handhaaf. Geen wonder dat die almagtige God, Jehovah, voornemens is om so ’n onveilige en moorddadige reëling uit te wis nie.
GRONDSLAG VIR ’N VREDERYK
Die almagtige God sal egter nie alleen die nasies met hulle krygstoerusting en al vernietig nie, maar sal ook die universele vrederyk inbring. En op watter fondament sal hierdie nuwe orde gebou word? In die eerste plek sal daar liefde en wedersydse vertroue onder die mensdom wees. Diegene wat voldoen aan die vereistes om in daardie nuwe orde te lewe sal persone wees wat die twee grootste gebooie wat deur Jesus Christus aangedui is, onderskryf: “Jy moet die Here jou God liefhê uit jou hele hart en uit jou hele siel en uit jou hele krag en uit jou hele verstand; en jou naaste soos jouself” (Luk. 10:27). Hulle sal “die vrug van die Gees” aangekweek het, naamlik “liefde, blydskap, vrede, lankmoedigheid, vriendelikheid, goedheid, getrouheid, sagmoedigheid, selfbeheersing”. Hulle sal beklee wees “met die nuwe mens [persoonlikheid] . . . wat na God geskape is in ware geregtigheid en heiligheid” (Gal. 5:22; Ef. 4:24). Persone wat hierdie hoedanighede verwerf het en wat hulleself in toegewyde diens aan God bestee het, sal die kern van God se nuwe orde word. Sy Koninkryksbewind onder Christus Jesus sal op roemryke wyse slaag terwyl sulke persone uit elke volksgroep, ras en sosiale stand waarlik verenig in ’n veilige en vreedsame wêreldomvattende gemeenskap. En daar sal letterlik miljarde lede van die mensdom in daardie gelukkige gemeenskap ingebring word deur die opstanding van die dode.—Joh. 5:28, 29.
Daar is nog ’n ander doel, inderdaad ’n edele doel, waarom God die valse fondament vir vrede en veiligheid vernietig en ’n ware fondament bou. Dit is sodat die soewereiniteit van die ware God, Jehovah, in die ganse heelal verhoog kan word. Derhalwe reik Jehovah die uitnodiging in Psalm 46:11: “Laat staan en weet dat Ek God is; Ek sal hoog wees onder die nasies, hoog op die aarde.” Dit is slegs wanneer die hele mensdom hulle aan Jehovah God as Soewereine Heer van die heelal onderwerp dat vrede ten laaste oppermagtig sal heers. Terwyl liefhebbers van vrede vir daardie glorieryke tyd wag, kan hulle hulle verheug oor die beskerming waarvan Jehovah ons verseker: “Die HERE van die leërskare is met ons; die God van Jakob is ’n rotsvesting vir ons” (Ps. 46:12). Terwyl die nasies dus op plofbare fondamente vir ’n onsekere vrede en bedrieglike veiligheid bou, kan almal wat op die vermaning van God se Woord, die Bybel, ag gee, voortbeur na die ware vrede en veiligheid wat slegs deur God se koninkryk deur Christus Jesus gewaarborg word.—Matt. 6:10.
“Maar in die dae van dié konings sal die God van die hemel ’n koninkryk verwek wat in ewigheid nie vernietig sal word nie, en die heerskappy daarvan sal aan geen ander volk oorgelaat word nie; dit sal al daardie koninkryke verbrysel en daar ’n einde aan maak, maar self sal dit vir ewig bestaan.”—Dan. 2:44.