Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w78 7/1 bl. 7-14
  • Erken Christus se uiters belangrike plek

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Erken Christus se uiters belangrike plek
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1978
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Die uitnemendste onder God se intelligente skepsele
  • ‘Die ganse volheid woon in Hom’
  • ’n Christen se posisie vandag
  • Onderwerp jou aan Christus as hoof
  • Beheers verkeerde begeertes
  • Positiewe optrede teenoor medegelowiges
  • Ons hele lewe is daarby betrokke
  • Kolossense—Gesonde raad oor leer en gedrag
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1983
  • Bybelboek nommer 51—Kolossense
    “Die hele Skrif is deur God geïnspireer en is nuttig”
  • Vind baat by Christus se hoofskap
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk—1977
  • “Laat niemand julle van jul prys beroof nie”
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1985
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1978
w78 7/1 bl. 7-14

Erken Christus se uiters belangrike plek

“Aan My is gegee alle mag in die hemel en op aarde.”—Matt. 28:18.

1. Watter vrae kan iemand wat bely dat hy ’n dissipel van Jesus Christus is homself afvra? (Joh. 15:8-10).

IS JY ’n dissipel van die Here Jesus Christus? Erken jy sy uiters belangrike plek in God se reëling? Indien wel, weerspieël jou daaglikse lewe waardering vir die Seun van God en vir wat hy ten behoewe van jou gedoen het?

Die uitnemendste onder God se intelligente skepsele

2, 3. (a) In watter sin is Jesus Christus die “beeld van die onsienlike God”? (Hebr. 1:3). (b) Hoe het Jehovah God sy eersgebore Seun gebruik, en watter plek beklee hierdie een dus onder alle intelligente skepsele? (Joh. 1:1-3).

2 Die apostel Paulus help ons om te sien hoe belangrik die posisie van Jesus Christus eintlik is. In sy brief aan die Kolossense het Paulus geskrywe: “Hy is die Beeld van die onsienlike God, die Eersgeborene van die hele skepping; want in Hom is alle dinge geskape wat in die hemele en op die aarde is, wat sienlik en onsienlik is, trone sowel as heerskappye en owerhede en magte—alle dinge is deur Hom en tot Hom geskape. En Hy is voor alle dinge, en in Hom hou alle dinge stand.”—Kol. 1:15-17.

3 Volgens hierdie geïnspireerde woorde is die eersgebore Seun, die begin van die skepping van God, die uitnemendste onder alle intelligente skepsele. Hy is die beeld van sy hemelse Vader deurdat hy ’n geespersoon is wat sulke bewonderenswaardige goddelike hoedanighede soos liefde, wysheid, geregtigheid, barmhartigheid, genade en lankmoedigheid weerspieël (Ex. 34:6, 7; Ps. 33:5; Rom. 16:27; 1 Joh. 4:8). Deur hom het Jehovah God miljoene engeleseuns, die ontsaglike heelal met sy duisende miljoene melkweë en die aarde met sy groot verskeidenheid van plant- en dierelewe in aansyn gebring. Bowendien het daar deur die Seun “trone”, “heerskappye”, “owerhede” of “magte” in aansyn gekom. Wat is hulle?

4. Waarom kan die “trone”, “heerskappye”, “owerhede” of “magte” wat deur die Seun geskep is nie wêreldlike regeringsposisies of -ampte wees nie, en wat moet hulle dus insluit?

4 Hulle kan nie wêreldlike regeringsposisies of -ampte wees nie, want die Skrif verwys na sulke dinge as menslike en nie goddelike skeppinge nie (1 Pet. 2:13, 14, NW). Die “trone”, of “heerskappye”, “owerhede” of “magte” moet derhalwe daardie vorms van heerskappy insluit waarvoor Jehovah God deur sy Seun verantwoordelik is, onder andere die koninkryk van Melgisedek en dié van Dawid te Jerusalem.

5. (a) Wat is Jesus Christus se posisie ten opsigte van die gemeente volgens Kolossense 1:18? (b) Watter uitwerking behoort hierdie verhouding op lede van die gemeente te hê? (Matt. 23:8-10).

5 Van Jesus Christus se posisie ten opsigte van die gemeente sê die apostel Paulus: “Hy is die Hoof van die liggaam, naamlik die gemeente” (Kol. 1:18). Die gemeente kyk dus tereg na hom, nie na enige mens nie, as die uitnemendste, die hoof.

6. (a) Wat kan gebeur wanneer Christene te veel waarde aan mense begin heg? (Mark. 9:33, 34. (b) Hoe blyk dit uit wat in die gemeente in Korinthe gebeur het?

6 As hierdie feit nie erken word nie het dit onenigheid ten gevolge. Dit word goed toegelig deur wat in eertydse Korinthe gebeur het. Die apostel Paulus moes aan die broers daar skryf: “Dit is aan my deur die huisgenote van Chloë bekend gemaak aangaande julle, my broeders, dat daar twiste onder julle is. Ek bedoel dit, dat elkeen van julle sê: Ek is van Paulus, en ek van Apollos, en ek van Cefas, en ek van Christus. Is Christus verdeel?” (1 Kor. 1:11-13). Omdat hulle te veel aandag aan mense geskenk het, is lede van die gemeente in Korinthe in partye verdeel. Hulle het nie besef dat manne wat die leiding onder Christene neem maar net dienaars van God en Christus was en ten behoewe van hulle broers geslaaf het nie.—1 Kor. 3:5-9.

7. (a) Was Paulus, Apollos of Petrus verantwoordelik vir die verkeerde beskouing wat in die gemeente in Korinthe bestaan het? (b) Hoe kan ouere manne soos die apostel Paulus wees, en waarteen moet hulle dus waak?

7 Gelukkig was Paulus, Apollos en Cefas, of Petrus, nie verantwoordelik vir die situasie wat in die gemeente in Korinthe ontstaan het nie. Hulle het persoonlik die voorbeeld gestel deur na Jesus Christus as die hoof te kyk. Die apostel Paulus kon byvoorbeeld sê: “Wees my navolgers, soos ek dit ook van Christus is” (1 Kor. 11:1). En ouere manne van vandag sal beslis soos Paulus wil wees. Dit vereis dat hulle eenstemmig moet wees (1 Kor. 1:10). As ouere manne wyduiteenlopende meninge in die openbaar uitspreek, sal lede van die gemeente geneig wees om na diegene te kyk wie se opinies meer met hulle eie denke strook. Die situasie word veral ernstig wanneer ’n ouere man sy mede- ouere manne neerhaal, miskien te kenne gee dat hy yweriger en getrouer as hulle is of dalk meer insig, begrip en meegevoel het. (Vergelyk 2 Samuel 15:2-6.) Dit kan meebring dat hy ’n gevolg binne die gemeente opbou en die pogings van die liggaam van ouere manne om die geestelike belange van die kudde te behartig ondermyn.

8. Hoe vind die gemeente baat daarby as ouere manne die voorbeeld stel in die wyse waarop hulle hulle aan Christus se hoofskap onderwerp? (Ef. 4:11-16).

8 As die ouere manne andersyds daarna strewe om soos een man te praat en op te tree, en toelaat dat hulle ten volle deur die Skrif gelei word in hulle besluite, sal daar eenheid in die gemeente wees. Die hele gemeente sal dan aangespoor word om nie na indiwidue nie, maar na Jesus Christus as die hoof van die gemeente te kyk.

9. Watter ander rede, benewens dat Christus die hoof van die gemeente is, gee Kolossense 1:18 aan vir die uitnemendheid van die Seun van God, en wat moet dit vir ons beteken?

9 Terwyl hy met sy bespreking oor die uiters belangrike plek van Jesus Christus voortgaan, meld die apostel Paulus nog ’n ander rede waarom die Seun van God uitnemend is. Ons lees: “Hy wat die begin is, die Eersgeborene uit die dode, sodat Hy in alles die eerste kan wees” (Kol. 1:18). Niemand voor Jesus Christus is tot onsterflike lewe in die hemel opgewek nie. Omdat hy die eerste was om ’n opstanding tot volmaakte lewe te ondervind, is hy “die Eersgeborene uit die dode”. Hy het die weg voorberei vir sy mede-erfgename om saam met hom deelgenote van ’n hemelse erfenis te wees deur tot onsterflike lewe opgewek te word soos hy opgewek is (Hebr. 6:19, 20; Openb. 20:6). Om aan daardie opstanding deel te hê, moet ’n mens die hoofskap van Jesus Christus oor die gemeente erken. Trouens, iedereen wat goddelike seëninge wil ontvang, moet dit doen.—Filip. 2:9-11.

‘Die ganse volheid woon in Hom’

10. Hoe is dit dat ‘dit God behaag het om die ganse volheid in die Seun te laat woon’?

10 Erkenning van Christus se hoofskap behels meer as om bloot toe te gee dat hy die vernaamste posisie in die gemeente beklee. Let op dat die apostel Paulus verder sê: “Dit het die Vader behaag dat in Hom die ganse volheid sou woon” (Kol. 1:19). Na God se goedvinde beklee Jesus Christus die vernaamste plek in die gemeente, nie net wat uitnemendheid en gesag betref nie, maar ook deurdat hy die “volheid” besit van alles wat Christene nodig het. Die Seun van God is die beliggaming van goddelike hoedanighede, onder andere wysheid. Derhalwe is hy, en geen mens op die aarde nie, die een na wie ware Christene kyk as hulle voorbeeld en die aangestelde bron van leiding en onderrigting.

11. Wat kan gesê word oor die nodigheid vir menslike filosofieë en tradisies, aangesien alle “volheid” in Christus woon?

11 Jesus Christus se volmaakte voorbeeld en leringe hoef nie deur menslike filosofieë en tradisies aangevul te word nie. In sy brief aan die Kolossense het die apostel Paulus hierdie aspek verder bespreek toe hy geskrywe het: “Pas op dat niemand julle as ’n buit wegvoer deur die wysbegeerte en nietige misleiding nie, volgens die oorlewering van die mense, volgens die eerste beginsels van die wêreld en nie volgens Christus nie. Want in Hom woon al die volheid van die Godheid liggaamlik; en julle het die volheid in Hom wat die Hoof is van alle owerheid en mag.”—Kol. 2:8-10.

12. (a) Wat is die “eerste beginsels van die wêreld”? (b) Waarom kon Paulus na geloofvernietigende redenasies en leringe as “nietige misleiding” verwys?

12 Destyds in die eerste eeu het die gevaar bestaan dat Christene op ’n dwaalspoor gebring kon word deur die “eerste beginsels van die wêreld”, dit wil sê, deur die elementêre of fundamentele beginsels van die wêreld wat van God vervreemd is. Hierdie elementêre dinge het die onskriftuurlike opvattings van die Grieke en ander nie-Joodse volke sowel as die nie-Bybelse tradisionele Joodse leringe ingesluit. Oppervlakkig het party van die filosofieë en leringe miskien baie aanneemlik gelyk. Hulle het moontlik gepaard gegaan met redenasies en argumente wat by menslike denke byval gevind het. Maar hulle het geen vaste fondament gehad nie. Hierdie ongegronde leringe—ditsy oor leerstelling, oor menslike gedrag, of oor hoe dinge in die gemeente gedoen moes word—was in werklikheid “nietige misleiding”. Christene het dus goeie rede gehad om op hulle hoede te wees sodat hulle nie die prooi van die een of ander valse leraar word en van die weg van die waarheid weggelei word nie.—Vergelyk 1 Johannes 2:26, 27.

13. Watter valse leer het sekere persone, volgens Kolossense 2:16-19, verkondig, en waarom was hierdie leringe gevaarlik?

13 In sy bespreking van nog ander verkeerde beskouings wat algemeen voorgekom het, sê Paulus verder: “Laat niemand julle dan oordeel in spys of in drank of met betrekking tot ’n fees of nuwemaan of sabbat nie, wat ’n skaduwee is van die toekomstige dinge; maar die liggaam behoort aan Christus. Laat niemand julle van jul prys beroof nie, al sou hy behae hê in nederigheid en verering van die engele en [‘intree in’ die dinge wat hy gesien het], en sonder oorsaak opgeblase wees deur sy vleeslike gesindheid, en nie vashou aan die Hoof nie, uit wie die hele liggaam deur die gewrigte en verbindinge ondersteuning ontvang en saamgebind word en so met goddelike groei grootword.”—Kol. 2:16-19, vgl. NW.

14. (a) Hoe kan ’n Christen homself verkeerdelik laat beoordeel in spys en drank of met betrekking tot sekere dae? (b) Waarom was persone wat so geoordeel het, verkeerd?

14 Daar is dus by Christene in Kolosse daarop aangedring om nie toe te laat dat ander hulle geloof en geregtigheid beoordeel en beweer dat hulle nie redding kon verkry tensy hulle besny word en die wet van Moses begin hou nie. Indiwidue wat ander op hierdie manier oordeel, gaan terug na die “eerste beginsels”, die ABC van ware aanbidding, en negeer God se verdere ontplooiing van sake en ontken dat die “ganse volheid” nou in Christus woon. Sulke persone het derhalwe nie aan die Hoof, Christus, vasgehou nie en indiwidue se aandag afgetrek van die gesonde leer wat vir hulle noodsaaklik was om geestelik te groei.

15. Wat kon Christene in Kolosse verloor deur die argumente van valse leraars te glo?

15 As Christene in Kolosse voor die oorreding van ’n voorstander van valse leerstellings sou swig, kon hulle die “prys” verbeur wat vir hulle in die vooruitsig gestel is. Wat was hierdie prys? Dit was die glorieryke beloning van onsterflike hemelse lewe.—1 Kor. 9:24-27; Filip. 3:14; 2 Tim. 4:7, 8; Openb. 2:7.

16. Hoe kon ’n leraar van dwaling hom volgens Paulus se woorde in Kolossense 2:18 voordoen?

16 Soos die apostel Paulus aangetoon het, kon ’n man wat ’n Christen van die waardevolle prys van die lewe wou beroof doodonskuldig voorkom. Die apostel het hom beskrywe as iemand “wat behae [het] in [skyn] nederigheid” (Kol. 2:18, vgl. NW). Uiterlik het dit dus gelyk of hy uiters neerbuigend was. Maar hierdie neerbuigendheid, of nederigheid, was maar net skyn.

17. (a) Wat het die apostel Paulus bedoel toe hy ’n valse leraar beskrywe as een wat “‘intree in’ die dinge wat hy gesien het”? (b) Hoe was so ’n valse leraar ‘sonder juiste rede opgeblase deur sy vleeslike gesindheid’?

17 Wat hy in werklikheid was, blyk uit die feit dat Paulus sê dat so ’n persoon “‘intree in’ die dinge wat hy gesien het en sonder juiste rede opgeblase is deur sy vleeslike gesindheid” (Kol. 2:18, NW). Wat het die apostel bedoel deur dit van ’n leraar van dwaling te sê? Die uitdrukking “intree in” was ’n sinsnede wat in die ou tyd in verband met die inwydingsritusse van heidense verborgenhede gebruik is. Nie tevrede met die volledige en eenvoudige waarheid wat deur middel van Jesus Christus geopenbaar is nie, was hy trots op die mening dat hy voortrefliker wysheid en heiligheid verkry het as die wat sy Christenbroers oor die algemeen gehad het. Deur te probeer om Christelike waarheid met valse, bespiegelende redenasies aan te vul het hy inderdaad van die geloof afgewyk. Na sy mening was die Seun van God nie die enigste reservoir van kennis en wysheid nie. So ’n persoon het nie aan die geïnspireerde woorde “in [Christus is] al die skatte van wysheid en kennis verborge”, geglo nie (Kol. 2:3). Hy het volgehou dat daar ander reservoirs van kennis en wysheid benewens God se Seun was na wie die gemeente vir leiding kon kyk.

’n Christen se posisie vandag

18. Waarteen moet alle Christene, veral ouere manne, waak wanneer dit by onskriftuurlike persoonlike beskouings en filosofieë kom?

18 Vandag het God se dienaars nie te kampe met presies dieselfde situasie as die wat algemeen in die eerste eeu voorgekom het nie. Daar is nietemin belangrike lesse wat ons kan leer uit wat Paulus aan die Kolossense geskrywe het. Alle Christene, veral ouere manne, moet byvoorbeeld sorg dat hulle nie hulle neuse in die private sake van ander steek en geen onskriftuurlike persoonlike beskouings en filosofieë op gelyke voet plaas met die waarheid wat in die leringe en voorbeeld van Jesus Christus geopenbaar is nie.—Vergelyk 1 Timotheüs 1:3, 4; 2 Timotheüs 4:1, 2.

19. (a) Waarop moet geestelike raad altyd gegrond wees, en waarom? (b) Wat sou ’n Christen loën as hy nie by die Skrif bly nie en ’n voorstander van persoonlike filosofieë as ’n rigsnoer vir ander is?

19 Alle geestelike raad of advies wat ’n Christen aan ander gee, moet nie op persoonlike voorkeur, vooroordeel of op wêreldlike beginsels nie, maar op die voorbeeld en leringe van Jesus Christus gegrond wees. Aangesien alles wat die Seun van God aan ander geleer het in volle ooreenstemming met die geïnspireerde Skrif was, kan en moet die volledige Bybel tereg gebruik word om geestelike hulp te verleen (2 Tim. 3:16, 17). As ’n persoon nie getrou by die Skrif bly nie beteken dit dat hy die Hoof van die gemeente veronagsaam. (Vergelyk Mattheüs 7:24-27; 15:3-9; Johannes 17:17.) Dit sou ook te kenne gee dat die ganse “volheid” nie in die Christus woon nie maar dat wat by Christus “ontbreek” deur persoonlike opinie en menslike filosofieë aangevul moet word.

20. Waarom is dit, soos uit Hebreërs 5:14 blyk, gevaarlik om persoonlike opinies van ander ons rigsnoer te laat wees?

20 Wat van Christene wat die persoonlike filosofieë en opinies van ander as ’n rigsnoer aanvaar om te bepaal of ’n sekere handelwyse reg is? Hulle kan hulle gewete skaad en hulle geestelike groei belemmer. Waarom? Vir eers toon die Bybel dat ‘geestesvermoëns deur die gewoonte geoefen moet word’. Wanneer ander dus ’n indiwidu se besluite uitermate beïnvloed of selfs bepaal, gaan hierdie persoon nie geestelik groei nie, maar sal hy ’n kindjie bly wat nie tussen reg en verkeerd kan onderskei nie.—Hebr. 5:14.

21. Hoe kan pogings om ’n mens na die onskriftuurlike persoonlike opinies van ander te skik ’n skuldgevoel laat ontstaan oor dinge wat op sigself behoorlik is?

21 Daarbenewens kan party persone onnodig skuldig voel wanneer hulle na persoonlike sake omsien en gesonde vermaak, ontspanning, ensovoort geniet omdat hulle probeer om hulle te skik na wat bloot die persoonlike opinies van ’n ander Christen is. ’n Gerespekteerde lid van die gemeente kan byvoorbeeld openlik die mening lug dat die”laaste dae” volstrek nie die tyd vir God se knegte is om daaraan te dink om groot verbeteringe aan hulle huise aan te bring nie. Terwyl baie dalk besef dat dit ’n persoonlike opinie is en hulle nie daaraan steur nie, kan party miskien skuldig begin voel oor hulle planne. Diegene wat toelaat dat hulle oormatig deur die persoonlike opinie van iemand anders beïnvloed word, ondervind moontlik later probleme en ongerief wat vermy kon gewees het as hulle hulle redelike planne uitgevoer het. Net so kan daar op ander gebiede van die lewe ernstige probleme opduik wanneer God se Woord deur die beskouings van onvolmaakte mense as ’n bron van leiding vervang word. Maar ons is altyd veilig as ons besluite neem wat op die voorbeeld en leringe van die volmaakte Seun van God gegrond is.

Onderwerp jou aan Christus as hoof

22. (a) Hoe moet ons Jesus se bevele in die lig van sy verhewe posisie beskou? (b) Watter vrae kan ons ons afvra in verband met Jesus se bevele in Mattheüs 28:19, 20; Lukas 21:34-36; 22:19, 20 en Johannes 13:34, 35?

22 Met die oog op die verhewe posisie van Jesus Christus moet sy bevele sekerlik ernstig opgeneem en heelhartig gehoorsaam word. Strewe jy daarna om ten volle daaraan deel te neem om te getuig en dissipels te maak? (Matt. 28:19, 20). Bly jy geestelik wakker en sorg jy dat jy nie deur die daaglikse sorge van die lewe of deur swelgery en dronkenskap beswaar word nie? (Luk. 21:34-36). Toon die wyse waarop jy ander behandel dat jy werklik die selfopofferende liefde wil toon waaraan ware dissipels van Jesus Christus uitgeken word? (Joh. 13:34, 35). Dink jy ernstig na oor hoeveel baat jy by Jesus se offerande vind wanneer jy gehoorsaam saam met medegelowiges byeenkom om die Here se Aandmaal te herdenk? (Luk. 22:19, 20; 1 Kor. 11:23-32). Word jy beweeg om sorgvuldig aandag te skenk aan jou gedrag sodat jy die rein aansien kan behou wat jy verkry het nadat jy die versoeningsvoordele van Jesus se vergote bloed in geloof aanvaar het?—1 Pet. 1:14-19.

23. Hoe het ons met God versoen geraak, en wat moet ons dus aanhou doen?

23 Ons moet nooit vergeet dat so lank as wat ons sondes nie versoen was nie ons van God vervreemd was. Maar deur Jesus se bloed wat aan ’n folterpaal vergiet is, is ons met die Allerhoogste versoen en verkeer ons nou in vrede met hom (Kol. 1:20). Na ons aanvanklike reiniging van sonde as gevolg van ons aanvaarding van Jesus Christus se offerande ten behoewe van ons, moet ons nietemin voortgaan om ons in te span om in ’n onberispelike toestand voor Jehovah God te bly. In sy brief aan die Kolossense sit die apostel Paulus byvoorbeeld duidelik uiteen wat by wyse van gedrag van ’n Christen verwag word.

Beheers verkeerde begeertes

24. (a) Hoe het ’n persoon moontlik sy liggaamsdele en sy spreekvermoë gebruik voordat hy ’n gedoopte dissipel van Jesus Christus geword het? (b) Wat moet hy nou doen?

24 “Maak dood dan”, so skrywe Paulus, “julle lede wat op die aarde is, naamlik hoerery, onreinheid, hartstog, slegte begeertes en gierigheid, wat afgodediens is” (Kol. 3:5). Voordat hy ’n gedoopte dissipel van Jesus Christus geword het, het ’n persoon miskien sy liggaamsdele gebruik op ’n wyse wat strydig is met God se voorneme. Die apostel sê selfs: “[Dit is dinge] waarin julle ook vroeër gewandel het toe julle daarin geleef het. Maar nou moet julle ook dit alles aflê, naamlik toom, woede, boosheid, laster, skandelike taal uit julle mond. Lieg nie vir mekaar nie” (Kol. 3:7-9). Ja, die misbruik van die liggaamsdele en die spreekvermoë is onbetaamlik vir iemand wat rein voor God aangeskrewe staan. Hy moet verkeerde vleeslike begeertes doodmaak en nie toelaat dat hulle sy liggaamsdele laat sondig nie. Hy moet die voorbeeld navolg van die apostel Paulus wat van homself gesê het: “Ek kasty my liggaam en maak dit diensbaar, dat ek nie miskien, terwyl ek vir ander gepreek het, self verwerplik sou wees nie.”—1 Kor. 9:27.

25. (a) Waarom is gierigheid afgodediens? (b) Hoe kan erkenning van hierdie feit ons help om die oorhand oor verkeerde vleeslike begeertes te kry?

25 Een ding wat ons kan help om die oorhand oor verkeerde vleeslike begeertes te kry is ’n erkenning van die ernstigheid van gierigheid—’n oordrewe begeerte na iets waarop ’n mens nie geregtig is nie. Gierigheid is afgodediens soos Paulus gesê het. Dit is so omdat die voorwerp wat ’n mens verkeerdelik begeer te belangrik in sy lewe word. Dit word ’n afgod vir hom en verhinder dat hy uitsluitlike toewyding aan Jehovah God gee. Dit verhinder hom ook om God met sy hele hart lief te hê daar sy selfsugtige begeerte hom aanpor om die goddelike wet te veronagsaam. Die Bybel toon dat ons lojale gehoorsaamheid aan sy bevele een van die maniere is waarop ons ons liefde vir Jehovah toon (1 Joh. 5:2, 3). Wanneer ’n Christen dus besef dat ’n verkeerde begeerte binne-in hom opbou, kan hy gerus dink aan hoe kosbaar sy verhouding met God is en hoe sinloos dit sal wees om dit te verbeur deur van homself ’n afgodedienaar te maak.

Positiewe optrede teenoor medegelowiges

26. Is dit genoeg om ons maar net van verkeerde gedrag te weerhou as ons in ’n onberispelike toestand voor Jehovah God wil bly, en hoe word dit in Kolossense 3:12, 13 getoon?

26 As ons in ’n onberispelike toestand voor Jehovah God wil bly, moet ons ons nie bloot van verkeerde gedrag en ongesonde spraak weerhou nie. Ons moet ook positief optree. Die apostel Paulus het dus sy broers in Kolosse aangespoor: “Beklee julle dan, as uitverkorenes van God, heiliges en geliefdes, met innerlike ontferming, goedertierenheid, nederigheid, sagmoedigheid, lankmoedigheid. Verdra mekaar en vergewe mekaar as die een teen die ander ’n klag het; soos Christus julle vergeef het, so moet julle ook doen.”—Kol. 3:12, 13.

27. Waarom moet ons mede-Christene soos broers behandel en vergewensgesind wees?

27 Dink na oor wat Paulus hier sê. As Christene is ons deur die bloed van Jesus Christus gereinig en is ons geestelike broers en susters. Ons moet mekaar dus soos broers behandel. Daar ons onvolmaak is, skiet ons almal herhaaldelik te kort waar dit kom by die weerspieëling van die voortreflike hoedanighede van ons hemelse Vader en van sy Seun. Ons moet dus tereg nie te streng met medegelowiges wees en hulle hardvogtig behandel nie. Dit sal verkeerd wees vir ’n Christen om homself as regter van sy broers aan te stel en trots sy beweerde reg uitoefen om hulle vir hulle tekortkominge te straf. Nee, hy moet hulle tekortkominge gewillig verdra en nie nalaat om meegevoel, goedhartigheid, nederigheid, sagmoedigheid en lankmoedigheid te betoon nie. ’n Persoon kan weliswaar ’n geldige klagte teen ’n broer hê. Maar hy kan homself gerus afvra: Is my broer se fout werklik so groot dat ek hom nie kan vergewe nie? As die een wat die klagte het dan sy eie tekortkominge in oënskou neem, sal hy veel meer geneig wees om vergewensgesind te wees, net soos Jehovah teenoor hom vergewensgesind was.—Matt. 18:21-35.

28. (a) Wat is “die vrede van God”? (b) Hoe raak dit ons verhouding met medegelowiges as dit in ons harte heers?

28 Maar sê nou die tekortkominge van ander ontstel ons hart. Hoe kan ons dit kalmeer? Die apostel voorsien die volgende geïnspireerde raad: “Laat die vrede van God . . . in julle harte heers” (Kol. 3:15). Hierdie “vrede” is die rustigheid, die kalmte, wat ons verkry as ons dissipels van die Seun van God word. Dit spruit voort uit die wete dat Jehovah God en sy Seun ons liefhet en ons goedkeur. Wanneer hierdie vrede die heersende krag in ons harte is, sal ons ons bes doen om op so ’n wyse te spreek en te handel dat ons dit bewaar. Ons sal ons kosbare verhouding met Jehovah God en Jesus Christus beveilig deur ons medegelowiges met vriendelikheid en liefde te bejeën. Dit sal vrede in die gemeente bevorder en verhoed dat ons so opgewonde raak dat ons teen ons broers sondig.—Ef. 4:26, 27.

29. Watter nut sal dit stig as ons gehoorsaam is aan die geïnspireerde raad: “Wees dankbaar”?

29 Vervolgens beveel Paulus aan: “Wees dankbaar” (Kol. 3:15). Ja, ’n gees van dankbaarheid dra baie by tot die behoud van die vrede wat ons as Christene geniet. Persone wat waarlik bewus is van God se onverdiende goedheid teenoor hulle en medegelowiges, voel gelukkig en tevrede. Omdat hulle innig waardeer wat Jehovah God en Jesus Christus gedoen het om dit vir hulle moontlik te maak om van sonde gereinig te word met die vooruitsig op die ewige lewe, neem hulle nie gou aanstoot wanneer ander op die een of ander manier te kort skiet nie, maar hulle vergewe hulle vryelik uit die hart. Hoe anders is dit tog met ondankbare persone gesteld! Hulle kla dikwels, is nooit tevrede nie en is uiters ongelukkig. Hulle selfsugtige, liefdelose gesindheid is ontmoedigend vir diegene wat met hulle in aanraking kom en dit gee aanleiding tot twis en tweedrag. Ons kan dus gerus ’n gees van dankbaarheid aankweek.

30. Wat beteken die woorde: “Laat die woord van Christus ryklik in julle woon in alle wysheid”?

30 Nadat hy Christene aangespoor het om dankbaar te wees skrywe Paulus: “Laat die woord van Christus ryklik in julle woon in alle wysheid” (Kol. 3:16). Wat beteken dit? “Die woord van Christus”, of die boodskap van Christus af, die hele versameling Christelike leringe, moet ’n deel van ons word (“The Bible in Living English”; “Good News Bible”; “Weymouth”, kanttekening). Dit moet wees asof die ganse liggaam leerstellings soos dit deur Christus gegee is sy intrek in ons geneem het. Om dit moontlik te maak, moet ons ten volle in die boodskap van Christelike waarheid verdiep wees, daaroor nadink. Wanneer die “woord van Christus” inderdaad in al die volheid of rykheid daarvan ’n deel van ons is, sal dit vir ons as ’n rigsnoer dien en ons help om ons weg voorspoedig te maak. Daardie woord sal ons verstandig laat optree. Wanneer ons met die “woord van Christus” vervul is, sal ons ons broers bemoedig en opbou.

Ons hele lewe is daarby betrokke

31. Wat moet ons, volgens Kolossense 3:17, met betrekking tot alle aspekte van ons lewe doen?

31 Die faktore wat tot die behoud van vrede met medegelowiges kan bydra, is ook noodsaaklik om vreugde en tevredenheid in alle ander aspekte van die lewe te vind. Ons moet nooit die feit uit die oog verloor dat ons elke dag, ja, elke uur van die dag, dissipels van Jesus Christus is nie. Die apostel Paulus het geskrywe: “Wat julle ook al doen in woord of in daad, doen alles in die Naam van die Here Jesus en dank God die Vader deur Hom” (Kol. 3:17). Ons moet dus in alle aangeleenthede van die lewe in die naam van die Seun van God praat en handel, dit wil sê, as sy verteenwoordigers, en ons moet Jehovah God dankbaar wees vir die vermoë wat hy ons gegee het om te praat en te werk.

32. (a) Op watter raad sal vrouens, mans, vaders en kinders ag gee as hulle behoorlike agting vir Jesus Christus het? (b) Hoe moet Christelike werknemers hulle werk verrig, en waarom? (c) Hoe moet Christelike werkgewers werknemers behandel, en waarom?

32 Dit is dus in werklikheid agting vir Jesus Christus as Here wat van Christene voortreflike mans en vaders, goeie eggenotes en moeders, gehoorsame seuns en dogters en voorbeeldige werkers en werkgewers moet maak. Dat ons gesinslewe en sekulêre werk moet getuig dat ons Christene is, blyk uit Paulus se raad: “Vroue, wees julle mans onderdanig soos dit betaamlik is in die Here. Manne, julle moet jul vroue liefhê en nie teen hulle verbitter word nie. Kinders, julle moet jul ouers in alles gehoorsaam wees, want dit is die Here welbehaaglik. Vaders, moenie julle kinders terg nie, sodat hulle nie moedeloos word nie. Diensknegte [vandag, werknemers], julle moet jul here [vandag, werkgewers] na die vlees in alles gehoorsaam wees, nie met oëdiens soos mensebehaers nie, maar in eenvoudigheid van hart, omdat julle God vrees. En wat julle ook al doen, doen dit van harte soos vir die Here en nie vir mense nie, omdat julle weet dat julle van die Here die erfenis as vergelding sal ontvang, want julle dien die Here Christus. Maar wie onreg doen, sal die onreg wat hy gedoen het, terug ontvang; en daar is geen aanneming van die persoon nie. Betoon reg en billikheid, here [vandag, werkgewers], aan julle diensknegte [vandag, werknemers], omdat julle weet dat julle ook ’n Here in die hemele het.”—Kol. 3:18-4:1.

33. (a) Erkenning van wie se rol moet uit die lewens van Christene blyk, en hoe word hierdie erkenning getoon? (b) Waarvan kan ons verseker wees as ons die gebooie van Jesus Christus bewaar?

33 As ons dus bely dat ons Christus se dissipels is, moet ons lewens toon dat ons sy uiters belangrike rol in God se reëling erken. Dit beteken dat ons gehoorsaam moet wees aan sy bevele en na sy leringe en voorbeeld kyk vir leiding. As ons dit doen, kan ons verseker wees van sy liefde en die liefde van sy Vader. Jesus het self gesê: “As julle my gebooie bewaar, sal julle in my liefde bly, net soos Ek die gebooie van my Vader bewaar en in sy liefde bly” (Joh. 15:10). As persone vir wie Jehovah God en Jesus Christus liefhet en goedkeur, kan ons daarvan seker wees dat ons die beloning van die ewige lewe sal kry.—1 Joh. 2:25.

    Afrikaanse publikasies (1975-2027)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel