die “Groot Koning” dissiplineer ’n mensekoning
WIE is die “groot Koning”? Niemand anders as Jehovah, die God van die hemel nie (Matt. 5:35). En wie is die mensekoning wat hy dissiplineer? Koning Dawid. Hoe die groot Koning koning Dawid dissiplineer, word in die boek Tweede Samuel vertel. Hierdie boek dek ongeveer 40 jaar van Dawid se lewe, van die tyd dat sy eie stam op die punt gestaan het om hom koning te maak tot net voordat hy sy seun Salomo as koning oor die hele Israel laat uitroep.a
Die verslag van Dawid se bewind as koning toon inderdaad dat hy voortdurend deur sy God Jehovah gedissiplineer is. Maar Dawid het altyd op die regte manier daarop reageer, hetsy daardie dissipline die vorm aangeneem het van mondelinge onderrigting of strawwe kastyding weens foute of sondes wat hy begaan het.—Vergelyk Hebreërs 12:5, 11.
Wanneer Tweede Samuel begin, sien ons Dawid treur oor die dood van koning Saul en van sy intieme, lojale vriend Jonatan. Vervolgens verneem Dawid watter weg hy moet inslaan en Jehovah sê vir hom om na die Judese stad Hebron toe te gaan. Dawid doen dit gehoorsaam en word as koning oor die stam van Juda gesalf. Abner, Israel se leërowerste, laat egter Saul se seun Isboset as koning oor die res van Israel uitroep. Dit loop uit op burgeroorlog wat etlike jare lank voortduur totdat Abner na Dawid toe oorloop en die trou van die res van Israel met hom saambring. Nadat hy sewe en ’n half jaar lank oor Juda regeer het, word Dawid nou oor al 12 stamme van Israel as koning gesalf. Dawid verower dadelik Jerusalem, wat in die besit van die Jebusiete gebly het, en maak dit sy hoofstad.—2 Sam. 1:1-5:10.
Dawid hou aan om vir Jehovah te vra wat hy verder moet doen en herhaaldelik is hy voorspoedig in sy oorloë teen die Filistyne. Hy wil graag hê dat die heilige verbondsark, die simbool van God se teenwoordigheid, na Jerusalem toe gebring moet word. Maar omdat hy nie op die manier te werk gaan wat deur God voorgeskryf is nie word hy gedissiplineer; God maak een van die betrokke manne dood omdat hy ongeoorloof na die ark gryp. Later laat Dawid die ark te midde van groot gejuig die res van die pad op die regte manier, op die skouers van die Levitiese priesters, na Jerusalem toe bring. Omdat hy meen dat dit nie pas dat die ark in ’n tent bly terwyl hy in ’n paleis woon nie, begeer Dawid nou om ’n tempel vir die ark te bou. Maar Jehovah sê vir hom dat omdat hy ’n man van oorlog en bloedvergieting is sy seun hierdie tempel sal bou. Jehovah sal nietemin self vir Dawid ’n huis bou, dit wil sê, ’n koningshuis wat vir ewig sal duur. God het hierdie belofte vervul in sy Seun, Jesus Christus, ’n nakomeling van Dawid.—2 Sam. 5:11-7:29; Luk. 1:30-33.
Dawid hou aan om seëvierend oorlog te voer teen Israel se vyande. Een lente bly Dawid egter tuis in plaas daarvan om in die stryd op te trek. Gevolglik knoop hy ’n verhouding aan met Batseba, die vrou van Uria, een van sy beste krygsmanne. Sy raak swanger en toe Dawid se pogings om die ontrouheid te bedek misluk, sorg hy dat haar man in die stryd sneuwel en daarna trou hy met haar.—2 Sam. 8:1-11:27.
Hierdie handelwyse mishaag Jehovah egter baie. Hy stuur sy profeet Natan om Dawid te bestraf. Dawid erken sy skuld en kry berou. Dawid ly egter baie weens sy sonde. Die profetiese oordeel is dat die swaard nooit van sy huis sal wyk nie. Eers sterf die seun wat in owerspel ontvang is. Dan raak Amnon een van Dawid se seuns, verlief op sy eie halfsuster Tamar; hy verkrag haar en verag haar dan. Haar volle broer Absalom wag sy tyd af en vermoor dan vir Amnon. Hy raak uiteindelik versoen met sy vader Dawid, om dan net met ’n sameswering te begin om sy volk van Dawid af te rokkel. Absalom reël ’n opstand sodat sy vader met sy groot huisgesin uit Jerusalem moet vlug. Dawid word voorwaar gedissiplineer, getugtig, weens sy sondes. Jehovah bewerk sake so dat Absalom se strydmagte verslaan word. Dan volg daar ’n aantal van Dawid se digterlike geskrifte, waarvan die meeste ook in Psalm 18 voorkom.—2 Sam. 12:1-20:26; 22:1-23:7.
Weer eens begaan Dawid ’n ernstige fout en word daarvoor gedissiplineer. Hy beveel dat daar ’n volkstelling gehou moet word, ondanks die besware van sy leërowerste Joab. Hy het dit skaars gedoen of sy gewete begin hom kwel. Maar dit is te laat. Dawid kry ’n keuse tussen drie strawwe en hy kies pessiekte. Wanneer hy sy mense soos vlieë sien sterf, bid hy: “Kyk, ék het gesondig, en ék het verkeerd gehandel, maar wat het hierdie skape gedoen?” Hy bring ’n offerande aan Jehovah en die plaag hou op. Met hierdie voorval sluit die boek.—2 Sam. 24:1-25.
Tweede Samuel vertel voorwaar hoe die groot Koning Jehovah sy dienaar, koning Dawid, gedissiplineer het. Dit is prysenswaardig dat Dawid nooit opstandig geword of iemand anders die skuld gegee het, soos Adam, Eva en koning Saul gedoen het nie. Dawid se hart was reg, hy het dissipline aanvaar. Ons lees nooit dat hy dieselfde fout twee maal begaan het nie. Sy bewind was voorspoedig daar hy tot die einde toe nooit God se guns verloor het nie, en deur hom gebruik is om Israel se gebied tot op die goddelik bepaalde grense uit te brei. Hy het beslis ’n goeie voorbeeld gestel oor hoe ons op dissipline moet reageer ongeag watter vorm dit ook al aanneem.—Hebr. 12:5-11.
[Voetnoot]
a Wat tevore oor die geskiedkundige betroubaarheid en skrywerskap van 1 Samuel gesê is, is grootliks op 2 Samuel van toepassing, aangesien die profete Natan en Gad met hulle verslag voortgegaan het.—1 Kron. 29:29.