die christendom en die geskiedenis van die ware geloof
1, 2. Hoe kom dit wat algemeen die “Christendom” genoem word, ooreen met die geloof van Jesus Christus?
DETRIOT se “Free Press” van 24 Desember 1976 het gevra:
Sal vandag se Christene tweede kruisiging lei?
In die meegaande artikel het rubriekskrywer Sydney J. Harris geskryf:
“Sal daar nie, indien daár op Kersdag ’n wederkoms is, eerlank ’n tweede kruisiging wees nie? Hierdie keer nie deur die Romeine of die Jode nie, maar deur diegene wat hulself trots Christene noem?
“Ek wonder hoe ons vandag hierdie man met sy vreemde en skrikwekkende en ‘onpraktiese’ leerstellings oor menslike gedrag en maatskaplike verhoudinge sal beskou en behandel. . . .
“Sal die militariste onder ons hom nie daarvan beskuldig dat hy ’n lafhartige pasifis is omdat hy ons aanspoor om die kwade nie te weerstaan nie, maar om kwaad met goed te vergeld?
“Sal die nasionaliste onder ons hom nie aanval as ’n gevaarlike ondermyner omdat hy vir ons sê dat ons almal een vlees is nie? . . . Sal die sentimentaliste onder ons hom nie as ’n sinikus verwerp omdat hy waarsku dat die weg na redding smal en moeilik is nie? . . .
“Ek wonder. Ek wonder of die Christelike Eeu al begin het.”
2 Hierdie artikel beklemtoon op dramatiese wyse party van die vemaamste verskille tussen die leerstellings van Jesus Christus en die beskouings van talle mense wat vandag beweer dat hulle aan die ware geloof glo soos dit in die bybel uiteengesit word.
JESUS EN DIE WARE GELOOF
3, 4. Hoe vegelyk ’n algemene beskouing van Adam en Eva met dit wat (a) Jesus (Gen. 1:26) (b) sy dissipels geglo het?
3 Ons het dus gesien dat die Bybelboek Genesis leer dat Jehovah God die eerste mense, Adam en Eva, geskape het. Talle geestelikes en kerkgangers wat die ewolusieteorie verkies, beskou die Genesisverslag as ’n mite. Maar wat van Jesus, die Stigter van die Christendom?
4 Dit is onteenseglik so dat Jesus seker was dat God Adam en Eva, die ouers van die mensdom, geskape het. Sy dissipels het dit ook geglo (Gen. 2:21-24; 1 Kor. 6:16; 15:45; Ef. 5:31; Luk. 3:23-28). Toe hy eenkeer ’n vraag oor egskeiding beantwoord het, het Jesus gesê:
“Het julle nie gelees dat Hy wat hulle gemaak het, hulle van die begin af man en vrou gemaak het nie, en gesê het: Om hierdie rede sal die man sy vader en sy moeder verlaat en sy vrou aankleef, en hulle twee sal een vlees wees; sodat hulle nie meer twee is nie, maar een vlees? Wat God dan saamgevoeg het, mag geen mens skei nie. . . . Ek sê vir julle, elkeen wat van sy vrou skei, behalwe oor hoerery, en ’n ander een trou, pleeg egbreuk.”—Matt. 19:4-9.
5. Watter gesindheid teenoor die Bybel help ons om die ware geloof uit te ken?
5 Hierdie stelling van Jesus verseker ons dat hy en sy volgelinge die Bybel as geïnspireerd en betroubaar aanvaar het. So ’n aanvaarding is ’n belangrike kenmerk van die ware geloof (2 Tim. 3:16, 17). Elkeen van ons kan dus vra: ‘Aanvaar my kerk die Bybel as geïnspireerd en akkuraat, onder andere die dinge wat dit oor die skepping sê? Glo ek persoonlik soos Jesus en die apostels?’
6. (a) Hoe het Jesus oor die huwelik en egskeiding gevoel en hoe kom die ware geloof ooreen met Genesis se informasie oor hierdie onderwerpe? (b) Watter weg het die vroeë Christene ten opsigte van seks en die huwelik ingeslaan? (Hebr. 13:4).
6 Jesus se woorde in Mattheüs 19:4-9 lig ook toe hoe konsekwent ware aanbidding is ten opsigte van regte gedrag. Jesus het saamgestem dat die huwelik heilig is en dat die huweliksverbond bindend is; egskeiding en ’n tweede huwelik word slegs deur die Skrif toegelaat indien ’n mens se huweliksmaat skuldig is aan growwe onsedelikheid. Deur dit by hierdie goddelike standaard te hou, spoor die ware geloof getroude persone aan om hulle daarop toe te lê om ’n sukses van hulle verbintenis te maak. Hulle moet die huwelik nie as ’n tydelike maatskaplike kontrak beskou wat maklik deur die Staat beëindig kan word nie. Gevolglik het die vroeë Christene promiskuïteit vermy in hulle beoefening van die ware geloof, en die Skepper se beskouing van die huwelik as ’n heilige, bindende verbintenis gehuldig. Dr. C. J. Cadoux het dus die volgende aangaande Christene van die tweede eeu G.J. geskryf:
“Alle buite-egtelike geslagsomgang was streng verbode. Die Christene het dikwels uitgevaar teen die buitensporighede wat algemeen voorgekom het in die heidense wêreld rondom hulle.”—The Early Church and the World, bl. 283.
7, 8. Het jy, uit jou ondervinding, gevind dat die meeste kerkgangers volgens die Bybel se sedelike standaard lewe? Of is dit onmoontlik om dit vandag te doen?
7 Vind jy dat die meeste kerke hulle streng by die Bybel se sedelike standaard hou? Of is dit iets algemeens dat persone wat beweer dat hulle Christene is ’n egskeiding kry en weer trou hoewel hulle geen Skriftuurlike grondslag daarvoor het nie? En behou talle gelowe nie persone wat onsedelik saamwoon en poligamiste is as lidmate nie?
8 Talle sal natuurlik sê dat hoewel die Bybel se hoë sedelikheid bewonderenswaardig is, dit basies nie moontlik is om in ons tyd daarvolgens te lewe nie. Maar dit is beslis moontlik vir ’n godsdienstige volk om volgens hoë sedelike standaarde te lewe ten spyte van ‘die buitensporighede wat algemeen voorkom in die wêreld rondom ons’ (Hebr. 13:4). Kyk wat hierdie berig uit Londen se “Daily Telegraph” sê in verband met honderde duisende persone op die vasteland van Afrika:
“Dwarsoor Afrika het Jehovah se Getuies getoon dat hulle ordentlike, ordelike burgers is wat volgens ’n hoë sedelike kode lewe. . . . Die promiskuïteit en veelwywery eie aan die Afrika-gemeenskap is eenvoudig ondenkbaar onder Getuies. Die sekte skerp spaarsaamheid, stiptelikheid, eerlikheid en gehoorsaamheid in.”—26 Oktober 1972.
9. (a) Waarom is daar ’n verband tussen wat die Bybel oor geslagsedelikheid en diefstal sê? (Deut. 5:19, 21; 1 Thess. 4:4-6). (b) Die ware geloof word gekenmerk deur watter optrede teenoor iemand wat ’n onberouvolle gewoonte-oortreder word?
9 Ons vind dus dat geslagsedelikheid en eerbied vir die huwelik uit die staanspoor kenmerke van ware aanbidding was. Dit hou selfs verband met die Bybel se besorgdheid oor eiendomsregte en sy veroordeling van diefstal. Dit sluit in dat ’n mens nie ’n ander se huweliksmaat of die sedelike reinheid van ’n ander persoon steel nie (Gen. 2:24; Ef. 4:28). Daarbenewens sê die Bybel duidelik dat persone wat voorgee dat hulle aan die ware geloof behoort maar wat onberouvol voortgaan om ‘hoereerders, egbrekers, diewe of gierigaards’ te wees, uit die Christengemeente gesit moet word ooreenkomstig God se vereiste: “Verwyder tog dié slegte mens onder julle uit” (1 Kor. 5:11-13; 6:9, 10). Die ware geloof is deurgaans gekenmerk deur ferme handhawing van sulke goddelike sedelikheid. Ons kan vra: Hoe vergelyk ons aanbidding van God hiermee?
JESUS EN DIE SIEL
10. Hoe vergelyk die Christelike Skrifte met Genesis oor die saak van die “siel”?
10 Jy sal onthou dat ons in ons vorige bespreking van Adam gesien het dat die Bybel nie sê dat Adam ’n onsterflike siel besit nie, maar dat hy ’n siel was. Word dieselfde begrip in die Christelike Skrifte of “Nuwe Testament” aangetref? Inderdaad. Die apostel Paulus het selfs die Genesisverslag aangehaal tydens ’n bespreking van die opstanding en gesê: “So is daar ook geskrywe: Die eerste mens, Adam, het ’n lewende siel geword; die laaste Adam [Jesus Christus] ’n lewendmakende Gees” (1 Kor. 15:45). Ook in hierdie saak is daar dus ooreenstemming waar dit kom by die opvattings van die ware geloof.
11. Watter hoop het Jesus se dissipels gehad, en hoe kon hulle seker wees dat dit ’n ware hoop was, nie net wensdenkery nie? (1 Pet. 1:3, 4; Hand. 10:39, 40; 17:31; 1 Kor. 15:3-8).
11 Christus se vroeë volgelinge kon van daardie begrip seker wees weens wat met Jesus self gebeur het. Hy, ’n mensesiel, is gedood. Hy het drie dae lank dood gebly waartydens hy nêrens anders lewend was nie (Hand. 2:22-27; 1 Kor. 15:3, 4). Hy was in die graf totdat God hom op die derde dag met ’n geesliggaam opgewek het sodat hy later weer kon opvaar hemel toe (1 Pet. 3:18, NW). Vroeër, nadat hy die dood met die onbewustheid van slaap vergelyk het, het Jesus vir sy volgelinge gesê: “Ek is die opstanding en die lewe; wie in My glo, sal lewe al het hy ook gesterwe” (Joh. 11:11-14, 25; 5:28, 29). Sy dissipels het dus geen rede gehad om enige Griekse filosofie dat ’n mens ’n onsterflike siel het te glo nie.
12. Waarom is dit wat ’n mens omtrent die “siel” glo van betekenis op die gebied van geloof?
12 In die lig hiervan kan elkeen van ons kyk wat ons kerk leer. Is ons godsdiensdenke gevorm ooreenkomstig wat die ware geloof deurgaans geleer het, naamlik dat die mens ’n siel is en dat enige toekomstige lewe eers na ’n opstanding sal volg? Dit is nie ’n saak wat ligtelik opgeneem kan word nie; ons hoop is op die spel.
JESUS EN DIE GEBOOIE AAN NOAG
13, 14. Waarom is die saak van bloed belangrik waar dit kom by ware aanbidding?
13 Dit is redelik om te verwag dat net soos Jesus se leerstellings ooreengekom het met die Genesisverslag oor Adam, hulle ooreen sal stem met wat ons in die Bybelverslag oor Noag sien. En dit is die geval. Jy sal onthou dat die Skepper in Genesis 9:3-6 instruksies gegee het wat gebooie vir die hele mensdom is. God het hom daar uitgespreek teen die eet van vleis waarin daar nog bloed was en teen die neem van ander mense se lewens.
14 Sedertdien het die ware geloof respek vir bloed ingesluit, iets wat God self gesê het lewe voorstel wat van Hom kom en aan Hom behoort (Lev. 17:13, 14; Ps. 36:10). In ooreenstemming hiermee was dit Jesus se lewensbloed wat uitgegiet is as ’n offerande vir die hele mensdom (Ef. 1:7; Hebr. 9:11-14; 1 Pet. 1:19). Maar word daar ook van Christene verwag om nie bloed of vleis waaruit die bloed nie geloop het nie te eet nie? As ons na die Christelike Skrifte kyk, vind ons dat Handelinge hoofstuk 15 ’n bindende besluit van die apostels en ouere manne van Jerusalem, wat die sentrale of bestuursliggaam van Christelike ouere manne gevorm het, bevat. Die Bybel sê vir ons dat hulle, met die hulp van God se heilige gees, bevestig het dat Christene hulle moet onthou van bloed, net soos daar deur middel van Noag beveel is.—Hand. 15:28, 29; 21:25.
15, 16. Hoe vergelyk die gedrag van die vroeë Christene en die gedrag van Jehovah se Getuies ten opsigte van lewensbloed?
15 Vroeë Christene het hulle streng by hierdie wet van God gehou. Volgens die Latynse skrywer Tertullianus het Christene van die tweede en derde eeu nie ‘eers dierebloed by hulle maaltye van eenvoudige en natuurlike voedsel gehad nie; hulle het hulle onthou van dinge wat verwurg is en wat ’n natuurlike dood gesterf het’. Selfs vervolgers het besef dat diegene wat aan die ware Christelike geloof behoort nie vleis sou eet waarin daar nog bloed was nie. Hulle het dus ‘Christene met bloedwors versoek, net omdat hulle baie goed geweet het dat Christene die ding waardeur hulle probeer het om hulle te laat oortee as onwettig beskou het’.—Tertullianus se “The Apology”, Deel I, Hoofstuk 9.
16 Is hierdie kenmerk van die ware geloof sedertdien verwerp? Hoewel die meeste kerke veronagsaam of nie leer wat die Bybel in hierdie verband sê nie, is dit steeds ’n kenmerk van die ware Christendom. In 1976 het ’n berig vanuit een Afrikaland vertel van ’n groep van Jehovah se Getuies wat in die tronk opgesluit is omdat hulle net soos die vroeë Christene polities neutraal gebly het. Hulle tronkbewaarders het hulle geloof op die proef gestel deur hulle te probeer dwing ‘om ’n brief te skryf waarin hulle hulle opvattings loën, hulle geloof verander, die beginsel van veelwywery aanvaar of om vleis te eet waaruit die bloed nie geloop het nie’. Ons is bly om te kan sê dat daardie Christene soos die apostels geantwoord het: “Ons moet aan God meer gehoorsaam wees as aan die mense.”—Hand. 5:29.
17. Watter ander bewys van die ware geloof kan Christene sien in wat God aan Noag gesê het?
17 Nog ’n bewys van die ware geloof wat ons kan bespreek, staan in verband met wat God vir Noag gesê het. Destyds, toe die hele mensdom uit slegs agt siele bestaan het, het God dit duidelik gemaak dat hulle nie teen mekaar moet veg en mekaar moet doodmaak nie (Gen. 9:5, 6). Hierdie gevoel van broederskap teenoor die mensdom en respek vir menselewe is een van die grootste kenmerke van die ware geloof.—Ex. 20:13.
18. (a) Wat het Jesus self gesê sou sy dissipels kenmerk? (b) Watter posisie het die vroeë Christene ten opsigte van oorlogvoering ingeneem as gevolg van Jesus se woorde? (Matt. 5:43-45; 26:52).
18 Kort voor sy dood het Jesus gesê: “’n Nuwe gebod gee Ek julle, dat julle mekaar moet liefhê; soos Ek julle liefgehad het, moet julle ook mekaar liefhê. Hieraan sal almal weet dat julle my dissipels is, as julle liefde onder mekaar het” (Joh. 13:34, 35). Gevolglik het vroeë Christene geweier om by die Romeinse leers aan te sluit of om in die leers van enige van die ander eertydse nasies te veg. In sy verhandeling “’n Ondersoek om vas te stel of oorlog met die beginsels van die Christendom strook” berig Jonathan Dymond oor sy ondersoek na die saak:
“Die Christene wat die naaste aan die tyd van ons Saligmaker gelewe het, het met onwankelbare vertroue geglo dat hy oorlog ondubbelsinnig verbied het—dat hulle hierdie opvatting openlik gehuldig het en dat hulle, ter ondersteuning daarvan, bereid was om hulle rykdom en hulle lewens prys te gee, en dit wel prysgegee het.
“Christene het egter daarna soldate geword.—En wanneer? Toe hulle algemene getrouheid aan die Christelike leer afgeneem het;—toe hulle die beginsels daarvan op ander gebiede geskend het; . . . Kortom, hulle het soldate geword toe hulle opgehou het om Christene te wees.”—Ble. 60, 61.
19. Watter kenmerk van die ware geloof het die Bybelskrywer Johannes beklemtoon?
19 Die apostel Johannes het die aandag sterk gevestig op liefde as ’n onontbeerlike eienskap van die ware geloof toe hy geskryf het: “Dit is die boodskap wat julle van die begin af gehoor het, dat ons mekaar moet liefhê; nie soos Kain wat uit die Bose was en sy broer doodgeslaan het nie. . . . My kinders, laat ons nie liefhê met woorde of met die tong nie, maar met die daad en in waarheid.”—1 Joh. 3:11, 12, 18.
VERENIGDE ONDERSTEUNERS VAN DIE KONINKRYK
20. Wat omtrent die Koninkryk kan ons onder iemand se aandag bring wanneer ons hom probeer help om die ware geloof uit te ken?
20 Nog ’n rede vir die wêreldwye eenheid van die Christelike broederskap word gevind in die sentrale tema van Jesus se boodskap: die koninkryk van die hemele. Ware Christene gee hulle steun en lewens aan hierdie koninkryk se gesag waar hulle ook al op die oppervlak van die aarde woon. Miljoene kerkgangers herhaal vandag die “modelgebed” wat Jesus gegee het en bid: “Laat u koninkryk kom.” Maar besef hulle dat die Koninkryk ’n werklike regering is wat daadwerklik oor hierdie aarde gaan heers tot voordeel van die aarde se bewoners en geregtigheid, vrede, gesondheid en lewe vir die mensdom gaan bring? (Openb. 21:3, 4; 2 Pet. 3:11-13). Toe hy voor die Romeinse goewerneur Pontius Pilatus was, het Jesus van daardie koninkryk gesê:
“My koninkryk is nie van hierdie wêreld nie; as my koninkryk van hierdie wêreld was, sou my dienaars geveg het, dat Ek nie aan die Jode oorgelewer word nie. Maar nou is my koninkryk nie van hier nie.”—Joh. 18:36.
21. Waaraan gee ware Christene hulle lojaliteit en krag?
21 Hierdie koninkryk ontstaan in die hemel. Al respekteer Christene dus mense se pogings om vrede te bring, wy hulle al hulle krag en middele aan die verkondiging van daardie koninkryk en die hoop wat dit aan die hele mensdom voorhou (Matt. 24:14; 28:18-20). Gevolglik is geloof in en lojaliteit aan die Koninkryk die belangrikste dinge in die lewens van Christus se ware volgelinge.
22. Watter posisie ten opsigte van sekulêre regerings het die vroeë Christene ingeneem? (Tit. 3:1; 1 Pet. 2:17).
22 In die na-apostoliese tydperk het die vroeë Christene hierdie geloof in Jesus se woorde getoon. Hulle het hulle belastings betaal, die landswette gehoorsaam en was in alle normale opsigte voorbeeldige burgers van die land waar hulle gewoon het (Matt. 22:17-21; Rom. 13:1-7). Maar hulle het ’n neutrale standpunt ingeneem te midde van die politieke partyskappe en onenigheid van hulle dag. Die geskiedenis deel ons mee:
“Die Christene was vreemdelinge en pelgrims in die wêreld rondom hulle; hulle burgerskap was in die hemel; die koninkryk waarna hulle gekyk het, was nie van hierdie wêreld nie. Die gevolglike gebrek aan belangstelling in openbare aangeleenthede was dus uit die staanspoor ’n opmerklike eienskap van die Christendom.”—Christianity and the Roman Government, deur E. G. Hardy, bl. 39.
23. Waarom is die neutrale posisie van Jehovah se getuies van belang wanneer ’n mens oor die regte geloof nadink? (Joh. 15:19).
23 Om die beoefenaars van die ware geloof vandag uit te ken, moet ons eweneens soek na diegene wat neutraliteit in die aangeleenthede van menslike regerings handhaaf, nie weens enige persoonlike redes nie, maar omdat hulle op optrede deur God se koninkryk wag om die ongeregtighede en lyding van ons tyd reg te stel. Kan daar vandag sulke Christene wees? ’n Boek oor die Christendom wat onlangs verskyn het, het hierdie opmerking gemaak:
“Jehovah se Getuies se onttrekking aan politieke, militêre en maatskaplike betrokkenheid is deur hulle vyande vertolk as misantropie, en dit was die hoofoorsaak van die verregaande vervolging wat hulle dikwels moes verduur.”—American Christianity, An Historical Interpretation.
“From State Church to Pluralism” (1971) deur F. H. Littell sê ook:
“Hoe ongelooflik en letterlik die Jehovahsgetuies se besondere leerstelling oor die Koninkryk ook al lyk, ons moet nie vergeet dat die koms van die Koninkryk in Bybelse godsdiens ’n gebeurtenis is wat die normale gang van menslike verwagting dramaties sal beïnvloed en verander nie.”—Bl. 212.
Die Bybelleerstelling van die Koninkryk verskil bepaald van die wêreld se standpunt, net soos die geval toe Jesus voor Pontius Pilatus tereggestaan het. Maar Jesus het ook gesê: “Die wysheid is geregverdig deur [werke].” Dit is die moeite werd om ondersoek in te stel na die werke van diegene wat die Bybel se beskouing huldig indien ons belangstel om te weet wat die ware geloof is.—Matt. 11:19, vgl. NW.
WAT BETEKEN DIT?
24. Wat is, ter opsommmg, party van die belangrike kenmerke van die ware geloof?
24 Die gedagtes wat ons hier bespreek het, is geensins al die kenmerke van die ware geloof nie. Hulle bied egter vir ons ’n voldoende grondslag waarop ons ons eie opvattings en gebruike en die van ons geloof kan beoordeel. Ooreenkomstig wat ons in die Bybel en in die lewens van die vroeë Christene gevind het, sal ons maklik die ware geloof aan die volgende uitken: Dat God die mens regstreeks geskape het om op aarde te lewe; dat mense geen onsterflike siel besit nie, maar dat die dode in die toekoms ’n opstanding gaan kry; dat ons onsedelikheid streng moet vermy en die heiligheid van die huweliksreëling ferm moet steun; dat dit belangrik is om gehoorsaam te wees aan God se wet oor bloed en liefde te bewys aan medemense, iets wat die lewe soveel aangenamer maak; en dat Christene God se koninkryk moet verkondig met die doel om ander te help om die wonderlike hoop wat God bied te hê.
25, 26. Waarom moet elkeen van ons persoonlik in hierdie aspekte van ware aanbidding belangstel? Met watter gevolg?
25 Party sal vind dat hulle geloof of persoonlike opvattings en gebruike verskil van wat die Bybel as die ware geloof identifiseer. Indien jy vind dat ’n paar aanpassings in jou geval nodig is, moet jy nie versuim om hulle aan te bring nie. Wees gehoorsaam aan die geïnspireerde raad in 1 Petrus 3:10-12: “Wie die lewe wil liefhê en goeie dae wil sien, . . . moet afwyk van wat verkeerd is, en doen wat goed is; hy moet vrede soek en dit najaag. Want die oë van die Here is op die regverdiges.”
26 Hoe kan ons najaag wat goed is? Nie net deur die dinge te versaak wat in stryd met die ware geloof is nie, maar ook deur positiewe stappe te doen om volgens die wil van ons God te lewe. Onthou dat Noag nie bloot ’n gelowige was nie. Die Bybel sê vir ons dat Noag met die ware God gewandel het en ’n “prediker van geregtigheid” was. Jesus en sy apostels het eweneens soos die regte geloof geglo en daarvolgens gelewe. Dit het ingesluit dat hulle die goeie nuus in verband met die koninkryk van God en die nuwe orde van vrede op aarde wat God beloof met ander deel (Matt. 4:17; 10:7; 28:19, 29). As ons ook hierdie dinge met ons hele hart doen, sal dit groot vreugde aan ons verskaf en aan ander persone hoop, ’n doel in die lewe en ware geluk gee. Hulle sal ryke seëninge ontvang omdat hulle die ware geloof uitgeken het en dit beoefen.
[Prent op bladsy 16]
Eerder as om by oorlog en tweedrag betrokke te raak, het ware Christens globale eenheid gevind—gegrond op hulle gemeenskaplike hoop in God se koninkryk