Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w78 4/15 bl. 7-12
  • Die ware geloof—hoe om dit uit te ken

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Die ware geloof—hoe om dit uit te ken
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1978
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • DIE SOEKE NA DIE WARE GELOOF
  • ’N BELANGRIKE VERSLAG
  • GEDRAG OOK INGESLUIT
  • NOAG SE ONDERVINDING IN WARE GELOOF
  • Die christendom en die geskiedenis van die ware geloof
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1978
  • Het jy die regte godsdiens gevind?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1994
  • Wie stel nog in godsdiens belang?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1978
  • Is enige godsdiens goed genoeg?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1991
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1978
w78 4/15 bl. 7-12

die ware geloof—hoe om dit uit te ken

“Word vervul met die juiste kennis van sy wil . . . ten einde hom ten volle te behaag.”—Kol. 1:9, 10, NW.

1-4. (a) Hoe voel baie mense oor die beoordeling van godsdienstige aangeleenthede? (Hand. 18:12-17). (b) Waarom voel jy of ander dalk so?

GESTEL twee persone argumenteer oor wat die ware geloof is, en hulle vra jou om ‘skeidsregter’ te wees om te bepaal wie reg het. Sou jy dit wou doen?

2 Daar is min onderwerpe wat so omstrede is soos godsdiens. Die geskiedenis bevat ’n merkwaardige voorbeeld waarby een van die vroeë leiers van die Christendom, die apostel Paulus, betrokke was. Nadat daar byna ’n oproer ontstaan het weens uiteenlopende godsdienstige beskouings, is Paulus in hegtenis geneem. Sy saak is deur Festus, goewerneur van die Romeinse provinsie Judea, aangehoor. Paulus se aanklaers was Joodse godsdiensleiers, onder andere die hoëpriester Ananias. Festus het later vir koning Herodes Agrippa II vertel wat gebeur het:

3 “Die beskuldigers het teen [Paulus] opgetree en geen beskuldiging ingebring van dinge soos ek verwag het nie, maar hulle het met hom sekere twisvrae oor hulle eie godsdiens gehad.”—Hand. 25:18, 19.

4 Soos jy kan besef, was goewerneur Festus teësinnig om by ’n godsdienstige geskil betrokke te raak. Talle mense meen dat dit onverstandig sal wees om te beweer dat ’n mens die ware geloof het of om te probeer besluit of enige geloof die ware is. Jy het gewis al die oënskynlik verstandige en liberale beskouing gehoor: ‘Laat elkeen glo soos hy wil. Daar steek iets goeds in alle gelowe.’

5. Waarom kan dit gesê word dat elke indiwidu by godsdiens betrokke is?

5 Ons is nietemin almal beslis betrokke—dit is nie ’n onderwerp wat ons persoonlik kan vermy nie. Ondanks die toenemende klem op wetenskaplikheid, en op ateïsme in die Kommunistiese wêreld, is godsdiens ’n deel van ons samestelling. Een ensiklopedie het dit soos volg gestel:

“Uit die hele mensdom, dwarsdeur alle eeue en versprei oor elke hoekie van die aardbol, is daar nie een goed gestaafde uitsondering op die feit dat die mens, beweeg deur ’n innerlike impuls, en gelei deur openbaring of tradisie, iets aanbid wat hy meen begaaf is met eienskappe van ’n bomenslike wese nie.”

6, 7. Watter redes het elkeen om ondersoek in te stel na die ware geloof?

6 Die boek “Religion and Philosophy” sê oor godsdiens van vervloë tye: “Die oorsprong van die wêreld en die mens se plek daarin was so raaiselagtig soos die dood. Verduidelikings van hierdie vrae is baie uiteenlopend, maar hulle is nog steeds ’n basiese deel van hedendaagse godsdiens. Hoewel die wetenskap die meeste verskynsels van die hede kan verduidelik, soek mense oral steeds na hoop ná die paar dekades van indiwiduele bestaan.”

7 Ons wil beslis nie staat maak op ’n waanbeeld of ’n mite waar dit kom by antwoorde op hierdie fundamentele vrae en hoop vir die toekoms nie. Daar dit so is, het ons voldoende rede om ondersoek in te stel om die ware geloof uit te ken.

8. Watter gedagtes kan by ’n persoon opkom as hy aan die heelal dink?

8 Die beskouing van die ateïs is dat daar geen God is nie, terwyl die agnostikus sê dat niemand werklik weet nie—dat ons maar net hier is. Maar is hierdie beskouings werklik bevredigend of kom hulle met die feite ooreen? Party is dit eens met die gedagtes van filosoof-geskiedkundige Will Durant, wat soos volg aangehaal word:

“Ek neem die skepper se drang waar in alle lewende dinge en ek vermoed dat daar selfs in die atoom, in al sy ontploffende elektrone, iets soortgelyks is. ’n Atoom is nie ’n lewelose ding nie. Dit is vol . . . lewe. En gevolglik kan ek nie aan die heelal as ’n masjien dink nie. ’n Masjien is nie vol lewe nie. Dit staan doodstil tensy iets vol lewe dit beetkry”

Talle persone, selfs party agnostici, het met sulke gedagtes geworstel om die antwoord op lewe te vind en het geredeneer dat dit logies is dat hierdie hoër intelligensie, hierdie Skepper, antwoorde of informasie vir sy skepping sou voorsien, net soos ons as mense dit vir ons kinders voorsien.

DIE SOEKE NA DIE WARE GELOOF

9. Waarom was die optrede van ’n sekere Persiese man, wat die Bybel ondersoek het, redelik? (Job 35:9-11).

9 Diegene wat opreg na die waarheid soek, erken oor die algemeen dat daar ’n God moet wees en dat dit redelik is dat hy sy wil sal openbaar en antwoorde verstrek oor waarom ons hier is, wat die lewe beteken en wat die toekoms vir ons inhou. Beskou die geval van ’n Persiese man in Wes-Berlyn. Jare gelede was sy vader ’n invloedryke politikus, maar na ’n politieke terugslag het hy die gesin na Rusland geneem, waar die seun gestudeer en ’n ingenieur geword het. Mettertyd het die jongman na Oos-Berlyn verhuis en later asiel in Wes-Berlyn gevra. Hy verduidelik:

“Alhoewel ek aan ’n Oosterse geloof behoort het, het ek nie my geloof uitgeleef nie. Sedert my kinderdae het ek egter in God geglo en ek het dikwels nagedink oor die doel van die lewe en waarom daar so baie gelowe is. In die somer van 1975 het ek twee studente van die Bybel ontmoet en sake met hulle bespreek. Uit hulle verduidelikings kon ek aflei dat die Bybel deur God geïnspireer is. Hulle het my tuis besoek en ons het begin om die verskille in gelowe te bespreek. Hulle het die boek Wat het godsdiens vir die mensdom gedoen?a by my gelaat. Die verduidelikings daarin wat op die Bybel gebaseer is, het my hele lewensbeskouing verander. Die dinge wat ek geleer het en die veranderinge wat dit in my denke en dade meegebring het, het my veel vreugde verskaf.”

Hoe redelik was dit van hierdie ingenieur om die Bybel te ondersoek! Die Bybel bevat die oudste en mees algemeen verspreide heilige geskrifte. Slegs die Bybel beantwoord vrae waarop ons antwoorde verlang—Waarom is ons hier? Waarom sterf ons? Wat hou die toekoms in?

10. Wat kan gesê word oor die stelling dat alle gelowe wat die Bybel gebruik basies dieselfde ding leer?

10 Is jou reaksie wanneer ons die Bybel meld: ‘Wel, so te sê alle persone wat die Bybel aanvaar, glo basies dieselfde’? Baie dink so. Dit is egter beslis nie die geval nie. Soos in die geval van die ingenieur in Wes-Berlyn weet miljoene opregte, intelligente persone wat hierdie noodsaaklike geskil van ware aanbidding ondersoek het dat daar groot verskille bestaan tussen die leringe en gebruike van verskeie godsdienste wat beweer dat hulle op die Bybel gebaseer is. En, om die waarheid te sê, daar bestaan ook groot verskille tussen die meeste van hierdie gelowe en die Bybel self. Hierdie verskille kan jou hele benadering tot die lewe en godsdiens beïnvloed. Ontleed jou eie geloof of opvattings terwyl ons ’n paar basiese en lewensbelangrike gedagtes bespreek. Vra jouself af: ‘Soek ek persoonlik na ware aanbidding?’ En indien jy sien dat jou opvattings of gebruike in party opsigte van die ware geloof verskil, moet jy ernstig nadink oor wat jy gaan doen.

11. Waarom behoort ons almal bereid te wees om aanpassings in ons opvattings en gedrag aan te bring?

11 Die moontlikheid dat ons ons opvattings of gedrag moet verander, behoort enigeen wat die Bybel ken nie te verbaas nie. Jesus Christus het byvoorbeeld die volgende gesê van party baie godsdienstige persone van sy dag: ‘Hulle aanbidding is tevergeefs; die leringe wat hulle leer, is slegs die gebooie van mense’ (Matt. 15:9). Dit is ook nie net ’n leerstellige saak nie. Jesus se halfbroer Jakobus het geskryf: “Geloof sonder die werke [is] dood” en “As iemand onder julle meen dat hy godsdienstig is en sy tong nie in toom hou nie, maar sy hart mislei, die godsdiens van hierdie man is tevergeefs.”—Jak. 2:26; 1:26.

’N BELANGRIKE VERSLAG

12, 13. Watter besonderhede wat nuttig kan wees vir ’n persoon wat probeer om die ware geloof uit te ken word in die verslag oor Adam en Eva bevat?

12 Wanneer hulle aan die saak van die ware geloof dink, sal talle persone eerste dink aan wat Jesus geleer en gedoen het. Maar voordat ons dit ondersoek, kan ons eers aandag skenk aan die eerste boek van die Bybel, naamlik Genesis. Persone dwarsoor die aarde weet wat dit oor Adam en Eva sê. Al lyk daardie verslag eenvoudig is dit ’n belangrike plek om te kyk as ’n mens na die kenmerke van die ware geloof soek.

13 Kortliks, Genesis vertel dat God die mens regstreeks geskape het. Hy het hom uit die elemente van die aarde gemaak en toe “in sy neus die asem van die lewe geblaas. So het dan die mens ’n lewende siel geword” (Gen. 2:7). Die Skepper het een van die bome van die tuin waar Adam gewoon het, aangewys as een wat die kennis van goed en kwaad voorstel en beveel: “Van al die bome van die tuin mag jy vry eet, maar van die boom van die kennis van goed en kwaad, daarvan mag jy nie eet nie; want die dag as jy daarvan eet, sal jy sekerlik sterwe” (Gen. 2:16, 17). God het dus getoon dat hy die reg het om te bepaal wat goed en wat kwaad is. Dit is nie aan Adam oorgelaat om op die pynlike proefondervindelike manier uit te vind wat goed en wat kwaad is of wat die regte of die verkeerde geloof is nie. Die Skepper het ook ’n vrou, Eva, gemaak en haar as ’n permanente maat aan Adam gegee. Ons lees: “Daarom sal die man sy vader en moeder verlaat en sy vrou aankleef. En hulle sal een vlees wees” (Gen. 2:24). In ons pogings om die ware geloof uit te ken kan ons veel uit hierdie bekende verslag leer.

14. Hoe kan jy met iemand redeneer oor wat Genesis sê en die ewolusieteorie?

14 Eerstens, die Bybel sê duidelik dat die mens regstreeks deur God geskape is (Gen. 2:7). Dit sê nie dat hy tydens miljoene jare uit die een of ander vorm van dierelewe geëvolueer het nie. Hoe weet ons? Omdat die verslag ondubbelsinnig sê dat diere “volgens hulle soorte” moes voortbring (Gen. 1:21, 24). Daar is weliswaar ruimte vir verskeidenheid binne die dieresoorte, soos die talle tipes en groottes in die katfamilie. Maar God se wet het ’n perk gestel sodat die diere nie van een soort tot ’n ander dieresoort, of tot mense, die hoogste van geskape soorte op aarde, kon evolueer nie. Daarbenewens is geen oorgangslewensvorms ooit gevind nie. Aanvaar jou kerk die Bybelverhaal, of steun dit die gewilde maar ongestaafde ewolusieteorie?

15. Wat deel Genesis ons mee oor Adam en Eva se lewe en vooruitsigte? (Gen 1:28).

15 Vervolgens kan ons oplet dat Adam geskape is met die vooruitsig van eindelose lewe hier op aarde. God het gesê dat indien hy ongehoorsaam is, hy sou sterf. Die teenoorgestelde is duidelik. Indien hy gehoorsaam was, sou hy nie sterf nie. Hy sou aanhou om op aarde te lewe. As wat? As ’n mensesiel. Het ons dan nie gelees dat “die mens ’n lewende siel geword” het nie?—Gen. 2:7.

16-18. Hoe kan jy die dinge wat Genesis oor die mens se siel, die dood en die moontlikheid van lewe na die dood sê, gebruik wanneer jy met iemand redeneer oor hoe om die ware geloof uit te ken?

16 Hierdie feite is betekenisvol, want so baie gelowe beweer dat elke mens ’n onsterflike siel binne-in hom het. Dit was ’n vemame leerstelling in eertydse Egipte en Babilon, en dit word nog steeds in talle gelowe aangetref. Kom dit ooreen met wat Genesis oor Adam sê? Glad nie. Adam het nie ’n onsterflike siel binne-in hom gehad nie—hy was ’n siel. En wat sou by sy dood gebeur? Sou hy onsterflike lewe as ’n gees ontvang? Nee! God het gesê dat hy na die grond sou terugkeer, “want stof is jy, en tot stof sal jy terugkeer” (Gen. 3:19). Adam se dood was ’n straf omdat hy God se wet verbreek het, nie ’n treeplank na onsterflike lewe elders nie.

17 Vra jouself af: ‘is dit wat my geloof my geleer het?’ Die Bybel leer nêrens dat mense onsterflike siele het wat ná die dood van die liggaam voortlewe nie. Dit bied ’n beter hoop, naamlik dat God in staat is om ’n persoon weer as ’n siel lewend te maak deur hom tot lewe op aarde of in die geesteryk op te wek.—Hand. 24:15; 1 Kor. 15:35-38.

18 Leer jou geloof, in die lig van wat ons in Genesis lees, dat dit God se voomeme was dat mense vir ewig op aarde lewe? Talle van die vemaamste gelowe vestig die aandag op ’n lewe hierna in die hemel, nirwana of iets dergliks. Een kenmerk van die ware geloof is aanvaarding van die Bybel se leerstelling dat die aarde die mens se tuiste is waar God voomemens is dat mense vir ewig moet lewe.—Jes. 45:18.

GEDRAG OOK INGESLUIT

19, 20. Hoe kan jy die dinge wat Genesis omtrent die boom van die kennis van goed en kwaad sê, gebruik om ’n persoon te help om die gebruike van sy geloof te ondersoek? (Ex. 20:15; Jos. 7:20-25).

19 Ons moet ook oplet dat die ware geloof, soos in Genesis geopenbaar, gedrag insluit, nie bloot sekere leerstellings of opvattings nie.

20 Toe Adam en Eva God se wet in verband met die vrug van daardie boom verbreek het, was die ernstigste aspek van die sonde hulle ongehoorsaamheid. Maar het jy al ooit daaraan gedink dat hulle terselfdertyd iets gevat het wat nie aan hulle behoort het nie? Dit kan in ’n sin diefstal genoem word. Weens hulle ongehoorsaamheid, hulle sonde wat diefstal ingesluit het, is hulle uit die tuin van ware aanbidding verban. Soos jy waarskynlik weet, spreek die meeste gelowe hulle teen diefstal uit, nie waar nie? Maar wat doen hulle in die praktyk in die geval van ’n onberouvolle dief, hetsy ’n winkeldief of ’n kantoormisdadiger wat die publiek bedrieg of geld by ’n firma verduister? Sit hulle gewoontediewe uit ‘die kudde’ soos God Adam verban het? Dink daaraan.

21. Hoe vorm die dinge wat Genesis hoofstuk 2 oor die huwelik sê ’n teenstelling met wat algemeen in talle gelowe voorkom? (Gen. 20:1-9).

21 Beskou ook die huwelik. Hoewel ons tot op hierdie punt van ons bespreking slegs die verhaal van Adam en Eva beskou het, kan ons onsself, in die lig van wat gesê word oor hoe hulle mekaar moes aankleef, afvra: Wat is die gesindheid van my kerk teenoor die huwelik en egskeiding? Word daar van ’n man en vrou verwag om mekaar aan te kleef, of is egskeiding iets algemeens en niks buitengewoons nie? God word beskryf as Een wat ‘egskeiding haat’ (Mal. 2:16). Is dit die heersende beskouing in die gelowe waarvan jy weet, of selfs van die geloof waaraan jy behoort?

NOAG SE ONDERVINDING IN WARE GELOOF

22, 23. Hoe kan jy met ander redeneer oor Noag se optrede en die verslag oor die vloed wanneer jy hulle probeer help om te sien wat die ware geloof is? (Eseg. 14:14; Hebr. 11:7).

22 Kom ons beskou nou ’n ander Bybelverhaal om ons te help om die ware geloof uit te ken. Dit handel oor Noag wat, so word ons meegedeel, “met God gewandel” het. Op ’n tydstip “dat die boosheid van die mens op die aarde groot was en al die versinsels wat hy in sy hart bedink, altyddeur net sleg was,” het Noag nie die ware geloof vir homself gehou nie. Hy het dit nie as ’n persoonlike en private saak beskou nie. Hy was ’n “prediker van geregtigheid”. Die Bybel sê vir ons dat God ’n wêreldvloed veroorsaak het om die goddelose te vernietig, maar hy het Noag, sy vrou, sy drie seuns en hulle vrouens bewaar.—Gen. 6:5-8:2; 2 Pet. 2:5.

23 Party sal miskien sê dat die verslag oor Noag en die vloed bloot ’n fabel of sinnebeeldige voorstelling is. Hoe beskou jou geloof die saak? Sou hy, indien jy vir een van die leiers daarvan sou vra, sê dat die Bybelverslag oor Noag en die vloed interessant is maar nie letterlik opgeneem moet word nie? Indien hy dit sou sê, sou dit betekenisvol wees, want dit sal hom laat bots met Jesus Christus, die Stigter van die Christendom. Jesus het die Bybelverhaal oor Noag en die wêreldvloed as ’n historiese feit aanvaar, en sy apostels het ook.—Luk. 17:26, 27; 1 Pet. 3:20.

24-26. Watter gebooie het God aan Noag gegee, en waarom is hulle merkwaardig?

24 Volgens die verslag in Genesis hoofstuk 9 het God, nadat Noag en sy gesin uit die ark gekom het waarin hulle die vloed oorleef het, ’n paar duidelike gebooie gegee wat ons help om vandag die ware geloof uit te ken. Ons lees:

“Alles wat beweeg en lewe, sal julle voedsel wees. Net soos die groen plante, gee Ek dit aan julle. Net die vleis met sy siel, met sy bloed, mag julle nie eet nie. Maar wat julle eie bloed betref, dit sal Ek eis: . . . Hy wat die bloed van ’n mens vergiet, sy bloed sal deur die mens vergiet word; want God het die mens na sy beeld gemaak.”—Gen. 9:3-6.

25 Hoewel God hierdie stelling duisende jare gelede gemaak het, is dit gegee aan die begin van ’n nuwe tydvak in die mens se geskiedenis. Dit beklemtoon dat dit belangrik is om te bepaal wat die ware geloof is. Deur sy seuns het Noag die voorvader van die hele mensdom geword. Wat God Noag beveel het, is dus logies van toepassing op alle mense wat vandag op aarde is.

26 Wat het daardie gebooie vir Noag en sy gesin beteken? Om maar een ding te noem, hulle moes nie vleis waarin daar nog steeds bloed was, eet nie. Hulle is verbied om bloed, wat ’n dier se lewe as ’n siel voorgestel het, te eet. Noag is ook beveel om nie ’n mens se lewe te neem nie. As afstammelinge van Noag word daar dus van die hele mensdom verwag om die nodige respek vir bloed en vir lewe te betoon indien hulle God se goedkeuring wil wegdra.

27. Watter verdere ondersoek is gepas in die strewe om die ware geloof uit te ken, en waarom moet ons na ooreenstemming soek?

27 Hoewel ons tot dusver slegs twee vroeë verslae in die Bybel bespreek het, kon ons reeds ’n paar kenmerke van die ware geloof isoleer. Aangesien ons almal ’n innerlike begeerte het om te aanbid, behoort die dinge wat ons tot op hierdie stadium ondersoek het vir ons baie nuttig te wees. Maar ons kan verder gehelp word om die ware geloof uit te ken deur nou ’n paar aspekte van die leringe van Jesus Christus en sy apostels aan die begin van die Christendom te beskou. As ons dit doen, sal ons die ooreenkoms sien tussen die begin van die Bybel en die latere dele daarvan waar dit kom by kenmerke van die ware geloof.

[Voetnoot]

a In 1956 deur die Wagtoring- Bybel- en Traktaatgenootskap uitgegee.

[Prent op bladsy 10]

Die bybel sê duidelik dat die mens deur God geskape is en dat die mens “’n lewende siel” gemaak is—nie dat hy ’n onsterflike siel het nie

[Prent op bladsy 11]

Wat is jou kerk se gesindheid teenoor die huwelik en egskeiding? Word daar van man en vrou verwag om mekaar aan te kleef, soos die bybel leer?

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel