Verrassende nuwe getuienis kom aan die lig!
HULLE het letterlik hulle lewens in hulle hande geneem toe hulle teen die steil rotswande afklim na wat ons nou as die Gruwelgrot ken. Min het hulle geweet dat hulle te midde van die geraamtes ’n belangrike leidraad in verband met jou Bybel sou vind.
Om ’n idee van die agtergrond te kry, kan jy jou voorstel dat jy jou in die berge wes van die Dooie See in die dor woestyn wat op bladsy 9 getoon word, bevind.
Na die suide is Masada, die afgesonderde vesting waar die laaste oorblywende buitepos van die Joodse opstand in 73 G.J. deur die Romeine verower is. Na die noorde is die puine van Qumran. Dit was die sentrum van ’n eerste-eeuse Joodse gemeenskap wat die beroemde Dooie See-rol van Jesaja en ander geskrifte in grotte daar naby versteek het.
Vroeg in 1961 het ’n span deskundiges vertrek om grotte in die onherbergsame Nahal Hever te ondersoek. Hulle was toegerus met mynverklikkers, stofmaskers, toue en valskermtoerusting. Dit was ’n gevaarlike 80 meter af na die opening van grot nommer 8, wat die Gruwelgrot hernoem is. ’n Mistrap kon ’n val van honderde meters na die rotse daaronder beteken.
Die afskuwelike naam, Gruwelgrot, het voortgespruit uit wat die ondersoekers daarbinne gevind het—die geraamtes van sowat 40 manne, vroue en kinders. Hulle was volgelinge van die Joodse vegter Bar Kokba, wat in 132 G.J. ’n oorlog teen Rome gelei het. Dit word gemeen dat hulle deur Romeine, wat bo-op die rots kamp opgeslaan het, daarbinne vasgekeer is en dat hulle van dors of honger gesterf het.
Jy wonder miskien egter wat dit alles te make het met die vraag of Jesus en die apostels God se eienaam gebruik het, en gevolglik, of die naam in jou Bybel of op jou lippe moet wees. Die skakel word gevind in nege klein perkamentfragmente, met Griekse skrif daarop, wat in die Gruwelgrot opgegrawe is.
Toe geleerdes hierdie fragmente deeglik bestudeer het, het hulle besef dat hulle afkomstig was van ’n eertydse leerrol van die Twaalf Profete (Hosea tot Maleagi). Dit was ’n Griekse teks gedateer tussen 50 v.G.J. en 50 G.J. Die bron van die rol was nou bekend—die Gruwelgrot in die Judese woestyn. Al sien jy miskien nie met die eerste oogopslag die belangrikheid hiervan nie, is dit ’n belangrike leidraad om aan te dui of die goddelike naam in jou Bybel moet voorkom.
Sodat hierdie leidraad werklike betekenis vir jou kan hê, moet ons kyk watter rolle in die eerste eeu G.J. aan Jesus en sy apostels beskikbaar was.
GOD SE WOORD IN GRIEKS
Die Bybelboeke van Genesis tot Maleagi is oorspronklik in Hebreeus geskrywe, met klein deeltjies in Aramees. Toe die Jode egter dwarsoor die antieke wêreld verstrooi is, het hulle die internasionale taal, Grieks, begin gebruik. Omstreeks 280 v.G.J. is daar dus begin om die Hebreeuse Skrifte in Grieks te vertaal en sodoende is die Griekse “Septuaginta-vertaling” (LXX) voortgebring.
Toe Jesus met sy bediening begin het, is hierdie weergawe alom deur Griekssprekende Jode gebruik. Aan die bewoording van die apostels se geskrifte kan ons sien dat hulle bekend was met die “Septuaginta”, en Jesus was sekerlik ook.
Maar het daardie Griekse vertaling God se naam bevat? Die volledigste manuskripte van die “Septuaginta” wat behoue gebly het, en wat uit die vierde eeu G.J. dateer, openbaar ’n verbasende situasie. Oral waar die Hebreeuse Bybel die Tetragrammaton gehad het, het die Griekse “Septuaginta” dit met die woorde “God” (Theos) en “Here” (Kyrios) vervang. Gevolglik het geleerdes die mening gehuldig dat Jesus en sy apostels nie God se eienaam gebruik het nie. Daar is beweer dat hulle, wanneer hulle uit die Hebreeuse Skrifte gelees of aangehaal het, die gewoonte gevolg het om die woorde “Here” of “God” in die plek daarvan uit te spreek. En die eksemplaar van die “Septuaginta” wat hulle gebruik het, het nie eers die Naam bevat nie.
Die meeste teoloë het met vertroue hierdie mening gehuldig. Maar wat nou van die leidraad uit die Gruwelgrot?
DIE JUDESE LEIDRAAD
Jy onthou dat die Gruwelgrot in die Judese woestyn ’n aantal leerfragmente van die Twaalf Profete bevat het uit ’n rol wat geskrywe is omstreeks die tyd dat Jesus gebore is. Dit was in Grieks, in die vorm van die “Septuaginta”. Maar wat van God se naam? Kyk na die afdruk wat hier getoon word.
Hierdie fragmente uit die woestyn van Judea het die goddelike naam in ’n ou Hebreeuse styl bevat! Hoewel die hoofteks in Grieks was, is God se naam in Hebreeuse letters daarin behou. Die Tetragrammaton is nie met die Griekse titel Kyrios vervang, soos in latere eeue in manuskripte van die “Septuaginta” gedoen is nie.
Selfs nog meer onlangs het ’n ander belangriker leidraad aandag ontvang. Dit het ook ’n groot invloed op die saak of God se naam in jou Bybel moet wees, en derhalwe, of jy daardie naam moet gebruik. Hierdie leidraad het in Kaïro aan die lig gekom.
DIE EGIPTIESE LEIDRAAD
Die leidraad bestaan uit baie fragmente van ’n antieke papirusrol van Deuteronomium, met die museum-notering Fouad-papirus Nommer 266. Hoewel hierdie fragmente in die veertigerjare van ons eeu gevind is, was hulle nie aan die geleerdes beskikbaar vir studie nie.
In 1950 het daar vir die eerste keer foto’s van ’n aantal van hierdie seldsame fragmente in die “New World Translation of the Christian Greek Scriptures” verskyn. Dwarsdeur die vyftiger- en sestigerjare het die meeste deskundiges egter steeds geen toegang tot die fragmente self gehad nie, en in geen vakkundige publikasie het daar foto’s verskyn of is daar ’n ontleding van hulle almal gemaak nie. Uiteindelik het die 1971-bundel van “Etudes de Papyrologie” dit gedoen. Maar wat was so buitengewoon omtrent die fragmente? En hoe raak hulle die gebruik van God se naam?
Die Fouad 266-papirus is in die tweede of die eerste eeu v.G.J. voorberei. Hulle is nie in Hebreeus nie maar in Grieks. Kyk na die skrif in die eksemplaar van Fouad 266 in die afdruk op bladsy sewe. Sien jy dat hoewel die hoofteks in Grieks is die Tetragrammaton in vierkantige Hebreeuse letters gebruik word? Die oorskrywer van hierdie papirusrol het dus ook nie die naam met die Griekse woorde vir “Here” (Kyrios) of “God” vervang nie. Hy het eerder meer as 30 keer—daar reg tussen die Griekse letters—die Tetragrammaton in Hebreeuse letters geplaas!
Dr. Paul E. Kahle van Oxford het verduidelik dat hierdie fragmente “moontlik die volmaakste ‘Septuaginta’-teks van Deuteronomium wat na ons toe afgekom het”, bevat. In “Studia Patristica” het hy bygevoeg: “Ons het hier in ’n papirusrol ’n Griekse teks wat die teks van die ‘Septuaginta’ in ’n betroubaarder vorm as die Kodex Vaticanus weergee en wat meer as 400 jaar vantevore geskrywe is.” En dit het God se eienaam behou, net soos die Griekse fragmente van die Twaalf Profete uit die Judese woestyn. Hulle het ooreengestem.
In die “Journal of Biblical Literature” (DI. 79, ble. 111-118) het dr. Kahle die toenemende getuienis betreffende die gebruik van die goddelike naam onder die Jode bespreek en tot dié slotsom gekom:
“Alle Griekse vertalings van die Bybel wat in voorchristelike tye deur Jode vir Jode gemaak is, moes die Tetragrammaton in Hebreeuse letters as die naam van God gebruik het, en nie [Kyrios], of afkortings daarvan, soos ons in die Christelike” eksemplare van die “Septuaginta” vind nie.
Hierdie uitkiesing van die goddelike naam as iets wat sorgvuldig bewaar moet word, blyk selfs uit die Hebreeuse tekste van omstreeks die eerste eeu. In party van die Hebreeuse rolle uit die grotte naby die Dooie See is die Tetragrammaton in rooi ink of in ’n maklik kenbare ouer vorm van Hebreeus geskrywe. J. P. Siegel merk hieroor op:
“Toe die Qumran-manuskripte die eerste keer meer as twintig jaar gelede ontdek is, was een van die verrassender kenmerke daarvan die feit dat die Tetragrammaton in ’n beperkte groep tekste in paleo-Hebreeuse letters voorgekom het. . . . Dat hierdie gebruik ’n aanduiding van ’n innige eerbied vir die Goddelike Naam is, is bykans ’n onomstootlike waarheid.”—Hebrew Union College Annual, 1971.
Daarbenewens is daar berig dat daar in eerste-eeuse Jerusalem ’n Hebreeuse rol van die vyf boeke van Moses met die Tetragrammaton in goue letters was.—“Israel Exploration Journal”, DI. 22, 1972, ble. 39-43.
Dui hierdie nuwe getuienis nie vir jou sterk daarop dat Jesus goed vertroud sou gewees het met die goddelike naam en dit sou gebruik het, hetsy hy die Skrifte in Grieks of in Hebreeus gelees het nie?
[Prente op bladsy 7]
Fragment van Dooie See-rol in Grieks, met Hebreeuse Tetragrammaton (Hab. 2:15-20; 3:9-14)
Tetragrammaton in Septuaginta-fragmente uit Egipte (Fouad-papirus 266)