Wat het met God se naam gebeur?
DIE vrou van wie daar op die vorige bladsy melding gemaak word, was gewoond aan Bybels wat “HERE” en “God” het in baie plekke waar sy nou “Jehovah” gevind het.
Maar toe die evangeliedienaar vriendelik aan haar verduidelik het dat HERE ’n titel en nie ’n eienaam nie is, het sy saamgestem. Toe het hy verwys na Jesaja 42:8, wat in baie Bybels lui: “Ek is die HERE, dit is my Naam; en my eer sal Ek aan geen ander gee . . . nie.” Sy het gesê dat HERE blykbaar die Skepper bedoel het, maar het erken dat dit nie ’n naam is nie. Maar hierdie vers praat van God se “naam”. Wat is daardie naam?
Om die antwoord op prys te stel moet ons kortliks enkele feite aangaande die Bybel, wat oorspronklik in Hebreeus en Grieks geskrywe is, ondersoek. Al bekommer jy jou gewoonlik ook nie oor hierdie besonderhede nie, kan jy gerus die volgende in oënskou neem, daar dit op ons latere bespreking van God se naam en joune betrekking het. In plaas van ’n woord vir die titel “Here” sal jy hierdie vier Hebreeuse letters יהוה (in hedendaagse Hebreeus), wat God se naam is, in die oorspronklike Hebreeus in Jesaja 42:8 aantref. Dit word dikwels die Tetragrammaton (wat “vier letters” beteken) genoem en word in Afrikaans weergegee deur YHWH of JHVH. Die algemeenste uitsprake in Afrikaans vir die Tetragrammaton is “Jehovah” en “Jahwe”. (Daar sal later meer hieroor gesê word.)
God se eertydse Hebreeuse volk het groot agting vir Sy naam gehad en hulle het dit gebruik. In die Bybel word dit na vore gebring, en dit kom meer as 6 900 keer daarin voor. Kan jy sien wat dit beteken? God se naam is voortdurend voor ware aanbidders gehou wanneer hulle die “woord” van God gelees het of dit hoor lees het (Jos. 1:8; 8:34, 35). Moses het byvoorbeeld die volk beveel om gereeld bymekaar te kom om te luister na hoe die wet in Deuteronomium voorgelees word, wat beteken het dat hulle God se naam meer as 500 keer gehoor het (Deut. 31:10-12). Psalms 113 tot 118 is skynbaar ook tydens elke Pasga deur elke gesin gesing. In die 29 verse van Psalm 118 alleen sou God se naam 22 keer gesing word.—Vergelyk Mattheüs 26:30.
WAAROM HET HULLE OPGEHOU OM SY NAAM TE GEBRUIK?
Die Hebreeuse aanbidders het oorvloedige rede gehad om God se naam te gebruik. Die Bybel het hulle vermaan om ‘sy Naam aan te roep’ en om “liefhebbers van sy Naam” te wees (Jes. 12:4; Ps. 69:37). Desondanks het die Jode dit op ’n latere tydstip bygelowig begin vermy om daardie heilige naam uit te spreek. As hulle dit teëgekom het wanneer hulle die Bybel gelees het, het hulle Adonaï (HERE) of Elohim (God) gesê. Maar waarom?
Party sê dat dit die gevolg was van vrees om die heilige naam van God te misbruik. Die Tien Gebooie het weliswaar gesê dat sy naam nie ydellik gebruik moet word nie (Ex. 20:7). Dit het duidelik enige ligsinnige of bedrieglike gebruik van die naam uitgesluit. En Levitikus 24:16 het beveel dat enigiemand wat God se naam belaster, hetsy dit ’n gebore Hebreër of ’n inwonende vreemdeling was, om die lewe gebring moes word. Maar dit het beteken dat mense dit nie moes misbruik nie, nie dat hulle dit nie moes gebruik nie. Die getuienis dui dus daarop dat gewone Hebreërs gedurende ’n groot deel van die Bybelse tydperk wel God se naam gebruik het, in godsdiensbedrywighede sowel as eerbiedig in daaglikse aspekte van die lewe.
In 1961 is daar byvoorbeeld ’n eertydse begraafgrot sowat 32 kilometer suidwes van Jerusalem af oopgegrawe. Die grot dateer blykbaar uit die tyd van koning Hiskia (745-716 v.G.J.). Op die mure daarvan was daar Hebreeuse inskripsies wat die Tetragrammaton gebruik, soos “Jehovah is die God van die hele aarde”. En in 1966 is daar ’n verslag gepubliseer oor stukke erdewerk met skrif op wat te Arad, in suidelike Israel, gevind is. Een van hulle, wat jy hier sien, was ’n private brief in Hebreeus van ’n ondergeskikte aan Eljasib. Die brief het begin: “Aan my heer Eljasib, mag Jahwe om u vrede vra. En nou . . .”—“Israel Exploration Journal”, DI. 13, nr. 2, ble. 74-92; DI. 16, nr. 1, ble. 1-7.
Met die oog op die feit dat baie eertydse Hebreërs die goddelike naam gebruik het selfs in sake wat nie uitsluitlik godsdienstig was nie, kan ’n mens wonder wanneer die bygelowige vermyding daarvan kop uitgesteek het. Niemand kan vandag eintlik met sekerheid sê nie. Op grond van Joodse rabbynse geskrifte het party aangevoer dat die naam nie in die eerste eeu gebruik is toe Jesus op die aarde was nie. Maar indien die bygelowige vermyding daarvan toe toegeneem het, beteken dit nog nie dat God se eienaam nooit gebruik is nie. In hierdie verband het dr. M. Reisel geskrywe: “Die Tetragrammaton moes sekerlik tot die vernietiging van die Tweede Tempel in 70 G.J. deur die Hoëpriester uitgespreek gewees het.”
Jy wonder egter dalk oor Jesus en sy apostels. Sou hulle God se naam gebruik het wanneer hulle geskrywe, gepraat of uit die Skrifte gelees het? Wat byvoorbeeld van die tyd toe Jesus in die sinagoge in Nasaret opgestaan en Jesaja 61:1 gelees het? Die Tetragrammaton kom voor in die Hebreeuse teks, wat begin: “Die gees van die Here Jahwe is aan my gegee, . . .” (“Jerusalem Bible”). Dink jy dat Jesus doelbewus nie die goddelike naam sou uitspreek nie, al het party bygelowige Jode geweier om dit te doen? Onthou dat hy gesê het: “Ek het u Naam geopenbaar aan die mense wat U My uit die wêreld gegee het.”—Joh. 17:6.
Die verslag van wat Jesus gesê het toe hy Jesaja 61:1 gelees het, word in Lukas 4:18, 19 gevind. Indien jy hierdie verse in enige alomverspreide Engelse weergawe buiten die “New World Translation” naslaan, sal jy nie God se eienaam daarin sien nie. Jy sal eerder vind dat Jesus dan sou gelees het: “Die gees van die Here is op my . . .”
Kan jy jou voorstel dat dit Jesus se woorde was? Waarom sê die meeste Bybels hier “die Here” in plaas daarvan om God se eienaam te gebruik? Die antwoord hou verband met ’n onlangse ondersoek wat al die intrige van ’n speurverhaal bevat. Ons nooi jou om die spoor te volg en ag te slaan op party van die verrassende leidrade wat ontdek is.
[Prent op bladsy 4]
Die Tetragrammaton in ’n antieke potskerfbrief