‘Laat jou werke aan Jehovah oor’
“Laat jou werke aan [Jehovah] oor, dan sal jou planne uitgevoer word.”—Spr. 16:3.
1. Wat het die apostels besef, was een van die dinge wat Christene die nodigste het?
EEN van die dinge wat mense in ons tyd die nodigste het, is aanmoediging. Iedereen voel af en toe mismoedig vanweë die druk van hierdie wêreld en weens sy eie tekortkominge. Christene is geen uitsondering nie. Die apostel Paulus het geskrywe dat die doel van sy besoek aan die gemeente was “dat ek saam bemoedig kon word onder julle deur die gemeenskaplike geloof, van julle sowel as van my” (Rom. 1:12). Wanneer Christenmanne van Jerusalem na ander stede gereis het, het hulle “die broeders met baie woorde bemoedig en versterk” (Hand. 15:32; 20:1). Dit is ’n voortreflike patroon vir ouere manne en reisende opsieners van vandag.—Vergelyk Filippense 2:1.
2. Wat raai die Bybel aan moet ons doen wanneer ons voor ’n moeilike taak of ’n probleem te staan kom?
2 Soms het jy ’n probleem of ’n taak wat soos ’n berg lyk. Of jy beland dalk in ’n baie ongunstige situasie in die lewe. Wat moet jy doen? In plaas daarvan om mismoedig te word of moed op te gee, moet jy jou tot “die Vader van ontferminge en die God van alle vertroosting” wend (2 Kor. 1:3, 4). Ja, “laat jou werke aan [Jehovah] oor, dan sal jou planne uitgevoer word.”—Spr. 16:3.
3. Wat beteken die woorde: “Laat jou werke aan [Jehovah] oor”?
3 Wat is egter die betekenis van die woorde: “Laat jou werke aan [Jehovah] oor”? Dit beteken om as ’t ware die las van jou skouers af op syne te laat rol. Die planne of begeertes wat jy het, moet natuurlik reg, goed en in ooreenstemming met God se Woord van waarheid wees, nie vir selfsugtige bevrediging, wraak, ensovoort, nie. Maar in plaas daarvan om te dink dat die las op jou is, moet jy liewer alles na Jehovah neem en die geskil ten volle in sy hande plaas. Deur gebed en deur die Bybel se raad na die beste van jou vermoë toe te pas, moet jy dan op hom vertrou om te volbring wat jy vra.—Jak. 1:2, 5; Matt. 7:7, 8.
GROEI EN VOORSPOED KOM VAN GOD
4. Waarom is dit noodsaaklik dat ’n Christen voortdurend onthou om ‘sy werke aan Jehovah oor te laat’?
4 Dit is ’n baie ernstige saak. As ’n Christen dit nie doen nie, begin hy dalk te veel op homself vertrou en dink hy, miskien nie eers bewustelik nie, aan sy eie belangrikheid of vermoë. As dit lyk of sy planne slaag, eien hy die eer vir homself toe, slegs om later uit te vind dat sy “welslae” maar net tydelik of oppervlakkig was. Sulke welslae bring nie eer op God nie en help ander nie werklik nie. Want, “as die HERE die huis nie bou nie, tevergeefs werk die wat daaraan bou; as die HERE die stad nie bewaar nie, tevergeefs waak die wagter”.—Ps. 127:1.
5. Hoe het die apostel Paulus getoon dat dit verkeerd is om onsself of ander mense te verheerlik?
5 Hierdie beginsel is deur die apostel Paulus beklemtoon toe hy aan die Christengemeente in Korinthe geskrywe het. Baie in hierdie gemeente het eersugtige manne gevolg of verheerlik (2 Kor. 11:4, 5, 13). Party het moontlik ook vir Paulus en Apollos te belangrik geag (1 Kor. 1:12). Maar Paulus het homself, Apollos en Cefas gebruik as voorbeelde om te toon hoe verkeerd dit is om jouself te verheerlik of op ’n mensself of op enige mens of mense te vertrou (1 Kor. 4:6). Hy het gesê: “Wie is Paulus dan, en wie Apollos anders as dienaars deur wie julle gelowig geword het? En dit soos die Here aan elkeen gegee het. Ek het geplant, Apollos het natgemaak, maar God het laat groei. So is dan hy wat plant of hy wat natmaak, niks nie, maar God wat laat groei.”—1 Kor. 3:5-7.
6. Wat sal die gevolg wees vir die Christen wat nie ‘sy werke aan Jehovah oorlaat’ nie?
6 Toe het Paulus daarop gewys dat hulle miskien hard gewerk het om op die regte fondament, naamlik Jesus Christus, te bou. As hulle nietemin nie behoorlik gebou het nie—nie ‘hulle werke aan Jehovah oorgelaat’ het nie en dus nie op hom vertrou het om welslae te bring nie—sal hulle, tot hulle skande, vind dat hulle waardelose dinge gebou het, dinge wat nie God se toets sal deurstaan nie.—1 Kor. 3:10-15.
7. Waarom moet ’n Christen homself dophou sodat hy nie op homself vertrou of homself eer toe-eien nie?
7 Die rede waarom Christene hulself baie goed moet dophou, is dat dit die menslike neiging is om op jouself te vertrou, om jouself die eer toe te eien en om onafhanklik op te tree. Kort na die vloed van Noag se dag het God gesê: “Die versinsels van die mens se hart is sleg van sy jeug af” (Gen. 8:21). Ons het almal hierdie neiging van Adam geërf wat ’n onafhanklike weg ingeslaan het om dinge op sy eie te doen, soos hý sake gesien het. Maar hy het inderdaad onder die heerskappy van die Duiwel gekom.—Gen. 3:5.
VERHEF GOD SE NAAM, NIE ONSSELF NIE
8. Wat moet die vernaamste beweegrede wees in alles wat ons doen?
8 God se naam en sy Seun se naam moet geheilig word in alles wat Christene doen. Dit beteken dat dit ons doel moet wees om God se soewereiniteit, sy geregtigheid, sy barmhartigheid en sy ander goeie eienskappe bekend te maak en te verhef (1 Pet. 3:15). As ons dit nie doen nie, sal wat gedoen is aan ons of aan iemand anders toegeskryf word, en dit sal geen goeie gevolg hê nie. ’n Geval wat God laat opteken het wat hierdie feit laat uitkom, word gevind in ’n situasie wat ontstaan het nadat Israel in die Beloofde Land gevestig was.
9. Hoe het die Israeliete ervaar wat die gevolge is as hulle ‘hulle werke aan Jehovah oorlaat?
9 Toentertyd was Samuel, die getroue profeet, rigter in Israel. Omdat die volk dan vir Jehovah en dan weer ander gode aanbid het, het hulle baie onder die hande van hulle vyande gely. Maar Samuel het hulle op die regte weg gewys. Hy het op hulle ’n beroep gedoen om die valse gode wat in hulle midde was onder hulle uit te verwyder. Hulle het na hom geluister en Jehovah alleen begin dien. Toe hulle aldus ‘hulle werke aan Jehovah oorlaat’, is hulle gehelp om ’n klinkende oorwinning oor hulle bittere vyande, die Filistyne, te behaal.—1 Sam. 7:3, 4, 10-14.
10, 11. Hoe het die Israeliete versuim om Jehovah te verhef en op hom te vertrou selfs nadat hy hulle so goed gelei het?
10 Tog het hulle, nadat hulle inderdaad ervaar het hoe gebrekkig hulle is en hoe hulle vir seëninge volkome van Jehovah afhanklik was, later, toe Samuel oud geword het, ’n koning geëis. Hulle het gesê: “Stel nou ’n koning oor ons aan om ons te rig soos by al die nasies.” Toe Samuel tot God bid oor die aangeleentheid, was Jehovah se antwoord: “Nie jou het hulle verwerp nie, maar My het hulle verwerp om nie koning oor hulle te wees nie.”—1 Sam. 8:4-7.
11 Samuel het hulle toe gewaarsku oor hoe hulle onder die bewind van ’n mensekoning verdrukking sou ly, maar hulle het geantwoord: “Nee, maar daar moet ’n koning oor ons wees, dat ons kan wees soos al die nasies—dat ons koning ons kan rig en voor ons uit trek en ons oorloë voer.”—1 Sam. 8:10-20.
12. Wat was die gevolge vir hulle omdat hulle nie ‘hulle werke aan Jehovah oorgelaat’ het nie?
12 Die volk Israel het hier hulle ware harttoestand geopenbaar, naamlik dat hulle op mense vertrou om hulle planne te laat slaag. Hulle het nie die geloof gehad om ‘hulle werke aan Jehovah oor te laat’ nie. ’n Bietjie later het Jehovah sy misnoeë getoon deur dit te laat reën op dieselfde dag wat hulle hulle koring moes oes (1 Sam. 12:17, 18). Daarna het Israel baie onder hulle konings gely, met uitsondering van enkele getroue manne, soos konings Dawid, Josia en Hiskia. Dit was omdat hulle nie erken het dat Jehovah hulle werklike koning is nie.
LAAT ALLES IN GOD SE HANDE
13. Hoe moet ons te werk gaan in alles wat ons as God se dienaars onderneem?
13 Uit hierdie voorbeeld kan ons sien dat Jehovah betrokke is by elke probleem waarvoor God se dienaars te staan kom en by al hulle ondernemings. In eerste instansie moet ons Jehovah se wil en sy naam in gedagte hê. Dan kan ons sake aan hom oorlaat en weet dat die uitvoering van ons planne in sy hande is. As dit uitgevoer word, kry God die eer. As dit anders verloop as wat ons beplan het, kan ons steeds weet dat hy doen of toelaat wat vir ons die beste is.—Rom. 8:28.
14. Wat is verkeerd wanneer ons as Christene die een of ander prestasie aan ons eie vermoë of vindingrykheid toeskrywe?
14 In die wêreld is ’n persoon se welslae dikwels direk eweredig aan sy vermoë en vindingrykheid, sodat indiwidue hulle dikwels die eer vir hulle prestasies toe-eien. Maar in die diens van God is dit nie die geval nie. Anders sou ’n mens se vermoë of persoonlikheid sy posisie voor God bepaal. In werklikheid is dit die persoon wat die minste op sy persoonlikheid of vermoë vertrou wat deur God geseën word. Die apostel het gesê: “Ons het hierdie skat in erdekruike, sodat die voortreflikheid van die krag van God mag wees en nie uit ons nie.” (2 Kor. 4:7; vergelyk 2 Korinthiërs 12:9.) Christene moet te alle tye op hulle hoede wees dat hulle nie swig voor die natuurlike neiging van die onvolmaakte vlees en vergeet dat hulle ‘eenvoudig God se dienaars’ is wat die saad plant en natmaak, maar dat dit God is wat dit laat groei nie.—1 Kor. 3:6, 7.
15. Hoe berus prestasies in die diens van God op dieselfde beginsel as die suksesvolle funksionering van ons liggame?
15 Die deel wat God verrig wanneer ons hom dien, kan vergelyk word met die manier waarop ons liggame funksioneer. Die organe wat God vir ons ontwerp het, funksioneer sonder dat ons bewus is van hulle werking. Ons kan maar net gedeeltelik verduidelik hoe hulle werk. Die voedsel wat ons kry, groei ook met slegs geringe of soms glad geen inspanning van ons kant nie, nogtans is dit vol van al die belangrike voedingsfaktore. Son, reën, grond en saad verrig al die belangrikste take. Dus is ons lewe in werklikheid geheel en al afhanklik van die dinge wat God voorsien. Hy doen feitlik al die werk. Ons diens aan God berus op dieselfde beginsel. Die apostel Petrus sê: “As iemand dien, laat dit wees soos uit die krag wat God verleen, sodat God in alles verheerlik kan word deur Jesus Christus.”—1 Pet. 4:11; vergelyk Mattheüs 6:25-31.
DIE GOEIE VOORBEELD VAN ABRAHAM
16. Hoe moes Abraham ‘sy werke aan Jehovah oorlaat’ wat die beloofde saad betref?
16 Abraham is ’n goeie voorbeeld van ’n man wat onvoorwaardelik ‘sy werke aan Jehovah oorgelaat het’. Hy het net Jehovah se belofte gehad dat God ’n groot nasie uit hom sou verwek en dat al die geslagte van die aarde deur hom geseën sou word (Gen. 12:2, 3). Die apostel Paulus vestig die aandag op Abraham se geloof en sê:
“[Abraham is] die vader van ons almal—soos geskrywe is: Ek het jou ’n vader van baie nasies gemaak—voor die aangesig van God in wie hy geglo het, wat die dode lewend maak en die dinge wat nie bestaan nie, roep asof hulle bestaan. Hy het teen hoop op hoop geglo dat hy vader sou word van baie volke volgens wat gesê was: So sal jou nageslag wees. En sonder om te verswak in die geloof het hy, al was hy omtrent honderd jaar oud, nie gelet op sy eie liggaam wat alreeds verstorwe was, en op die verstorwe toestand van die moederskoot van Sara nie. En hy het nie deur ongeloof aan die belofte van God getwyfel nie, maar hy is versterk deur die geloof en het aan God die eer gegee en was ten volle oortuig dat Hy ook die mag het om te doen wat Hy beloof het. Daarom is dit hom ook tot geregtigheid gereken.”—Rom. 4:16-22.
17. Hoe het Abraham ‘sy werke aan Jehovah oorgelaat’ toe God hom versoek het om die een deur wie die saad moes kom te offer?
17 Abraham het geweet dat God sou moes ingryp indien hy en sy vrou Sara ’n seun moes kry. Hy het geweet dat hy volkome magteloos was. Maar dit het Abraham nie wanhopig gemaak nie. Toe daar ’n seun vir hom gebore is, het Abraham geweet dat dit deur ’n wonderdaad van Jehovah was dat sy en Sara se voortplantingsvermoëns herstel is. Dit het sy geloof verder versterk. Hy het geweet dat die saad deur hierdie seun moes kom. Wat het hy dus gedoen toe God hom vra om daardie seun te offer? Dit moes Abraham hom grootliks laat verwonder het. Hy kon gedink het dat dit “darem te veel gevra” was. Maar hy het hom volkome in Jehovah se hande oorgegee, soos in die Bybelboek Hebreërs verhaal word:
“Deur die geloof het Abraham, toe hy op die proef gestel is, Isak geoffer; ja, hy wat die beloftes ontvang het, het sy eniggeborene geoffer, aan wie gesê is: In Isak sal jou nageslag genoem word—want hy het gereken dat God mag het om selfs uit die dode op te wek; daaruit het hy hom ook, om so te spreek, terug ontvang.”—Hebr. 11:17-19.
GOD KAN JOU WEG VOORSPOEDIG MAAK
18, 19. Waarom moet ons, met die oog op hierdie sake, moeilike take en probleme met moed en vertroue aanpak?
18 Hoe kan een van ons, nadat hy so ’n verhaal gelees het, ooit dink dat ons by enige geleentheid op ons eie krag, posisie of vermoë moet vertrou om iets in die diens van God tot stand te bring? Dit dien as verkwikkende bemoediging om te weet dat as ons, net soos Abraham, volkome vertroue in Jehovah stel en aan hom gehoorsaam is, ons ons nie oor die uitslag hoef te bekommer nie, al is die taak of probleem voor ons ook hoe moeilik. Miskien staan dit in verband met die voorsiening van die benodigdhede aan ons gesin. Of ’n weduwee met jong kinders het dalk haar hande vol om hulle “in die tug en vermaning van die Here” op te voed (Ef. 6:4). Of moontlik is die probleem waar om tyd vir velddiens te vind. Party voel miskien huiwerig om van deur tot deur te gaan en om mense uit die Bybel te leer. Onthou. ‘jy is tot alles in staat deur hom wat jou krag gee’ (Filip. 4:13). Onthou dat Jehovah God en Jesus Christus aan jou sy is. Jy kan volhou “soos een wat die Onsienlike sien”, net soos Moses gedoen het toe hy voor die reusetaak te staan gekom het om sowat driemiljoen Israelitiese slawe uit Egipte en deur ’n verlate woestyn te lei—’n taak wat totaal bo menslike vermoë was (Hebr. 11:27-29). Moses moes ‘sy ganse las op Jehovah werp’. Toe het Jehovah die werk gedoen. Ons probleme is gewis nie moeiliker as die een waarvoor Moses te staan gekom het nie.
19 Dit is waarom die Bybel ons aanraai om te “bid sonder ophou” en om te “volhard in die gebed”. Aldus kan ons ‘ons werke aan Jehovah oorlaat’ en aanhou om op hom te vertrou om ons planne ten uitvoer te bring (1 Thess. 5:17; Rom. 12:12). Net soos Jesus sal ons dan Jehovah se naam heilig en hom erken as die een wat inderdaad die resultate bring, en aan hom die eer en lof gee vir wat tot stand gebring is.
[Prent op bladsy 21]
God laat ons liggame funksioneer en voedsel groei met weinig of geen inspanning van ons kant nie
[Prent op bladsy 22]
So is dit ook God wat geestelike groei laat plaasvind