Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w78 8/15 bl. 17-18
  • Hoeveel waarde heg jy aan jou lewe?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Hoeveel waarde heg jy aan jou lewe?
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1978
  • Soortgelyke materiaal
  • Is geld die wortel van alle kwaad?
    Antwoorde op Bybelvrae
  • ’n Gebalanseerde beskouing van geld
    Ontwaak!—2015
  • Jou beskouing van geld kan jou lewe beïnvloed
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1979
  • Wat is fout daarmee om geld te maak?
    Ontwaak!—1997
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1978
w78 8/15 bl. 17-18

HOEVEEL waarde heg jy aan jou lewe?

LAAT een somersaand het ’n bejaarde Christenegpaar in New York huis toe geloop na ’n Bybelstudie. Skielik het drie jong manne nadergekom en het een van hulle die man aggressief aangespreek. Niksvermoedend het hy stilgestaan om te luister. Die man het ’n groot mes uitgeruk en gesê: “Gee my jou geld en jy sal nie seerkry nie!” Die bejaarde man het aangebied om hom die inhoud van sy notebeurs te gee, maar die jong man wou die notebeurs ook hê. Toe het die rower vir die vrou, wat in die straat in geloop het toe sy sien wat gebeur, geskreeu: “Jou geld ook!” Sy het haar hande opgesteek en gesê: “Ek is jammer! Ek het nie geld by my nie! Wil julle ons Bybels hê?” Dit kan terloops net gemeld word dat die man die dokumente wat in sy notebeurs was twee dae later deur die pos terug ontvang het.

Hoe dwaas sou dit tog van die Christen gewees het om hom te probeer verset of om met ’n gewapende rower te argumenteer! Ons hoor nogtans herhaaldelik van mense wat argumenteer of hulle teësit teen die pogings van ’n gewapende rower om hulle geld te kry, asof enige bedrag dit die moeite werd is om jou lewe voor te waag. Dit is veral jammer wanneer ’n persoon nie besef dat hy inderdaad hierdie kans waag nie. New York se “Times” van 24 Desember 1977 het byvoorbeeld vertel: “’n Kruidenier en sy droom deur rowers in Brooklyn vernietig.” Omstreeks middernag was hierdie man besig in sy kruidenierswinkel in ’n deel van Brooklyn met ’n hoë misdaadsyfer toe twee mans in die winkel ingeloop het, hom doodgeskiet en toe beroof het. Die “Times” het sy vrou soos volg aangehaal: “Ek het vir hom gesê om die winkel nie so laat oop te hou nie. . . . Hy het gesê: ‘Nee, ons het die geld nodig.’ Hy is twee keer tevore beroof. Eenkeer het hulle die [rewolwer] teen sy kop gehou en die sneller getrek. Maar die rewolwer het nie gevuur nie.”

Om net ’n paar ekstra dollars te verdien het hierdie man sy lewe gewaag deur die winkel saans tot so laat oop te hou. Dit was nie asof hy daardie paar ekstra dollars nodig gehad het nie, want die berig het gesê dat hy sy skuld vereffen het binne drie maande nadat hy die winkel gekoop het. Het hy dus nie in werklikheid sy lewe gering geag deur daardie kans te waag nie?

Weens geld het ander by ’n argument betrokke geraak wat op hulle dood uitgeloop het. New York se “Daily Times” van 11 November 1977 het byvoorbeeld vertel van ’n man wat in een van die besigste dele van Manhattan doodgesteek is. Die polisie het die moord toegeskryf aan ’n twis oor geld. Maar die ontstellende aspek van die misdaad was dat sowat 150 persone bygestaan het en toegekyk het hoe die een man die ander doodsteek, asof dit ’n TV-program was. Die polisie moes in werklikheid hulle rewolwers uitruk om deur die skare by die misdaadtoneel te kom. Terwyl party hulle toegejuig het, het ander geskreeu: “Bemoei julle met julle eie sake!” Sulke mentaliteit laat ’n mens dink aan die dae van die Romeinse arena toe swaardvegters mekaar doodgemaak het om die bevolking te vermaak. Hoe gering ag diegene wat dit geniet om te kyk hoe een man ’n ander doodsteek die lewe tog!

Wanneer ’n mens onverwags deur ’n gewapende rower voorgekeer word, is jy natuurlik onvoorbereid daarop en kan jy, in ’n oomblik van vrees, paniekbevange raak en argumenteer of weerstand bied. ’n Persoon kan maklik iets sê of doen waaroor hy daarna spyt sal wees, indien hy lewe om spyt te wees. Aangesien sulke dinge kan gebeur, is dit verstandig om jou vooraf voor te neem om kalm te bly en saam te werk, en bly te wees om met jou lewe daarvan af te kom.

Ongelukkig is daar vandag ook talle ander wat die fout maak om nie veel waarde aan hulle lewens te heg nie. Dikwels het sakemanne wat deur hebsugtige ambisie voortgedryf word, hartaanvalle wat alte dikwels noodlottig is. Ons lees dus van manne in hulle veertiger- of vyftigerjare wat sterf terwyl hulle tot in hulle sewentiger- of tagtigerjare kon gelewe het. Hulle wil klaarblyklik so graag ryk word, die top van die prestigeleer bereik of mag, invloed of ’n naam verkry dat hulle bereid is om hulle gesondheid en selfs hulle lewe in gevaar te stel om hulle ambisie te verwesenlik.

Jesus Christus, die Seun van God, het voorwaar verstandige raad gegee toe hy gesê het: “Wat baat dit ’n mens as hy die hele wêreld win, maar aan sy siel skade ly? Of wat sal ’n mens gee as losprys vir sy siel?” (Matt. 16:26). Ja, watter nut het geld, vaste eiendom, juwele of enige ander materiële dinge wanneer ’n persoon dood is?

Die apostel Paulus gee soortgelyke raad: “Die wat ryk wil word, val in versoeking en strikke en baie dwase en skadelike begeerlikhede wat die mense laat wegsink in verderf en ondergang.” “Godsaligheid saam met vergenoegdheid”, eerder as geld, “is ’n groot wins”. Trouens, sulke “godsaligheid is nuttig vir alles, omdat dit die belofte van die teenwoordige en die toekomende lewe het”.—1 Tim. 6:6, 9; 4:8.

Net soos hierdie huidige lewe hoër as enige materiële wins geag moet word, so moet ewige lewe nie alleen hoër as enigiets van ’n materiële aard geag word nie, maar selfs hoër as hierdie huidige lewe. Dit verg geloof om te aanvaar wat God se Woord oor die ewige lewe sê. Weens hierdie geloof is Jehovah se Christengetuies bereid om te sterf eerder as om ’n vergelyk te tref waar dit by hulle godsdiensbeginsels kom, soos onlangse geskiedenis deeglik getoon het. Aldus handel hulle volgens Christus se raad: “Moenie vrees vir die wat die liggaam doodmaak, maar die siel nie kan doodmaak nie; maar vrees Hom liewer wat die siel sowel as die liggaam kan verderwe in die hel.”—Matt. 10:28.

Die psalmis het iets soortgelyks in gedagte gehad toe hy gesê het dat hy Jehovah God se lojale liefde belangriker ag as die lewe self. Dit is waarom hy geskryf het: “U goedertierenheid is beter as die lewe; my lippe moet U prys.” Sy vriendskap met God het vir hom meer as enigiets anders beteken, en aldus het hy te kenne gegee dat hy bereid sou wees om sy lewe prys te gee om God se lojale guns te behou.—Ps. 63:4.

Die persoon wat besef dat die huidige lewe waardevoller as enige materiële dinge is, is voorwaar wys. Maar die persoon wat selfs groter waarde heg aan die ewige lewe wat God voorhou aan diegene wat sy guns behou, is nog wyser.

“Kom, aanskou die dade van die HERE, wat . . . die oorloë laat ophou tot by die einde van die aarde, die boog verbreek en die spies stukkend slaan, die strydwaens met vuur verbrand.”—Ps. 46:9, 10.

    Afrikaanse publikasies (1975-2027)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel