Is jou lewenswyse dood-georiënteerd?
DIE MENS wil graag lewe. Nogtans is die dood deel van huidige mensebestaan. Hierdie enkele feit het ’n ontsaglike uitwerking op die wyse waarop mense hulle lewens lei en op hulle beskouing van die lewe self.
Selfs diegene wat sê dat hulle nie godsdienstig is nie, probeer dikwels om soveel moontlik uit hulle kort lewensduur te kry. Hulle lewe in die skadu van die dood. Talle godsdienstige persone, wat meen dat mense ’n onsterflike geessiel besit, hoop dat die dood vir hulle ’n uitvlug sal bied uit die fisiese bestaan na ’n geestelike. Dit is waarom soveel beskawings dood-georiënteerd is en die dooies, wie se siele dan glo ’n bewuste bestaan voer in ’n geesteryk, op die een of ander wyse vereer. Die hoop op lewe wat die Bybel voorhou, is andersyds nie gebaseer op die gedagte dat die siel na die dood voortlewe nie.
WAT DIE BYBEL LEER
Die Bybel identifiseer die lewende mens as ’n “lewende siel” wat bestaan uit die liggaam en die “asem van die lewe” (Gen. 2:7). Die Bybel praat ook van ’n gees in diere sowel as mense (Ps. 104:25-30; Pred. 3:19, 20). Hierdie gees is die lewenskrag in elke sel van die liggaam. Dit word onderhou deur die suurstofryke lug en voedsel wat God voorsien het. Toe God die eerste mensepaar gemaak het, het hy al die toestande voorsien wat dit vir hulle en hulle nakomelinge moontlik sou maak om vir ewig te lewe, mits hulle aan hulle Skepper gehoorsaam gebly het. Ongehoorsaamheid sou die dood meebring.—Gen. 2:8, 9, 15-17.
Die dood is die teenoorgestelde van lewe as ’n lewende siel. Dit is om hierdie rede dat God, nadat Adam deur ongehoorsaamheid gesondig het, vir hom gesê het: “Omdat jy geluister het na die stem van jou vrou en van die boom geëet het . . . met moeite sal jy daarvan eet al die dae van jou lewe . . . totdat jy terugkeer na die aarde . . . Want stof is jy, en tot stof sal jy terugkeer.” Omdat die mens nie aan God se vereiste vir lewe voldoen het nie, het sy lewensdae ten einde geloop en het hy teruggekeer na die stof waaruit hy geneem is. Hy het gesterf.—Gen. 3:17-19.
Die Bybel bevat deurgaans hierdie beskouing van die dood. In verband met die uitwerking van die vloed van Noag se dag, sê die verslag: “Alle vlees wat op die aarde beweeg, het weggesterwe: . . . al die mense. Alles wat die asem van die lewensgees in die neusgate gehad het, . . . het doodgegaan” (Gen. 7:21, 22). ‘Agt siele is deur water heen gered’ (1 Pet. 3:20). Die Christenskrywer van die boek Romeine het beaam: “Die loon van die sonde is die dood” (Rom. 6:23). Hy was dit eens met die Bybel se verklaring dat “die siel wat sondig, dié moet sterwe” en dat die siel by die dood ophou om bewustelik te bestaan: “Op daardie dag is dit met sy planne gedaan.”—Eseg. 18:20; Ps. 146:4.
GEBRUIKE WAT OP BEDROG GEBASEER IS
Die Bybel leer egter dat ’n geesteryk bestaan. “God is Gees” (Joh. 4:24). Hy het ander geespersone geskep lank voordat die mens of die diere gemaak is (Job 38:4, 7). Party van hulle, onder andere die een wat nou as Satan bekend staan, het teen God in opstand gekom en alle verligting in God se gesin getroue engele is hulle ontneem (Gen. 3:1-15; 6:1-7; 1 Pet. 3:19, 20; Jud. 6). Hulle het bedrieërs geword wat daarop uit is om die mense te oortuig dat die mens die dood as ’n gees oorleef (Openb. 12:9). Dit is hulle wat hulle vir die dode uitgee en verskynsels veroorsaak wat mense laat glo dat hulle kontak met die geeste van die dooies kan hê. Dit is waarom die een of ander vorm van die aanbidding van die dode in alle dele van die wêreld beoefen word.—Jes. 8:19.
Byvoorbeeld, in talle dele van Nigerië word daar geglo dat die siel na die dood in ’n slapende toestand verval waar dit bly totdat ’n eerste en ’n tweede begrafnisseremonie gehou is. Die eerste seremonie is die begrafnis van die liggaam van die oorledene. Die twee, ’n soort herdenkingsdiens, is ’n geestelike begrafnis om die siel vry te stel uit die gebied van die dode en om dit toe te laat om ten volle in die geesteryk in die gaan. Om hierdie rede is die gedenkdienste wat ’n week na die begrafnis in die kerke gehou word, in die oë van talle Nigeriërs dieselfde as ’n tweede begrafnis.
Ander gebruike soos “lykwake” het ontstaan in ’n poging om bose geeste te verhoed om iets aan die lyk te doen of om te voorkom dat die gees van die oorledene na hierdie wêreld terugkeer. Hierdie gebruike sluit dikwels ingewikkelde en duur seremonies in wat daarop gemik is om in die openbaar te toon dat die oorledene baie geëer word. Hulle hoop om sodoende sy guns te verkry.
’n Nigeriese begrafnisseremonie is onlangs oor televisie uitgesaai en dit het getoon hoe rouklaers in duur klere by die graf ween. Party het selfs probeer om hulself in die graf te werp. Onmiddellik na die afloop van die begrafnis was daar ’n groot fees waartydens daar baie gedrink, geëet en jolyt gemaak is. Party raam dat hierdie begrafnis ongeveer ₦5 000 (R6 500) gekos het. In die meeste dele van Nigerië toon ’n gerou en dan ’n pretmakery by die begrafnis van ’n bejaarde persoon dat die mense glo dat hy sy lewe as ’n mens suksesvol voltooi het en gereed is om as ’n gees te begin lewe.
Die eer wat aan die dode betoon word, word verder toegelig deur ’n brief wat aan een van die Nigeriese koerante geskryf is. Die skrywer vertel van ’n vriend wat nie die tyd gehad het om sy siek vader te besoek nie en slegs ₦20 (R26) kon stuur om mediese onkoste te dek. Toe die bejaarde man egter ’n maand later sterf, kon dieselfde seun verlof neem en meer as ₦580 (R750) leen “om die onkoste van die begrafnisseremonie te dek”. Ander onkoste is ook deur ander familielede gedek. Die skrywer van die brief het gesê: “Toe die man siek was, het hy net ₦20 gekry om homself te versorg, maar nadat hy gesterf het, is sy oorskot—die nuttelose, lewelose liggaam—vreugdevol begrawe . . . teen meer as ₦2 000” (R2 600).
In talle gevalle skeer die naverwante hulle hare af, knip hulle hulle vingernaels, maak hulle merke of snye op hulle liggame of dra hulle spesiale krale of klein sakkies met sade of mengsels daarin. Dit is alles in werklikheid spesiale beskermende “medisyne” teen die gees van die oorledene. Sulke dinge is nie deur aanbidders van Jehovah gedoen nie en word in die Bybel veroordeel.—Lev. 19:28.
DIT IS NATUURLIK OM BEDROEF TE WEES WANNEER ’N DIERBARE STERF
Dit is natuurlik vir mense om verdrietig en bedroef te wees wanneer ’n dierbare sterf. God se knegte het sulke droefheid ervaar en verdriet getoon deur te ween en stemmig aan te trek (Gen. 23:2; Deut. 34:8; Joh. 11:33, 35, 38). In voor-christelike tye het hulle in sak geklee gegaan en soms voorgeskrewe tye gehad om te rou weens verdriet oor ander rampe benewens die dood (2 Sam. 14:2; Est. 4:1). Rou het geen verband gehou met enige paaiery van die dooies nie. Dit was ’n betoning van smart wat veroorsaak is deur ’n persoonlike of gemeenskapstragedie.
Net so rou Christenaanbidders van Jehovah nie uitermate nie, en die Bybel verstrek die rede: “Ek wil nie hê dat julle onkundig moet wees met betrekking tot die ontslapenes nie, sodat julle nie treur soos die ander wat geen hoop het nie” (1 Thess. 4:13). Christene beskou hulle dode as onbewus en aan die slaap in afwagting van ’n opstanding, sodat geen ritusse om hulle te paai of met hulle versoen te raak nodig is nie.—Joh. 11:11-14.
Die opstandingshoop is gebaseer op die voorsiening wat God gemaak het om die uitwerking van sonde uit te wis en die veroordeling van die dood weg te neem. Deur die dood van Jesus Christus het Hy liefdevol ’n losprys vir die mensdom voorsien. Dit het die weg vir God gebaan om die dode op te wek en aan hulle die geleentheid te bied om weer in die toekoms te lewe met die vooruitsig om ewige lewe te verkry.—Joh. 3:16; Matt. 20:28; Joh. 11:24-26.
HOU BEGRAFNISREËLINGS BINNE SKRIFTUURLIKE PERKE
Christene moet dus sorg dat hulle nie besoedel word deur die verkeerde gebruike van mense rondom hulle nie. Hulle moet alle gebruike vermy wat gebaseer is op die gedagte dat die siel in ’n geesteryk voortlewe. Daar bestaan geen nodigheid aan ingewikkelde begrafnisritusse nie. Daar word gewoonlik van liggame ontslae geraak deur hulle in die grond te begrawe. Ander metodes, soos verassing of begrafnisse ter see, word ook gebruik. Indien die lyk voor die begrafnis gewas word ter wille van sindelikheid, moet dit glad nie geassosieer word met die onskriftuurlike ritus om die oorledene vir lewe ‘in die hiernamaals’ voor te berei nie.—Hand. 9:37.
Wyse koning Salomo het vermaan: “Dit is beter om te gaan na ’n klaaghuis as om te gaan na ’n huis van maaltyd; want die eerste is die einde van al die mense, en die lewende kan dit ter harte neem” (Pred. 7:2). Hierdie raad maak twee dinge in verband met begrafnisse duidelik. Eerstens, ’n feesvierdery of ’n opsigtige vertoon is onvanpas wanneer daar oor die dode gerou word. Tweedens, dit is gepas vir simpatiseerders om die bedroefdes te besoek en te vertroos.
Wanneer hulle sulke besoeke doen, moet diegene wat van nabygeleë gebiede af kom om hulle meegevoel aan die gesin te betuig, bedagsaam wees deur hulle besoek kort te hou en die gesin nie te verplig om vir hulle kos te gee nie. So ’n voorsiening kan getref word vir simpatiseerders wat van ver kom, indien die gesin dit verkies. Dit sal ’n betoning van gasvryheid wees. Alle besoekers sal andersyds bedagsaam wil wees deur nie op ’n selfsugtige wyse op te tree en tot die onkoste by te dra wat die gesin reeds aangegaan het ter voorbereiding van die begrafnis nie. Dit sal eerder goed wees as hulle aanbied om die gesin te help om na huiswerk om te sien of boodskappe te dra.
In die geval van begrafnisse onder Jehovah se Getuies kan ’n diens by enige gepaste plek gehou word, byvoorbeeld by ’n roudienslokaal, die Koninkryksaal, die huis van ’n lid van die familie of selfs by die begraafplaas. Die gesin kan ’n gerespekteerde manlike lid van die gemeente vra om die diens waar te neem. ’n Eenvoudige Bybelgebaseerde toespraak sal gehou word wat ’n Skriftuurlike verduideliking bevat van wat die dood is en van God se voorneme om die dode deur ’n opstanding op te wek. Na hierdie diens sal die lyk sonder enige ritusse begrawe word.
Die Bybel toon dat daar gevalle was wanneer aanbidders van Jehovah die lyk met ’n optog na die begraafplek geneem het. Dit was tydens so ’n optog dat Jesus ’n jong man opgewek het (Luk. 7:12-16). Ons moet daarop let dat dit gedoen is om die lyk na die begraafplek te neem. Dit was nie ’n rituele optog in die stad rond nie. Trouens, eenvoud is die opvallendste kenmerk van Christelike begrafnisse. Die beskrywings van die begrafnis van Jesus en van voorchristelike aanbidders van God toon dat die lyk bloot op eenvoudige, ordentlike wyse begrawe is (Matt. 27:59, 60; Gen. 25:9, 10; 49:29-32). Sulke eenvoud pas by die eenvoudige waarheid dat die dooies “glad niks [weet] nie . . . Hulle liefde sowel as hulle haat, ook hulle naywer, het lankal verdwyn” (Pred. 9:5, 6). Wat die hou van begrafnisse betref, sal Christene nie in die verrigtinge deel met gelowe wat valse opvattings oor die dood het nie.—2 Kor. 6:14-17.
Na die begrafnis is daar niks meer wat vir die dooies gedoen kan word nie. Prediker 9:5, 10 sê vir ons: “ . . . en hulle het geen loon meer nie, . . . daar is geen werk of oorleg of kennis” in die graf waar die dooies heengaan nie. Die dooies kan dus niks omtrent hulle eie situasie doen en hulle kan hulle ook nie met die lewendes bemoei nie. Dit beteken ook dat die lewendes niks vir die dooies kan doen nie. Gevolglik is “tweede begrafnisse”, lykwake, gedenkdienste om hulde te bewys of te paai, offerandes en offers, spesiale gebede dat die siel in vrede mag rus—“R.I.P.”—wat gebaseer is op die opvatting dat die siel in die vaevuur of elders bewustelik voortbestaan, nutteloos en is hulle gebaseer op valse gedagtes.—Ps. 49:7-10.
In plaas van ’n begrafnisdiens voordat die lyk begrawe word, kan ’n gedenkdiens tereg kort na die begrafnis op ’n gerieflike tyd gehou word. So ’n diens sal nie gehou word om die dode te bevoordeel of uit vrees vir die dode nie. Dit sal geleentheid bied om die oorlewende familielede en intieme metgeselle gedurende die tydperk van hulle verdriet te troos, aangesien tyd nodig is om verdriet en die gevoel van verlies te bowe te kom. Hierdie feit dui ook daarop dat daar geen regverdiging vir Christene bestaan om gedenkdienste elke jaar of op ander gereelde tye vir afgestorwe familielede te hou nie. Die Bybel magtig ons slegs om dit ter herinnering van Jesus Christus te doen, wat homself as ’n offerande vir die mensdom gegee het om ons van die veroordeling van die dood te bevry.—Luk. 22:19; 1 Kor. 11:24, 25.
Alhoewel ons die dood moet aanvaar as ’n aspek van die huidige menslike ervaring, bestaan daar geen rede waarom ons ’n morbiede vrees daarvoor moet koester of dit met oordrewe ontsag moet beskou nie. Die opstandingshoop sal ons teen oormatige droefheid beskerm. “Want as ons glo dat Jesus gesterwe en opgestaan het, dan sal God ook so die wat in Jesus ontslaap het, saam met Hom bring” deur ’n opstanding (1 Thess. 4:13, 14; Openb. 21:4). Om hierdie rede is die lewe van Christene nie dood-georiënteerd nie. Hulle gaan die toekoms tegemoet met hoop op lewe. Hulle gebruik hulle lewe om die lewendes te help.