Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w78 8/15 bl. 12-16
  • Medewerkers in die oes

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Medewerkers in die oes
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1978
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • DAAR WORD VREUGDEVOL MET GOD SE WOORD GEWERK
  • DIE BYBEL SE TEMA WORD BEKLEMTOON
  • MET DIE HULP VAN GOD SE GEES
  • MEDEWERKERS VAN GOD EN CHRISTUS
  • GEDURENDE DIE WARMSTE DEEL VAN DIE DAG
  • DIE GENOT VAN PIONIERDIENS
  • DIE VREUGDE WAT NUWE STUDIES VERSKAF
  • DIE OES MOET VOORTGAAN!
  • Word met vreugde vervul
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1991
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1978
w78 8/15 bl. 12-16

Medewerkers in die oes

“Toe sê [Jesus] vir sy dissipels: Die oes is wel groot, maar die arbeiders min. Bid dan die Here van die oes, dat Hy arbeiders in sy oes mag uitstuur.”—Matt. 9:37, 38

1. Hoe kan kwaai teenstand teen ons werk beskou word?

OESWERK word nie altyd onder maklike of gunstige toestande gedoen nie, maar met volharding. Partymaal ontstaan daar kwaai teenstand in party plekke, maar die belangrike saak is dat die insamelingswerk voortduur. Die ondervinding toon dat dit dikwels weens teenstand is dat party persone, wat andersins nie in Jehovah se Getuies belanggestel het nie, besluit om die situasie in heroorweging te neem. Aan die einde van die rapport in die “1978 Yearbook of Jehovah’s Witnesses” word 18 ander lande saam gegroepeer, lande waar die teenstand besonder hewig is. En in daardie 18 lande is daar net verlede jaar altesaam 9 673 gedoop!

2. Watter hewige teenstand is in Nehemia se dag ondervind, en hoe is dit die hoof gebied?

2 Om tydens hewige teenstand te werk, en hard te werk, is nie ’n nuwe ervaring vir Jehovah se knegte nie. Dit is nou soos dit was in die dae van Nehemia toe hulle besig was om die muur van Jerusalem te bou en toe die naburige nasies hulle teenstand so verskerp het dat hulle saamgesweer het om teen die stad te veg. Nehemia berig: “Van die bouers aan die muur het die lasdraers hulle werk so gedoen dat hulle met die een hand die werk verrig het, terwyl die ander hand die werpspies vashou, en die bouers het elkeen sy swaard aan sy heupe gegord en gebou, terwyl die basuinblaser by my gestaan het.”—Neh. 4:17, 18.

3. (a) Hoe het dit toe gekom dat God se volk “met hulle hart in die werk” was? (b) Op watter soortgelyke wyse bemoedig die profesie van Jesaja ons vandag?

3 In vers 6 van daardie selfde hoofstuk sê dit: “Die volk was met hulle hart in die werk.” Ken ons die geheim van daardie goeie harttoestand? Dit word later in Nehemia 8:11 gemeld: “Die blydskap in die HERE—dit is julle beskutting.” Dieselfde geld vandag vir ons, nie waar nie? Dit laat ons dink aan wat Jehovah deur sy profeet Jesaja gesê het waar hy die teenstelling tussen die ware en valse knegte toon: “Kyk, my knegte sal bly wees, maar julle sal beskaamd staan. Kyk, my knegte sal jubel, omdat hulle hart vrolik is, maar júlle sal skreeu van pyn in die hart en huil deur die verbreking van gees.” Toe het Jehovah voorts gesê: “Want kyk, Ek skep nuwe hemele en ’n nuwe aarde . . . Maar wees julle bly en juig vir ewig oor wat Ek skep; want kyk, Ek skep Jerusalem om te juig, en sy mense om bly te wees.”—Jes. 65:13-18.

DAAR WORD VREUGDEVOL MET GOD SE WOORD GEWERK

4. Watter voorsienings het Jehovah gemaak sodat ons vreugdevolle werkers kan wees?

4 Ons het inderdaad alle rede om vreugdevolle werkers te wees. Ons het Jehovah se seën. Ons het Jehovah se gees, en “blydskap” is deel van die vrug van daardie gees (Gal. 5:22). Ons het ook “die swaard van die Gees—dit is die woord van God” (Ef. 6:17). Wat ’n vreugde is dit tog om dit te gebruik wanneer ons die “goeie nuus” aan ander verkondig! Die volgende ware ondervindinge toon dit.

5-7. Hoe is Jehovah se seën gesien in die ondervinding waar die Waarheid-boek geplaas is?

5 ‘Terwyl ons eendag in velddiens van huis tot huis gewerk het, het ek en my metgesel in die diens ’n jong vrou ontmoet wat ’n mate van belangstelling in ons Skriftuurlike aanbieding getoon en die boek Die waarheid wat lei tot die ewige lewe geneem het. Sy het etlike vrae gehad en ons het die Bybel gebruik om hulle te beantwoord. Sy het aandagtig geluister na wat die Bybel oor haar vrae te sê gehad het. Aangesien sy en haar man op die punt gestaan het om op reis te gaan, het ons gereël om hulle weer te besoek wanneer hulle terug is. Toe ons egter by die huis uitloop, het haar man met die paadjie na die huis opgery. Ek het ’n oomblik geaarsel en toe besluit dat dit beter sou wees om by hierdie geleentheid met hom te praat en sodoende miskien enige latere probleme te voorkom. Ons het kortliks die doel van ons besoek verduidelik en gemeld dat sy vrou ’n Bybelstudiehulp geneem het en dat ons graag later sou wou terugkom om die Bybel verder te bespreek. Hy het hartlik geantwoord en gesê dat hy en sy vrou nie veel van die Bybel af geweet het nie, maar dat hulle graag wou!

6 ‘Toe ek en my man die eerste Saterdag in Junie na hulle teruggaan, is ons hartlik gegroet en het ons ’n goeie bespreking gehad. Toe ons die volgende week teruggaan, het ons gevind dat hulle albei die Waarheid-boek deurgelees het en ’n hele bladsy vrae het. Die volgende week het hulle die openbare toespraak en Wagtoring-studie begin bywoon. Kort daarna het hulle die boekstudie begin bywoon, en die volgende maand het hulle by die Teokratiese Skool ingeskryf. Selfs nog voordat hulle al die vergaderinge begin bywoon het, het hulle egter al radikale veranderinge in hulle lewens begin aanbring. Hulle het opgehou rook en hulle wêreldse vriende vaarwel gesê. Hulle het hulle tweejarige kind geleer om stil te sit tydens vergaderinge en die maand nadat hulle al die vergaderinge begin bywoon het, het hulle saam met ons in die velddiens uitgegaan. Omtrent drie maande later is hulle albei gedoop en geniet nou al hoe meer voorregte in die gemeente.

7 ‘Aangesien die meeste van ons al die ondervinding gehad het dat mense aanvanklik baie belangstel en dan belangstelling verloor, het ons natuurlik eers gedink dat dit sou gebeur. Maar na daardie tweede besoek, waar ’n hartgrondige begeerte om God te dien so duidelik was, het ek en my man tot die gevolgtrekking gekom dat daar geen twyfel kon bestaan dat die engele Jehovah se werk onder Jesus se toesig rig nie. Toe ons hulle vra waarom hulle sommer onmiddellik gehoor gegee het aan ons aanbieding van die “goeie nuus”, het hulle geantwoord: “Dit was die Bybel.” Toe hulle dit in die Bybel sien, het hulle geweet dat dit waar is. Hulle gevolgtrekking was dus: Waarom uitstel? Hulle wou betrokke raak en het geen gras onder hulle voete laat groei nie. Jesus het gesê: “Ek ken my eie en word deur my eie geken.”

DIE BYBEL SE TEMA WORD BEKLEMTOON

8, 9. Hoe kan die Bybel goed benut word wanneer ons getuig.?

8 ‘Terwyl ek en ’n ander Getuie van huis tot huis gewerk het, het ’n dame ons binnegenooi en het ons met haar oor die “goeie nuus” begin gesels en vir haar gevra om haar eie eksemplaar van die Bybel te bring. Aangesien sy gemeld het dat sy die Bybel al etlike kere deurgelees het en kerk toe gaan, het ons vir haar gevra of sy weet wat die tema van die Bybel is. Ons het Jesaja 9:5, Daniel 2:44, Mattheüs 6:10, ensovoorts saam gelees. Toe het ons vir haar gevra of sy nou kon sien wat die tema van die Bybel is, en sy het geantwoord: “Ja, dit is die Koninkryk!” Ons het toe vir haar tekste gelees wat verduidelik wat die voordele van die Koninkryksbewind oor die aarde sal wees. Ons was seker langer as ’n uur daar. Toe ons haar na Sondag se toespraak nooi, het sy gesê dat sy op haar eie sou kom indien sy besluit om te kom.

9 ‘En so waarlik! Ek kon my oë nie glo toe sy vanmore daar opdaag vir die vergadering nie. En sy het 4,8 kilometer van haar huis na die Koninkryksaal geloop. Sy het vir die hele program gebly en wil hê dat ons moet terugkom vir nog ’n bespreking. Ons het gereël om uit die boek Goeie nuus—om jou gelukkig te maak met haar te studeer. Maar die interessantste ding omtrent hierdie vrou is dat sy nog altyd baie teen die waarheid gekant was. Trouens, toe ons na haar deur toe geloop het, het my metgesel gedink hoe gekant hierdie vrou teen die boodskap was. Mense verander dus wel!’

MET DIE HULP VAN GOD SE GEES

10. Hoe vertel die Skrif van Jehovah se mag? (Jes. 46:9-11).

10 Jehovah se gees werk op dinamiese wyse. Waar hy na homself verwys as die Skepper van alles wat ons sien wanneer ons ons oë na die hemele opslaan, sê hy: “Vanweë die grootheid van kragte en omdat Hy sterk van vermoë is: daar word nie een gemis nie.” Die apostel Paulus vertel ook van daardie een magtige vertoon van Jehovah se krag, “die krag van sy sterkte wat Hy gewerk het in Christus toe Hy hom uit die dode [uit ’n toestand van nie-bestaan] opgewek het en Hom laat sit het aan sy regterhand in die hemele bo . . . [alles], nie alleen in hierdie wêreld nie, maar ook in die toekomstige.”—Jes. 40:26; Ef. 1:19-21.

11. Hoe beskryf Openbaring 11:7-12 ’n wonderlike, onverwagte gebeurtenis wat in ons dag vervul is?

11 As ons na ons eie dag kyk, vind ons dat die politieke “dier” wat in Openbaring 11:7 gemeld word, teen die vroeë noordelike somer van 1918 die gesalfde oorblyfsel, wat deur “twee getuies” afgebeeld is, ’n doodhou toegedien het, ’n einde aan hulle georganiseerde getuieniswerk gemaak het en die voorste lede van die Bestuursliggaam van Jehovah se Getuies per trein na die strafgevangenis geneem het om ’n vonnis van 20 jaar uit te dien. In die oë van hulle vyande was hulle soos lyke wat nie begrawe is nie. En toe? Die onverwagte ding het gebeur! In die noordelike lente van 1919, na ’n kort simboliese “drie en ’n halwe dag”, het “gees van die lewe uit God [dieselfde gees van die lewe wat Christus uit die dode opgewek het] in hulle [die twee getuies] ingegaan, en hulle het op hul voete gaan staan . . . En hulle het ’n groot stem uit die hemel vir hulle hoor sê: Kom op hierheen! En hulle het opgevaar na die hemel”, herstel in God se guns en met hernieude geestelike lewe en werksaamheid ten aanskoue van almal.—Openb. 11:7-12.

12. In watter voorsiening kan Jehovah se knegte altyd hulle vertroue stel, en hoe werk dit?

12 Die heilige gees of werkende krag van God af is te alle tye saam met Jehovah se waarlik toegewyde knegte. Jesus het vertel van sy hemelse Vader se bereidwilligheid om “die Heilige Gees [te] gee aan die wat Hom bid”, en dit is daardie gees wat ons as “vreugdevolle werkers” aan die gang hou (Luk. 11:13). Dit is soos Jesus gesê het: “Bid en julle sal ontvang, sodat julle blydskap volkome kan wees” (Joh. 16:24). Werk saam met daardie heilige gees en vertrou daarop. Paulus het geskryf: “Ek is tot alles in staat deur [hom] wat my krag gee” (Filip. 4:13, vgl. NW). En dink terug aan sy redenasie in Romeine 8:11: “As die Gees van Hom wat Jesus uit die dode opgewek het, in julle woon, dan sal Hy wat Christus uit die dode opgewek het, ook julle sterflike liggame lewend maak deur sy Gees wat in julle woon.” Wat ’n wonderlike versekering gee dit ons tog!

13. Wie benewens diegene met die hemelse hoop kan Jehovah se voorsienings deel en hulle daarin verheug? (Jes. 61:5-7).

13 Hoe wel party van hierdie tekste weliswaar veral van toepassing is op diegene met die hemelse hoop, die geestelike Israeliete, praat God se Woord ook van ’n “groot menigte” ander mense, en verwys by wyse van ’n vergelyking na hulle as “uitlanders”, nogtans nooi dit hulle ook om vreugdevolle werkers te wees. “En die uitlanders wat hulle by die HERE aangesluit het, om Hom te dien en om die Naam van die HERE lief te hê deur sy knegte te wees [en vir hom te werk] . . . hulle sal Ek bring na my heilige berg, en Ek sal hulle vreugde laat smaak in my huis van gebed; . . . want my huis sal ’n huis van gebed genoem word vir al die volke.”—Jes. 56:6, 7.

MEDEWERKERS VAN GOD EN CHRISTUS

14. Is dit ooit vir ons nodig om te dink dat ons alleen werk?

14 Hoe vertroostend is dit tog om te besef dat ons nie alleen werk nie! Jesus het die uitnodiging so mooi gestel: “Kom na My toe, almal wat vermoeid en belas is, en Ek sal julle rus gee. Neem my juk op julle [of, kom onder my juk met My] en leer van My, want Ek is sagmoedig en nederig van hart, en julle sal rus vind vir julle siele; want my juk is sag en my las is lig.”—Matt. 11:28-30.

15. Hoe moet die opsieners onder God se volk goeie leiding gee?

15 Ons behoort almal hierdie selfde gees te hê—een van samewerking met Jehovah en sy Seun. Die ouere manne sien die voorbeeld wat Christus Jesus gestel het en behoort die leiding te gee deur saam met ander te werk, veral in die huis-tot- huisdiens. Hoe aangenaam is dit tog wanneer daardie gees aan die dag gelê word! Paulus het ’n beroep op die Filippense gedoen met die woorde: “Maak dan my blydskap volkome deur [almal] eensgesind te wees en dieselfde liefde te hê, . . . Moenie iets doen uit selfsug of uit ydele eer nie, maar in nederigheid moet die een die ander hoër ag as homself”—sagmoedig, nederig.—Filip. 2:2, 3.

16, 17. Wat kan ons bemoedig wanneer ons gedurende die warmste deel van die dag dien?

16 Hoe wonderlik word God se knegte tog geseën wanneer hulle dien met dieselfde gees van selfopoffering as wat Jesus getoon het! Hulle word voorwaar vreugdevolle werkers, soos die voorbeelde hieronder toon:

GEDURENDE DIE WARMSTE DEEL VAN DIE DAG

17 ‘My vrou en ’n paar ander Getuies het velddiens gedoen gedurende die warmste deel van die dag. Daar was nog net een huis oor om te besoek en my vrou het soontoe gegaan. Sy het die meisie by die deur benader met ’n kommentaar oor die huidige toestande en vir haar gevra of sy dink dat enigiemand die probleme van die wêreld kan oplos. Hierdie jong dame het geantwoord dat dit snaaks is dat my vrou daardie vraag gestel het, aangesien sy en haar moeder so pas daardie einste onderwerp bespreek het. My vrou het daar en dan ’n studie begin, en aangesien ons net daar op besoek was, het sy dit aan ’n ander Getuie oorgegee. Ons het onlangs verneem dat nie net hierdie jong dame nie, maar vier ander persone met wie sy gepraat het, sedertdien hulle lewens aan Jehovah toegewy het as gevolg van daardie laaste besoek op ’n warm middag?

DIE GENOT VAN PIONIERDIENS

18-22. Watter voordele geniet voltydse knegte, en watter eienskappe is veral nodig? (Filip. 3:16).

18 ‘Ek moes eenvoudig aan julle skryf hoeveel ek my velddiens geniet. Dit is inderdaad ’n genot om te pionier, veral die afgelope paar maande. Ek beskou [die verandering in die vereiste aantal ure] as ’n groot seën van Jehovah . . . Talle van die vriende reël hulle sake so dat ons kan saamwerk in die diens. Ek vind dat ek my nie oor my tyd bekommer nie. Ek geniet dit nou om oor my herbesoeke en Bybelstudies te dink.

19 Jehovah het my verder geseën in die vorm van ’n progressiewe Bybelstudie. Ek wil graag hierdie ondervinding met julle deel. Ek het een Saterdagoggend in Julie van huis tot huis gewerk. Ek is by ’n huis ingenooi, en terwyl ons die Bybel bespreek het, het Carol, wat langsaan woon, daar aangekom. Toe sy sien dat ons Jehovah se Getuies is, wou sy sommer dadelik weet wat ons glo aangesien sy, soos sy gesê het, na die ware godsdiens gesoek het en dit nog nie gevind het nie. Toe ek sien hoe opreg sy is, het ek gereël om te kom en vir haar te wys hoe om haar Bybel te bestudeer.

20 ‘Meer as ’n maand het verloop voordat ek haar weer raakgeloop het; hierdie keer was dit in ’n kruidenierswinkel. Ek het aangebied om haar huis toe te neem en vir haar gevra of sy nog die Bybel wou bestudeer, en indien wel, wanneer ek haar tuis sou vind. ’n Hele aantal weke later het ek haar tuis gevind, en ons het ’n studie van twee uur gehad; sy het baie vrae gehad. Na nog ’n paar studies het die Getuie wat my vergesel het haar na die Koninkryksaal genooi, en sedert 10 Oktober het sy nog nie een vergadering gemis nie. . . . Sy besef dat dit nodig is om ’n hegte verhouding met Jehovah te hê en een van sy volk te wees. Sy sê dat die waarheid haar en haar kinders nader aan mekaar gebring het. Dit het haar kalmer en gelukkiger gemaak. Sy sê dat sy weet dat dit die waarheid is, want ons staaf alles uit die Bybel.

21 ‘Ek weet nie waar om te begin om Jehovah te bedank dat hy my toegelaat het om hierdie voorreg te geniet om met iemand te studeer en om te sien hoe daardie persoon in die waarheid vordering maak nie. Ek kan die waarde daarvan om ’n Bybelstudie te hê, sien. Dit het my selfs nog meer vasbeslote gemaak om aan te hou pionier om verdere geleenthede te hê om diegene te vind wat na die waarheid dors.’

DIE VREUGDE WAT NUWE STUDIES VERSKAF

22 ‘Ek is in Augustus 1960 gedoop. Dit is nou my vyfde jaar in die gewone pionierdiens, en ek het die voorreg gehad om meer as 50 persone te help om tot ’n kennis van die waarheid te kom. Ek het gemiddeld sowat ses Bybelstudies, maar hierdie maand sal ek agt rapporteer. Ek het gevind dat die deur-tot-deurvelddiens die beste manier is om studies te begin. Jy vind eers die belangstelling, doen dan ’n herbesoek en begin ’n Bybelstudie.’

DIE OES MOET VOORTGAAN!

23. Hoe is Jesus se laaste woorde in Mattheüs 28:20 ’n waarskuwing sowel as ’n aansporing?

23 Is daar nog mense wat gedurende hierdie oestyd ingebring moet word? Verslae uit die wêreldwye veld toon dat dit die geval is. Wat gaan ons daaromtrent doen? Gaan ons aanhou om saam met Christus Jesus, onder sy juk, te werk? Ons het die versekering dat hy reg tot die voleinding van die stelsel van dinge met ons sal wees. Laat ons dus aanhou werk totdat die oes heeltemal ingesamel is terwyl ons almal saam met Christus werk en almal vreugdevol saamwerk. Dit is die werk wat Jehovah wil hê dat sy volk vandag moet doen.

24, 25. (a) In watter opsig het ons meer rede om ons te verheug as wat Paulus gehad het? (b) Wat is ’n wonderlike aansporing om aan Jehovah se werk deel te neem? (1 Kor. 3:9).

24 Paulus het hom verheug omdat die “glorieryke goeie nuus van die gelukkige God” aan hom toevertrou is (1 Tim. 1:11, NW). Ons het sekerlik selfs meer rede om ons te verheug aangesien ons toevertrou is met die goeie nuus van die opgerigte Koninkryk wat “verkondig [moet] word in die hele wêreld tot ’n getuienis vir al die nasies” voordat die einde kom (Matt. 24:14). Indien die geboorte van Jesus ’n gepaste geleentheid vir die engel was om “’n goeie tyding van groot blydskap wat vir die hele volk sal wees” aan te kondig, is sy troonsbestyging as hemelse Koning ’n baie groter geleentheid vir vreugde, naamlik toe “die [koninkryk] van die wêreld . . . die eiendom van onse Here geword [het] en van sy Christus, en Hy sal as Koning heers tot in alle ewigheid” (Luk. 2:10; Openb. 11:15, vgl. NW). Hierdie verkondiging van die “goeie nuus” is die werk wat Jehovah wil hê dat sy volk vandag moet doen. As ons ons standpunt ferm aan die kant van daardie koninkryk inneem en lojaal die belange daarvan bevorder, sal dit selfs Jehovah se hart verbly. “Wees wys, my seun, en verbly my hart, sodat ek hom wat my smaad, kan antwoord gee.”—Spr. 27:11.

25 Wat ’n voorreg het ons tog! Wat ’n aansporing om vreugdevol saam met. Jesus Christus aan Jehovah se werk deel te neem!

    Afrikaanse publikasies (1975-2027)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel