Die bergpredikasie—‘Wees volmaak’: “Julle moet jul vyande liefhê”
NADAT hy gesê het dat sy toehoorders “’n slegte mens nie moet weerstaan nie”, het Jesus bygevoeg: “Julle het gehoor dat daar gesê is: Jy moet jou naaste liefhê en jou vyand moet jy haat.”—Matt. 5:39, 43.
Diegene wat by die Bergpredikasie aanwesig was, was Jode wat God se gebod “gehoor” het: “Jy mag nie wraakgierig of haatdraend teenoor die kinders van jou volk wees nie, maar jy moet jou naaste liefhê soos jouself.”—Lev. 19:18.
Die godsdiensleiers van Israel het egter klem gelê op die feit dat “die kinders van jou volk” en “jou naaste” net na Jode verwys het. Hulle het dit ook beklemtoon dat ander gebooie van God se wet vereis het dat Israeliete van ander volke afgesonder moet bly (Deut. 7:1-4). Hoewel dit na die afsondering van Israel as ’n nasie van ander volke verwys het, het die siening uiteindelik ontstaan dat alle nie-Jode ‘vyande’ was wat as indiwidue gehaat moes word. ’n Voorbeeld van hierdie gesindheid kan gesien word in die volgende aanhaling uit Die Misjna:
“Beeste mag nie in die herberge van heidene gelaat word nie, daar hulle van bestialiteit verdink word; ook mag ’n vrou nie alleen by hulle bly nie, daar hulle van ontugtigheid verdink word; ook mag ’n man nie alleen by hulle bly nie, daar hulle van bloedvergieting verdink word. Die dogter van ’n Israeliet mag nie ’n heidense vrou tydens ’n bevalling help nie, daar sy sou help dat ’n kind vir afgodery gebaar word, maar ’n heidense vrou mag die dogter van ’n Israeliet help. Die dogter van ’n Israeliet mag nie die kind van ’n heidense vrou soog nie, maar ’n heidense vrou mag die kind van die dogter van ’n Israeliet in laasgenoemde se gebied soog.”—Verhandeling Abodah Zarah (“Afgodery”) 2:1.
“Maar Ek sê vir julle”, het Jesus in verkwikkende teenstelling gesê, “Julle moet jul vyande liefhê; . . . bid vir die wat julle beledig en julle vervolg” (Matt. 5:44). Hier sien ons verdere getuienis dat die Seun van God nie gekom het om die geskrewe wet van God “te ontbind nie, maar om [dit] te vervul”, want daardie Wet het beveel dat vreemdelinge bedagsaam en vriendelik behandel moet word.—Matt. 5:17; Ex. 22:21; 23:4, 5; Lev. 19:33, 34; Deut. 10:19.
Maar Jesus het nie bedoel dat hierdie beginsel tot Heidense vyande van Israel beperk moet word nie. Hy wou hê dat sy volgelinge liefdevol moet optree teenoor almal wat vyandig teenoor hulle is. Lukas, wat veral vir nie-Jode skrywe, teken Jesus se woorde soos volg aan: “Maar Ek sê vir julle wat luister: Julle moet jul vyande liefhê en goed doen aan die wat vir julle haat. Seën die wat vir julle vervloek, en bid vir die wat julle beledig.”—Luk. 6:27, 28.
Volgens Jesus moes diegene wat “luister”, dit wil sê, wat werklik ter harte neem wat hy sê, ’n drievoudige aspek van haat met ’n ooreenstemmende drievoudige blyk van liefde bestry: (1) Hulle moes “goed doen aan die wat vir [hulle] haat”, ’n vyand se vyandigheid met vriendelike dade beantwoord. (2) Wanneer haat in beledigings uitbars, moes hulle ‘die wat hulle vervloek, seën’. Volgelinge van Jesus moet liewer vriendelik en bedagsaam met hulle teenstanders praat as om vloek met vloek te vergeld. (3) As vyandskap verder gaan as beledigings en oorgaan tot daadwerklike ‘vervolging’ van Christus se dissipels deur fisiese geweld of ander “beledigende” mishandeling, moet hulle “bid vir” die vervolgers en God liefdevol smeek dat hulle teenstanders ’n hartsverandering sal ondergaan en in God se guns sal kom.—Vergelyk Romeine 12:14-21; 1 Korinthiërs 4:12; 1 Petrus 3:8, 9.
Toe het Jesus ’n kragtige rede gegee waarom ’n mens aan jou vyande liefde moet betoon: “Sodat julle kinders kan word van julle Vader wat in die hemele is” (Matt. 5:45a). Vir die voordeel van sy Heidense lesers vervang Lukas die sinsnede julle Vader wat in die hemele is”, met “die Allerhoogste”.—Luk. 6:35a.
Persone wat gehoor gee aan Jesus se raad word “kinders” van God in die sin dat hulle hom navolg deur sy onpartydige welwillendheid teenoor vriend sowel as vyand te weerspieël. (Vergelyk Mattheüs 5:9; Efesiërs 4:31-5:2; 1 Joh. 3:9-12.) God stel ’n volmaakte voorbeeld, want “Hy laat sy son opgaan oor slegtes en goeies, en Hy laat reën op regverdiges en onregverdiges” (Matt. 5:45b); “Hy self is goedertieren oor die ondankbares en slegtes.”—Luk. 6:35b.
Om te beklemtoon hoe belangrik dit is dat sy toehoorders aanhou om ‘hulle vyande lief te hê’, het Jesus bygevoeg: “Want as julle liefhet die wat vir julle liefhet, watter loon het julle? Doen die tollenaars nie ook dieselfde nie? En as julle net jul broeders groet, wat besonders doen julle dan? Doen die tollenaars [die mense van die nasies, NW] nie ook so nie?”—Matt. 5:46, 47.
Persone wat God graag wil navolg, moenie hulle betoning van liefde beperk tot indiwidue wat hulle dieselfde behandel nie. Dit sou geen spesiale “loon” of guns by God verdien nie. Selfs “tollenaars” was gewoond om liefde te betoon aan diegene wat hulle liefgehad het, hoewel die Jode hulle as van die veragtelikste mense beskou het.—Luk. 5:30; 7:34.
Die gewone begroeting onder Israeliete het die woord shalom (“vrede”) ingesluit, wat te kenne gegee het dat die persoon wat begroet word gesondheid, welsyn en voorspoed toegewens word. As so ’n begroeting beperk word tot persone wat as “broeders” beskou word, sou dit niks “besonders” wees nie, want so iets kon ook gesien word onder die “mense van die nasies”, wat deur die Jode beskou is as goddeloos, onrein en as persone wat vermy moes word.
Lukas se Evangelie, wat met nie-Jode in gedagte geskrywe is, vervang die uitdrukking “tollenaars” (wat in hierdie verband net vir die Jode betekenisvol sou wees) met die meer algemene uitdrukking “sondaars”. Ons lees: “En as julle dié liefhet wat vir julle liefhet, watter dank het julle? Want die sondaars het ook dié lief wat vir hulle liefhet. En as julle goed doen aan die wat aan julle goed doen, watter dank het julle? Want die sondaars doen ook dieselfde. En as julle leen aan dié van wie julle hoop om terug te ontvang, watter dank het julle? Want die sondaars leen ook aan die sondaars, om net soveel terug te ontvang.”—Luk. 6:32-34.
Jesus het hierdie deel van die Bergpredikasie afgesluit met die woorde: “Wees julle dan volmaak soos julle Vader in die hemele volmaak is.”—Matt. 5:48.
Dit is nie ’n bevel vir die dissipels van Jesus om fisies en moreel vlekkeloos te word nie, want weens oorgeërfde sonde is dit tans onmoontlik (Rom. 3:23; 5:12). Hierdie woorde moedig mense eerder aan om die “Vader in die hemele”, Jehovah, na te volg deur hulle liefde te vervolmaak, dit af te rond en volkome te maak deur hulle vyande ook lief te hê. In ooreenstemming hiermee lui Lukas se parallelle verhaal: “Wees dan barmhartig, soos julle Vader ook barmhartig is.”—Luk. 6:36.