Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w78 11/1 bl. 23-24
  • Vrae van lesers

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Vrae van lesers
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1978
  • Soortgelyke materiaal
  • Wat maak ’n mens onrein?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1987
  • Wat maak ’n mens onrein?
    Die grootste mens wat nog geleef het
  • Wat maak iemand nou eintlik onrein?
    Jesus – Die weg, die waarheid, die lewe
  • Markus—“Nuttig om diens te verrig”
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2010
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1978
w78 11/1 bl. 23-24

VRAE van LESERS

• Hoe kon Jesus, in die lig van die verskriklike vernietiging van Dresden, Stalingrad, Hirosjima en Nagasaki tydens die Tweede Wêreldoorlog, die dinge wat Jerusalem in 70 G.J. getref het, beskryf as ’n ‘groot verdrukking soos daar nog nooit gewees het nie en ook nooit sal wees nie’?

Daardie profesie het ’n toekomstige toepassing gehad wat vervul sou word na dit wat in 70 G.J. met Jerusalem en die Jode gebeur het, maar dit was ook waar van die geskiedenis van daardie stad en nasie.

Daardie woorde maak deel uit van Jesus se profetiese antwoord op sy apostels se vraag oor sy toekomstige teenwoordigheid en die voleinding van die stelsel van dinge (Matt. 24:3, 21; Mark 13:19). Jehovah se Getuies het al dikwels daarop gewys dat baie van die dinge wat Jesus hier voorspel het twee vervullings gehad het: Eerstens, ’n beperkte vervulling in die verwikkelinge wat aanleiding gegee het tot en tydens die Romeinse vernietiging van Jerusalem en die Joodse stelsel van dinge in 70 G.J. Tweedens, ’n groter toepassing sedert 1914 G.J., toe Jesus se hemelse teenwoordigheid as koning van die Messiaanse koninkryk begin het, en dit sluit die toekomstige einde van die wêreldwye goddelose stelsel van dinge in.—Kyk Die Wagtoring van 1 April 1970, bladsye 151-165, en God’s Kingdom of a Thousand Years Has Approached, bladsye 293-331.

In daardie profesie het Jesus beklemtoon dat dit nodig is om wakker te bly en gereed te wees. Hy het gesê: “Bid dat julle vlug nie in die winter of op die sabbat mag plaasvind nie. Want dan sal daar groot verdrukking wees soos daar van die begin van die wêreld af tot nou toe nie gewees het en ook nooit sal wees nie.”—Matt. 24:20, 21.

Vir Christene wat in Jerusalem en Judea gewoon het en wat regstreeks deur die einde van die Joodse stelsel van dinge geraak sou word, was die waarskuwing om wakker te bly lewensbelangrik. Die Romeinse leërs het die stad in 66 G.J. omring, maar het toe onverwags teruggetrek. Dit was die spesifieke teken wat Jesus in Lukas 21:20-22 gemeld het. En die geskiedenis vertel vir ons dat gehoorsame Christene gereageer het deur uit die stad Jerusalem en Judea te vlug. Dit is dus redelik om Jesus te volgende woorde in verband met die “groot verdrukking” ook op die letterlike stad Jerusalem en Judea toe te pas.

Die vernietiging deur die Romeine in 70 G.J. was groter en verskrikliker as toe die Babiloniërs die stad Jerusalem in 607 v.G.J. verwoes het. Daarbenewens het die verdrukking in 70 G.J. die permanente verwoestende einde van die Joodsgeboude stad en tempel en die godsdiens wat daarmee gepaard gegaan het, gebring. Jesus het dus reg gehad toe hy die gebeure van 70 G.J. profeties beskryf het as ’n “groot verdrukking . . . soos daar van die begin van die wêreld af tot nou toe nie [op daardie stad, nasie en stelsel van dinge] gewees het en ook nooit sal wees nie”.

Maar dit is nie al nie. Ons is ook betrokke. Waarom? Omdat Jesus se woorde in Mattheus 24:21 klaarblyklik ’n groter betekenis het. Christus se onsigbare teenwoordigheid as Messiaanse koning wat oor die aardbol heers, het nie in 70 G.J. begin nie. Hy het self getoon dat die mense dit nie eens moes verwag nie. Toe die dissipels eenkeer “gedink het dat die koninkryk van God onmiddellik sou verskyn”, het Jesus die gelykenis van die ponde vertel. Dit het gegaan oor ‘’n sekere man wat na ’n ver land gereis het om vir homself ’n koningskap te ontvang en dan terug te kom’, en dit het getoon dat sy bewind as Messiaanse koning nog iets in die verre toekoms was.—Luk. 19:11-27.

Die wêreldwye vervulling van Jesus se profesieë oor ongeëwenaarde oorlog, hongersnood, aardbewings, ensovoorts in een geslag, bevestig dat die beperkte vervulling op Jerusalem voor 70 G.J. maar slegs ’n tipe was van wat ons ervaar.a Gevolglik is die hede die voleinding van die hele goddelose stelsel van dinge, wat ’n hoogtepunt sal bereik in ’n “verdrukking . . . soos daar nie gewees het van die begin van die skepping af . . . nie” (Mark. 13:19). Dit sal baie groter wees as wat in 70 G.J. met Jerusalem, Judea en die Joodse stelsel van dinge gebeur het. Trouens, dit sal selfs groter wees as die vloed van Noag se tyd toe die hele “wêreld met water oorstroom is en vergaan het” (2 Pet. 3:6). Dit sal nie beperk word tot sekere enkele stede soos dié wat tydens onlangse oorloë vernietig is nie. Dit sal al die persone raak wat op die aardbol lewe, en hulle tel nou sowat 4 000 000 000.—2 Pet. 3:7-13.

Die akkuraatheid van Jesus se woorde in Mattheus 24:21 ten opsigte van wat in 70 G.J. gebeur het, moet die sekerheid van die groter toepassing van hierdie woorde in ons tyd by ons tuisbring.

• Wat word bedoel in Markus 7:19 (NW) waar ons lees: “So het hy [Jesus] alle voedsel rein verklaar”?

Die gedagte is basies dat ’n persoon nie geestelik besoedel raak deur wat hy eet nie, soos wanneer hy kos eet met hande wat nie volgens ’n bepaalde godsdiensritus gewas is nie.

Soos die verband van Markus 7:19 toon, het Fariseërs en skrifgeleerdes ’n geskil daarvan gemaak omdat Jesus se dissipels met “onrein, dit is met ongewaste, hande” geëet het, terwyl die godsdiensleiers ‘nie geëet het as hulle nie deeglik die hande gewas het nie’ (Mark. 7:1-3). Jesus het hulle tereg aan die kaak gestel omdat hulle aan mensgemaakte oorleweringe vashou terwyl hulle gewigtige beginsels van God oor die hoof sien, soos om vir hulle ouers te sorg. Hy het voortgegaan: “Daar is niks wat van buite af in die mens ingaan wat hom onrein kan maak nie; maar die dinge wat van hom uitgaan, dit is die dinge wat die mens onrein maak.”—Mark. 7:5-15.

Christus se volgelinge het hom toe gevra wat hy bedoel. Markus se verslag lui verder: “[Jesus] sê vir hulle: . . . ‘Besef julle nie dat niks wat van buite af in die mens ingaan, hom kan verontreinig nie, omdat dit nie in sy hart ingaan nie, maar in sy ingewande, en in die riool verdwyn nie?’ So het hy alle voedsel rein verklaar.”—Mark. 7:18, 19, NW.

Die grammatikale konstruksie van die laaste deel van vers 19 is ongewoon in die oorspronklike Grieks, maar baie vertalers beskou dit as ’n kommentaar wat deur die skrywer Markus bygevoeg is. Maar waarom sou Markus byvoeg: “So het hy alle voedsel rein verklaar”?

Markus se kommentaar sou redelikerwyse strook met die historiese toestand wat geheers het toe Jesus sy woorde uitgespreek het. Op daardie tydstip was die Mosaïese wet nog van krag, sodat sekere voedselsoorte, soos varkvleis, vir God se knegte “onrein” was. Dit was die geval totdat Jesus se dood ’n einde gebring het aan die Wet met sy dieetbeperkings in verband met rein en onrein voedsel.—Vergelyk Levitikus hoofstuk 11; Kolossense 2:13, 14; Handelinge 10:9-16.

Markus het dus logies verwys na voedsel wat “rein” was uit die standpunt van die Mosaïese wet wat toe nog van krag was. Die tradisievaste godsdiensleiers het gedink dat selfs sulke voedsel hulle onrein sou maak as hulle dit eet sonder om eers omslagtige reinigingsritusse te volg. En hulle het hierdie ritusse wat nie ’n deel van God se wet nie maar mensgemaakte oorleweringe was op alle gelowiges probeer afdwing. Toe Jesus gewys het hoe verkeerd die godsdiensleiers se denke was, kon Markus dus tereg ’n kommentaar byvoeg om te verduidelik wat Jesus bedoel het. Ja, voedsel wat die Mosaïese wet toegelaat het, sou nie die eter daarvan verontreinig net omdat hy nie sy hande op ’n ritualistiese wyse gewas het nie.

[Voetnoot]

a Kyk Ware vrede en veiligheid—uit watter bron?, bladsye 78-89.

    Afrikaanse publikasies (1975-2027)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel