DIE “GOEIE NUUS” BEREIK ’n “uiterste” deel van die aarde
AUSTRALIË, die “Eilandkontinent”, wat die land “aan die ander kant van die wêreld” genoem word, is groter as enige land in westelike Europa. Nogtans is dit die tuiste van slegs 13 1⁄2 miljoen persone van verskillende nasionaliteite.
In hierdie ylbevolkte land van sowat 7 770 000 vierkante kilometer is die terrein en klimaat baie uiteenlopend. Dit wissel van die tropiese noorde tot die dorre binneland, van die grootste koraalrif in die wêreld—die Groot Barrière-rif, wat wemel van lewe—tot die reusagtige, barre Ayers-rots, in ’n verlate omgewing. Die oostelike deel van Australië is ryk aan gesaaides soos suikerriet, koring en ander graansoorte. Omtrent 61 persent van die bevolking word hier aangetref.
Maar wanneer die reisiger die Groot Skeidingsreeks oorsteek wat van noord na suid langs die oostelike kus strek, verander die landskap van welige kusland tot golwende heuwels en dan tot vlaktes en halfwoestyn. In die hartjie van Australië, waar Ayers-rots geleë is, is daar talle soutmere en woestyne. Die droë toestande van die groot Australiese vlakte het hierdie eilandkontinent ideaal gemaak vir wolproduksie en gunstig vir beesboerdery. In die “agterveld”-gebiede is die veeplase of “stations”, soos hulle genoem word, baie groot.
Weens hierdie redes bied Jesus se bevel ‘julle sal my getuies wees tot aan die uiterste van die aarde’ ’n uitdaging wat vandag die hoof gebied word (Hand. 1:8). Laat ons sowat 70 jaar na die begin teruggaan en die ervaringe van diegene wat in hierdie uiterste deel van die aarde aan die verkondiging van die “goeie nuus” deelgeneem het, herleef.
Teen die einde van die 19de eeu, toe die kolonisasie nog net omtrent 100 jaar aan die gang was, het ’n aantal Bybelgeoriënteerde persone eksemplare van publikasies van die Internasionale Bybelstudente, soos Jehovah se Getuies destyds bekend gestaan het, van familielede en vriende oorsee ontvang. Ook het daar omstreeks hierdie tyd Bybelstudente wat uit Brittanje geëmigreer het in Perth, Wes-Australië, en Brisbane, Queensland, aangekom en in hierdie stede gemeentes gestig.
TAKKANTOOR EN DRUKKERY
In 1904 is daar ’n takkantoor van die Bybelstudente in Melbourne, Victoria, gestig om die werk in Australië en Nieu-Seeland te behartig. By ’n byeenkoms in Melbourne in 1915 was daar 250 aanwesig en is 14 gedoop. Teen 1935 het 30 uitsaaistasies die afgeleë dele van Australië, sowel as die bevolkte sentrums, met Bybelwaarheid bereik.
In Maart 1929 is die hoofkantoor van Melbourne na Sydney verskuif. Dit is in 1932 vergroot. Toe is daar in 1972 ’n groot drukkery op die terrein opgerig om “Die Wagtoring” en “Ontwaak!” te druk. Die geriewe word tans verder uitgebrei. Sowat 60 mans en vroue dien by hierdie takkantoor.
Dit het baie inspanning en verduring van ontberinge geverg om die mense in afgeleë dele te bereik. Selfs vandag nog is daar net een pad wat die ooste van die land met die weste verbind—’n afstand van sowat 4 000 kilometer. Afgesien van die ooskusstreek waar die grootste deel van die bevolking saamgetrek is, is die enigste verbindings tussen die noorde en die suide ’n roete deur die hart van die vasteland en ’n baie afgesonderde pad al langs die mineraalryke weskus op.
DIE HARDE LEWE IN DIE “AGTERVELD”
Wyle Bert Horton het hom in 1921 in die myndorp Kalgoorlie, in Wes-Australië, by die Bybelstudente aangesluit. Horton het vertel: “Ek het my aansoek ingestuur om ’n ‘pionier’ (soos ’n voltydse verkondiger van die Koninkryk genoem word) te wees. Ek het my toewysing gekry—die hele staat Wes-Australië!” Saam met Frank Rice en twee ander mans het Horton ’n tweebedvoertuig met kookgeriewe en ander benodigdhede toegerus vir lewe op die pad. Hulle het toe met hulle voertuig oor die uitgestrekte Nullarbor-vlakte gereis en al die afgeleë dorpe in die staat besoek. Een van die mans vertel: “Daar was destyds geen paaie nie; ons het dus bloudrukke van ’n oliemaatskappy gekry en van tenk tot tenk (afgesonderde plekke waar daar water verkrygbaar was) gery. Ons het twee 44-gellingdromme vol petrol en voorrade water en voedsel saamgeneem. Ons het by die veeplase langs die pad aangegaan en met die mense oor die Bybel gepraat.”
Nog ’n “pionier” wat baie tyd in die agterveld deurgebring het, is Arthur Willis. Hy het in 1933 saam met twee metgeselle vertrek om die afgeleë noordelike deel van Wes-Australië, aan die bo-punt van die land, te dek. Willis berig: “In daardie dae was die reisiger geregtig op vry vleis. By enige veeplaas waar ons aangegaan het, kon ons kies wat ons wou hê. Onder die plaasmense en in die dorpe het ons party gevind wat na die waarheid geluister en dit aangeneem het.” Hulle het van Darwin in die verre noorde af vertrek en suidwaarts na Katherine gereis en het toe oos gedraai na Queensland en die kus. “Destyds was daar geen teerpaaie in die gebied nie”, herinner hy hom, “en ek onthou hoe ons deur westelike Queensland gekom het, waar dit ons drie dae geneem het om 100 myl [160 kilometer] deur die swart turf af te lê. Die modder het partymaal so aan die wiele aangepak dat hulle nie meer wou draai nie. Dan moes ons die modderskerms afhaal om enigsins oor die weg te kom.”
In 1936 het Arthur Willis en Bill Newlands ’n selfs langer reis onderneem om die afgeleë streke van die land te bereik. Met ’n een-en-’n-halftonbakkie het hulle van Sydney af vertrek op ’n reis van 19 300 kilometer wat meer as ’n jaar sou duur. Van Sydney af het hulle reg wes gery totdat hulle die middel van die land bereik het; toe het hulle noord gedraai na Darwin en daarna met die weskus langs na Perth gereis. Gedurende hierdie reis het hulle 800 kilometer die binneland in en ten noorde van Adelaide in Suid-Australië, ’n man met die naam Charles Bernhardt ontmoet. Hierdie plan het omtrent drie jaar tevore met die Koninkryksboodskap in aanraking gekom toe twee “pioniers” die hitte en afsondering verduur en van Adelaide na Alice Springs en terug gereis het. Toe Willis en Newlands daar kom, wou Bernhardt graag gedoop word. Hy het twee hotelle in Coward Springs en William Creek besit, en menigeen het van toe af deur hom van die “goeie nuus” gehoor. Op die leeftyd van 85 jaar dien Bernhardt nog steeds as ’n “pionier” en onderneem hy elke jaar etlike reise in ’n vierwielaangedrewe voertuig na die afgeleë gebiede van Suid-Australië.
Hierdie selfde gees word in die volgende ervaring van nog een van hierdie “agterveldpioniers”, Joe Bell, getoon. Met ’n toewysing 480 kilometer noordwes van Brisbane het Bell destyds met ’n fiets na die afgeleë veeplase gery. Dit was harde, warm werk, sê hy: “Op baie plekke moes ek my fiets dra want ek het heeltyd in sandbanke vasgesit waar daar feitlik geen pad was nie. Party van hierdie reise was baie gevaarlik. In die oop veld was die enigste lewende skepsele wat gesien kon word swerwende kuddes osse. Hulle kon partymaal gevaarlik wees, daar hulle baie nuuskierig is en sou kom kyk wat dit was wat na hulle toe aankom. ’n Hele paar maal moes ek in ’n boom in vlug en ure lank wag totdat hulle verder wei en my die geleentheid gee om my reis voort te sit.”
’n Ander “pionier”, Aubrey Baxter, het met ’n fiets duisende kilometer ver deur sentrale en noordelike Queensland gery. Hy herroep sy ondervinding: “Ons het ons partymaal in interessante situasies bevind. Ek was een nag ’n gas by ’n groot veeplaas en het die volgende nag baie kilometer daarvandaan by ’n kangaroejagter oorgebly. Ek het op die grond in sy klein hutjie geslaap, omring deur honderde onwelriekende kangaroevelle. Om te probeer slaap met honderde dingo’s [inheemse wildehonde] in die omtrek was ook nie maklik nie.”
SENDELINGE ARRIVEER
Teen die einde van die veertigerjare het daar ’n aantal gegradueerdes van die Wagtoring-Bybelskool Gilead, ’n sendingskool van die Getuies wat in die Verenigde State gestig is, gearriveer om te help om die “goeie nuus” te versprei. Twee van daardie gegradueerdes was John Cutforth en Donald MacLean, uit Kanada. Albei mans het baie jare lank as reisende kringopsieners gedien. MacLean haal die volgende herinneringe op: “Hoe skokkend was dit om te verneem dat my eerste Australiese kring by die antipodes van Gileadskool geleë was—suidwestelike Australië! Ek is na die uiterste van die aarde toe gestuur!” MacLean vertel van een van sy ervaringe: “As nuwe aankomelinge het ons soms kostelike oomblikke beleef terwyl ons deur afgeleë gebiede gereis het. My eerste ontmoeting met ’n klomp emoes [groot volstruisagtige voëls] was interessant maar onthutsend. Terwyl ek met die motorfiets op pad was deur ’n deel van die agterveld het ek ’n familie emoes teengekom wat my weg versper het. Hulle is uiters nuuskierige voëls en was blykbaar aangelok deur die glinstering van my chroomspieël en -stuurstang in die sonlig. Omdat ek nie geweet het hoe om met emoes te werk nie, het ek huiwerig gevoel om deur die trop te jaag en moontlik my lewe in gevaar te stel; ek het dus die motorfiets tot stilstand gebring. Die groot voëls was glad nie van plan om pad te gee nie en het ’n geruime tyd daar gestaan. Ek het dus maar besluit om tot aksie oor te gaan. Ek het die toeter geblaas en die enjin laat brul. Die emoes het net nader gekom—hulle nuuskierigheid het toegeneem. Dit het my ontsenu, om dit maar saggies te stel! Ek het besluit om dit te waag om deur die trop te jaag, wat maar net effens padgegee het om my te laat verbykom. Toe het die voëls my al met die kant van die pad langs begin jaag. Ek het tot 35 myl [56 kilometer] per uur versnel, maar gevind dat die emoes nog steeds by my verbykom. Eers toe ek 40 myl [64 kilometer] per uur bereik, kon ek van hulle af wegkom, tot my groot verligting!”
MacLean onthou nog sy eerste besoek aan die negosiewinkel en hotel van Charles Bernhardt, van wie vroeër melding gemaak is: “By my aankoms op William Creek het ek gevind dat die trein taamlik lank stilhou, terwyl die manne vir al wat hulle werd is, afsit kantien toe om hulle voorraad koue bier te kry. Toe ek in die kantien kom, was ek verbaas om ’n plakkaat teen die muur te sien wat die volgende uitnodiging aan die manne rig: ‘Lees “Die Wagtoring” wat Jehovah se koninkryk, die hoop van die wêreld, aankondig.’ ’n Tweede plakkaat het hulle aangespoor: ‘Lees “Ontwaak!”’ Tydskrifte, boekies en boeke was op die kantientoonbank verkrygbaar. Toe almal uiteindelik bedien was en genoeg gehad het, het Bernhardt die manne om hulle aandag gevra: ‘Menere, kan ek asseblief julle aandag kry? Ek nooi julle om eksemplare te kry van die beste tydskrifte op aarde vandag.’ Elkeen van die manne het daarna eksemplare van “Die Wagtoring” en “Ontwaak!” geneem, vir hulle bygedra, hulle in sy sak gesteek, ’n sak bier oor sy skouer gegooi, en teruggegaan trein toe. Terwyl hulle in Bernhardt se kantien gedrink het, het niemand gevloek of vuil taal gebruik nie, uit eerbied vir die Christelike reputasie van die bestuurder. Bernhardt het dan die “goeie nuus” vir almal op die trein aangebied; die masjinis het eerste aan die beurt gekom.
Vandag hoor die hele Australië gereeld die “goeie nuus” deur die werksaamhede van 525 gemeentes. Reisende opsieners besoek alle dele van die land, en daar is meer as 28 000 bedrywige getuies van Jehovah in die land.
INBOORLINGE HOOR DIE “GOEIE NUUS”
Volgens ’n sensus in 1971 is daar net sowat 106 000 inboorlinge en hulle woon meesal in die binneland en agterveld. Groot moeite is gedoen om hulle te bereik. Ben Brickell wat tot met sy dood etlike jare gelede 44 jaar in die voltydse diens bestee het, het honderdduisende kilometer per trapfiets, motorfiets en motor afgelê en met inboorlinge op veeplase en in nedersettings gepraat. Om die boodskap duidelik te maak, het hy illustrasies en tabelle gebruik. Tydens een besoek aan die Wave Hill-omgewing in die Noordelike Gebied het Brickell omtrent ’n uur by 80 inboorlinge deurgebring wat met gekruiste bene op die grond gesit het terwyl hy God se voornemens met behulp van tekeninge wat Bybelgebeurtenisse en -beloftes uitbeeld vir hulle uiteengesit het. Brickell het welbekend geraak in Australië vir sy werk onder die inboorlinge en in die agterveld. By ’n ander geleentheid het hy, enkele kilometer van Alice Springs af, in die hartjie van die land, ’n groep van oor die 100 inboorlinge toegespreek. ’n Paar inboorlinge het getroue Koninkryksverkondigers geword.
Met sy uitgestrektheid, grotendeels onherbergsame binneland en yl bevolking, bied Australië ’n uitdaging, maar die sade van God se Woord wat deur die jare heen onder sy inwoners versprei is, het vrugte afgewerp, soms op wonderlike maniere.
Van die digbevolkte en geïndustrialiseerde stede aan die kus af tot by die “rooi hart” van die vasteland word die goeie nuus van God se inkomende wêreldregering verkondig. Omstreeks 1940 was die verhouding van Jehovah se Getuies tot die bevolking 1 tot 2 764. Maar nou is 1 uit elke 483 persone in Australië ’n bedrywige getuie van Jehovah. Hier, in een van die uiterste dele van die aarde, word Jesus se bevel dus uitgevoer.