Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w78 10/1 bl. 3-6
  • Kan lewe toevallig ontstaan?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Kan lewe toevallig ontstaan?
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1978
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • CHEMIESE EWOLUSIE, DIE JONGSTE GISSING
  • PARTY VALSTRIKKE
  • NOG VALSTRIKKE
  • HULLE STUIT NIE VOOR DIE ONMOONTLIKE NIE
  • IS JY LIGGELOWIG OF LOGIES?
  • Kan lewe per toeval ontstaan?
    Lewe—Hoe het dit hier gekom? Deur evolusie of deur die skepping?
  • Wat is die oorsprong van lewe?
    Is daar ’n Skepper wat vir jou omgee?
  • Lewe—’n Verstommende versameling kettings
    Ontwaak!—2005
  • Hoe het lewe begin?
    Vyf belangrike vrae oor—Die oorsprong van lewe
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1978
w78 10/1 bl. 3-6

Kan lewe toevallig ontstaan?

Indien daar geen Skepper is nie, moes lewe vanself ontstaan het. Talle glo dat dit die geval is. Maar steun toenemende kennis hierdie beskouing?

DIE eertydse Egiptenare het gesien hoe miskruiers skielik uit die grond kom en het geglo dat hulle hulself voortgebring het. “The Encyclopedia Americana” sê: “Ontsaglike aantalle miskruiers is dikwels op die oppervlak van die modderoewers langs die Nylrivier aangetref, en dit het die geloof in spontane generasie gestaaf” (DI. 24, bl. 336, uitgawe van 1977). Maar wat het in werklikheid gebeur? Miskruierwyfies het ’n bolletjie mis opgerol, eiers daarin gelê en dit begrawe. Die eiers het uitgebroei, larwes het die mis geëet en later as miskruiers uitgekom. Daar was toe glad nie spontane generasie nie.

Die Griekse filosowe het die spontane generasie van lewe verkondig. In die vyfde eeu v.G.J. het beide Anaxagoras en Empedocles daaraan geglo. ’n Eeu later het Aristoteles geglo dat wurms en slakke die produkte van verrotting is. Selfs tot in die 17de eeu G.J. het wetenskaplikes soos Francis Bacon en William Harvey spontane generasie verkondig.

In daardie selfde eeu het Redi egter getoon dat maaiers slegs in vleis verskyn het nadat vlieë eiers daarop gelê het. Bakterieë is ontdek, en hulle is begroet as bewys van spontane generasie, totdat Spallanzani in die 18de eeu getoon het dat hulle van spore kom. ’n Eeu later het Pasteur die saak beslis. Hy het bewys dat lewe slegs uit lewe voortkom. Wetenskaplikes aanvaar nou daardie beskouing, maar talle hou vol dat lewe sowat twee- of drieduisend-miljoen jaar gelede spontaan ontstaan het.

CHEMIESE EWOLUSIE, DIE JONGSTE GISSING

Talle wetenskaplikes meen dat ’n primitiewe atmosfeer bestaande uit metaan, ammoniak, waterdamp, koolstofdioksied en ’n paar ander gasse deur ultraviolette strale gebombardeer is sodat die molekules in atome verdeel is, en dié het dan weer gekombineer om animosure, die boustene van proteïene, te vorm. Daar word vir ons vertel dat hierdie en ander organiese verbindings in water versamel het, ’n membraan verkry het en ’n lewende sel geword het; dit het moontlik aanvanklik sy energie uit metaan verkry, later uit gisting. Daar word gesê dat die sel later die fotosinteseproses moes “uitvind”. Maar kon ’n eenvoudige sel ditself werklik op hierdie wyse voortbring en onderhou? Selfs die beste wetenskaplikes sal immers nederig erken dat hulle fotosintese nie volkome verstaan nie, wat nog te sê kan nadoen!

PARTY VALSTRIKKE

Talle wetenskaplikes onderskryf die teorie dat die sel aldus spontaan geëwolueer het. Maar hulle teorie het talle en baie, baie diep valstrikke!

Eerste valstrik: Dit is ’n vermetele aanname dat die aarde se primitiewe atmosfeer die nodige gasse in die regte verhoudings bevat het om die kettingreaksie te laat ontstaan. Daar is geen bewys om dit te staaf nie.

Tweede valstrik: Indien so ’n atmosfeer wel bestaan het, en indien die aminosure voortgebring is, sou hulle deur dieselfde energiebron vernietig word wat die metaan en ammoniak en waterdamp gesplit het. Aminosure is baie ingewikkelde molekules; gevolglik is hulle minder stabiel en word hulle makliker vernietig—net soos dit makliker is om ’n stapel van tien bakstene om te stamp as ’n stapel van drie. Nadat hulle hoog in die atmosfeer gevorm is, sou sulke aminosure dit nouliks kon oorleef om water op aarde te bereik, en indien hulle dit wel bereik het, sou hulle nie lank genoeg hier voortbestaan om in die “sop” van die ewolusieteorie gekonsentreer te raak nie. Die volgende aanhalings uit ’n artikel deur dr. D. E. Hull in die wetenskaptydskrif Nature van 28 Mei 1960 bevestig dit:

“Hierdie kort bestaan voor ontbinding in die atmosfeer of oseaan sluit duidelik die moontlikheid uit dat bruikbare hoeveelhede organiese verbindings deur die millenniums heen versamel het. . . . die hoogste toelaatbare waarde lyk hopeloos laag as bronmateriaal vir die spontane generasie van lewe. Die gevolgtrekking uit hierdie argumente bied die ernstigste hindernis, indien nie ’n noodlottige nie, vir die teorie van spontane generasie. Eerstens, termodinamiese berekeninge voorspel verdwynende klein konsentrasies van selfs die eenvoudigste organiese verbindings. Tweedens, die reaksies wat gebruik word om sulke verbindings op te bou, is baie doeltreffender om hulle af te breek.”

Toe wetenskaplikes tydens ’n eksperiment ’n noukeurig voorbereide gasmengsel aan ’n elektriese ontlading onderwerp het, het ’n paar van die eenvoudigste aminosure wel opgehoop, maar slegs omdat hulle gou uit die gebied verwyder is. Indien hierdie aminosure aan die ontlading blootgestel gelaat is, kan die situasie vergelyk word met wat sou gebeur indien een man bakstene maak en ’n ander hulle met ’n hamer stukkend slaan sodra hulle gemaak is. ’n Ketting van etlike honderde aminosure wat in die regte volgorde verbind het, is nodig om ’n gewone proteïen te maak, en etlike honderde verskillende proteïene is nodig om die eenvoudigste organisme te vorm. In ons gelykenis van die man wat bakstene maak: hy moet honderde bakstene agtermekaar vassement en honderde van hierdie rye van honderde maak—en dit doen terwyl die ander man wild met sy hamer swaai! En dit is nog steeds geweldig oorvereenvoudig, want veel meer as ’n ketting aminosure is nodig om ’n lewende organisme te maak.

NOG VALSTRIKKE

Derde valstrik: Wanneer aminosure lukraak gevorm word, het hulle twee vorms wat chemies dieselfde is, maar een molekule is “regs” en die ander molekule “links”. Hulle is almal deurmekaar en daar is omtrent ewe veel van elke soort. Maar in lewende organismes word slegs aminosure wat “links” is, gebruik. As ons dus na ons gelykenis terugkeer, moet die man wat die bakstene maak, twee soorte maak, rooies en bloues, en ’n hoop maak wat uit miljoene bakstene bestaan, rooies en bloues deurmekaar. (Ons moet natuurlik aanneem dat die man met die hamer verwyder is, net soos ewolusioniste aanneem dat die vernietigende ultraviolette strale uit die proses verwyder is.) Nou grawe ’n reuseskopgraaf in die hoop wat uit miljoene rooi en blou bakstene bestaan in en skep dit etlike honderde duisende bakstene op, en toevallig is elkeen ’n rooi baksteen! Net so moet elkeen van die honderde duisende aminosure, en soms miljoene, wat ’n eensellige lewende organisme vorm, toevallig “links” wees, selfs al word hulle geneem uit ’n mengsel wat miljoene ander bevat wat “regs” is.

Vierde valstrik: Dit is nie voldoende om genoeg van die regte soort te kry nie. Elk van die twintig soorte aminosure moet in die regte volgorde in die proteïenketting wees. Indien een aminosuur op die verkeerde plek is, kan die organisme gebreklik wees of sterf. Die reuseskopgraaf moet dus nie alleen net rooi bakstene opskep nie, maar elkeen op sy regte plek laat val!

Vyfde valstrik: Die selmembraan word van vliesagtige weefsel gevorm. Ewolusioniste onderskryf die teorie dat ’n lagie water rondom die groep proteïene ’n membraan geword het, of dat vetbolletjies die proteïene omring het en ’n selmembraan geword het. Die membraan is uiters ingewikkeld, daar dit uit suiker, proteïene en vetmolekules bestaan, en dit beheer watter stowwe in en uit die sel kan gaan of nie kan gaan nie. Nie al die ingewikkelde aspekte daarvan word verstaan nie. In The Origin of Life sê Bernal: “Wat nog ontbreek, soos vroeër gemeld is, is ’n aanneemlike model vir die oorsprong van vette” (BI. 145). Sonder die vette kan daar geen membraan wees nie; sonder die membraan, geen lewende organismes nie.

HULLE STUIT NIE VOOR DIE ONMOONTLIKE NIE

Van die primitiewe atmosfeer wat deur weerlig of bestraling gebombardeer is, tot ’n eensellige lewende organisme wat homself kan voortbring, is daar letterlik duisende valstrikke vir die ewolusieteorie. Elke bekwame wetenskaplike weet dit. Hy weet dat die talle gissings waarmee daar vorendag gekom word om hierdie valstrikke te vermy, nie toereikend is nie. Wette wat energie en materie beheer, maak die spontane generasie van lewe onmoontlik. Matematiese waarskynlikheidswette doem die kanse daarvan.

Die eenvoudigste, bekende, selfreproduserende organisme (H39-stam van Mikoplasma) het 625 proteïene met gemiddeld 400 aminosure elk. Party beweer egter dat ’n mens teoreties met 124 sulke proteïene sal regkom. Wat is die kanse dat een van hierdie proteïene met 400 “linkse” aminosure uit ’n mengsel “regse” en “linkse” aminosure gevorm word? Een kans in 10120 (1 gevolg deur 120 nulle).

Maar vir hierdie nie-bestaande sel is 124 proteïene nodig. Wat is die kanse dat soveel spontaan uit net “linkse” molekules vorm aanneem? Een kans in 1014 880. Maar hierdie aminosure kan nie sommer onoordeelkundig met mekaar verbind word nie; hulle moet die regte volgorde hê. Die kanse om hierdie 124 proteïene, met gemiddeld 400 “linkse” aminosure elk, met die sure in die regte volgorde te kry, is 1 in 1079 360. Indien ons hierdie laaste syfer sou uitskryf (1 gevolg deur 79 360 nulle), sou daar ongeveer 20 bladsye van hierdie tydskrif daarvoor nodig wees! Dr. Emil Borel, ’n deskundige op die gebied van die waarskynlikheidsleer, sê dat indien die kans dat iets gebeur minder as 1 in 1050 is, dit nooit sal gebeur nie, ongeag hoeveel tyd daarvoor toegelaat word. En daardie syfer kan in minder as twee van hierdie reëls geskryf word.

Vooraanstaande ewolusioniste is bewus van die probleme. Party probeer om die probleme na die buitenste ruimte te verskuif. ’n Britse astronoom, Sir Fred Hoyle, het gesê dat ‘bestaande teorieë vir die oorsprong van lewe op aarde weens grondige chemiese redes hoogs onbevredigend is’, en dat ‘lewe nie op die aarde self ontstaan het nie, maar eerder op komete’. Ander knyp die oë toe en glo ten spyte van die gebrek aan getuienis. Dr. George Wald, ’n bioloog wat die Nobel-prys verower het, sê: “’n Mens hoef maar net aan die omvang van hierdie taak te dink om te erken dat die spontane generasie van ’n lewende organisme onmoontlik is. Tog is ons hier—myns insiens as gevolg van spontane generasie.” Hy erken dus dat hy aan die onmoontlike glo. Hierdie soort redenasie kom ooreen met dié van ’n vroeëre bioloog, D. H. Watson, wat gesê het dat ewolusie “universeel aanvaar word, nie omdat dit met logiese, samehangende getuienis waar bewys kan word nie, maar omdat die enigste alternatief, regstreekse skepping, duidelik ongelooflik is”.

IS JY LIGGELOWIG OF LOGIES?

Omdat hulle geen ander fondament het nie, verlaag ewolusieskrywers hulself en maak hulle gebruik van die tirannie van gesag: ‘Alle wetenskaplikes van belang glo dit; geen agtenswaardige bioloog twyfel daaraan nie; ingeligte persone bevraagteken dit nie; alle intelligente persone aanvaar dit; slegs diegene met godsdiensvooroordeel verwerp dit; dit is al herhaaldelik bewys; daar is nou geen verdere bewys nodig nie.’ So duur die druk en die breinspoeling onverpoosd voort.

Jy moet egter self daarna ondersoek instel. Besluit dan self. Jou lewe kan van jou besluit afhang. En dink hieraan: Jy kan van ’n gebou met twintig verdiepings afspring. Net voordat jy die grond tref, raap ’n skielike sterk wind jou op voer dit jou terug tot bo-op die gebou. Is dit waarskynlik? Dit is baie onwaarskynlik. Moenie daarop staatmaak nie. Maar dit is baie waarskynliker as dat ’n lewende organisme spontaan vorm sal aanneem! Moet ook nie daarop staatmaak nie!

In Psalm 36:10 sê die Bybel: “By U [God] is die fontein van die lewe.” Dit is liggelowig om te glo dat lewe toevallig ontstaan het. Dit is logies om te glo dat dit deur ’n intelligente God geskep is, soos die volgende artikel toon.

    Afrikaanse publikasies (1975-2027)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel