Afgodediens—die ondergang van die Israelitiese koninkryke
DIE tienstammeryk van Israel het sleg begin toe sy eerste koning, Jerobeam, kalfaanbidding ingestel het. Daardie aanvaarding van afgodediens is nooit reggestel nie en het uiteindelik daartoe aanleiding gegee dat Jehovah toegelaat het dat die Assiriërs die noordelike koninkryk vernietig. In plaas daarvan om ’n les uit hierdie waarskuwende voorbeeld te leer, het die inwoners van die twee-stammeryk ook in afgodediens verstok geraak. Gevolglik het Jehovah opgehou om die nasie te seën. Eindelik is die hoofstad in puin gelê, tesame met die pragtige tempel wat deur koning Salomo gebou is. Die Bybelboek genaamd Tweede Konings toon duidelik dat die Israeliete die ramp kon afgeweer het indien hulle op die woorde van die profete ag geslaan het.
Onder die vernaamste profete in die noordelike koninkryk was Elia en Elisa. Toe Elia wonderdadig van die toneel af verwyder is, het Elisa voortgegaan om Elia se opdrag uit te voer. Een van die vernaamste aspekte van daardie opdrag was die salwing van koning Jehu. Nadat Elisa een van sy diensknegte gestuur het om dit te doen, het Jehu geen tyd verspil om Jehovah se wraak aan die afgodsaanbiddende huis van Agab, onder andere goddelose Isebel, te voltrek nie.
Daarna het Jehu hom dit ten doel gestel om Baäl-aanbidding uit sy ryk uit te roei. Hy het die indruk geskep dat hy Baäl-aanbidding selfs op groter skaal gaan voorstaan as wat Agab gedoen het en het al die afgodsaanbidders by die huis van Baal byeen laat kom. Nadat hy seker gemaak het dat daar nie ’n enkele aanbidder van Jehovah in hulle midde was nie, het Jehu sy manne beveel om die vergaderde afgodsaanbidders dood te maak. Weens hierdie positiewe daad is Jehu daarvan verseker dat vier geslagte van sy seuns hom as konings sou opvolg. Dit was Joahas, Joas, Jerobeam II en Sagaria.
Jehu het desnieteenstaande versuim om kalfaanbidding uit te roei. Die Bybelverslag berig: “Jehu het nie sorgvuldig in die wet van die HERE, die God van Israel, met sy hele hart gewandel nie; hy het nie afgewyk van die sondes van Jerobeam wat Israel laat sondig het nie.”—2 Kon. 10:31.
Nie een van Jehu se afstammelinge of enige ander van die latere heersers van die tienstammeryk het probeer om ’n einde aan kalfaanbidding te maak nie. Die verslag in Tweede Konings bevat hierdie kommentaar oor die situasie en die uitslag: “Die kinders van Israel het gewandel in al die sondes van Jerobeam wat hy gedoen het, hulle het daar nie van afgewyk nie; totdat die HERE Israel van sy aangesig verwyder het soos Hy gespreek het deur al sy diensknegte, die profete; en Israel is in ballingskap uit sy land weggevoer na Assirië, tot vandag toe” (17:22, 23). Elia en Elisa was nie die enigste profete wat die Israeliete gewaarsku het nie. Daar was onder andere ook Miga (die seun van Jimla), Jona, Oded, Hosea, Amos en Miga. Die mense het egter geen ag geslaan op die profete se aanmanings dat hulle hulle moes bekeer nie.
Die tweestammeryk het nie juis beter gevaar nie. Ten spyte van die puik pogings van goeie heersers soos Josafat en Hiskia het die Israeliete keer op keer in die greep van afgodediens beland. Hiskia se seun Manasse het afgodediens laat herleef. Tydens Manasse se bewind het die volk so verdorwe geraak in hulle afgodediensgebruike dat latere pogings om sake reg te stel weinig sukses behaal het. Hulle gedrag was erger as die van die Kanaäniete wat deur die Israeliete verdryf is. Manasse het die leiding in valse aanbidding gegee. Hy het sy eie seun deur die vuur laat gaan, towery beoefen, van waarsêery gebruik gemaak en spiritisme bevorder. Daarbenewens het hy veel onskuldige bloed vergiet.
Selfs die ingrypende veldtog teen afgodediens tydens die bewind van Manasse se kleinseun Josia kon nie die tweestammeryk van ’n ramp red nie. Josia self het op die slagveld gesneuwel tydens ’n poging om die Egiptiese leërs by Megiddo te stuit. Die laaste vier Judese konings—Joahas, Jojakim, Jojagin en Sedekia—het nie getroue koning Josia se voorbeeld gevolg nie. Hulle was almal slegte heersers en afgodedienaars. Omdat die heersers en hulle onderdane geweier het om na die profete te luister en afgodediens te staak, is Jerusalem eindelik vernietig en is die land Juda woes gelaat.
God se beskouing van afgodediens het nie verander sedert Tweede Konings op skrif gestel is nie, waarskynlik deur die profeet Jeremia. Afgodedienaars kan nie hoop om aan die voltrekking van God se oordeel te ontkom nie. Ons kan dus gerus ag slaan op die Bybel se vermaning: “Vlug vir die afgodediens.”—1 Kor. 10:14.