Toekomstige lewe deur die opstanding
“As julle nie die vlees van die Seun van die mens eet en sy bloed drink nie, het julle geen lewe in julleself nie.”—Joh. 6:53
1, 2. Wat het Jesus in Johannes 6:53, 54 gesê, en persone wat aan watter leerstelling glo, behoort dit moeilik te vind om daardie woorde te verstaan?
DIE leer van die onsterflikheid van die mensesiel kom taamlik algemeen voor. Diegene wat daaraan glo, behoort dit dus moeilik te vind om te sien hoe die woorde van Jesus Christus wat in die Bybel in Johannes 6:53, 54 opgeteken staan, waar kan wees:
2 “Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, as julle nie die vlees van die Seun van die mens eet en sy bloed drink nie, het julle geen lewe in julleself nie. Hy wat my vlees eet en my bloed drink, het die ewige lewe, en Ek sal hom opwek in die laaste dag.”
3. Watter redelike vrae opper persone wat aan onsterflikheid glo in verband met “lewe in julleself” en die opstanding?
3 Indien die mensesiel reeds onsterflik is en voortleef nadat sy huidige, liggaamlike omhulsel sterf, soos so baie beweer, waarom moet ons dan die vlees van Jesus Christus, “die Seun van die mens”, eet en sy bloed drink om ‘lewe in onsself’ te hê? Indien die siel ten tye van die liggaam se dood vrygestel word en lewend na die geesteryk ontsnap, waarom moet ’n mens dan opgewek word om weer te kan lewe? Ons moet almal erken dat dit logiese redenering is.
4. Wie onder Jesus se toehoorders het dit moeilik gevind om te snap wat Jesus gesê het, en wat van vandag?
4 Jesus Christus se woorde het selfs vir sy volgelinge probleme geskep, want ons lees: “Jesus het in Homself geweet dat sy dissipels hieroor murmureer, en Hy sê vir hulle: Is dit julle tot ’n aanstoot?” (Joh. 6:61). Selfs vandag sal party van ons lesers dit moeilik vind om Jesus se woorde te verstaan. Jesus het nogtans geweet waaroor hy destyds gepraat het, want hy het self nie aan die onsterflikheid van die mensesiel geglo nie. Sy eie woorde bewys dit.
5. Deur watter verklarings het Jesus getoon dat hy nie aan die onsterflikheid van die mensesiel glo nie?
5 Eenkeer het Jesus aan sy dissipels gesê: “Vrees Hom liewer wat die siel sowel as die liggaam kan verderwe in die hel [Gehenna]” (Matt. 10:28, vgl. NW). Later, voordat hy in die tuin van Getsemane in hegtenis geneem is, het hy aan sy dissipels gesê: “My siel is diep bedroef tot die dood toe” (Matt. 26:38; Mark. 14:34). Jesus het die profesie van Jesaja dikwels aangehaal en het saamgestem met wat daardie profesie aangaande hom gesê het: “Hulle het Hom sy graf by die goddelose gegee; en by ’n ryke was Hy in sy dood, . . . omdat Hy sy siel uitgestort het in die dood.”—Jes. 53:9, 12.
6. Wat sou party, volgens Johannes 6:53, 54, voor “die laaste dag” in verband met Jesus se mense-offerande doen, en wat sal in daardie dag met hulle gebeur?
6 Dit is waarom Jesus in Johannes 6:53, 54 te kenne gegee het dat hy ’n mense-offerande sou word en dat daar voor “die laaste dag” diegene sou wees wat sy vlees sou eet en sy bloed sou drink. Hulle sou met verloop van tyd sterf, maar van elk van hulle het Jesus gesê: “Ek sal hom opwek in die laaste dag.” Volgens wat Martha van Betanië in Johannes 11:24 gesê het, is daardie “laaste dag” as die tyd vir die opstanding van die dode beskou. Martha het naby Jerusalem gewoon. Dit was hier dat Jesus, ’n ruk na die Pasga van 31 G.J., gepraat het van sy Godgegewe opdrag om die dode op te wek. Hy het hom godsdienskritiek op die hals gehaal omdat hy ’n man op die sabbat genees het en vir hom gesê het om sy bed op te neem en huis toe te gaan. In antwoord op sulke kritiek het Jesus gesê:
7, 8. (a) Wie maak Jesus Christus lewend, en soos wie verdien hy om geëer te word, en waarom? (b) Wie gaan nou uit die dood in die lewe oor? (c) Tot watter soorte opstandings sal die Seun van die mens almal wat in die gedenkgrafte is, bring?
7 “Want soos die Vader die dode opwek en lewend maak, so maak ook die Seun lewend wie Hy wil. Want die Vader oordeel ook niemand nie, maar het die hele oordeel aan die Seun gegee . . . Wie die Seun nie eer nie, eer nie die Vader wat Hom gestuur het nie. Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, wie my woord hoor en Hom glo wat My gestuur het, het die ewige lewe en kom nie in die oordeel nie, maar het oorgegaan uit die dood in die lewe.
8 “Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, daar kom ’n uur, en dit is nou, wanneer die dode die stem van die Seun van God sal hoor; en die wat dit gehoor het, sal lewe. Want soos die Vader lewe het in Homself, so het Hy aan die Seun ook gegee om lewe in Homself te hê. En Hy het Hom mag gegee om ook te oordeel, omdat Hy die Seun van die mens is. Moenie julle hieroor verwonder nie. Want daar kom ’n uur wanneer almal wat in die grafte is, sy stem sal hoor en sal uitgaan, die wat goed gedoen het tot die opstanding van die lewe, en die wat kwaad gedoen het, tot die opstanding van die veroordeling. Ek kan uit Myself niks doen nie. Soos Ek hoor, oordeel Ek; en my oordeel is regverdig, omdat Ek nie my wil soek nie, maar die wil van die Vader wat My gestuur het.”—Joh. 5:21-30.
9. Waarop word daar veral klem gelê in die pasaangehaalde woorde van Jesus?
9 In die woorde wat hierbo aangehaal word, sien ons dat daar klem gelê word op oordeel, want die woorde “oordeel” en “veroordeling” kom altesaam sewe keer voor. Daar wag ook ’n “opstanding van die veroordeling” op die een wat voortdurend kwaad doen.
10. Aan wie word die werk opgedra om die mensdom gedurende Christus se duisendjarige bewind te oordeel, en waarom sal daar nie teen so ’n oordeel appèl aangeteken kan word nie?
10 Die opstanding word dus met oordeelswerk geassosieer. Omdat die Seun van God uit die hemel die “Seun van die mens” op aarde geword het, is die mag om al die lede van die mensdom te oordeel aan hom gegee. God die Vader het dus sy getroue Seun sy mederegter gemaak. Gedurende die duisendjarige bewind van Jesus Christus word die werk om die hele mensdom te oordeel eers aan die Seun van God as Mederegter opgedra. Daar sal geen appèl teen die oordeel van die Seun van God aangeteken word nie, want dit sal volmaak wees. Die oordeelswerk wat Jehovah God na die duisendjarige Oordeelsdag doen, sal nie wees omdat die herstelde mensdom by Jehovah as die Hoofregter, die Finale Regter, appèl aangeteken het nie.—1 Kor. 15:24-28.
HOE DAAR NOU UIT DIE DOOD IN DIE LEWE OORGEGAAN WORD
11. Hoe het Jesus in Johannes 5:24, 25 verduidelik waarom persone wat aan hom glo “uit die dood in die lewe” oorgegaan het?
11 Op aarde het Jesus Christus as God se woordvoerder onder die mense gedien. Indien enige hoorder dus geglo het wat Jesus die Seun van God gesê het, was dit dieselfde asof hy geglo het wat God die Vader gesê het. Jesus het getoon watter voordeel dit inhou vir die Jode wat hom gehoor het toe hy die volgende woorde tot die Jode gerig het: “Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, wie my woord hoor en Hom glo wat My gestuur het, het die ewige lewe en kom nie in die oordeel nie, maar het oorgegaan uit die dood in die lewe.” Hoe vind dit plaas? Jesus verduidelik deur voorts te sê: “Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, daar kom ’n uur, en dit is nou, wanneer die dode die stem van die Seun van God sal hoor; en die wat dit gehoor het, sal lewe” (Joh. 5:24, 25). Destyds kon diegene wat letterlik in die grafte dood was natuurlik nie Jesus se gesproke woord hoor en daarop ag slaan in die “uur” waarvan hy gepraat het nie. Van watter “dode” het Jesus dus gepraat?
12, 13. (a) Watter “dode” het Jesus in gedagte gehad toe hy gesê het dat hulle sy woord sal hoor en gevolglik sal lewe? (b) Wat kon Paulus, weens so ’n goddelike voorsiening, in Efesiërs 2:4-7 skryf aan diegene wat “dood” was weens misdade en sondes?
12 Aangesien Jesus gesê het dat die “uur” daarvoor “nou” is, kon hy slegs praat van die mense wat op die aarde gewandel het, maar wat onder die veroordeling van die dood was weens onvolmaaktheid en sonde wat van Adam oorgeërf is. Uit God se standpunt is die hele mensdom oor die algemeen “dood”; hulle het geen reg om te lewe nie, en die “loon” wat hulle van die sonde ontvang, is die dood (Rom. 6:23). Maar deur Jesus se “woord” te hoor en daarop ag te slaan sou God se veroordeling tot die dood nie meer vir hulle geld nie en sou hulle dus figuurlik ‘uit die dood oorgaan in die lewe’.
13 Weens so ’n goddelike voorsiening kon die apostel Paulus die volgende woorde skryf aan die ‘heilige’ gelowiges te Efese wat “in [een met] Christus Jesus” was: “Julle het Hy lewend gemaak, wat dood was deur die misdade en die sondes . . . God, wat ryk is in barmhartigheid, het ons deur sy grote liefde waarmee Hy ons liefgehad het, ook toe ons dood was deur die misdade, lewend gemaak saam met Christus—uit genade is julle gered—en saam opgewek en saam laat sit in die hemele in [een met] Christus Jesus, sodat Hy in die eeue wat kom, kan betoon die uitnemende rykdom van sy [dan reeds betoonde] genade in goedertierenheid oor ons in [een met] Christus Jesus.”—Ef. 1:1; 2:1, 4-7, vgl. NW.
14. Waar sit diegene wat aldus geestelik lewend gemaak is, watter soort klas vorm hulle en met wie moet hulle een bly?
14 Diegene wat verlos is van die veroordeling van die dood en geestelik lewend gemaak is om saam met Christus Jesus “in die hemele” te sit, is lede van die gemeentelike liggaam van Christus gemaak. Hulle het ook ’n “tempel”-klas uitgemaak waarin God deur sy heilige gees asof in ’n “heilige tempel” kon woon (Ef. 1:22, 23; 2:20-22). Omdat hulle Christus se “liggaam” is, is hulle veral “in [een met] Christus Jesus”. Hulle moet een met hom bly.—Joh. 15:4.
15. Watter vrae ontstaan oor die feit dat die Vader “lewe in Homself” het?
15 Dit is op hierdie persone wat Jesus se volgende woorde van toepassing is: “Soos die Vader die dode opwek en lewend maak, so maak ook die Seun lewend wie Hy wil” (Joh. 5:21). Dit beteken dat die Seun ook die mag het om lewe aan ander te gee. Jesus het die rede hiervoor verstrek toe hy gesê het: “Want soos die Vader lewe het in Homself, so het Hy aan die Seun ook gegee om lewe in Homself te hê” (Joh. 5:26). Wat beteken die feit dat die Vader “lewe in Homself” het werklik? Beteken dit bloot dat hy as die enigste “lewende en waaragtige God” lewe? (1 Thess. 1:9). Beteken dit dat hy onafhanklike lewe of inherente lewe het? Met ander woorde, onsterflikheid het? “An American Translation” verstaan die saak so, want dit gee Johannes 5:26 soos volg weer: “Want net soos die Vader ’n selfstandige bestaan voer, het hy ’n selfstandige bestaan aan die Seun gegee.” Dienooreenkomstig verstaan “The Holy Bible in Modern English” deur Farrar Fenton dat die naam Jehovah “Ewiglewend” beteken en vertaal dit Jesaja 42:8 dus soos volg: “Ek is Ewiglewend;—want dit is my naam.” Jehovah is al “Die Selfbestaande” genoem.
16. Waarom sou die Seun in hierdie opsig nie besonder gewees het nie indien die feit dat die Seun van God “lewe in Homself” ontvang het bloot beteken het dat hy volmaakte lewe ontvang het?
16 Maar volgens die draad van die argument in die onmiddellike verband het die uitdrukking “lewe in Homself” ’n sterker betekenis as bloot dat hy ’n selfstandige bestaan voer. Die uitdrukking beteken dat die hemelse Vader ’n reservoir van lewe in homself het sodat hy, net soos ’n vader, lewe aan ander kan gee. In die lig van hierdie feit kan hy soveel lewe aan sy Seun gee dat hy ook lewe aan ander kan gee. Indien die feit dat die Vader die Seun die vermoë gegee het om “lewe in Homself” te hê bloot beteken het dat hy volmaakte lewe aan hom gegee het, sou die Seun nie besonder wees nie. Waarom nie? Omdat God ook aan die hemelse engele volmaakte lewe gegee het. Daarbenewens het hy volmaakte lewe aan Adam en Eva in die tuin van Eden gegee. Maar waarom is die Seun van God “lewe in Homself” gegee?
17. Waarom is “lewe in Homself” aan die Seun gegee, en hoe kom sy gebed in Johannes 17:1, 2 hiermee ooreen?
17 Dit is omdat die Seun van God sy volmaakte menselewe as ’n losprysoffer vir die hele mensdom gegee het (Matt. 20:28; 1 Tim. 2:5, 6). Sodoende kon hy die mensdom terugkoop uit die dood waartoe hulle veroordeel is weens oorgeërfde onvolmaaktheid. Met hierdie feit in gedagte kon Jesus sy gebed op Pasganag open met die woorde: “Vader, die uur het gekom; verheerlik u Seun, sodat u Seun U ook kan verheerlik—soos U Hom mag oor alle vlees gegee het, sodat Hy aan almal wat U Hom gegee het, die ewige lewe kan gee.”—Joh. 17:1, 2.
18. Hoe laat die vertaling van Johannes 5:26 deur R. A. Knox die waarheid uitkom, en wanneer is Christus gemagtig om lewe aan ander te gee?
18 “The New Testament of Our Lord and Saviour Jesus Christ” deur Ronald A. Knox gee daardie waarheid weer en laat dit uitkom in sy vertaling van Johannes 5:26. Dit lui daar: “Soos die Vader die gawe van lewe in homself het, so het hy aan die Seun ook gegee om die gawe van lewe in homself te hê.”a Na sy offerdood, sy opstanding en nadat hy die waarde van sy volmaakte menselewe aan sy hemelse Vader aangebied het, kon Jesus Christus gemagtig word om die voordele daarvan te gee aan diegene wat dit nodig het—die hele veroordeelde en sterwende mensdom. Gevolglik lees ons in Romeine 6:23: “Die loon van die sonde is die dood, maar die genadegawe van God is die ewige lewe in Christus Jesus, onse Here.”
19. Waarom is Jesus Christus die regmatige een om deur God gebruik te word om die mensdom te oordeel?
19 As ’n mens van vlees en bloed kon Jesus, die “Seun van die mens”, God die presiese gelyke van wat Adam deur sy moedswillige sonde in Eden vir al sy nakomelinge verbeur het, aanbied (Hebr. 2:9, 14, 15; Joh. 1:14). Daar Jehovah God hom gebruik om lewe aan die veroordeelde, sterwende mensdom te gee, is Jesus Christus, die “Seun van die mens”, die regmatige een om deur Jehovah gebruik te word om die vrygekoopte mensdom te oordeel.
20. Wat het Jesus in Johannes 5:26, 27 gesê oor die mag om te oordeel, en hoe het Paulus dit in sy toespraak op Marsheuwel beaam?
20 In harmonie met daardie feit het Jesus voorts gesê: “So het [die Vader] aan die Seun ook gegee om lewe in Homself te hê. En Hy het Hom mag gegee om ook te oordeel, omdat Hy die Seun van die mens is” (Joh. 5:26, 27). Omdat die tans verheerlikte Jesus Christus self eens op ’n tyd ’n man te midde van ’n verdorwe wêreldlike stelsel van dinge was, kan hy ’n genadige sowel as regverdige regter wees vir diegene wat hy uit die dood vrygekoop het. Hierdie feit is duidelik aan die hoogste regsliggaam in eertydse Athene, Griekeland, gestel toe die apostel Paulus tussen die regters op Marsheuwel gestaan en gesê het dat “Hy [die God wat vir hulle onbekend was] ’n dag bepaal het waarop Hy die wêreld in geregtigheid sal oordeel deur ’n Man wat Hy aangestel het, en Hy het hiervan aan almal sekerheid gegee deur Hom uit die dode op te wek.”—Hand. 17:23, 31.
[Voetnoot]
a Aangaande Johannes 5:25, 26 lees ons: “Aangesien die persone van wie daar gepraat word dood was, moet die lewe wat deur hierdie zésousin [Grieks vir hulle sal lewe] aangedui word, iets wees wat hulle besig is om te ontvang—’n lewe wat kom van die Seun, die opwekker. Maar Hy sou dit nie kon gee indien Hy nie, net soos die Vader, ’n goddelike en onafhanklike fontein van lewe in Homself gehad het wat die Vader, die absoluut lewende Een (vi. 57), aan Hom gegee het toe Hy Hom in die wêreld gestuur het om sy Messiaanse werk te verrig nie; vgl. x. 36.”—Bladsy 184 van die Critical and Exegetical Hand-Book to the Gospel of John deur Heinrich August Wilhelm Meyer, in 1884 in Engels uitgegee.
Die Good News Bible gee Johannes 5:26 soos volg weer: “Net soos die Vader self die bron van lewe is, so het hy sy Seun die bron van lewe gemaak.” (In 1976 deur die Amerikaanse Bybelgenootskap uitgegee)