‘Waargeneem in die dinge wat gemaak is’
Indien primitiewe steengereedskap die bestaan van ’n ontwerper bewys, verkondig ingewikkelde, lewende skepsele dan nie met veel groter krag die bestaan van ’n wyse en magtige Skepper nie?
INDIEN daar ’n rotsstorting in die berge is, verwag ons om ’n wanordelike hoop rotse te sien waar dit onder tot ruste kom. Ons sal nie ons oë glo indien al die rotse tot rus kom in die vorm van ’n pragtige rotshuis nie—want ’n huis verg ontwerp en doelgerigte werk. En daar is geen ontwerp sonder ’n ontwerper nie, of doelgerigte werk sonder ’n intelligente werker nie. Dit kom ooreen met die Bybel se verklaring in Hebreërs 3:4: “Elke huis word deur iemand gebou.”
’n Wetenskaplike grawe in die puin van die aarde en vind ’n ronde, langwerpige klip wat glad is met ’n groef al om die middel. Daar bestaan by hom geen twyfel dat dit deur ’n primitiewe man gemaak is nie. Hy is daarvan oortuig dat dit deur middel van ’n riem aan ’n stok vasgemaak was en as ’n hamer of ’n wapen gebruik is. Hy vind eweneens ’n plat klip met ’n skerp rand en is seker dat dit deur ’n man van die “Steentyd” gemaak is vir gebruik as ’n mes of skraper. Of ’n klein stukkie skerp vuursteen in die vorm van ’n pylpunt oortuig hom dat dit deur ’n man ontwerp is vir gebruik op die punt van ’n pyl of spies. Die wetenskaplike kom tot die gevolgtrekking dat sulke doelgerigte ontwerpte dinge nie die produkte van die toeval is nie.
Die werk weerspieël die werker. Hierdie gereedskap en wapens is primitief. Gevolglik word daar gemeen dat die makers primitief was, want ape maak nie wapens nie, en dié van die hedendaagse mens getuig van vindingryke ontwerp. Die wetenskaplike plaas dus die man wat die steenitems gemaak het in ’n steentydperk, en gis dat sy verskyning en breinkrag êrens tussen dié van die aap en die hedendaagse mens kom. Hy stel hom gevolglik ’n geboë, skuifelende, harige aapmens met lae wenkbroue voor. Hierdie een se skeppings getuig van meer doelgerigtheid en ontwerp as die stok wat die aap dalk sal optel, maar van baie minder as die dinge wat die hedendaagse mens skep. Die wetenskaplike sien die werker deur sy werke, en vorm ’n idee van sy eienskappe uit sy werke.
HULLE BLY NIE BY HULLE EIE LOGIKA NIE
Waar dit egter by die volop plant- en dierelewe kom wat op die aarde aangetref word, verander die meeste wetenskaplikes hulle beskouing dat ontwerp ’n ontwerper verg. Die eenvoudigste organismes is baie ingewikkelder as primitiewe steengereedskap. Ja, selfs die eensellige protosoon kan nie as eenvoudig beskou word nie. Want in daardie enkele sel het dit die vermoë om al die ligaamsfunksies uit te voer waarvoor die talle organe van ’n werweldier sorg. Op sigself is dit ’n ingewikkelde organisme. Wetenskaplikes wat aan ewolusie glo, beweer dat sulke ingewikkelde organismes geen ontwerper gehad het nie, maar per toeval in aansyn gekom het. Vergeleke met die kans dat ’n protosoon ditself spontaan voortbring, sal dit maklik wees vir primitiewe steengereedskap om deur ’n grondverskuiwing of ’n bruisende stroom gevorm te word, of sal dit die eenvoud self wees vir ’n rotshuis om deur ’n rotsstorting gebou te word!
Is dit emosionele vooroordeel wat veroorsaak dat talle intelligente persone hulle nie hou by hulle logiese reël, naamlik dat doelgerigte werk die eienskappe van ’n intelligente werker weerspieël, wanneer dit kom by die ingewikkeldste skeppingswerke in die heelal nie? Die Bybel stem met hulle reël saam, maar hulle ontwyk die Bybel se toepassing daarvan: “Sy onsigbare hoedanighede is van die skepping van die wêreld af duidelik gesien, omdat hulle waargeneem word in die dinge wat gemaak is, ja sy ewige krag en Godheid” (Rom. 1:20, NW). Hulle sal nooit aanvaar dat toeval die maker van ’n primitiewe stuk steengereedskap is nie, maar hulle neem dit geredelik aan as die skepper van nie alleen die protosoë nie, maar van alle lewe op aarde, die mens inkluis! Hulle weier om die groot Ontwerper en Skepper van die heelal in hierdie wonderwerke van ontwerp waar te neem. Kom ons beskou ’n paar van sulke wonders. Dink na of blinde toeval die eienskappe het wat deur hulle weerspieël word.
DIE GROND ONDER JOU VOETE
Op die derde skeppingsdag het Jehovah gesê: “Laat die . . . droë grond sigbaar word” (Gen. 1:9). Dit het die weg vir landplante gebaan. Maar die wonder van grond is nodig sodat hierdie plante kan floreer. Grond? Is dit ’n wonder? Is dit nie een van die algemeenste dinge op die oppervlak van die aarde nie? Dit is voorwaar. Grond is egter ’n lewensbelangrike hulpbron, en vandag bestaan daar groot besorgdheid omdat die erosie daarvan groot stofkomme en uitbreidende woestyne skep. Duisende jare was dikwels nodig sodat rotse in vrugbare grond kon verander. Hulle verweer, fungi vestig hulle daarop en ontkiem, stuur uitlopers uit wat alge verstrik en aldus verenig fungi en alge om korsmos te word. Korsmos groei op die oppervlak van rotse, breek hulle op, bou ’n dun lagie grond wat mosse sal onderhou, en die mosse lewe en gaan op hulle beurt dood en maak meer grond wat mettertyd saailinge sal onderhou. Verwerende kragte dra hierdie grond na gebiede waar dit ophoop tot dieptes wat hoër plantvorms en uiteindelik bome sal onderhou.
Wanneer plante se blare afval en die plante doodgaan, veroorsaak bakterieë verrotting en ryk organiese grond word gevorm. Mikrobes breek hierdie organiese verbindings af tot eenvoudige voedingstowwe wat die plante nodig het. Hoewel ons van vaste grond praat, is talle grondsoorte geensins vas nie, want hulle is vol lug, water en ’n groot aantal lewende dinge. Tien gram gronddeeltjies kan ’n oppervlakte hê wat 0,8 hektaar sal beslaan. In gematigde lugstreke kan ’n teelepelvol grond meer as 5 000 000 000 lewende organismes bevat! Elk is ’n wonder wat ontwerp en doel betref en hulle is almal saam nodig voordat ‘die land sy opbrings sal gee’ (Eseg. 34:27). Is die grond bloot iets om vertrap te word? Daarsonder sou daar geen lewe op aarde wees nie!
NAVIGASIE WAT DIE MENS SE VERSTAND TE BOWE GAAN
Om van koue seisoene weg te kom en voedsel te vind, trek talle voëls. Hulle navigasievermoë is ontsagwekkend en word nog nie ten volle begryp nie. Hoe weet hulle, wanneer dit in die noordelike halfrond koud word, dat warm weer en kos suid lê, en nie oos of wes nie? En hoe weet hulle, wanneer hulle in die lente terugkeer, dat hulle noord moet vlieg? Verskillende hormone wat in hulle bloed vrygestel word, vertel vir hulle. Party voëls trek honderde kilometer, ander duisende kilometer, na dieselfde plek wat hulle ses maande vroeër verlaat het. Seeswawels en pluviers vlieg ongeveer 6 400 kilometer in een rigting. Jong voëls lê die vlug die eerste keer alleen af. Selfs tot in die Middeleeue het natuurkundiges geweier om te glo dat voëls trek, maar het ongelooflike verduidelikings vir hulle verskyning en verdwyning in die lente en herfs uitgedink. Maar in die sewende eeu voor Christus het die Bybel al van migrasies gepraat: “Selfs ’n groot sprinkaanvoël aan die hemel ken sy bepaalde tye, en ’n tortelduif en ’n swaweltjie en ’n kraanvoël neem die tyd van hulle koms in ag.”—Jer. 8:7.
Selfs nadat natuurkundiges aanvaar het dat groot voëls trek, het hulle aangevoer dat kleintjies die oseane oorsteek deur op die rûe van groteres te ry. Net soos talle ander klein voëltjies doen die klein swartkoptintinkie dit egter op sy eie. Hy verlaat Alaska in die noordelike herfs, reis in skofte na die kus van Nieu-Engeland, wag vir die regte weer, pak dan die Atlantiese Oseaan aan en vlieg van drie tot vyf dae na die noordoostelike kus van Suid-Amerika. Sonder onderbreking vlieg dit dae lank oor 3 800 kilometer oseaan—’n voëltjie wat minder as 20 gram weeg! Wat ’n ontsagwekkende komper is in daardie klein koppie wat sê hoe laat dit is, die beweging van die son bereken, die sterre gebruik, dit alles met ’n kaart van sy bestemming oriënteer en selfs die voël in staat stel om veilig aan te kom wanneer dit bewolk is? Kan enigiemand, in sy binneste, werklik glo dat toeval hierdie klein swartkoptintinkie geskep het?
Studies met renduiwe het getoon dat voëls ’n ander gidsstelsel tot hulle beskikking het. Nadat hulle in ’n donker houer met ’n ompad na ’n plek 960 kilometer vanaf hulle hok tuis geneem is, en dan vrygelaat is, keer hulle in een dag terug. Indien die son skyn, gebruik hulle hulle gidsstelsel. Maar hulle kan ook terugkeer op dae wanneer dit bewolk is of gedurende die nag. Hulle neem die aarde se magnetiese veld waar en gebruik dit as ’n gidsstelsel. ’n Swerm is vrygelaat; helfte van die voëls met magnete op hulle rûe vasgemaak, en dit het die aarde se magnetiese veld versteur en dit nutteloos gemaak. Op ’n sonnige dag het die hele swerm veilig teruggekeer. Op ’n bewolkte dag het dié sonder magnete egter teruggekeer, maar die met die magnete op hulle rûe het net doelloos rondgevlieg. Jare lank is daar gemeen dat dit onmoontlik is dat enige skepsel die aarde se magnetiese veld waarneem; dit is so swak. Wetenskaplikes weet nou dat dit nie alleen deur voëls waargeneem word nie, maar ook deur heuningbye. Volgens onlangse eksperimente wil dit voorkom of selfs party slakke daarvoor sensitief is.
Nie net voëls trek nie, maar ook walvisse, robbe, skilpaaie, palings, krappe, visse, skoenlappers en kariboes. Party slaapkouse verkies egter winterslaap om die strafheid van die winter vry te spring. Die klein gestreepte waaierstertmeerkat lig party van die merkwaardige fisiologiese veranderinge wat in die winterslapers voorkom, goed toe. Die liggaamstemperatuur daal tot ’n paar grade bokant die koue buitekant die lêplek. Die hart klop slegs een of twee keer per minuut. Wanneer dit bedrywig is, haal hierdie meerkat ’n paar honderd keer per minuut asem, maar tydens sy winterslaap haal dit slegs een keer elke vyf minute stadig asem. Tog bly sy bloed vol suurstof en die rustende spiere behou hulle krag. Wat gee aanleiding tot sy besluit om in die herfs te gaan slaap en in die lente wakker te word? Nie net die weer nie. ’n Chemikalie wat in die bloed vrygestel word, veroorsaak winterslaap, en ’n ander veroorsaak dat dit wakker word. Deur die gebruik van sulke chemikalieë het wetenskaplikes winterslapers met hulle lang slaap in die middel van die somer laat begin.
In verband met sulke wonders het Job erken: “So het ek dan gespreek sonder om te verstaan, dinge te wonderbaar vir my, wat ek nie begryp nie.”—Job 42:3.
’N VERSKEIDENHEID VINDINGRYKE ONTWERPE
Onthou jy die stuk primitiewe steengereedskap wat nie sommer net vanself daar kon gekom het nie? Hou dit in gedagte as maatstaf wanneer jy besluit of die volgende sommer net vanself kon gebeur het.
Die meeste persone weet dat die verkleurmannetjie sy tong etlike sentimeters ver kan uitskiet om insekte te vang. Maar weet jy hoe hierdie skepseltjie dit doen? Horisontaal agter in sy mond is ’n keëlvormige been met die punt na vore. By die onderpunt daarvan is die lang, hol tong geanker. Lang spiere hou die tong, wat soos ’n konsertina gevou is, styf rondom hierdie been. Aan die punt van die tong is kringspiere wat op die punt van die been rus. Die verkleurmannetjie se spitsoë, wat indiwidueel kan draai, sien ’n insek binne trefafstand. Die lang spiere trek kragtig saam en hou die tong soos ’n vasgedrukte veer teen die been. Dan trek die kringspiere rondom die punt van die gladde been skielik saam, en wanneer hulle saamtrek, ontspan die spiere wat die “veer” saamdruk, en die tong skiet uit. Die insek sit vas aan die taai punt en die lang, slap tong word stadig ingetrek. Die aksie kom ooreen met dié van ’n seun wat pruimedantpitte of gladde waatlemoenpitte tussen sy duim en voorvinger uitskiet; in hierdie geval is dit egter die gladde been wat op sy plek bly en is dit die tongpunt, wat die druk uitoefen, wat uitskiet. So ’n vindingryke ontwerp verg beslis ’n ontwerper.
Die plofkewer gebruik plofstowwe om roofvyande af te skrik. Drie chemikalieë wat deur kliere afgeskei word, word in ’n reservoir gestoor. Wanneer ’n vyand nader, open ’n klep wat die drie chemikalieë in ’n kamer met sterk wande laat vloei. Daar laat ’n ensiem hulle ontplof en ’n giftige mis skiet uit ’n torinkie wat in enige rigting kan mik. Die kewer kan herhaaldelik ontplof, dosyne kere in ’n paar minute, en elke slag met ’n hoorbare klapgeluid. Die vyand val terug, soms met saamtrekkings. Hierdie kewer het ’n laboratorium, maak plofstowwe en gebruik hulle doelgerig. Dit is ’n skrikwekkende klein bomfabriek!
Die warrelkewer het bifokale oë om bo en onder damwater te sien, maar dit is geensins sy grootste wonder nie. Dit kan vlieg, kruip, op water loop of induik. Wanneer dit induik, neem dit ’n lugborrel saam wat as ’n long dien. Dit ontvang koolstofdioksiedafval van die kewer en plaas dit in die water, en dra suurstof van die water na die kewer oor. Die skepseltjie kan ure lank onder water by. Die kewer se onderdele hou van water, maar die boonste dele, onder andere die boonste helftes van die samegestelde oë, word deur kliere geolie sodat water geweer word. Dit skarrel vinnig in alle rigtings oor die deklagie van die water en veroorsaak aldus golfies. Wanneer hierdie golfies die ‘oewer tref, of voorwerpe op die deklagie—moontlik ’n ander warrelkewer of ’n eetbare insek—word hulle teruggekaats. Met twee voelhorings wat op die oppervlak van die water gehou word, neem die kewer hulle boodskappe oor sy omgewing waar. Dit vang kos en vermy botsings terwyl honderde van sy maats wild rondskarrel en almal golfies maak, maar elkeen slegs sy eie waarneem. Die stelsel is dag en nag geslaagd. Die warrelkewer doen met watergolwe wat vlermuise met klankgolwe doen—wat ’n komper is tog in daardie klein koppie!
“NIKS NUUTS ONDER DIE SON NIE”
Mense kyk na tegniese prestasies en bewonder menslike uitvinders. Hulle kyk na dieselfde beginsels wat doelgerig deur lewende skepsele gebruik word en sê dat dit net gebeur het. In die meeste gevalle is menslike uitvinders in werklikheid aanpassers. Dit is al tevore gedoen, soos Salomo gesê het: “Daar is glad niks nuuts onder die son nie” (Pred. 1:9). In die boek “Bionics”, deur Daniel Halacy, Jr., lees ons op bladsy 19:
“’n Handelsvliegtuig is op die mark geplaas met ’n vlerkkromme soos die van ’n voël. ’n Rubbermaatskappy het eksperimente uitgevoer met ’n kunsmatige ‘vel’ om bote stroombelynd te maak op die patroon van dié van seesoogdiere. ’n Nuwe grondsnelheidsmeter vir vliegtuie is gebou volgens die oog van ’n kewer, en ’n beter TV-kamera boots die meganisme van die oog van die koningkrap na.”
Mense bestudeer die skeppingswerke van Jehovah God om die vindingrykheid daarvan te ontdek en hulle by menslike uitvindings aan te pas. Dit herinner ons aan die woorde van Job 12:7-9: “Vra tog vir die diere, dat hulle jou leer; en die voëls van die hemel, dat hulle jou te kenne gee; of spreek die aarde aan, dat dit jou leer, en laat die visse van die see jou vertel. Wie weet nie deur al hierdie dinge dat die hand van die HERE dit gemaak het nie?” Uitvinders waardeer dit wanneer hulle die eer ontvang vir hulle slim aanpassings, maar alte dikwels weier hulle om erkenning te verleen aan die Een wat alles “met wysheid” gemaak het.—Ps. 104:24.
Die Bybel praat van die grasdraer in Spreuke 6:8: “[Hy] maak sy brood klaar in die somer, bêre sy voedsel weg in die oestyd.” Eeue lank is die bestaan van miere wat graan oes en wegbêre in twyfel getrek, maar in 1871 het ’n Britse natuurkundige hulle graanskure ontdek. Miere kweek ook gewasse, het slawe en hou vee aan. Termiete voorsien lugverkoeling aan hulle neste, net soos bye aan hulle korwe. Deur ’n dans in die donker toon heuningbye vir ander waar nektar is, in watter rigting en hoe ver. Insekte lê verbasende vermoëns aan die dag wat die mens nie kan nadoen nie. “Hulle is uitermate wys”, soos die Bybel sê, en is só deur Jehovah God geskape.—Spr. 30:24.
“Water, water, every where, nor any drop to drink”, word daar van die oseaan gesê. Maar party seevoëls het kliere wat seewater ontsout. Party visse en palings wek elektrisiteit op, tot 400 volt. Talle visse, wurms en insekte gee koue lig af, tot nyd van wetenskaplikes wie se ligte energie deur hitte verloor. Vlermuise en dolfyne gebruik sonar, wespe maak papier, miere bou brûe, bewers maak damme, sekere slange het termometers wat ’n temperatuurverandering van een duisendste van ’n graad Celsius kan waarneem. Insekte in damme gebruik snorkels en duikerklokke, seekatte gebruik straalaandrywing, spinnekoppe spin sewe soorte spinnerakke, maak valdeure, nette, lasso’s en het kleintjies wat ballonreisigers is wat duisende kilometers teen groot hoogtes aflê. ’n Motwyfie sproei ’n parfuum wat ’n mannetjie tien kilometer ver kan waarneem indien slegs een molekule daarvan sy voelhoring raak. Nadat hulle jare in die oop see deurgebring het, keer salm terug na die stroom waar hulle uitgebroei het, want elkeen onthou die betrokke reuk van sy tuisstroom en kan dit waarneem terwyl hy in die kuswater swem.
Jehovah het Job se aandag op sy talle skeppingswerke gevestig. Wat was Job se reaksie? Die volgende: “Ek weet dat U alles kan doen en geen plan vir U onuitvoerbaar is nie.”—Job 42:2.
Dit is onmoontlik dat sulke verbasende ontwerp sonder ’n ontwerper kan bestaan. Ewolusioniste beweer dat ‘teeltkeuse en die oorlewing van die geskikste’ die ontwerper is. Maar die probleem is die oorsprong van die geskikste, nie die oorlewing nie. Jy kan nie kies voordat daar ’n keuse beskikbaar is nie. Jy kan nie ’n huis bou voordat daar boumateriaal is nie. Dit is soos die Bybel sê: “Elke huis word deur iemand gebou, maar Hy wat alle dinge gebou het, is God.” Die getuienis is oral. Talle wat sê dat primitiewe steengereedskap van aapmense getuig, kan nie God se eienskappe wat deur al sy wonderbare werke weerspieël word, waarneem nie. ‘Hulle het geen verontskuldiging nie’ (Rom. 1:20). Maar laat ons ‘oë’ hê wat Jehovah se bestaan ‘sien’ soos dit deur sy skeppingswerke weerspieël word.—Matt. 13:14-16.
[Prent op bladsy 9]
VERKLEURMANNETJIE
Tongbeen
Kringspiere
Tongspiere
Middelbeen
Insek sit aan taai tong vas
[Prente op bladsy 10]
Plofkewer
Navigasie, sonar, straalaandrywing, tuinbou, kommunikasie—wie het dit eerste gedoen?