Wat beteken dit om “heilig” te wees?
OM “HEILIG” te wees beteken om rein of suiwer in woord en daad te wees. Dit beteken om te voldoen aan die goddelike standaard van wat reg en behoorlik is. Dit beteken ’n vryheid van verdorwenheid op sedelike gebied.
Die apostel Petrus het die volgende geskryf oor waarom God se knegte heilig moet wees: “Soos Hy wat julle geroep het, heilig is, moet julle ook in jul hele lewenswandel heilig word, omdat daar geskrywe is: Wees heilig, want Ek is heilig.”—1 Pet. 1:15, 16.
Ja, Jehovah God is heilig—rein of suiwer—in die hoogste graad. Hy is die “Heilige” (vgl. NW). Die volgende woorde word deur die Skrif toegeskryf aan serafs, magtige geesskepsele: “Heilig, heilig, heilig is die HERE van die leërskare” (Jes. 6:3). Die vernaamste van sy seuns, Jesus Christus, het hom aangespreek as “heilige Vader” (Joh. 17:11). Almal wat bely dat hulle sy knegte is, behoort dus tereg daarna te strewe om rein te bly in al hulle gedrag. Wat behels dit?
Om hierdie vraag te beantwoord kan ons nadere ondersoek instel na die verklaring: “Wees heilig, want Ek is heilig.” Die apostel Petrus het dit uit die Mosaïese wet aangehaal. Daar, in Levitikus 19, vers 2, verskyn die verklaring in ’n verband wat God se vereistes vir gedrag uiteensit, nie net tydens heilige bedrywighede nie, maar tydens die daaglikse lewensaangeleenthede.
Ons vind byvoorbeeld die bevel: “Elkeen moet sy moeder en sy vader vrees” (Lev. 19:3). Heilsame agting of respek vir ouers is onontbeerlik indien ’n volk die vrede en harmonie wil bewaar. Dit is so omdat sterk gesinne ’n vaste grondslag vir ’n verenigde gemeenskap vorm. Minagting vir ouers lei andersyds tot tweedrag en is reëlreg in stryd met wat verwag word van ’n volk wat Jehovah God vereer.
’n Mens sal ook verwag dat ’n rein of suiwer volk eerbied betoon vir die wette van die land, ooreenkomstig Jesus se bevel: “Betaal dan aan die keiser wat die keiser toekom” (Luk. 20:25). Christene sal dus pligsgetrou belasting betaal. Hulle sal byvoorbeeld nie verkeerswette veronagsaam en die snelheidsgrense vir “opwinding” oorskry wanneer daar geen verkeersbeampte in die omgewing is nie. Hulle moet eerlik in al hulle handelinge wees. Daar moet geen misleiding, bedrog, diefstal of leuens onder hulle wees nie. As ’n mens jou aan enige van hierdie dinge skuldig maak, bly jy in gebreke om God se heiligheid te weerspieël. Sulke dinge word ook deur God se wet verbied.—Lev. 19:11-13.
Bedagsaamheid teenoor gestremdes is nog ’n manier waarop ’n mens ‘heilig kan wees soos Jehovah God heilig is’. Sy Wet sê: “Jy mag ’n dowe nie vloek nie, en voor die blinde geen struikelblok lê nie.”—Lev. 19:14.
Die persoon wat ’n dowe bespot of vloek, sal gewis gevoelloosheid openbaar. Die dowe persoon sal magteloos wees voor ander se vernederende taal daar hy homself nie kan verdedig teen stellings wat hy nie kan hoor nie. Dit sal ook iets haatliks wees, reëlreg in stryd met God se genadige weë, indien ’n persoon ’n struikelblok in die weg van ’n blinde persoon plaas sodat hy val.
Die voorafgaande is maar ’n paar van die talle lewensterreine waarop Jehovah God vereis het dat sy eertydse verbondsvolk, Israel, heilig moes wees. Die apostel Petrus se toepassing van die verklaring wat eers aan die eertydse Israeliete gedoen is, toon dat Christene hulself ook op ’n rein of suiwer wyse moet gedra. Vir die Christen is daar geen sy van die lewe wat nie deur die goddelike vereiste van heiligheid geraak word nie.
Indien ons dus in God se oë heilig wil wees, moet ons eers meer kennis van hom verkry. Ons moet begryp wat hy goedkeur of afkeur, en waarom. Dit verg noukeurige studie van die Skrif. Dan moet ons in harmonie met juiste kennis lewe.
Die dissipel Jakobus het dit sterk beklemtoon deur te sê: “Word daders van die woord en nie net hoorders wat julleself bedrieg nie.”—Jak. 1:22.
Die bywoning van Christenvergaderinge en eerbiedige aandag aan wat gesê word, is nie genoeg om ’n persoon heilig te maak nie. ’n Persoon kan homself in werklikheid bedrieg deur te dink dat hierdie dinge basies al is wat van hom as ’n Christen vereis word. Maar dit is nie die geval nie. Ons moet onsself noukeurig in die lig van die Skrif ondersoek en nagaan om te sien of ons voldoen aan God se standaard van heiligheid. Wanneer ons dan lewensterreine sien waarop ons te kort skiet, moet ons ons daarop toelê om te verbeter.
Dit is nie moeilik om heilig, rein of suiwer te wees nie. Dit is ’n blyk van ons liefde vir God (1 Joh. 5:3). Daar word ’n beroep op ons gedoen om heelhartig deel te neem aan die vervulling van Jesus se woorde: “Die evangelie moet eers aan al die nasies verkondig word.”—Mark. 13:10.
Onderwerping aan God se standaard van heiligheid is die manier om die lewe ten volle te geniet, want die mens is geskape sodat hy God se beeld kan weerspieël (Gen. 1:26). Wanneer mense in gebreke bly om God se uitmuntende eienskappe in hulle lewe aan die dag te lê, benadeel hulle hulself en ander. Maar die persoon wat ag slaan op die Skrif sal gelukkig wees.—Jak. 1:25.
Indien jy hierdie geluk wil smaak, moet jy tyd afstaan om God se Woord te bestudeer en dit dan in alle sye van jou lewe toepas. Leer uit ondervinding dat ’n staat van heiligheid, suiwerheid of reinheid in God se oë waarlik die beste lewenswyse is. Wees ook ywerig om ander te help om volgens die Bybel te lewe.
[Prente op bladsy 22]
Hoe kan ek gestremdes help?
Gehoorsaam ek die wet?