Hoe om DIE GEES VAN SELFOPOFFERING aan te kweek
“Ek vermaan julle dan, broeders, by die ontferminge van God, dat julle jul liggame stel as ’n lewende, heilige en aan God welgevallige offer—dit is julle redelike godsdiens.”—Rom. 12:1.
1. Waarom is Jehovah ons opofferinge aan hom waardig?
INDIEN mense die begeerte moet hê om opofferinge te maak, moet die een vir wie sulke opofferinge gemaak word, dit waardig wees, hoog geag word. Jehovah God is in alle opsigte beslis enige opofferinge wat ons vir hom maak, waardig. Hy is die Skepper van die ontsagwekkende, pragtige heelal en die bron van alle lewende dinge. Hy is ook die Maker van ’n nuwe orde van geregtigheid wat al die mensdom se probleme sal oplos. Gepas sê die Bybel: “U is waardig, o Here, om te ontvang die heerlikheid en die eer en die krag, want U het alles geskape en deur u wil bestaan hulle en is hulle geskape” (Openb. 4:11). Omdat Jehovah dit so waardig is, word ons aangespoor om ‘ons liggame as ’n lewende offer aan hom te stel’.—Rom. 12:1.
2. Wat is inbegrepe in die woord ”offer”? (Lees Hebreërs 13:15, 16.)
2 Wat behels dit presies om ’n lewende offer aan Jehovah te wees? Een definisie van die woord “offer” is “om iets wat hoog gewaardeer word of wat wenslik is prys te gee ter wille van iets wat beskou word as dat dit ’n groter aanspraak het”. Nog ’n betekenis van “offer” is “die aanbieding van lewe aan ’n godheid”. Aangesien Jehovah nie vra dat ons letterlik op ’n altaar gedood moet word nie, is die opoffering van ons lewens in die vorm van diens aan hom. Waar hy gepraat het van die komende vernietiging van hierdie stelsel het die apostel Petrus Christene aangespoor om persone te wees wat gekenmerk word deur “heilige gedrag en dade van godvrugtige toewyding” (2 Pet. 3:11). Aanneemlike offers aan God sluit dus positiewe dade in, asook die versaking van gebruike wat deur Jehovah afgekeur word of wat inbreuk kan maak op ons diens aan hom.
3. Keur Jehovah alle offers op die gebied van aanbidding goed?
3 Beteken ’n weg van selfopoffering dat God mense vra om fanatici te word, om onredelike dinge te doen? Byvoorbeeld, party persone kruip lang afstande op bebloede knieë na kerkaltare en meen dat sulke offers God behaag. Ander kies doelbewus ’n lewe van armoede en bedelary. Party weier om sekere kosse te eet as deel van hulle aanbidding. Maar Jehovah vra nie sy knegte om doelbewus ontberinge te verduur nie. Hy keur mensgemaakte verordeninge af wat “’n skyn van wysheid het, in eiesinnige godsdiens en nederigheid en in gestrengheid teen die liggaam”.—Kol. 2:23.
4. Wat beteken dit om vandag opofferinge ter wille van Jehovah se belange te maak?
4 Die redelike soort selfopoffering wat Jehovah verg, is dat ons ons persoonlike begeertes aan bande moet lê sodat ons sy saak tot ’n groter mate kan bevorder. Die spil van daardie saak is God se inkomende regering vir die hele aarde, sy hemelse koninkryk in die hande van Christus. Aangesien daardie regering binnekort die aarde se enigste bewind sal wees, moet almal wat onder die regverdige administrasie daarvan wil lewe die wette, beginsels en doelwitte daarvan leer ken. Hulle moet ook die belange daarvan bevorder deur “hierdie evangelie van die koninkryk” vandag onder die mensdom te verkondig. Opofferinge ter wille van Jehovah se belange beteken dus om sy wette te gehoorsaam en om sy koninkryk eerste in ons lewens te stel: “Soek eers die koninkryk van God en sy geregtigheid”, het Jesus gesê.—Matt. 6:33.
5. Moet ’n weg van selfopoffering as te moeilik beskou word?
5 Is ’n weg van selfopoffering ’n maklike? Nee, dit is nie. Maar dit is Jehovah God en Christus Jesus wat ons nooi om hierdie weg te bewandel. Dit beteken dat so ’n weg moontlik is, aangesien die liefdevolle Vader en sy Seun, wat mense geskep het, weet waartoe mense in staat is. Aangesien Jehovah en Christus so ’n groot liefde vir mense het, kan ons daarbenewens seker wees dat hulle niks van ons sal vra wat in stryd met ons belange is nie. En as ons dink aan die wonderlike beloninge wat voorlê, kan daar met vertroue gesê word dat opofferinge om Jehovah te dien vandag die enigste lewenswyse is wat die moeite werd is. Alle ander dinge sal vroeër of later op teleurstelling uitloop.—Matt. 19:26; Rom. 9:33, vgl. NW; 1 Joh. 4:16.
6, 7. (a) Watter soort opofferinge moes Noag maak? (b) Het Noag met verloop van tyd mismoedig geraak?
6 Ons kan grootliks op ons weg van selfopoffering bemoedig word wanneer ons Bybelgeskiedenis ondersoek en sien hoe ander gewone mense so ’n weg met welslae bewandel het en watter seëninge hulle ontvang het omdat hulle dit gedoen het. Byvoorbeeld, Jehovah het Noag versoek om dinge op te offer sodat hy ’n werk kon doen wat deur die wêreld van sy dag as dwaas beskou is. Hy is beveel om ’n reusagtige vaartuig, ’n ark, te bou. Daar was egter nog nooit enige gietende reëns of oorstromings nie. Daarbenewens was Noag nie ’n skeepsbouer nie en hy het boonop gesinsverantwoordelikhede gehad.
7 Die bou van so ’n ark sou vereis dat Noag minder tyd wy aan dinge wat hy miskien verkies het om te doen. Indien hy daardie selfde tyd en energie gebruik het om sy materiële rykdom te vermeerder, kon hy ongetwyfeld geriefliker gelewe het. Hy moes ook tot ’n mate sy reputasie onder sy bure opoffer, aangesien sy werk aan die ark hom ’n voorwerp van spot gemaak het. Het hy mismoedig geraak of opgehou omdat daardie werk baie jare geduur het terwyl hy op die einde van daardie stelsel gewag het? Inteendeel, Noag het geduldig op sy weg van selfopoffering volhard. Dit het ingesluit dat hy ’n “prediker van geregtigheid” is (2 Pet. 2:5). Hy het begryp dat hy nie in ’n “normale” wêreld lewe nie, maar in ’n wêreld wat “verdorwe [was] voor die aangesig van God, . . . vol geweld”, een wat uiteindelik vernietig sou word. Gevolglik sê die Bybel: “Noag het dit gedoen. Net soos God hom beveel het, so het hy gedoen.”—Gen. 6:11, 12.
8. Hoe het Noag se gehoorsaamheid ons almal geraak?
8 Ons behoort baie bly te wees dat Noag geweier het om hom aan die kant van die genotsugtiges van sy dag te skaar. Weens sy gehoorsaamheid lewe ons vandag, daar ons almal afstammelinge van Noag is. Die genotsugtiges het alles verloor—huise, besittings, hulle sogenaamde “normale” lewenswyse. Hulle het ook hulle lewens en hulle kinders se lewens verloor, aangesien “die toenmalige wêreld met water oorstroom is en vergaan het”.—2 Pet. 3:6.
9. Hoe is Abraham geseën vir sy bereidwilligheid om opofferinge te maak?
9 Abraham was nog een wat bewus was van die nodigheid om opofferinge vir Jehovah te maak. Jehovah het hom beveel: “Gaan jy uit jou land en uit jou familie en uit jou vader se huis, na die land wat Ek jou sal wys” (Gen. 12:1). Abraham het nie teruggehou omdat Jehovah hom versoek het om ’n veilige lewenswyse prys te gee vir iets wat so onseker was nie. Hy was vol vertroue dat wat Jehovah ook al van hom vereis het, reg was en tot sy eie welsyn gestrek het. “Toe het Abram weggetrek soos die HERE hom gesê het” (Gen. 12:4). Dit het weliswaar aansienlike opofferinge oor ’n tydperk van baie jare beteken. Maar Jehovah het sy bereidwilligheid om te dien grootliks geseën: Abraham het talle van Jehovah se wonderlike dade ten behoewe van hom en sy gesin gesien; dit het hom nooit aan materiële benodigdhede ontbreek nie; hy is later “’n vriend van God” genoem (Jak. 2:23). God het ook vir Abraham beloof dat ’n hele nasie uit hom sou voortkom. Dit is betekenisvol dat die Bybel hieromtrent sê: “So het hy die belofte verkry nadat hy geduldig gewag het” (Hebr. 6:15). Daarbenewens het hy die voorreg gehad om ’n voorouer van Jesus te wees.
10. Watter teenstelling in gesindhede was daar in die eerste eeu, met watter gevolge?
10 In die eerste eeu van ons Gewone Jaartelling het talle gewone manne en vroue party van hulle eie belange opgeoffer ter wille van Jehovah se belange. Ja, hulle het hard gewerk en baie moeilikhede verduur, maar hulle het groot genoegdoening geput uit die wete dat hulle doen wat reg is en God behaag. Hulle het ook vertrou dat Jehovah hulle geloof en werke in sy belang sou onthou en hulle gewis ’n goeie beloning in die toekoms sou gee. En wat van diegene wat te genotsugtig was, wat hulle “normale” lewenswyse wou behou en wat Jesus verwerp het uit vrees dat ‘die Romeine sal kom en hulle land en hulle nasie albei afneem’? (Joh. 11:48). In daardie einste geslag het hulle lewenswyse in elk geval tot ’n einde gekom. Die Romeinse leërs het die land verwoes, met ontsaglike verlies aan lewe en eiendom. Maar selfopofferende Christene het ag geslaan op Jesus se leringe, uit die gebied gevlug en hulle lewens gered, hoewel hulle hulle huise en so te sê al hulle materiële besittings agtergelaat het. Hulle is as waarlik “salig” of gelukkig gereken.—Luk. 21:20-24; 22:28-30; Openb. 20:4-6.
OPOFFERINGE IN ONS TYD
11. (a) Word daar vandag van Christene verwag om alle besittings prys te gee? (b) Hoe raak opofferinge ter wille van Jehovah ons bedrywigheid teenoor ander?
11 Beteken dit dat al God se knegte vandag hulle huise en ander materiële besittings moet prysgee as deel van hulle offerandes aan God? Nee, dit is nie die gedagte nie, hoewel die gewilligheid om dit te doen, indien nodig, aanwesig was in die gemelde voorbeelde van Noag, Abraham en die eerste-eeuse Christene. Die hoofsaak is ’n mens se bereidwilligheid om God se belange eerste in sy lewe te stel en om enige opofferinge te maak wat dalk nodig is om dit te doen. Dit is nie soseer ’n saak van wat ’n persoon besit of nie besit nie, maar waar sy hart is. Kom Jehovah se belange eerste, of kom persoonlike belange eerste? En Jehovah se belange sluit onder andere in dat ons dinge vir ander mense doen, aangesien God se Woord sê dat ons “nie elkeen na sy eie belange [moet] omsien nie, maar elkeen ook na die ander s’n”, en ‘nie net onsself moet behaag nie’, maar dat ‘elkeen van ons die naaste moet behaag met die oog op wat goed is tot sy stigting’.—Filip. 2:4; Rom. 15:1, 2.
12. Waarom moet ons die selfopofferende weg van ander in hedendaagse tye waardeer?
12 Sien ons in hedendaagse tye so ’n gees van selfopoffering? Beslis. Trouens, die etlike miljoene persone wat nou Bybelwaarhede en Christelike omgang saam met die meer as 40 000 gemeentes van Jehovah se Getuies rondom die aarde geniet, vind baat by die opofferinge van lojale knegte van God van jare gelede. Teen die einde van die negentiende eeu en die begin van die twintigste eeu het talle selfopofferende persone hard gewerk om Bybelwaarhede aan ander te leer en om die grondslag vir Jehovah se hedendaagse, sigbare organisasie te lê, en dit is van hierdie organisasie wat ons nou die waarheid omtrent Jehovah leer, asook talle ander voordele ontvang.
13. Watter opofferinge maak baie om Jehovah tot ’n groter mate te dien?
13 Dwarsoor die aarde maak talle duisende toegewyde manne en vroue vandag buitengewone opofferinge om God te dien. Party het letterlik huise en besittings opgeoffer sodat hulle voltyds ter bevordering van Jehovah se belange in sendingwerk, in Bethelhuise of as reisende verteenwoordigers wat gemeentes dien, kon arbei. Ander maak opofferinge om spesiale, gewone of hulppioniers te wees sodat hulle ’n groter aandeel daaraan kan hê om ander van Jehovah se inkomende nuwe orde te leer.
14. Hoe beskou Jehovah diegene wie se diens aan hom deur hulle omstandighede beperk word?
14 Maar nie almal wat aan Jehovah toegewy is, is so vry van verantwoordelikhede dat hulle sulke voltydse werk kan doen nie. Talle voer ’n hewige stryd in ’n moeilike ekonomiese stelsel om ’n bestaan vir hulle gesinne te maak, wetende dat indien hulle dit nie doen nie, hulle “slegter as ’n ongelowige” sal wees (1 Tim. 5:8). Christenouers het ook die verantwoordelikhede wat gepaard gaan met die grootmaak van kinders. Hulle begryp dat hulle party van die dinge wat hulle dalk verkies om te doen moet opoffer sodat hulle tyd daaraan kan wy om hulle kinders groot te maak “in die tug en vermaning van die Here” (Ef. 6:4). Daar is ook party wat weens swak gesondheid, bejaardheid of ander beperkings baie min in regstreekse diens aan Jehovah kan doen. Hierin kom hulle ooreen met die arm weduwee wat slegs “twee geldstukkies” met baie min waarde by God se tempel kon gee (Luk. 21:1-4). Maar al sulke persone wat alles in hulle vermoë doen om ander te help om van Jehovah te leer, maak gewis opofferinge wat hom behaag. Hy het hulle lief weens hulle bereidwilligheid om moeilike toestande te verduur en nog steeds diens aan hom te lewer soos hulle situasie toelaat.—Jak. 5:11.
ONDERSOEK JOUSELF
15. Watter vrae kan ons gerus aan onsself stel?
15 Het jy die gees van self opoffering? Of is jy geneig om genotsugtig te wees? Dien jy Jehovah tot die mate wat jou omstandighede toelaat? Ondersoek jouself gerus om te sien of jy jou Christelike diens aan God kan verbeter.
16. Hoe kan ons ‘die tyd uitkoop’? (Lees Romeine 10:9, 10.)
16 Kan jy byvoorbeeld meer van jou tyd aan Skriflesing wy? Het jy, indien jy ’n gesin het, gereelde Bybelbesprekings met hulle? Kan jy meer van jou vrye tyd gebruik om mense in julle buurt te besoek om vir hulle van die “goeie nuus” te vertel? Of kan jy van jou tyd daaraan wy om die siekes, die bejaardes of ander te help deur Christelike dade van vriendelikheid en liefde te verrig? Moontlik kan jy die tyd wat jy byvoorbeeld aan ontspanning wy, soos om na die televisie te kyk, vergelyk met die tyd wat jy gebruik om Jehovah in die een of ander sy van sy werk te dien. Is dit gebalanseerd?—Ef. 5:15, 16.
17. Waarom is dit belangrik dat ouers ondersoek instel na wat hulle hulle kinders vra om te doen?
17 Is jy ’n ouer? Ondersoek jou verhouding met jou kinders. Besef dat die beste tyd vir jou kinders om ’n weg van selfopoffering te begin leer hulle kinderdae is. Gee jou kinders nuttige werk in die huis om te doen. Help hulle om te sien dat die lewe nie net uit speel bestaan nie, maar ook uit werk, opofferinge. Toe jy ’n kind was, het jy moontlik ou klere, min ontspanning en nie genoeg goeie kos gehad nie. Jy meen dalk dat jy nie wil hê dat jou kind met so min soos jy moet klaarkom nie. Maar as jy andersyds alles aan jou kind gee wat hy wil hê, kan dit sy lewe kos! Dit kan hom laat dink dat die lewe maklik is, dat ’n mens dinge maklik in die hande kry, dat dit maklik is om Jehovah se wil te doen. Later kan hy gevolglik onwillig wees om opofferinge vir Jehovah te maak. Soos julle volwassenes reeds weet, is die lewe nie maklik nie, kry ’n mens dinge nie maklik nie en is dit nie noodwendig maklik om Jehovah se wil te doen nie. Help julle kinders dus om ’n gebalanseerde lewensbeskouing te verkry. Leer vir hulle dat hoewel daar ’n tyd vir ontspanning is, daar ook tyd vir werk, vir Bybelstudie, vir opoffering moet wees. Dissiplineer julle seuns en dogters in ’n weg van redelike selfopoffering. Die vrug van hierdie dissipline kan moontlik een van die waardevolste dinge wees wat hulle by julle sal erf (Ef. 6:4; Hebr. 12:11). En julle eie goeie voorbeeld sal die beste steun wees van die mondelinge instruksies wat julle gee.
18. Watter verbeteringe kan ons steeds aanbring, al kan ons nie meer van ons tyd aan Jehovah se diens wy nie?
18 Hetsy jy getroud of ongetroud is, ’n eerlike selfontleding sal dalk toon dat jy soveel tyd as wat jy redelik kan aan die bevordering van Koninkryksbelange wy. Is daar nog iets wat jy kan doen? Ja, daar is. Jy kan jou daarop toelê om jouself ’n beter Christen te maak deur te leer om die vrug van God se gees, naamlik “liefde, blydskap, vrede, lankmoedigheid, vriendelikheid, goedheid, getrouheid, sagmoedigheid, selfbeheersing”, tot ’n groter mate aan die dag te lê (Gal. 5:22). Daarbenewens kan jy jou daarop toelê om die gehalte van jou diens aan God te verbeter.
19. Waarom behoort ons die gees van selfopoffering te wil aankweek? (Lees Hebreërs 6:11; 1 Korinthiërs 15:58.)
19 Hoe bevredigend sal dit tog in die toekoms, in God se nuwe orde, wees indien jy kan terugkyk en weet dat jy, toe dit werklik in hierdie dringende tyd belangrik was, jou ‘skouer teen die wiel gesit het’, die nodige opofferinge gemaak het en jou deel gedoen het om Jehovah te dien. Ja, wees bereid om persoonlike belange opsy te skuif ter wille van Jehovah se belange, gedagtig aan die aangrypende beloninge in die toekoms. Kweek die gees van die psalmis aan toe hy gesê het: “Vrywillig wil ek aan U offer; ek wil u Naam, o HERE, loof, want die is goed.”—Ps. 54:8.
[Prent op bladsye 20, 21]
Petrus, Noag, Abraham en ander het opofferinge gemaak ter wille van Jehovah en is deur hom geseën