Hoe om gehoorsaamheid aangenaam te maak
BEDAGSAAMHEID is waarlik ’n olie wat help om die masjinerie van menseverhoudinge te smeer. Dit is veral waar wanneer hierdie eienskap aan die dag geld word deur diegene wie se plig dit is om gehoorsaamheid by ander uit te lok. Die gedagte om gehoorsaam te wees stuit talle persone teen die bors; en dit is waar van kinders sowel as volwassenes. Maar wanneer gesaghebbers bedagsaam is, kan gehoorsaamheid aangenaam gemaak word, terwyl dit andersins ’n lastige plig kan wees.
God het byvoorbeeld aan ouers die gesag oor hulle kinders gegee. Maar hoe oefen hulle dit uit? Party ouers dring daarop aan dat hulle kinders hulle moet gehoorsaam sonder om te dink of hulle dit gewillig of teësinnig doen. Hierdie gebrek aan bedagsaamheid aan die kant van volwassenes is ongetwyfeld een rede waarom soveel kinders in hierdie “laaste dae” “ongehoorsaam aan hulle ouers” is (2 Tim. 3:1, 2). Hoe kan ouers dit vir hulle kinders aangenaam maak om gehoorsaam te wees? Dit betoning van empatie is ’n groot hulp, want empatie werk bedagsaamheid in die hand. Om empatie te betoon, moet ouers hulle as ’t ware in hulle kinders se plek stel. Bevele aan kinders moet gegee word in terme wat ’n kind maklik kan snap asook uit ’n kind se oogpunt. Dit is ook belangrik dat ’n bevel of ’n versoek in ’n vriendelike, liefdevolle stemtoon gedoen word, en nogtans ferm, indien nodig. ’n Bevel moet bowenal nooit tydens onbeheerste woede gegee word nie.
Wanneer tyd en omstandighede dit toelaat, is dit baie nuttig om te verduidelik waarom ’n sekere ding gedoen moet word. En daar is natuurlik altyd redes. Dit is ideaal om as vader en seun of moeder en dogter saam te werk. Wanneer dit nie moontlik is nie, kan ’n versoek gepaard gaan met ’n opmerking soos: ‘Terwyl jy dit doen, sal ek dat doen’. Om gehoorsaamheid aangenaam te maak, moet daar ook konsekwensie wees. Ouers se dade moet met hulle woorde strook. Indien hulle wil hê dat hulle kinders hulle moet respekteer, moet hulle eerbied vir gesag toon. Ons kan net byvoeg dat al sulke faktore nog belangriker is wanneer daar met volwassenes gewerk word. Om te gehoorsaam beteken dat iemand hom onderwerp aan die behoorlik uitgeoefende gesag van een oor ’n ander, iets wat indruis teen die ego of trots van party. Die Bybel sê dus vir ’n Christen: “Moenie iets doen uit . . . ydele eer nie, maar in nederigheid moet die een die ander hoër ag as homself.”—Filip. 2:3; vergelyk Galasiërs 5:26.
Vroue word beveel om ‘hulle mans in alles onderdanig te wees’. Maar indien die man ook die Bybel se raad toepas en ‘sy vrou soos sy eie liggaam lief het’, indien hy empatie en bedagsaamheid aan die dag lê, sal sy vrou dit gewis aangenaam vind om hom te gehoorsaam (Ef. 5:22-28). Ter toeligting: ’n eggenoot wat goedhartig en simpatiek is en wat goeie oordeel het, sal sy versoeke gepaard laat gaan met beroepe op sy vrou se redelikheid, haar getrouheid, haar liefde. Hy sal nie vergeet om haar te loof vir haar bekwame ondersteuning as sy wederhelf en vir haar vlyt, selfs waar dit by klein dingetjies kom nie.—Spr. 31:10, 27-31.
Dit is eweneens bedagsaam om redes te verstrek voordat ’n versoek gerig word. ’n Eggenoot kan byvoorbeeld sê: ‘Verlede maand was ons uitgawes baie meer as ons inkomste, en indien dit voortduur, sal ons nie vanjaar met vakansie kan gaan nie. Kom ons probeer dus om nie hierdie maand bo ons inkomste te lewe nie, of hoe sê jy, my skattebol?’ Die man moet ook nie die belangrikheid van redelikheid oor die hoof sien wanneer daar versoeke gerig word nie, gedagtig aan die woorde van die apostel Petrus: “Net so moet julle, mans, verstandig met [julle vroue] saamlewe en aan die vroulike geslag, as die swakkere, eer bewys.”—1 Pet. 3:7.
Soortgelyke beginsels kan toegepas word in die verhouding tussen ’n werker en sy baas, voorman of opsiener. Die Bybel beveel diegene wat in sekulêre aangeleenthede gesag oor ander uitoefen om hulle nie met skeltaal te dreig nie, soos base dikwels geneig is om te doen, want dit help nie juis om gehoorsaamheid aangenaam te maak nie. God se Woord beveel sulkes ook: “Betoon reg en billikheid.” Niks bederf die genot van werk meer as om onder onregverdige en verdrukkende toestande te werk nie.—Ef. 6:9; Kol. 4:1.
Ook hier help dit baie om ’n beroep te doen op redelikheid asook op die ander persoon se gewilligheid. So kan ’n ouere man in ’n Christengemeente sy versoeke of toewysings laat voorafgaan deur ’n woordjie van waardering vir toewysings of vrywilligerdiens wat gewillig in die verlede verrig is. ’n Opsiener kan die samewerking van medewerkers probeer verkry deur vriendelik vir hulle te vra of hulle hom met hierdie of daardie projek wil help, of deur ’n deel van die las van die betrokke taak met hulle te deel.
lets wat veral help om gehoorsaamheid aangenaam te maak, is die betuiging van waardering vir werk wat gedaan is. Dit is iets so gerings dat dit moontlik as ouderwets oor die hoof gesien kan word, maar dit behaal vandag nog resultate, soos ’n berig toon wat in “Today’s Health” van Augustus 1972 verskyn het. Daar was ’n klerk wat as deel van sy werk die middelste gang van die maatskappy se skuur moes uitvee. Die eerste keer wat die baas opgemerk het hoe goed die klerk die vloer gevee het, het hy uitgeroep: “Haai! Jy het jou goed van jou taak gekwyt.” Waar die klerk hieroor kommentaar gelewer het, het hy gesê: “Dis al, niks meer nie, maar elke dag of elke keer wat ek die vloer gevee het, het hy iets moois daaroor gesê. . . . Eenvoudige woorde soos hierdie kan ’n persoon laat dink dat hy of sy iets bereik het. Iemand stel belang in wat jy doen, en dit wat jy doen, is belangrik. Elke keer wanneer jy dit doen, doen jy dit dus beter.”
Dit is maklik vir ouers om uit voeling met hulle kinders te raak, vir mans om onbedagsaam te wees in hulle handelinge met hulle vrouens, en vir werkgewers of opsieners in die sake- of nywerheidswêreld om so deur hulle verantwoordelikhede in beslag geneem te word dat hulle die menslike element oor die hoof sien in hulle handelinge met diegene onder hulle. Maar empatie, wat so bevorderlik is vir bedagsaamheid aan die kant van diegene wat versoeke rig of bevele gee, kan veel doen om gehoorsaamheid vir ander aangenaam te maak in plaas van ’n plig wat teësinnig nagekom word.