Koninkryk-“saad” dra vrug in Suider-Afrika
OP SONDAG, 26 Februarie 1978, het ’n gemengde skare van 1 867—swartes, Blankes, Kleurlinge en Indiërs—by ’n groot, mooi gebou sowat 16 kilometer oos van Johannesburg vergader. Verteenwoordigers van Christengemeentes het uit Botswana, Lesotho, Swaziland, Suidwes-Afrika en alle dele van Suid-Afrika gekom. Die geleentheid was die toewyding van die aanbousel by Bethel, die hoofkwartier van die Wagtoring-Bybel-en-Traktaat-genootskap in Suid-Afrika.
Die eerste twee sprekers het vertel van party van die historiese verwikkelinge wat tot hierdie toewyding van die nuwe aanbousel aanleiding gegee het. By die eeuwisseling was die hele Afrika nog steeds “donker” wat die Koninkryksboodskap betref het—’n ontsaglike, ongebraakte veld vir verbouing. Alhoewel Koninkryk-“saad” in 1902 begin het om in ’n paar plekke wortel te skiet, is ’n tak eers in 1910 in Durban opgerig, en dit het uit een klein kantoortjie bestaan. Slegs een Getuie het na die werk omgesien.
In 1917 is die takkantoor na Kaapstad, op die suidelike punt van die vasteland, verskuif. Dit het toesig gehou oor die predikingswerk in die hele Afrika suid van die ewenaar. Aanvanklik is daar stadig gevorder. Teen 1931 het slegs ongeveer 100 die “goeie nuus” daadwerklik in die yslike gebied verkondig. Maar in 1948 is nuwe takke gestig in die gebied wat vandag die lande Malawi, Rhodesië en Zambië is. In 1952 het Suid-Afrika meer as 9 500 Koninkryksverkondigers gehad. Gedurende daardie jaar het die tak van Kaapstad verhuis na ’n nuwe gebou in Activiapark, Germiston, en dit was geleë op dieselfde perseël as die huidige.
Soos die tema van die toewydingsprogram getoon het, “God het dit steeds laat groei” (1 Kor. 3:6). In 1959 is ’n groot aanbousel by die oorspronklike gebou gevoeg, en in 1971 moes dit verder vergroot word. Eerlank was nog meer ruimte nodig. In Junie 1975 is daar dus ’n plan geteken vir ’n aanbousel wat amper die grootte van die gebou verdubbel het.
Die volgende deel op die program het getoon dat Jehovah God die helpers en broodnodige toerusting voorsien het. ’n Argitek, ingenieurs, tekenaars, elektrisiëns, messelaars, loodgieters, timmermanne en ander bedrewe manne het hulle dienste aangebied. Talle wat geen vakkennis gehad het nie, het egter die jeugdige krag en uithouvermoë wat noodsaaklik was om so ’n reusetaak te verrig, aangebied.
Jehovah se gees het talle beweeg om nie alleen hulle arbeid, tyd en bedrewenheid aan te bied nie, maar ook om geld, materiaal en masjinerie te voorsien. Ons het byvoorbeeld ’n kraan van 20 meter nodig gehad. Om een te huur of ’n nuwe te koop was finansieel buite ons bereik. Maar ’n Getuie het een teen ’n redelike prys by ’n uitverkoping bekom. Terselfdertyd is ’n milde bydrae ontvang om die onkoste te dek. Maar wie kon die kraan oprig en bedien? Net op die regte tyd het ’n Getuie, ’n erkende plaaslike deskundige op die gebied van daardie soort kraan, sy dienste aangebied om dit op te knap, op te rig en te bedien.
’n Plaaslike onderdeel-en-rommelwerf wat aan ’n Getuie behoort, het ’n verbasende verskeidenheid masjinerie en toerusting van allerhande groottes gehad. Herhaaldelik kon die einste ding wat nodig was gratis daar gekry word.
Die hoofspreker het daarop gewys dat nie alleen ’n mooi, stoflike bouprojek voltooi is nie, maar nog belangriker, dat ’n groot geestelike bouwerk in Suider-Afrika geskied. Hy het getoon dat daar, met ’n opkoms van 77 357 by verlede jaar se Gedenkmaalviering vir die gebied onder die plaaslike tak, goeie potensiaal vir verdere groei is. Die spreker het voorts getoon dat daar, vergeleke met hoe “donker” Afrika aan die begin van die eeu was, nou meer as 6 000 gemeentes van Jehovah se Getuies op die vasteland is, met sowat 274 000 bedrywige verkondigers van die “goeie nuus”.
Honderde besoekers het die takkantoor besoek. Die gebou self, met sy indrukwekkende posisie, hoogte en mooi voorkoms, domineer die omgewing. Talle het groot bewondering uitgespreek vir die Koninkryksaal met sy lugreëlingstelsel, skuins vloer, gemaklike sitplekke en pragtige dekor. Agter die saal is daar ’n nuwe klankdigte ateljee om bande vir Bybeldramas in die talle tale te maak wat in hierdie veld gebruik word.
Bokant die Koninkryksaal is die nuwe kantoor wat goed toegerus is vir doeltreffende werk. Die besoekers het ook hul bewondering uitgespreek vir die mooi trap met ’n miniatuurwaterval wat in die trapkuil van die een trapportaal na die ander neerstort. Op die boonste verdieping van die nuwe aanbousel is ’n aantal van die gerieflike slaapkamers van die gesin. Daar is nou altesaam 87 slaapkamers in die Suid- Afrikaanse Bethel.
Nog iets wat die besoekers baie beïndruk het, was die ruim nuwe eetsaal. Langsaan is die groot kombuis met moderne arbeidsbesparende toerusting waar sowat 450 maaltye per dag voorberei word. Langs die kombuis is daar ’n groot groentekamer, dan ’n koelkamer vir suiwelprodukte en laastens ’n deur wat na die vrieskamer lei waar groot hoeveelhede vleis, vis, ensovoorts vars gehou kan word.
lets wat altyd vir besoekers aan die Suid-Afrikaanse Bethel interessant is, is die uitgebreide fabriek met sy nege Linotype-masjiene, die plaatafdeling en die nege drukperse, onder andere ’n rolpers wat 12 000 tydskrifte per uur kan druk. As gevolg van die nuwe aanbousel is daar ook baie ruimte om die groot hoeveelhede papier wat gebruik word, te berg. Elke maand druk hierdie tak 28 verskillende nommers van “Die Wagtoring” en “Ontwaak!” in 11 tale. Reëlings vir nog verdere uitbreiding word getref.
Bemoedig en geestelik versterk deur wat hulle gesien en gehoor het, het die besoekers aan Bethel teruggekeer huis toe, bly oor hulle eie aandeel in die puik vermeerdering van Koninkryksverkondigers in Suider-Afrika. Hulle het almal heelhartig saamgestem met die versoek tydens die toewydingsgebed dat Jehovah hierdie verbeterde en groter gebou moet seën, tot die eer van sy groot naam.