Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w78 11/1 bl. 7-11
  • Wandel jy in God se naam?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Wandel jy in God se naam?
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1978
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • WAT DIT BETEKEN OM IN ’N NAAM TE WANDEL
  • HOE OM IN JEHOVAH SE NAAM TE WANDEL
  • GODDELIKE PERSOONLIKHEID EN DADE
  • EERBIED VIR DIE GODDELIKE NAAM
  • ’N UNIEKE VOORREG
  • GETUIG MOEDIG
  • Eer Jehovah se groot naam
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2013
  • God se naam en joune
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1978
  • God se naam
    Ontwaak!—2017
  • Die allergrootste naam
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1984
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1978
w78 11/1 bl. 7-11

Wandel jy in God se naam?

“Al die volke mag wandel elkeen in die naam van sy god, maar óns sal wandel in die Naam van [Jehovah] onse God vir ewig en altoos.”—Miga 4:5.

1. In wie se naam wandel elke intelligente persoon? Verduidelik.

ELKE intelligente persoon wandel in die naam van die een of ander god. Ja, hetsy nasies of indiwidue dit nou besef of nie, hulle dien ’n god. ‘Hoe is dit moontlik?’ vra jy dalk. Wel, nie almal dien vandag ’n spesifieke god by naam soos die ou volke gedoen het nie. Maar party persone verafgood filmsterre, politici, sportmanne, selfs hulself. Hulle god kan dan glad hulle eie buik wees! (Filip. 3:18, 19). Party aanbid Satan die Duiwel regstreeks, terwyl ander hom onwetend dien, want “die hele wêreld [lê] in die mag van die Bose” (1 Joh. 5:19). Hoe waar is die woorde wat onder goddelike inspirasie deur die Hebreeuse profeet Miga tydens die agtste eeu voor die Gewone Jaartelling opgeteken is! Hy het gesê: “Al die volke mag wandel elkeen in die naam van sy god.”—Miga 4:5.

2, 3. (a) In wie se naam wandel ware Christene, en veral wanneer? (b) Watter gesindheid het hulle? (Kol. 3:23, 24).

2 Net voor daardie woorde is daar verwys na wat sou plaasvind “aan die einde van die dae”. Dan sou die berg van Jehovah God se huis vasstaan bo alle ander berge (dit dui die verhewe posisie van ware aanbidding aan). Mense sou daarheen toestroom. Hulle sou ‘van hul swaarde pikke smee en van hulle spiese snoeimesse, en hulle sou nie meer leer om oorlog te voer nie’.—Miga 4:1-4.

3 Diegene wat na Jehovah se huis toestroom, besef dat “daar geen ander God is nie, behalwe Een” (1 Kor. 8:4). Terwyl ‘al die volke elkeen in die naam van sy god wandel’, word die gesindheid van hierdie ware Christene gevolglik goed beskryf deur Miga se volgende woorde: “Maar óns sal wandel in die Naam van [Jehovah] onse God vir ewig en altoos” (Miga 4:5). Wat beteken daardie uitdrukking vir jou? Wandel jy in God se naam?

WAT DIT BETEKEN OM IN ’N NAAM TE WANDEL

4. Wat is ’n naam? Lig dit toe.

4 ’n Naam is ’n term waaraan ’n persoon of ’n ding uitgeken word. Die woord “god” is ’n gemeenskaplike naam. ’n Eienaam onderskei ’n persoon andersyds van alle ander indiwidue. “Jehovah” is ’n eienaam. Maar die term “naam” beteken ook reputasie of faam. Die ‘naam van onse God’ is dus die eienaam of persoonlike naam waaronder hy bekend is, en daar is ’n sekere reputasie daaraan verbonde.

5, 6. (a) Wat is in vervloë tye met die naam van ’n god geassosieer? (b) Wat word bedoel met die uitdrukking om ‘in die naam van ’n god te wandel’?

5 In die ou tyd het mense gewoonlik onderskeidende name aan hulle gode gegee. Daar was byvoorbeeld Tammus, Artemis, Zeus, Baal en Mardoek. Mettertyd het die verskeie gode en godinne, weens hulle vermeende dade, ’n reputasie gekry; hulle het faam verkry. So ’n reputasie en faam is later met elke god se naam geassosieer. Mardoek, byvoorbeeld, was die vermeende stigter van Babilon.

6 Om ‘in die naam’ van ’n sekere god ‘te wandel’ beteken om dinge te doen wat deur daardie god goedgekeur of gedoen word. Dit beteken dat ’n mens optree in ooreenstemming met die reputasie van daardie god en ook die gesag van daardie godheid erken. Om ‘in die naam van ’n god te wandel’ beteken in werklikheid om aan daardie god toegewy te wees, dit beteken dat ’n mens sy naam dra en daardie god op aarde verteenwoordig. Dit beteken dat ’n mens in ooreenstemming met die karaktertrekke van daardie god lewe.

HOE OM IN JEHOVAH SE NAAM TE WANDEL

7, 8. Wanneer ’n mens in Jehovah se naam wandel, behels dit meer as net wat?

7 Die ware God het aan homself ’n naam gegee. Christene is deeglik daarvan bewus dat Jehovah “die Allerhoogste is oor die hele aarde” (Ps. 83:19). Hulle is dankbaar dat God sy eie persoonlike naam aan hulle geopenbaar het. Maar om in die naam van Jehovah te wandel behels veel meer as om net daardie naam te kan uitspreek. Dit beteken meer as om die goddelike naam in Bybelmanuskripte te herken.

8 Om in die naam van Jehovah te wandel beteken nie bloot om te sê dat hy ons God is nie. Dit behels ook meer as die bywoning van Christenvergaderinge by die plaaslike Koninkryksaal van Jehovah se Getuies. En die predikingswerk is natuurlik nie al wat nodig is om in Jehovah se naam te wandel nie.

9. Is ons woorde al wat nodig is om in Jehovah se naam te wandel?

9 Hoewel hierdie dinge belangrik is, bewys hulle op sigself nie dat ons waarlik in die “naam” van Jehovah wandel nie. Die beslissende faktor is nie bloot wat ons sê en aangaande onsself beweer nie, maar wat ons inderdaad met ons hele hart, verstand, siel en krag doen (Luk. 10:27; Jak. 1:22-27). Die Christenapostel Paulus het hierdie gedagteprikkelende vraag gestel: “Weet julle nie dat aan wie julle julself as diensknegte tot beskikking stel om hom gehoorsaam te wees, julle diensknegte is van hom aan wie julle gehoorsaam is nie—of van die sonde tot die dood, of van die gehoorsaamheid tot geregtigheid?” (Rom. 6:16). Diegene wat in God se naam wandel, is aan hom toegewy, en hulle dien Jehovah inderdaad getrou en gehoorsaam “as slawe” (Rom. 12:11, NW). Het jy jou ferm aan die kant van Jehovah se aanbidders geskaar? Wandel jy in God se naam?

GODDELIKE PERSOONLIKHEID EN DADE

10. Hoe het ons waardering vir Jehovah toegeneem?

10 Ons was moontlik oorstelp van vreugde toe ons uitgevind het dat die almagtige God ’n naam het. Dit het ons miskien groot genoegdoening verskaf toe ons die eerste keer die goddelike naam Jehovah in die Bybel gesien het. En hoe bly was ons om te weet dat God se naam duisende kere in die Heilige Skrif verskyn! Maar om in die naam van Jehovah te wandel was ’n ander saak. Dit het nie skielik begin nie. Ons waardering het toegeneem namate ons meer te wete gekom het aangaande die Een wat die naam Jehovah dra.

11. Wat is Moses aangaande Jehovah se eienskappe meegedeel?

11 Met verloop van tyd het ons Jehovah se eienskappe, sy persoonlikheid, begin waardeer. Ons het byvoorbeeld sulke insig verkry toe ons gepeins het oor hierdie beskrywing van God in Exodus 34:6, 7:

“Toe [Jehovah] by [Moses] verbygaan, het Hy geroep: [Jehovah, Jehovah,] barmhartige en genadige God, lankmoedig en groot van goedertierenheid en trou; wat die goedertierenheid bewaar vir duisende, wat ongeregtigheid en oortreding en sonde vergewe, maar nooit ongestraf laat bly nie.”

12. Hoe het Moses Jehovah in ’n lied beskryf?

12 Jare later is Moses deur God geïnspireer om ’n lied te skryf. Daarin het hy gesê:

“Die Naam van [Jehovah] roep ek uit: Gee grootheid aan onse God! Die Rots—volkome is sy werk; want al sy weë is strafgerigte; ’n God van trou en sonder onreg; regverdig en reg is Hy.”—Deut. 32:3, 4.

13. Watter eienskap wat ons nou met Jehovah assosieer, beweeg ons om hom lief te hê en te vertrou?

13 Diegene wat in Jehovah se naam wandel, het ook geleer dat liefde, blydskap, vrede, lankmoedigheid, vriendelikheid, goedheid, getrouheid, sagmoedigheid en selfbeheersing die vrug van God se heilige gees is (Gal. 5:22). Dit is dus eienskappe wat by Jehovah ontstaan. Nou assosieer ons hulle met sy heilige naam, en dit beweeg ons om die God in wie se naam ons wandel lief te hê en te vertrou.

14. (a) Hoe kan diegene wat in Jehovah se naam wandel seker wees dat God sy voorneme kan uitvoer en sy naam kan regverdig? (b) Verduidelik hoe Jehovah se voortreflikheid vergeleke met die gode van Egipte goed onder die nasies bekend geraak het, soos in Josua 2:10, 11 en 1 Samuel 4:8 verhaal word.

14 Ware Christene het daarbenewens geleer dat dit Jehovah se voorneme is om sy universele soewereiniteit te verdedig en sy naam te regverdig deur middel van die hemelse koninkryk in die hande van Jesus Christus (Luk. 11:2; Openb. 11:16-18). Godvrugtige persone besef bowendien dat Jehovah in staat is om sy voorneme uit te voer en sy heilige naam te regverdig. Waarom? Omdat Jehovah ’n reputasie van magtige dade het. Hy is nie soos die waardelose gode van die nasies wat niks goeds kan doen vir diegene wat in hulle naam wandel nie (Ps. 115:1-8). Kyk hoe Jehovah in ’n lied beskryf is nadat hy die volk van Israel op wonderdadige wyse by die Rooi See verlos het:

“O [Jehovah], wie is soos U onder die gode? Wie is soos U, verheerlik in heiligheid, gedug in roemryke dade, een wat wonders doen? U het u regterhand uitgestrek, die aarde het hulle verslind. Farao se perd, met sy strydwaens en sy ruiters, het in die see ingegaan, en [Jehovah] het die waters van die see oor hulle laat terugkom. Maar die kinders van Israel het binne-in die see op droë grond getrek.”—Ex. 15:11, 12, 19.

15. Hoe kom dit dat diegene wat in Jehovah se naam wandel hom ken as die God van betroubare profesieë?

15 Diegene wat in Jehovah se naam wandel, erken hom ook as die God van betroubare profesieë. Jehovah se voorspellings van toekomstige gebeure word in sy eie naam neergeskryf. Dit is asof hy sy handtekening daarop geplaas het as ’n waarborg van hulle betroubaarheid. Ons kan op sulke profesieë peil trek. Byvoorbeeld, Jehovah het profeties beloof om die Israeliete uit slawerny in Egipteland te verlos en ’n bepaalde land aan hulle te gee. Dit is gedoen (Ex. 3:6-17; 14:19-31). Talle jare later kon koning Salomo van Israel sê: “Geloofd sy [Jehovah] wat aan sy volk Israel rus gegee het net soos Hy gespreek het: geen enkele woord het onvervuld gebly van al die goeie woorde wat Hy deur die diens van sy kneg Moses gespreek het nie.”—1 Kon. 8:56; kyk ook Josua 21:45.

16. Wat het diegene wat in Jehovah se naam wandel aangaande God se liefde vir die mensdom geleer?

16 Diegene wat in Jehovah se naam wandel, het daarbenewens geleer van Jehovah se voorneme om die hele mensdom van sonde te reinig deur middel van die soenkrag van die offerande van sy dierbare Seun, Jesus Christus, sodat daar aan die vereistes van geregtigheid voldoen kan word. Hulle is bly om te sien dat geregtigheid aan die goddelike naam verbonde is, asook liefde vir die mensdom. “So lief het God die wêreld gehad”, het Jesus gesê, “dat Hy sy eniggebore Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê.”—Joh. 3:16; 1 Kor. 15:22; 1 Joh. 4:10.

EERBIED VIR DIE GODDELIKE NAAM

17. Hoe het Jehovah getoon dat hy selfrespek het?

17 Die naam van so ’n liefdevolle God verdien ons belangstelling en eerbied. Jehovah self stel intens in sy naam belang, maar nie op selfsugtige wyse nie. Hy het selfrespek en het nog nooit ’n enkele ding gedoen wat sy heilige naam verlaag of oneer aangedoen het nie. Sy dade het altyd sy naam aan waarheid, geregtigheid en regverdigheid verbind. God se dade het die goddelike naam met eer, heerlikheid, prag en majesteit beklee. Bejaarde Dawid het dus goeie rede gehad om Jehovah te loof en te sê: “Aan U, [Jehovah], kom toe die grootheid en die mag en die heerlikheid en die roem en die majesteit” (1 Kron. 29:11). Hoe noodsaaklik is dit tog dat diegene wat vandag aan Jehovah toegewy is, behoorlike eerbied vir die goddelike naam betoon!

18. Hoe kan ons toon dat ons in Jehovah se naam wandel waar dit kom by sy wette, morele standaarde en voorsienings vir redding?

18 Persone wat in Jehovah se naam wandel, erken hom as hulle Wetgewer, Regter en Koning (Jes. 33:22, vgl. NW). Aangesien hy die Universele Soewerein is, het Jehovah God beslis die reg om wette te maak en te handhaaf, morele standaarde vas te stel en voorsienings te maak vir die ewige welsyn van al sy intelligente skepsele. En dink hieraan: Ons eerbied vir Jehovah se wette, ons agting vir God se morele standaarde, ons betuigings van waardering vir sy voorsienings vir ons welsyn en ewige redding—al hierdie dinge toon dat ons in Jehovah se naam wandel.

19. (a) Wat het Jehovah beloof om te doen, en waarom? (b) Ons sien dus uit na die vervulling van watter gebed?

19 Diegene wat waarlik in Jehovah se naam wandel, sien gewis met afwagting uit na die tyd wanneer God gaan optree in belang van alle liefhebbers van geregtigheid en teen almal wat sy naam ontheilig (Eseg. 20:9; 39:7, vgl.  NW). Liefhebbers van Jehovah sien voorwaar uit na die vervulling van die Modelgebed wat deur Jesus Christus geleer is: “Onse Vader wat in die hemele is, laat u Naam geheilig word; laat u koninkryk kom; laat u wil geskied, soos in die hemel net so ook op die aarde” (Matt. 6:9, 10). Daarbenewens sien persone wat in Jehovah se naam wandel ook uit na die dag wanneer almal wat lewe God se allerheiligste naam sal respekteer.

’N UNIEKE VOORREG

20. Hoe wandel Jehovah se volk ‘in sy naam’ in teenstelling met die geestelikes van die Christendom?

20 Daar rus ’n groot verantwoordelikheid op diegene wat in Jehovah se naam wandel. Om in sy naam te kan wandel, moet ons onvoorwaardelik aan hom toegewy wees. Dit verg dat ons in harmonie met God se naam lewe en verteenwoordigers is van alles waarvoor Jehovah se naam staan. Ja, dit beteken dat ons die goddelike naam korrek voor die hele wêreld verteenwoordig. Dit is duidelik dat as ’n mens in Jehovah se naam wandel, dit jou nie toelaat om daardie naam te verag, om daarteen te veg, om dit uit Bybelvertalings te hou en om te probeer om daardie naam te verberg soos die geestelikes van die Christendom gedoen het of probeer doen nie. As ’n mens in die naam van onse God wandel, beteken dit eerder dat jy die naam Jehovah eer, geestelik daarvoor veg, daardie naam sy regmatige plek in die Heilige Skrif gee en daardie heilige naam moedig verkondig.—Ps. 9:2, 3.

21, 22. Wie alleen verteenwoordig vandag die goddelike naam, en wat is hulle unieke voorreg voor die mensdom?

21 In die eerste eeu van die Gewone Jaartelling het Jehovah God ’n volk vir sy naam gehad. Daardie gesalfde dissipels van Jesus Christus het die naam en soewereiniteit van Jehovah opgehou. By die raad van die apostels en ouere manne te Jerusalem omstreeks 49 G.J. het die dissipel Jakobus dus gepas gesê: “Broeders, luister na my! Simeon [die apostel Petrus] het vertel hoe God in die begin uitgesien het om ’n volk uit die heidene vir sy Naam aan te neem” (Hand. 15:13, 14). Net so het Jehovah vandag sy naamvolk. Hulle behoort nie aan die Christendom se kerke nie, maar maak ’n oorblyfsel van Jesus se gesalfde volgelinge uit. Verbonde aan hierdie oorblyfsel is daar ’n “groot menigte” wat die hoop van ewige lewe op aarde het (Joh. 10:14-16; Openb. 7:4-9). Onder al die godsdiensgroepe wat vandag op die aarde aangetref word, verteenwoordig net hierdie Getuies van Jehovah die goddelike naam.

22 Hulle het ’n unieke voorreg en posisie voor die hele mensdom. In die agtste eeu v.G.J. het Jehovah God al die gode van die nasies deur die profeet Jesaja uitgedaag om hulle getuies te bring sodat die aangaande die godheid van daardie gode kon getuig. Al daardie valse gode het in gebreke gebly om getuies te bring. Maar let op wat die ware God aan sy naamvolk gesê het: “Júlle is my getuies, spreek [Jehovah], en my kneg wat Ek uitverkies het” (Jes. 43:8-10). Vandag dra Jehovah se Getuies met graagte die goddelike naam. Hulle beskou dit as ’n wonderlike voorreg om die Universele Soewerein te verteenwoordig en om hom aan die mensdom bekend te stel deur van hierdie ware God en sy voornemens te getuig. Vergeleke met hierdie wonderlike voorreg is alle ander dinge van betreklik min belang.

GETUIG MOEDIG

23. Wat het Henog gedoen terwyl hy met God gewandel het, en watter seën het hy ontvang?

23 Dikwels het iemand baie moed nodig indien hy as Sy getuie in Jehovah se naam wil wandel. Maar dit bring ryke seëninge mee. Byvoorbeeld, “Henog het met God gewandel” en moedig ’n sterkbewoorde boodskap verkondig (Gen. 5:24). “Kyk”, het Henog gesê, “[Jehovah] het gekom met sy heilige tienduisendtalle, om gerig te hou oor almal en al die goddelose mense onder hulle te straf oor al hulle goddelose werke wat hulle goddelooslik gedoen het, en oor al die harde woorde wat die goddelose sondaars teen Hom gespreek het” (Jud. 14, 15). Jehovah het daardie moedige getuie “weggeneem” deur hom vroegtydig te laat sterf sodat sy teenstanders hom nie kon doodmaak nie. Hy is “weggeneem” sodat hy klaarblyklik nie die smarte van die dood ervaar het nie.—Hebr. 11:5; vergelyk Johannes 3:13.

24. Hoe en waarom is Noag se getrouheid beloon?

24 Noag het ook “met God gewandel”. Hierdie getroue man het getuig oor God se voorneme om die goddelose tydens ’n aardwye vloed te vernietig. Noag se getrouheid is voorwaar beloon, want dit het daartoe gelei dat hy en sewe ander deur die globale vloed bewaar is.—Gen. 6:9; 7:6, 7; 8:16; 2 Pet. 2:5.

25. Watter soort boodskap verkondig Jehovah se Getuies vandag?

25 Daardie manne was onder die vroeë getuies van Jehovah (Hebr. 11:4-7; 12:1). Hulle was nie bang om die goddelike naam te eer en dit wyd en syd te verkondig nie. Jehovah se Christengetuies van vandag het dieselfde gesindheid. Onverskrokke verkondig hulle God se oordeelsboodskap. Hulle verkondig ook die “goeie nuus” van ’n regverdige nuwe orde wat ophande is. Hulle hunker na die volledige vervulling van Jehovah se belofte om “nuwe hemele en ’n nuwe aarde” te bring waarin geregtigheid gaan woon (2 Pet. 3:8-13). Watter vreugde sal dan heers! Niemand sal dan langer in die naam van ’n ander god wandel nie. Alle intelligente skepsele sal eerder vir ewig in die naam van Jehovah God wandel.

    Afrikaanse publikasies (1975-2027)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel