JONGMENSE wend hulle tot godsdiens—Waarom?
“VOORWAAR ’n eienaardige verskynsel”, sê talle mense. Hulle verwys na die feit dat al hoe meer jongmense dwarsoor die wêreld hulle in die laaste tyd tot godsdiens wend. In die Westerse wêreld het duisende jongmense betrokke geraak by die sogenaamde “Jesus-rewolusie”. Verskeie “ghoeroes” en kultusse het bekeerlinge uit alle vlakke van die lewe getrek. In die Ooste is dit taamlik algemeen om te sien hoe jongmense Sondae met hulle Bybels kerk toe gaan eerder as op uitstappies. In Hongkong is talle klein onverbonde jeuggroepe gestig bloot vir assosiasie, om die Bybel te bespreek en moontlik om traktate uit te gee wat deur Bybelgenootskappe gedruk is.
Wat gee aanleiding tot hierdie opwelling van godsdiensywer? Dit kan nie kerkskole wees nie, want luidens berig is die godsdienslesse gewoonlik vervelig en leeg. Dit is skynbaar eerder die feit dat jongmense kan sien dat materialisme, mense- regerings en -planne wêreldwyd slegs tot hebsug, selfsug, oorloë, ellende en algemene tevergeefsheid aanleiding gegee het. Talle het dwelmmiddels, seks en alkohol op die proef gestel, maar geen oplossings gevind nie. Hulle wend hulle dus hoopvol tot godsdiens, maar dikwels nie die godsdiens van hulle gesin nie.
Hierdie skielike bekering tot godsdiens en die verandering in lewenswyse wek dikwels groot besorgdheid by ouers en ander gesinslede. En soms is dit nie sonder rede nie, want party godsdiensgroepe laat jong bekeerlinge hulle gesin en vriende versaak, al hulle geld aan die groep gee en hulself dan afsonder deur in ’n kommune weg van die res van die wêreld te lewe. In die Ooste verkies ouers om te sien dat hulle kinders iets met materiële voordele, soos groter geleerdheid en betrekkings met groter besoldiging, nastreef.
Hoe moet jy, indien jy ’n jong persoon is, voel en reageer wanneer party lede van jou gesin skielik jou godsdiensoortuigings teenstaan? Beteken ’n verskil in godsdiens of selfs teenstand noodwendig dat daar ’n ernstige kloof in die verhoudinge tussen gesinslede moet bestaan? Nee. Maar om daardie vraag te beantwoord, moet jy eers die regte geloof hê, sowel as die feite om dit te staaf. Dit is omdat slegs die regte geloof, die geloof van die Bybel, beter kinders maak en vir ’n mens toon hoe om ’n hegter verwantskap met ouers en ander gesinslede te hê. In die Bybel verstrek die insteller van gesinne, die mensdom se Skepper, Jehovah, breedvoerige instruksies oor hoe om waarlik verenigde en gelukkige gesinne te hê.