Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w78 4/15 bl. 5-7
  • Wie stel nog in godsdiens belang?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Wie stel nog in godsdiens belang?
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1978
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • STEL DIE MEESTE BELANG?
  • Los sedes loën godsdiensoplewing
  • WAT BETEKEN DIT?
  • Is enige godsdiens goed genoeg?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1991
  • Beoefen suiwer godsdiens sodat jy behoue kan bly
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1991
  • Maak jou los van valse godsdiens
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1991
  • Die ware geloof—hoe om dit uit te ken
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1978
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1978
w78 4/15 bl. 5-7

Wie stel nog in godsdiens belang?

Ja Nee

Behoort jy aan ’n kerk?

Stel jy werklik in godsdiens belang?

Na alle waarskynlikheid het jy “Ja” antwoord op die eerste vraag. Die meeste mense sal, want meer as 2 1⁄2 miljard persone is lede van die vernaamste gelowe van die wêreld. Miljoene ander behoort aan ander kerke of huldig godsdienstige beskouings.

Wat egter van daardie tweede vraag: Stel jy werklik in godsdiens belang? Is dit ’n belangrike en invloedryke deel van jou lewe sodat jy graag wil weet watter geloof reg is?

Talle mense toon vandag min belangstelling in godsdiens. Hulle praat nie veel oor godsdiens nie en hulle laat dit nie juis hulle lewens beïnvloed nie. Wat van jou? Wat dink jy sou die meeste van jou bure, kollegas of skoolmaats sê indien ons vir hulle sou vra of hulle in godsdiens belangstel?

STEL DIE MEESTE BELANG?

As ons na ’n aantal feite kyk, sal jy beter besef waarom dit moeilik is om te antwoord op die vraag: ‘Wie stel nog in godsdiens belang?’

Daar is enersyds vandag blyke van aansienlike belangstelling in godsdiens. Het jy byvoorbeeld opgemerk hoeveel boeke en koerantartikels oor godsdienstige onderwerpe handel? Een skrywer het hierdie kommentaar gemaak oor die mark vir boeke oor godsdiens:

“Handelaars het altyd godsdienstige boeke aan godsdienstige mense verkoop en sou nie ’n boek aanhou wat neerhalend van godsdiens praat nie, tensy dit die godsdiens van die ‘heiden’ was, wat almal geweet het geen ware godsdiens was nie, maar afgodediens en paganisme. Maar nou verkoop handelaars ook al hoe meer boeke oor godsdiens aan mense wat nie kerk toe gaan nie en wat wonder hoe konvensioneel godsdienstige mense ‘so word’, en ook wonder of hulle self gelukkiger sal wees indien hulle ook so word.”

Daarbenewens kon jy nie anders as om nog ’n duidelike bewys van ’n intense belangstelling in godsdiens op te merk nie: Mense veg met mekaar, ja, maak mekaar selfs dood weens godsdiens. Jy het weliswaar miskien nog nie só daaraan gedink nie, maar dit is presies wat gebeur.

Wat byvoorbeeld van die bittere gevegte tussen die godsdienstige partye in die Filippyne of in Libanon? Onthou jy die stryd tussen Boeddhiste en Katolieke wat in Viëtnam ontketen is? Ons kan ook nie die wreedheid in Ierland tussen Katolieke en Protestante ignoreer nie—waar persone doodgeskiet en in stukkies geskiet word weens hulle geloof. ’n Onlangse Associated Press-berig het begin met die woorde:

“Die wêreld se godsdienste verkondig vrede, geregtigheid en liefde, nogtans wek hulle verbondenheid, lojaliteit, hartstogte en, paradoksaal, soms oorlog. . . . ‘Bloedige en wrede oorloë word nog steeds in die naam van God gevoer.’ ”

Die oorlogvoerdery in die naam van godsdiens dui miskien daarop dat talle mense intens in godsdiens belangstel. Meen jy egter dat dit waarlik is hoe jou sakekennisse, skoolmaats of die meeste ander mense in julle gemeenskap daaroor voel? Kan hulle selfs akkuraat vir jou vertel wat hulle kerk leer, en waarom?

In 1977 het Walter Kaufmann, professor in filosofie, byvoorbeeld oor die godsdiensopvattings in een land geskryf. Wanneer ons hom aanhaal, gaan ons die naam van die land en die identiteit van die heilige geskrifte wat hy gemeld het, weglaat. Kyk of die dinge wat hy sê waar is indien jy die naam van die land waar jy woon en die godsdienstige geskrifte wat algemeen daar aanvaar word, invul:

“Die meeste mense in [jou land] weet nie presies wat hulle glo nie omdat hulle nooit veel oor die saak nagedink het nie. Indien daar skielik vir hulle gevra word wat hulle glo, gee hulle antwoorde wat dateer uit die tyd toe hulle laas, baie jare gelede, oor sulke vrae gesels het. Mense wat sê dat hulle glo aan die letterlike vertolking van [hulle heilige geskrifte] weet in die meeste gevalle nie wat in [hierdie geskrifte] is nie, en sal taamlik verbaas wees indien iemand vir hulle vertel.”

Ja, dit lyk enersyds of godsdiens “verbondenheid, lojaliteit, hartstogte en, paradoksaal, sóms oorlog” wek en andersyds weet die mense oor die algemeen eenvoudig nie wat hulle kerk leer nie, en hulle doen ook nie moeite om uit te vind nie.—Vergelyk Romeine 10:2.

Kyk wat sê hierdie koerantopskrif:

Los sedes loën godsdiensoplewing

Sou jy sê dat dit die situasie wat jy rondom jou waameem nogal goed beskryf? Een landswye meningsopname in die Verenigde State het getoon: “Godsdiens verkry groter invloed in die gemeenskap, maar sedelikheid verloor sy invloed. Die sekulêre wêreld bied skynbaar oorvloedige getuienis dat godsdiens ons lewens nie veel raak nie.”

Jy sal ook nie vind dat dit tot enige enkele land beperk is nie. In land na land erken mense dat hulle basies godsdienstig is, maar hulle lewens bewys dat godsdiens hulle al hoe minder beïnvloed.

’n Berig uit Kanada bied insig in een van die redes. Dit het gesê dat die mense basies na geestelike dinge honger, maar dit het bygevoeg dat die vemaamste kerke, in plaas daarvan om hierdie honger te stil, “ernstige, algemene, godsdienstige slegte spysvertering” veroorsaak. ’n Waarnemer by ’n Kanadese konferensie van Katolieke biskoppe het gekla dat ’n tipiese reaksie van die mense oor die algemeen die volgende is:

“Vandag het elke persoon groot vrae diep hierbinne. Jy kry nie die antwoorde in godsdiens, in die kerk nie. Ek glo wel, maar daar ontbreek iets in die kerk.”

Of het jy opmerkings gehoor soos die volgende van ’n man wat verkies om te gaan fietsry eerder as om kerkdienste by te woon: “’n Klomp predikers doen dit vir die geld. Prekery is deesdae ’n groot bedryf”?

WAT BETEKEN DIT?

Wat beteken al hierdie dinge vir jou en jou gesin?

Dit ly geen twyfel dat godsdienshartstogte mense vandag nog steeds kan aanspoor om te haat, te moor en oorlog te voer nie. Dit gaan egter gepaard met blyke van toenemende ontevredenheid met godsdiens. Talle het ’n geestelike aptyt of ’n begeerte om te aanbid, maar is verward en onseker oor godsdiens. Hulle voel miskien verleë daaroor om godsdienstig voor te kom of hulle meen dat godsdiens vir hulle te verwarrend is. Is dit hoe jy voel?

Of moontlik beskou jy jouself as baie godsdienstig. Jy stel dalk in jou godsdiens belang daar jy oortuig is dat dit reg is. Wat ook al die geval is, jy het goeie rede om die uitnodiging te aanvaar om ’n bietjie na te dink oor watter geloof reg is. Die boek “The Great Religious Leaders” het hierdie opmerking gemaak: “As ons werklik weet wat godsdiens vir en aan die indiwidu doen, en hoe ’n persoon se vermoëns verbeter word deur ’n intelligente begrip en aanvaarding van godsdiens, behoort dit oneindig meer betekenis aan die lewe te gee.”

Die ware geloof behoort nie alleen ‘meer betekenis aan die lewe te gee’ nie, maar ons kan jou verseker dat die feite toon dat dit dit wel doen! Maar voordat jy met daardie stelling saamstem of verskil, nooi ons jou om verder te dink oor die saak van die ware geloof. Is daar net een ware geloof? Indien wel, hoe kan jy dit dan uitken? En wat kan dit vir jou beteken?

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel