Wat die WARE GELOOF vir jongmense kan doen
INDIEN al die lede van alle gesinne noukeurig aandag aan die Bybel sou skenk en pogings, selfs al is dit onvolmaakte pogings, aanwend om die Bybel se goeie raad toe te pas, sal alle gesinne interne eenheid en geluk geniet. Daarbenewens sal daar ’n einde kom aan tweedrag en oorlogvoering tussen gesinne, stamme en nasies. Maar op die oomblik is dit nie oral die geval nie. Soms slaan slegs een lid van ’n gesin hierdie goeie weg in. Sê nou dit is die geval—gestel byvoorbeeld dat slegs ’n seun of ’n dogter naarstig probeer om Bybelbeginsels toe te pas. Bring dit ’n gelukkiger gesinsatmosfeer teweeg? Nie altyd nie. Maar die gevolg is ’n sterk invloed ter bevordering van groter eenheid. En God help gewis die seun of die dogter om die probleem op ’n bevredigender wyse die hoof te bied, om groter gemoedsrus te geniet en om ’n heilsame invloed in die gesin uit te oefen.
Wanneer party nadink oor hierdie verklaring dat ’n Christen ’n verenigende uitwerking het, sal hulle dalk dink aan wat Jesus in Lukas hoofstuk 12, verse 52 en 53, gesê het, naamlik dat hy gekom het om verdeeldheid te bring—“vyf in een huis . . . drie teen twee en twee teen drie. Die vader sal verdeeld wees teen die seun en die seun teen die vader, die moeder teen die dogter en die dogter teen die moeder, die skoonmoeder teen haar skoondogter en die skoondogter teen haar skoonmoeder.” Toe Jesus dit gesê het, het hy nie ’n breuk in die gesinsverhoudinge voorgestaan nie. Jesus het nie ’n posisie teen sy eie vleeslike broers ingeneem nie. Sy broers het hom andersyds nie bemoedig nie, maar was geneig om lelike aanmerkings oor sy aansprake te maak. Jesus het egter só opgetree dat sy broers uiteindelik die “goeie nuus” wat hy verkondig het, geglo het en Christene geword het.—Joh. 7:3-5; Hand. 1:13, 14.
Nie alleen deur sy eie ervaring in die lewe nie, maar ook deur sy woorde het Jesus daarop gewys dat sy volgelinge in talle gevalle deur hulle eie gesinne afgejak, bespot en selfs vervolg sou word. Die gelowige moes egter nie die oorsaak van die vyandigheid wees weens onbeskofte of oneerbiedige gedrag van sy kant nie. Dit sou in werklikheid onchristelik wees, en dit is ’n strik waarin ’n Christen, veral ’n jonge, maklik kan trap. Hy of sy was dalk oneerbiedig voordat hy of sy ’n kennis van die waarheid van die Bybel verkry het. Maar Bybelwaarheid kan wonderlike veranderinge in die Christen teweegbring, want hy kan die voortreflikheid daarvan toelig en homself aldus by elke gewete voor God aanbeveel.—2 Kor. 4:2.
In verband met diegene wat waarlik kwaai teenstand bied omdat hulle nie die Christen se nuwe weg begryp of waardeer nie, het Jesus beveel: “Julle moet jul vyande liefhê . . . en bid vir die wat julle beledig en julle vervolg; sodat julle kinders kan word van julle Vader wat in die hemele is” (Matt. 5:44, 45). Die Christen koester altyd die hoop dat sulke persone uiteindelik gelowiges sal word.
Wanneer die waarheid teëgestaan word, sal die Christen, net soos sy Heer, Jesus Christus, ’n ferm standpunt vir die waarheid inneem. Maar fermheid hoef nie bitsigheid te wees nie. Hy sal altyd vriendelik wees. Hy sal nie dink dat hy beter as ander is of ’n persoon wees wat parmantig is of astrant antwoord nie (karaktertrekke wat vandag veral talle jongmense kenmerk). Wanneer hy bespot of beledig word, kan die Christen gerus die apostel Petrus se woorde onthou: “Wees altyd bereid om verantwoording te doen aan elkeen wat van julle rekenskap eis omtrent die hoop wat in julle is, met sagmoedigheid en vrees [innige eerbied, NW]” (1 Pet. 3:15). Hierdie sagmoedigheid en innige eerbied moet veral teenoor gesinslede betoon word. Opregte, ernstige, ywerige studie en inspanning is nodig om op hierdie wyse te antwoord. Almal, selfs jeugdige Christene, moet gegronde, duidelike, deeglike redes vir hulle geloof kan verstrek. Waar is hulle geloof andersins?
EERBIED VIR OUERLIKE GESAG
’n Jong persoon wat ’n Christen geword het, leer dat ‘die waarheid jou vry sal maak’, soos Jesus gesê het (Joh. 8:32). Hy (of sy) vind dat hy (of sy) inderdaad bevry word van talle van die dinge wat jongmense vandag beheer, ja, inderdaad verslaaf—vrees vir die van hulle eie ouderdomsgroep, sosiale druk om ‘die meerderheid te volg’, heldeverering, jaloesie, mededinging, verkeerde begeertes, frustrasies en rampspoedige gevolge omdat ’n mens deur slegte maats beïnvloed is. Maar jongmense moet besef dat hulle nie volkome vry is nie. Hulle moet behoorlik aangestelde gesag, waarvan ouerlike gesag een van die vernaamstes is, erken. Dit is God self wat aan ouers die verantwoordelikheid gegee het om kinders reg groot te maak en om te bepaal wat vir elke kind die beste is.—Deut. 6:1, 6, 7; 31:12, 13.
Ouerlike gesag sluit die “tugroede” in. Spreuke 23:13, 14 sê: “Hou die tug nie terug van die seun nie; as jy hom met die roede slaan, sal hy nie sterwe nie. Jy sal hom wel met die roede slaan, maar sy lewe van die doderyk red.” Soms meen kinders dat die dissipline nie reg toegedien word nie, maar hulle moet onthou dat dit voor God is dat ouers aanspreeklik is vir die wyse waarop hulle gesag uitoefen, en dat al word dissipline onbehoorlik toegedien, God nietemin kan toesien dat alles goed vir die gehoorsame kind verloop.—Rom. 8:28.
Onderdanigheid aan ouerlike gesag is vir ’n jong persoon baie makliker indien hy ag slaan op die apostel Paulus se woorde: “Nou lyk elke tugtiging of dit op die oomblik nie ’n saak van blydskap is nie, maar van droefheid; later lewer dit egter ’n vredevolle vrug van geregtigheid vir die wat daardeur geoefen is” (Hebr. 12:11). ’n Jong persoon wat dit besef, kan dankbaar wees oor die dissipline wat hy van sy ouers en ouer lede van die gemeente, asook by die skool ontvang. Hy sal vinnig vordering maak en ’n goeie gewete en vrymoedigheid hê, want wanneer hy hom aan gesag onderwerp, selfs al is dit soms nie ’n baie aangename ondervinding nie, dien die jong persoon die Here Jehovah en sy Seun Jesus Christus. Die apostel het spesiale aandag aan jong persone geskenk en wou hulle troos toe hy geskryf het: “Kinders, julle moet jul ouers in alles gehoorsaam wees, want dit is die Here welbehaaglik” (Kol. 3:20). Die enigste uitsondering sal wees in die geval waar die jong persoon gevra word om iets te doen wat die Here nie behaag nie.
HOE OM DIE WYSHEID VAN BO AAN DIE DAG TE LÊ
Indien jy die Skepper aanbid, sal jy dalk nie hulp van gesinslede of metgeselle ontvang nie. Om jou balans in sulke omstandighede te behou, kan jy om wysheid bid en dit van God ontvang. Aan diegene wat moeilike tye beleef het, het die dissipel Jakobus, ’n halfbroer van Jesus Christus, geskryf: “Ag dit louter vreugde, my broeders, wanneer julle in allerhande versoekinge val.” “As iemand van julle wysheid kortkom, laat hom dit van God bid, wat aan almal eenvoudig gee sonder om te verwyt, en dit sal aan hom gegee word.”—Jak. 1:2, 5.
Jakobus beskryf ook die “wysheid van bo” as “ten eerste rein, dan vredeliewend, vriendelik, geseglik, vol barmhartigheid en goeie vrugte, onpartydig en ongeveins” (Jak. 3:17). Dink noukeurig na oor elk van hierdie eienskappe en kyk eerlik of jy hulle aan die dag lê, en waar jy kan verbeter. Hierdie eienskappe sal jou help om die situasie en gevoelens van ander sowel as jou eie te verstaan.
Jy moet in gedagte hou dat jou gesinslede amper altyd jou belange op die hart dra, selfs al het hulle net ’n beperkte kennis van wat die ware Christelike geloof is. Miskien het jy begin om die Bybel saam met Jehovah se Getuies te bestudeer. Jou familielede en vriende weet dalk nie werklik watter soort mense Jehovah se Getuies is nie. Hulle meen gevolglik dalk dat ‘hierdie geloof baie van jou tyd in beslag neem’. In die lig van die skynheiligheid wat vandag in soveel gelowe aangetref word, is dit te verstane dat ouer persone bekommerd en versigtig is. Wanneer hulle jou jeugdige ywer vir godsdiens sien, bekommer hulle hulle dat jou optrede moontlik nie op gesonde verstand gegrond is nie, maar slegs op emosie. Indien hulle jou teëstaan, kan jy dalk, deur eerbiedige antwoorde in ’n gees van vredeliewendheid en redelikheid, bewys dat jy ’n verstandige en weloorwoë besluit geneem het.
Vra jouself dus af: Is ek waarlik vredeliewend en redelik? Betoon ek hierdie gesindheid teenoor my gesin selfs al staan hulle my opvattings tot ’n mate teë? Wat kan ek doen om gesinseenheid te vergroot en aldus my diens aan die Skepper heelhartig te maak? Getuig die wyse waarop ek my bedrywighede reël van gebalanseerdheid en redelikheid, sodat ek na gesinsverpligtinge kan omsien en ’n effektiewe aandeel aan die verkondiging van die “goeie nuus” kan hê?
Deur die Bybel se wysheid van bo toe te pas, behoort die Christen se gedrag teenoor en kommunikasie met gesinslede gedurig te verbeter. Jou gesin en vriende staan jou dalk nie teë nie, maar indien hulle dit wel doen, toon die apostel Petrus se woorde wat jy moet doen. Hy het Christene met die volgende woorde getroos: “[Behou] ’n goeie gewete, sodat in die saak waarin hulle van julle kwaad spreek soos van kwaaddoeners, húlle beskaam mag word wat julle goeie lewenswandel in Christus belaster. Want dit is beter, as die wil van God dit eis, dat julle ly wanneer julle goed doen as wanneer julle kwaad doen.”—1 Pet. 3:16, 17.
Dikwels het ’n Christen se gedrag ’n baie groter uitwerking op ander as woorde.
Toe ’n meisie in haar vroeë twintigerjare in Hongkong begin het om die Bybelstudie-vergaderinge van Jehovah se Getuies gereeld by te woon, het haar gesin, veral haar ouer broers, dit afgekeur. Een broer het egter opgemerk dat waar die dogter tevore luidrugtige skreeu-argumente met haar moeder gehad het, sy begin verander het namate die studie gevorder het en dat sy al hoe meer ’n stille en sagmoedige gees aan die dag gelê het. Hy het egter nog getwyfel en was nie seker of hierdie verbetering aan die invloed van haar nuwe geloof toegeskryf kan word nie. Hy het gemeen dat sy suster in werklikheid “om die bos gelei” word en dat die verandering in haar gesindheid slegs oppervlakkig is.
Om die saak op die proef te stel het die broer een keer saam met haar na die plaaslike Koninkryksaal van Jehovah se Getuies gegaan om die vergadering by te woon. Tot sy verbasing het hy nie ’n sosiale klub of ’n diens waartydens kollekteborde omgestuur word, aangetref nie, maar eerder ’n groep hartlike, vriendelike mense wat die Bybel wou bestudeer en dit in hulle lewens wou toepas. Eerlank het hy ook die Bybel bestudeer. As gedoopte Getuies woon hierdie broer en suster nou saam vergaderinge by en begin hulle om ander gesinslede saam te bring. Belangstelling in God en sy Woord is gewek en teenstand is in gesinseenheid en -geluk omskep—alles omdat ’n dogter die Bybelraad toegepas het en sagmoedigheid sowel as ’n begeerte om ander te help aangekweek het.
Soms lyk dit miskien of teenstanders nie goeie gedrag opmerk nie, maar dit moet die Christen nie ontmoedig nie.
’n Jong meisie wat voorheen geneig was om kwaad te doen en haar onafhanklikheid te toon, het haar daarop toegelê om ’n Christelike persoonlikheid te verkry. Aanvanklik het dit geen kommentaar van haar ouers uitgelok en geen klaarblyklike uitwerking op hulle gehad nie. Eendag het sy egter gehoor hoe haar moeder vir ’n buurvrou sê: “Ek het aanvanklik my dogter teëgestaan toe sy by hierdie geloof [Jehovah se Getuies] aangesluit het, maar ek het so ’n verbetering in haar gedrag waargeneem dat ek haar nie meer gaan teëstaan nie, want dit moet ’n goeie geloof wees.”
Hoe bly was hierdie meisie tog dat sy volgehou het om goeie gedrag aan die dag te lê.
OUDSTE VOOROUER, DIE “OUE VAN DAE”
Wat is dit wat jongmense onder Jehovah se Getuies die Bybel met soveel volharding laat volg selfs wanneer die gesin dit afkeur? Is dit omdat hulle geleer word om familielede nie te respekteer nie? Glad nie! Hulle volg eerder ’n gebruik wat so oud soos die mensdom self is, naamlik om respek en gehoorsaamheid aan die oudste voorvader te betoon. Tot onlangs nog is daar in gemeenskappe rondom die wêreld na die oudste manlike lid van die gesin gekyk vir raad, wysheid en voorligting. Sy woord was wet en het voorkeur geniet bo die van ander—’n seun, ’n kleinseun of ’n agterkleinseun. Talle persone in die Ooste aanbid selfs afgestorwe voorouers en kyk na hulle vir voorligting. Maar ware Christene luister in werklikheid na die oudste voorouers of voorvader, wat nie dood is nie, maar “die lewende God”, naamlik die mensdom se Skepper, Jehovah God is.—Jer. 10:10-12.
Die Bybelboek Daniel (7:9) praat van God as die “Oue van dae”. Hy is van ewigheid tot ewigheid en die fontein van lewe vir alle mense (Ps. 36:8, 10; Hand. 17:24, 25, 28). Gevolglik moet almal aan hom gehoorsaam wees, net soos behoorlik opgeleide jongmense geredelik na ouers en grootouers moet luister. Dit is deur die wysheid en instruksies van die “Oue van dae” te volg en uit te voer dat ons sy kinders genoem kan word (1 Pet. 1:14; 1 Joh. 3:1; 2 Kor. 6:18). Dit is dus verstaanbaar dat jong knegte van die Skepper meen dat hulle gewetensgetrou na hierdie hoogste ouer moet luister as die hoogste gesag wanneer hulle bevele ontvang wat strydig met mekaar is, terwyl hulle steeds eerbied vir hulle ouers behou en liefde aan hulle betoon.
Aangesien Jehovah die insteller van gesinne en gesinslewe is, is dit logies dat jongmense wat hom dien beter gesinslede sal word. Seuns en dogters sal nie hulle aardse ouers in die skande steek deur die modegiere, onsedelikheid en slegte gedrag van hierdie wêreld na te volg nie. Hulle sal nie op hulle laat wag om tuis te help en andersins hulle ouers eer aan te doen deur hulle te alle tye kuis en eerlik te gedra nie (Tit. 2:6-8). Deur aandag aan hierdie dinge te skenk, wat baie aangenamer en bevredigender as tweedrag en weerstand teen gesag is, eer jong ware Christene die Skepper. Hulle hemelse Vader word dus ook hierdeur verheerlik en hy seën hulle weens hulle liefde en geloof.