’n Opstanding van die lewe en een van veroordeling
1, 2. Waarom is Jesus se verklaring dat mag om te oordeel aan hom gegee is, nie te wonderlik om te glo nie?
OP GOD se ‘bepaalde’ dag sal sy Seun “die gawe van lewe” gebruik (Joh. 5:26, Knox). Hy sal die mensedode opwek vir wie die voordeel van sy losprys-offer geld. Die “dag” sal ’n oordeelstydperk wees, maar dit sal nie net 24 uur lank wees nie. Dit sal die tydperk van 1 000 jaar wees wat vir Christus se bewind bepaal is (Openb. 20:4-6). Die oordeelsproses sal lewe vir party en regterlike veroordeling tot vernietiging vir ander tot gevolg hê. Klink dit vandag vir ons wonderlik wanneer daar soveel geregtelike dwaling en soveel godsdienstige misverstand is oor wat God se oordeelsdag gaan wees? Dit het wonderlik geklink vir die sabbatsheiligende Jode van Jesus se dag.
2 Gevolglik het Jesus vir hulle gesê: “Moenie julle hieroor verwonder nie. Want daar kom ’n uur wanneer almal wat in die grafte is, sy stem sal hoor en sal uitgaan, die wat goed gedoen het, tot die opstanding van die lewe, en die wat kwaad gedoen het, tot die opstanding van die veroordeling. Ek kan uit Myself niks doen nie. Soos Ek hoor [by die Vader as die Hoofregter], oordeel Ek; en my oordeel is regverdig, omdat Ek nie my wil soek nie, maar die wil van die Vader wat My gestuur het.”—Joh. 5:28-30.
3. Hoe verskil diegene wat uit die dood in die lewe oorgaan en wat nie veroordeel word nie van diegene van wie Jesus in Johannes 5:28, 29 gepraat het, en watter klas persone moet hulle wees?
3 Voordat Jesus die pasaangehaalde woorde gebesig het, het hy in Johannes 5:24, 25 gepraat van ander “dode” wie se “uur” om lewend te word begin het. Hy het gesê dat sulkes ‘dood’ was, maar nogtans nie “in die grafte” was nie. Hulle het toe al die “woord” van die Seun van God gehoor en die Een geglo wat hom gestuur het. Hulle het aldus uit die dood in die lewe oorgegaan en sou nie veroordeel word nie. Omdat hulle uit die dood in die lewe oorgegaan het, is daar gesê dat hierdie persone wat ag geslaan het op die stem van God se Seun lewe en die vooruitsig van ewige lewe het. Dit moet diegene wees wat die hemelse mede-erfgename van Jesus Christus word, naamlik die 144 000 wat ’n opstanding tot die geesteryk kry om saam met hom in die Koninkryk te wees.
4. Watter toewysing ontvang die 144 000 mede-erfgename van Christus in plaas daarvan om geoordeel te word?
4 In plaas daarvan om geoordeel te word, sal hierdie 144 000 mede-erfgename van Jesus Christus saam met hom op oordeelstrone sit. Openbaring 20:4 sê: “Aan hulle is die oordeel gegee.” Hulle opstanding word “die eerste opstanding” genoem. Hulle word daardeur oombliklik tot in die hemelse staat opgewek.—Openb. 20:6.
5. Wanneer het die oordeelstydperk van die gemeente van geestelike Israel begin, en wat het Jesus gesê sal hulle voorreg in sy koninkryk wees?
5 Daar was ’n voorafgaande oordeelstydperk vir hierdie 144 000 toe hulle op die aarde was. Dit het begin by die geboorte van die Christengemeente van geestelike Israel op Pinksterdag van 33 G.J. Daardie oordeelstydperk duur voort tot die voltooiing van hierdie gemeente geestelike seuns van God (1 Pet. 4:17, 18). In verband met hulle heerlike toekoms het Jesus op Pasganag van 33 G.J. aan sy getroue apostels gesê: “Ek beskik vir julle ’n koninkryk soos my Vader dit vir My beskik het, sodat julle kan eet en drink aan my tafel in my koninkryk en op trone sit om die twaalf stamme van Israel te oordeel” (Luk. 22:29, 30). In plaas daarvan om gedurende die duisendjarige bewind van Christus geoordeel te word, oordeel hulle dus die vrygekoopte mensdom saam met hom.
6. Wat is nodig sodat die mensdom oor die algemeen ’n oordeelstydperk kan beleef, en hoe sal Hades vernietig word?
6 Indien die vrygekoopte mensdom oor die algemeen ’n oordeelstydperk hier op aarde moet hê, moet daar ’n opstanding wees van “almal wat in die grafte is”. Ter bevestiging daarvan het Jesus in Johannes 5:28-30 gesê dat die “uur” sou aanbreek waarin al sulke persone sy stem sou hoor en gehoor gee. Hy sou hulle uit hulle grafte roep net soos hy uitgeroep het tot sy vriend in die graf in Betanië: “Lasarus, kom uit!” (Joh. 11:43, 44). Daardie “uur” sou aanbreek tydens die duisendjarige bewind van Jesus Christus saam met sy 144 000 verheerlikte mede-erfgename (Openb. 20:6, 11-14). Gedurende daardie bewind gaan Hades, die gemeenskaplike graf van die mensdom, vernietig word deurdat dit geledig gaan word van al die vrygekoopte, dooie mense. Dit beteken ’n opstanding!
7. Watter twee klasse kom dan te voorskyn, en gebeur dit aan die begin van die opstandingsprogram?
7 Jesus het gesê dat twee klasse dan hulle verskyning sal maak. Dit sal egter nie met die aanvang van die opstandingsprogram wees nie, want nie al die vrygekoopte dode sal op dieselfde tyd uit die gedenkgrafte kom nie. Jesus het gepraat (1) van “die wat goed gedoen het” en (2) van “die wat kwaad gedoen het”. Dit verwys nie na wat die verrese indiwidue is die oomblik wanneer hulle uit die gedenkgrafte kom nie. Waarom sê ons so?
8. (a) Waarin sal hulle nie beland wanneer hulle uit die dood opgewek word nie, aangesien “die Lam van God” gesterf het om die wêreld se sonde weg te neem? (b) Hoe sal hulle vorige lewens hulle egter beïnvloed, en waarom?
8 Die beslissende faktor wat bepaal wat hierdie verresenes gaan wees, is nie wat hulle gedoen het voordat hulle gesterf het nie. Dit is so, want toe hulle gesterf het, het hulle die straf vir hulle sondigheid ontvang (Rom. 6:23). Daarbenewens het Jesus Christus as “die Lam van God” gesterf sodat hy ‘die sonde van die wêreld kon wegneem’ (Joh. 1:29; 1 Joh. 2:2). Dit wat hy “wegneem”, kan nie teen die mensdom gehou word wanneer hulle uit die dode opgewek word nie. In hierdie verband het die apostel Paulus geskryf: “Ons [moet] nie meer die sonde . . . dien nie. Want hy wat gesterf het, is geregverdig van die sonde” (Rom. 6:6, 7). Deur opgewek te word, beland geen vrygekoopte mens dus in “dubbele ingevaarstelling” om weer gestraf te word vir wat hy voor sy dood gedoen het nie. Gevolglik sal die beslissende faktor vir die verrese mensdom wees: Wat gaan hulle voortaan met hulle lewens doen, noudat hulle ’n nuwe begin onder Christus se duisendjarige bewind gegee is? Tydens hulle doodslaap vind daar natuurlik geen verandering in hulle persoonlikheid plaas nie. Gevolglik sal die dinge wat hulle gedoen het of hulle lewenswyse tydens die huidige, goddelose stelsel van dinge ’n invloed hê op hulle neigings en gesindhede teenoor Christus se koninkryk.
9. Watter twee moontlike uitslae is daar vir diegene wat aldus deur hulle vorige lewenspatroon beïnvloed word?
9 Ja, die vorige lewenspatroon van die verresenes sal ’n uitwerking hê op die vraag of hulle gaan voldoen aan Koninkryksvereistes vir geregtigheid en tot volmaakte menselewe op aarde gaan vorder. Daar sal dan twee moontlike uitslae wees. Soos Jesus in Johannes 5:28, 29 getoon het, sal hulle of die weg inslaan waar hulle goeie dinge doen of verkies om slegte dinge te doen. Met watter onderskeie gevolge?
10. Wat beteken “lewe” in die uitdrukking “die opstanding van die lewe”?
10 Jesus het op sulke gevolge gewys toe hy gepraat het van “die opstanding van die lewe” en “die opstanding van die veroordeling”. Met die woord “lewe” in hierdie verband het Jesus nie die hoeveelheid lewe bedoel wat indiwidue het wanneer hulle uit die gedenkgrafte kom nie. Anders sal nie alleen diegene wat goed doen “die opstanding van die lewe” kry nie, maar diegene wat kwaad doen, sal eweneens so ’n opstanding hê, aangesien hulle ook moet begin deur op aarde opgewek te word. “Lewe”, soos dit in Johannes 5:29 gebruik word, beteken dus volmaakte lewe soos die wat party teen die einde van Christus se bewind bereik deur volgehoue goeie werke in gehoorsaamheid aan sy koninkryk en regterskap.
11. Wat beteken “veroordeling” in die uitdrukking “die opstanding van die veroordeling”?
11 “Veroordeling” beskryf eweneens wat ander indiwidue of gedurende of teen die einde van die duisendjarige “oordeelsdag” ontvang. In Johannes 5:29 beteken “veroordeling” die teenoorgestelde van “lewe”. Dit beteken gevolglik dat diegene wat kwaad doen tot ewige vernietiging gevonnis word. Dit is ’n vernietiging van siel en liggaam in Gehenna.—Matt. 10:28, NW.
12. Watter twee uitslae is daar dus waartoe ’n persoon se opstanding onder Christus se koninkryk kan lei?
12 Daar is dus twee moontlike uitslae waartoe ’n persoon se opstanding onder Christus se koninkryk kan lei, of volmaakte menselewe of veroordeling wat die verlies van alle lewe tot gevolg het. “An American Translation” gee Johannes 5:29 mooi soos volg weer: “sal uitkom tot die opstanding en lewe, en . . . tot die opstanding en veroordeling.”
13, 14. (a) Wat hoor Jesus voordat hy en sy mederegters oordeel vel? (b) Waarom sal niemand appèl kan aanteken teen hierdie oordeel van Jesus gedurende die millennium nie?
13 Gedurende die millennium sal Jesus Christus en sy mederegters die hele mensdom regverdig oordeel. Jesus het gesê: “Soos Ek hoor, oordeel Ek.”—Joh. 5:30.
14 Die dinge wat Jesus by die Hoofregter, Jehovah God, hoor, sluit hy by sy eie oordeel in. Hy sal hom skik na die profetiese beskrywing wat van hom as regter gegee is en wat sy hemelse Vader Jesaja geïnspireer het om in hoofstuk 11, van vers 1 tot vers 5, neer te skryf. Op die Regbank sal die 144 000 mederegters Jesus Christus navolg. Sodoende sal dit in werklikheid Jehovah se oordeel wees wat gevel word, want sy Seun Jesus Christus streef altyd daarna om sy Vader se wil te doen, nie sy eie nie. Gevolglik kan daar nie by ’n hoër hof appèl teen so ’n uitspraak deur Jesus Christus aangeteken word nie. Aan die einde van sy duisend jaar as regter sal hy dus die Koninkryk aan die Hoofregter teruggee, sonder dat daar enige klag van ampsoortreding teen hom is (1 Kor. 15:24-28). Daarna sal Jehovah God sake behartig tydens ’n finale, beslissende toets vir alle mense wat deur sy Seun aan hom gegee is.—Openb. 20:7-15.
DIE “GROOT MENIGTE” EN DIE OPSTANDING
15. Wie het Paulus met “die dode” bedoel toe hy Timotheüs besweer het voor Christus Jesus, wat die lewende en die dode sal oordeel?
15 Die naderende oordeelsdag is iets waarmee die hele mensdom rekening moet hou (Hand. 17:30, 31). Met die nodige erkenning hiervan het die apostel Paulus aan sy voormalige sendelingmetgesel Timotheüs geskryf: “Ek besweer jou dan voor God en die Here Jesus Christus, wat die lewende en die dode sal oordeel” (2 Tim. 4:1). Met die uitdrukking “die dode” verwys Paulus na “almal wat in die grafte is” en diegene in ’n ‘watergraf’. Maar wie is diegene wat Paulus “die lewende” noem?
16. Wie veral is “die lewende”?
16 Hulle sal diegene op aarde wees wat die komende “groot verdrukking” en die opsluiting van Satan die Duiwel en sy demone oorleef het. Hulle sal gevolglik steeds lewend op aarde wees wanneer die duisendjarige bewind van Christus oor sy aardse ryk begin. Daar word veral verwys na diegene wat dan sy onderdane word met die hoop op ewige lewe in ’n aardse paradys. Party van die gesalfde oorblyfsel aanstaande mede-erfgename van Christus sal ook oorlewe het, maar of hulle op aarde sal begin oordeel voordat hulle na die hemelse koninkryk oorgeplaas is, sal ons maar moet wag en sien (1 Thess. 4:15-17; 2 Pet. 3:11-14). ’n “Groot menigte” van Christus se “ander skape” sal egter die “groot verdrukking” saam met die oorblyfsel geestelike Israeliete oorleef en sal die millennium lewend binnegaan. Openbaring 7:9-17 toon dat dit waar is.
17. Hoe weet ons of die aarde tydens die volkome einde van hierdie stelsel van dinge ontvolk sal word?
17 Saam staaf al hierdie dinge dat ons aardse planeet nie by die volkome einde van hierdie stelsel van dinge heeltemal ontvolk sal word nie. Gevolglik sal die “groot menigte” van Christus se “ander skape” “die lewende” wees met wie die duisendjarige oordeelsdag begin.
18. Wat is die wonderlike ding omtrent hierdie “groot menigte” “verdrukking”-oorlewendes, en waarom?
18 Die wonderlike ding omtrent hierdie “groot menigte” “verdrukking”-oorlewendes is dat hulle nooit ’n opstanding kry nie. Omdat hulle nooit gesterf het en omdat hulle menseliggame nie ontbind het nie, sal dit nie vir die Koning Jesus Christus nodig wees om hulle uit die gedenkgrafte te roep nie. As gevolg van die wyse waarop hulle die gesalfde oorblyfsel van Christus se geestelike broers in die verlede behandel het, is hierdie ‘skape’ aan die Koning se regterkant van guns geplaas, en dit is aan hulle wat hy met die aanvang van sy duisendjarige bewind se; “Kom, julle geseëndes van my Vader, beërf die koninkryk wat vir julle berei is van die grondlegging van die wêreld af.” Sodoende sal hulle geplaas word op die weg na die verkryging van volmaakte menselewe op ’n paradysaarde (Matt. 25:31-46; Joh. 10:16). Dit sal vir hulle ’n groot voorreg wees om hier te wees wanneer die heersende “Seun van die mens”, Jesus Christus, begin om diegene in die gedenkgrafte uit te roep in ’n opstanding wat hulle die geleentheid sal bied om ewige lewe op aarde te kry.