Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w78 12/1 bl. 11-15
  • Wat verg Jehovah van jou?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Wat verg Jehovah van jou?
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1978
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • ‘BEKEND GEMAAK WAT GOED IS’
  • ‘DOEN REG’
  • ‘WEES LIEF VIR GOEDHEID’
  • ‘WANDEL OOTMOEDIG MET JOU GOD’
  • Wat verwag Jehovah van ons?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2003
  • Dien as Jehovah se vertrouende medewerkers
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1988
  • “Laat geregtigheid voortrol”—’n Sleutel om God te leer ken
    Lewe met Jehovah se dag in gedagte
  • ‘Beoefen geregtigheid’ terwyl jy met God wandel
    Kom nader aan Jehovah
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1978
w78 12/1 bl. 11-15

Wat verg Jehovah van jou?

“Hy het jou bekend gemaak, o mens, wat goed is; en wat vra die HERE van jou anders as om reg te doen en liefde te betrag en ootmoedig te wandel met jou God?”—Miga 6:8.

1. Aan wie is die vraag wat in Miga 6:8 aangetref word, gerig, en waarom?

OPREGTE persone vra dalk: ‘Wat moet ons doen om God te behaag?’ Maar dit was nie aan sulke persone met die regte gesindheid wat na Jehovah God gesoek het dat sy profeet die vraag in Miga 6:8 gerig het nie. Daardie vraag is eerder gerig aan ’n volk met wie die almagtige God ’n twis gehad het (Miga 6:1, 2). Hierdie volk, Israel, het nie sy verbondsverpligtinge teenoor die Allerhoogste nagekom nie. Die gevolg was ’n betreurenswaardige sedelike verval. Bedrog, verdrukking, ongeregtigheid, afgodery en bloedvergieting het hoogty gevier. Die situasie was so sleg dat ’n persoon nie sy intiemste vriende en familielede kon vertrou nie.—Miga 1:5; 2:1, 2; 3:1-3; 6:12; 7:2-6.

2. Wat het Jehovah se aankondiging dat hy ’n twis met die Israeliete het hulle die geleentheid gebied om te doen?

2 Deur aan te kondig dat hy ’n twis met sy ontroue volk het, het Jehovah dus ’n beroep op hulle gedoen dat hulle hulle moet bekeer. Die Israeliete is aldus daarvan verwittig dat hulle veroordeling kon vryspring deur positiewe stappe te doen om ’n goedgekeurde posisie voor hulle God te verkry. Wat sou dit verg? Uiterlike vorms van aanbidding, onder andere die opoffering van die keurigste offerandes, was nie genoeg nie (Miga 6:6, 7). Die profesie van Miga het verklaar: “Hy het jou bekend gemaak, o mens, wat goed is; en wat vra die HERE van jou anders as om reg te doen en liefde te betrag [goedheid lief te hê, NW] en ootmoedig te wandel met jou God?”—Miga 6:8.

‘BEKEND GEMAAK WAT GOED IS’

3. Wat is die Israeliete deur Moses geleer aangaande wat goed is?

3 Jehovah God het nie sy volk in onkunde gelaat oor wat goed is nie. Eeue tevore het Moses vir die Israeliete gesê: “Wat eis die HERE jou God van jou as net om die HERE jou God te vrees, in al sy weë te wandel en Hom lief te hê en die HERE jou God te dien met jou hele hart en met jou hele siel, om te hou die gebooie van die HERE en sy insettinge wat ek jou vandag beveel, dat dit met jou goed kan gaan?”—Deut. 10:12, 13.

4. Hoe sou die Israeliete daarby baatgevind het indien hulle Jehovah liefgehad en sy gebooie gehou het?

4 Dit was in alle opsigte in Israel se belang om innige liefde aan Jehovah God te betoon en om getrou by sy gebooie te bly. Gehoorsaamheid aan goddelike wet het hulle van Jehovah se beskerming en voortdurende seën in al hulle ondernemings verseker (Deut. 28:1-13). Veronagsaming van goddelike wet sou andersyds onveiligheid en ondergang tot gevolg hê.—Deut. 28:15-68.

5. Waarom strek gehoorsaamheid aan Jehovah tot ons grootste welsyn?

5 Persone wat God vandag opreg liefhet en wat probeer om volgens sy rigsnoere te lewe, bewandel eweneens ’n weg wat tot hulle grootste welsyn strek. Waarom so? Aangesien Jehovah ’n alwyse en ’n liefdevolle God is, het hy slegs gebooie gegee wat tot die mens se welsyn strek (Rom. 16:27; 1 Joh. 4:8; 5:3). Liefde is die grondslag vir al die goddelike wette in verband met menseverhoudinge. Die apostel Paulus het dit beklemtoon toe hy geskryf het: “Wees aan niemand iets skuldig nie, behalwe om mekaar lief te hê; want hy wat ’n ander lief het, het die wet vervul. Want dít: Jy mag nie egbreek nie, jy mag nie doodslaan nie, jy mag nie steel nie, jy mag geen valse getuienis gee nie, jy mag nie begeer nie, en watter gebod ook al, word in hierdie woord saamgevat: Jy moet jou naaste liefhê soos jouself. Die liefde doen die naaste geen kwaad nie; daarom is die liefde die vervulling van die wet” (Rom. 13:8-10). Dit is duidelik dat indien mense oral ware naasteliefde sou betoon, dit geluk, vrede en veiligheid tot gevolg sou hê.

6. Waarom is dit net reg om Jehovah lief te hê en sy gebooie te gehoorsaam?

6 Daarbenewens is dit net reg dat ons ons liefde vir God betoon deur aan sy gebooie gehoorsaam te wees (2 Joh. 6). “In Hom lewe ons, beweeg ons en is ons” (Hand. 17:28). Ons moet dus dieselfde gesindheid hê as die 24 ouderlinge wat die apostel Johannes in ’n gesig gesien het. Hulle het uitgeroep: “U is waardig, o Here, om te ontvang die heerlikheid en die eer en die krag, want U het alles geskape en deur u wil bestaan hulle en is hulle geskape.”—Openb. 4:11.

‘DOEN REG’

7. (a) Wat het God se wet van die Israeliete geverg waar dit kom by reg? (b) Hoe sou dit die mense in Miga se dag tot voordeel gestrek het indien hulle reg gedoen het?

7 Omdat Jehovah ‘geregtigheid en reg liefhet’, het hy vereis dat die Israeliete hom in hierdie opsig navolg (Ps. 33:5). Sy wet het omkopery verbied en het daarop aangedring dat reg onpartydig aan die rykes sowel as die armes moet geskied. Ons lees: “Jy mag die reg nie verdraai nie; jy mag nie partydig wees nie; ook mag jy geen omkoopgeskenk aanneem nie, want die geskenk verblind die oë van die wyse en verdraai die sake van die wat reg het. Geregtigheid, geregtigheid moet jy najaag, dat jy kan lewe” (Deut. 16:19, 20). “Julle mag geen onreg doen in die gereg nie. Jy mag vir die geringe nie partydig wees nie en die aansienlike nie voortrek nie. Met geregtigheid moet jy oor jou naaste oordeel” (Lev. 19:15). Indien Israel gehoor gegee het aan die aansporing om “reg te doen” sou dit voorwaar beter toestande in die dae van Miga tot gevolg gehad het. Daar sou nie soveel verdrukking gewees het nie. Wet en orde sou herstel gewees het, en dit sou aanleiding gegee het tot vrede, veiligheid en bestendigheid.

8. (a) Wanneer word daar van Christelike ouere manne geverg om reg te doen, en hoe kan hulle dit doen? (b) Watter rol speel geregtigheid by gehoorsaamheid aan die vermaning in 2 Thessalonicense 3:11-15?

8 Die bevel om “reg te doen” geld ook vir Christene. Ouere manne moet bepaal of ’n sekere Christenbroer aan die vereistes voldoen om as ’n bedieningskneg of as ’n ouere man te dien. Slegs deur getrou by God se Woord te bly en op die leiding van sy gees te vertrou, kan hulle onpartydig in hierdie saak wees. Daar word ook van hulle verwag om besluite te neem oor medegelowiges wat hulle skuldig gemaak het aan ernstige sondes (1 Kor. 6:1-6; 1 Tim. 5:20-22, 24, 25). Indiwiduele Christene moet eweneens bepaal of die bandelose gedrag van sekere persone wat met die gemeente omgaan hulle ongewenste metgeselle maak. Ook hier sal ’n besluit op God se Woord gebaseer moet word en nie op persoonlike vooroordeel of op onskriftuurlike opinies indien ’n persoon op behoorlike wyse reg wil doen nie. Die beweegrede waarom ’n persoon ophou om op sosiale wyse met sekere medegelowiges te assosieer, moet ’n begeerte wees om hulle te laat besef dat hulle hulle weë moet verander. Dit sal nie beteken dat ’n mens onvriendelik met sulke persone is en ‘hulle as vyande behandel’ nie. Hierdie indiwidue moet steeds ‘as broers vermaan word’ (2 Thess. 3:11-15). Dit help natuurlik ook om diegene wat in hierdie verband op die Bybel se raad ag slaan teen ’n ongesonde invloed te beskerm.—2 Tim. 2:20-22.

9. Hoe kan ’n Christen volgens Jakobus 4:11, 12 versuim om reg teenoor ’n medegelowige te doen?

9 Indien Christene egter ’n medegelowige se dade, beweegredes of lewenswyse volgens hulle eie standaarde sou beoordeel en die persoon op ongeoorloofde wyse sou takseer, sou hulle hulle skuldig maak aan ’n ernstige versuim om reg te doen. Gee ag op wat die dissipel Jakobus geskryf het: Broeders, moenie van mekaar kwaadspreek nie. Die wat kwaad spreek van sy broeder en sy broeder oordeel, spreek kwaad van die wet en oordeel die wet; en as jy die wet oordeel, is jy nie ’n dader van die wet nie, maar ’n regter. Een is die Wetgewer, Hy wat mag het om te red en te verderf. Maar jy, wie is jy wat ’n ander oordeel?” (Jak. 4:11, 12). Indiwidue wat aldus ’n oordeel vel, verhef hulle bo die wet van liefde wat God gegee het, en oordeel dat daardie wet van liefde nie vir hulle geld nie. (Matt. 22:36-39; vergelyk 1 Johannes 3:16.) Deur dit te doen, doen hulle Jehovah se standaard van geregtigheid, wat op liefde gebaseer is, geweld aan.

10. Waarom is dit onregverdig om te dink dat een bepaalde groep mense dit meer verdien om die “goeie nuus” te hoor as ’n ander groep?

10 Daarbenewens sal dit onregverdig van ’n Christen wees om te meen dat een bepaalde groep mense dit meer verdien om die “goeie nuus” te hoor as ’n ander groep. Jesus Christiis het vir die hele mensdom gesterf, en dit is God se wil dat geen partydigheid getoon word wanneer die boodskap van redding verkondig word nie (1 Tim. 2:3-6). In die lande waar dit moontlik is om mense tuis met die Bybel se boodskap te besoek, sal dit dus beslis met die gees van onpartydigheid strook as daar by elke deur aangeklop word. Hoewel sekere groepe mense meer geneig is om te luister, moet ons daarteen waak dat ons swig voor gevoelens van partydigheid.—Vergelyk Jakobus 2:1-9.

‘WEES LIEF VIR GOEDHEID’

11. Wat is die betekenis van die uitdrukking “om goedheid lief te hê”?

11 Benewens dat daar van die Israeliete vereis is om reg te doen, is hulle ook beveel om “goedheid lief te hê”. Die uitdrukking “om goedheid lief te hê” kan ook weergegee word as “om goedertierenheid lief te hê” of “om lojale liefde lief te hê”. Sulke “goedertierenheid” is ’n daadwerklike medelydende besorgdheid oor of agting vir ander. Dit is goedheid wat dit deur dade laat blyk. (Vergelyk Rut 2:8-20; 3:10.) “Om goedheid lief te hê”, sal beteken dat dit vir ’n persoon aangenaam of ’n genot is om goedheid te betoon en om ander blymoedig te hulp te snel.

12. Wat toon dat Jesus Christus inderdaad ‘goedheid liefgehad het’?

12 Jesus Christus het ’n uitstekende voorbeeld in hierdie opsig gestel. Selfs wanneer hy moeg was en hulle op sy privaatheid inbreuk gemaak het, het hy met graagte in die behoeftes van sy landgenote voorsien. Van een geval berig die Skrif: “Hy [het die apostels] saamgeneem en in die eensaamheid gegaan na ’n verlate plek van ’n stad met die naam van Betsaida. Maar die skare het dit te wete gekom en Hom gevolg; en Hy het hulle ontvang en met hulle gespreek oor die koninkryk van God, en die wat genesing nodig gehad het, gesond gemaak” (Luk. 9:10, 11). Dit het Jesus groot genot verskaf om sulke goedheid te betoon.

13. Hoe kan ons vandag toon dat ons ‘goedheid liefhet’?

13 Is jy, indien jy ’n dissipel van Jesus Christus is, ‘lief vir goedheid’? Neem persoonlike geriewe en begeertes by jou ’n tweede plek in sodat jy heelhartig materiële en geestelike hulp aan behoeftiges kan verleen? Word jy, net soos Jesus, met medelye vervul wanneer jy die treurige geestelike toestand van diegene met ’n gebrek aan juiste kennis sien? (Mark. 6:34). Bied jy graag en blymoedig geestelike vertroosting aan ander, onder andere kenisse en familielede? Sit jy ook elke maand tyd opsy om ’n redelike aandeel aan die openbare getuieniswerk te hê? (Vergelyk Openbaring 22:1, 2, 17.) Word jy beweeg om medegelowiges of ander te hulp te snel wanneer jy sien dat hulle fisiese bystand dringend nodig het? (Spr. 3:27, 28; 2 Kor. 8:1-4; 9:6-12). Dit behoort gewis die geval te wees indien ons waarlik ‘goedheid liefhet’.

‘WANDEL OOTMOEDIG MET JOU GOD’

14. Wat is die betekenis van die Hebreeuse uitdrukking wat weergegee word as “ootmoedig”?

14 Die profesie van Miga het die Israeliete ook aangespoor om “ootmoedig te wandel met [hulle] God”. Aangesien die Hebreeuse uitdrukking wat in Miga 6:8 as “ootmoedig” vertaal word slegs hier en in Spreuke 11:2 voorkom, kan die volle betekenis van die woord nie geredelik onderskei word nie. Latere Joodse geskrifte gee te kenne dat hierdie Hebreeuse uitdrukking die gedagte van reinheid en fatsoenlikheid bevat. Die “Septuaginta” en die Siriese vertaling gee die gedagte dat ’n persoon “gereed” of “klaar” is om met God te wandel. Om ootmoedig met Jehovah te wandel, beteken dus nie bloot dat ’n mens nederig is nie, maar sluit klaarblyklik ook die gedagte in dat ’n persoon in ’n geskikte en beskeie toestand voor Hom is en nie op homself vertrou nie.

15. Wat word bedoel met die uitdrukking ‘om met God te wandel’, soos toegelig in die geval van Henog en Noag?

15 Die uitdrukking ‘om met God te wandel’ verskyn baie vroeër in die Bybelverslag. Daar word byvoorbeeld gesê dat die profeet Henog en die aartsvader Noag met God gewandel het. Van Noag lees ons: “Noag was ’n regverdige, opregte man onder sy tydgenote. Noag het met God gewandel” (Gen. 5:24; 6:9). Ook Henog het “God behaag” (Hebr. 11:5). As ons met God wandel, beteken dit dus dat ons onsself gedra asof ons in sy teenwoordigheid is en ons na sy wil skik. Henog sowel as Noag het ’n spesiale intimiteit met Jehovah God geniet weens hulle geloof en opregte gedrag.

16. (a) Wat moet waar wees van ons gedrag indien ons ootmoedig met God wil wandel? (b) Watter goeie gevolge kan ’n Christen se prysenswaardige voorbeeld hê?

16 Indien Christene in ’n gepaste toestand wil wees om voortdurend intimiteit met Jehovah God te geniet, moet hulle beskeie wees tot die mate dat hulle met hom wandel en moet hulle heilig, beskeie en fatsoenlik in sy oë bly. Die Skrif vermaan: “Hou julle lewenswandel onder die heidene skoon, sodat as hulle van julle kwaad spreek soos van kwaaddoeners, hulle op grond van die goeie werke wat hulle aanskou, God kan verheerlik in die dag van besoeking” (1 Pet. 2:12). Ja, ’n goeie voorbeeld op die gebied van die Christelike lewenswyse verleen krag aan die openbare verkondiging van die “goeie nuus”. Dit bewys dat ware aanbidding die lewens van mense ten goede beïnvloed en kan persone wat ware dissipels van Jesus Christus verkeerd voorstel, die swye oplê (1 Pet. 2:13-16). Sulke wanvoorstellers van Christene kan inderdaad besef hoe verkeerd hulle handelwyse is en mettertyd self Jehovah God verheerlik.

17, 18. (a) Wat verg Jehovah van almal wat hom wil behaag, soos blyk uit Miga se profesie en Jakobus 1:22-25? (b) Hoe lig Henog en Noag se wandel met God dieselfde gedagte toe?

17 Die geïnspireerde woorde van Miga se profesie laat geen twyfel oor die feit dat optrede nodig is aan die kant van almal wat Jehovah God wil behaag nie. Die dissipel Jakobus bring dieselfde gedagte tuis: “Word daders van die woord en nie net hoorders wat julleself bedrieg nie. Want as iemand ’n hoorder van die woord is en nie ’n dader nie, dié is soos ’n man wat sy natuurlike gesig in ’n spieël sien; want hy sien homself en gaan weg en vergeet dadelik hoe hy gelyk het. Maar hy wat diep insien in die volmaakte wet van die vryheid en daarby bly, hy sal, omdat hy nie ’n vergeetagtige hoorder is nie, maar ’n dader van die werk, gelukkig wees in wat hy doen.”—Jak. 1:22-25.

18 Dit is eenvoudig nie genoeg om te bid, die Bybel te lees, Christenvergaderinge by te woon en daar eerbiedig te luister na wat gesê word nie. Ons lewens moet toon dat ons reg doen, goedheid liefhet en ootmoedig met Jehovah wandel. Henog sowel as Noag se onberispelike wandel met die Allerhoogste het ywerige aktiwiteit ingesluit. Henog het vreesloos geprofeteer en vir die goddelose van sy dag gesê dat Jehovah oordeel deur middel van sy tien-duisendtalle engele gaan voltrek (Jud. 14, 15). Noag het nie alleen die ark vir die behoud van sy gesin en die basiese dieresoorte gebou nie, maar hy was ook ’n “prediker van geregtigheid” wat sy tydgenote gewaarsku het dat vernietiging aan die kom was.—2 Pet. 2:5.

19. Watter vrae kan ons onsself afvra om te bepaal of ons in harmonie met Miga 6:8 lewe?

19 Dissipels van Jesus Christus wil hulself beslis nie mislei om te dink dat ’n aangename persoonlikheid en deelname aan openbare aanbidding genoeg is om Jehovah God se goedkeuring weg te dra nie. ’n Daadwerklike, medelydende besorgdheid oor ’n mens se medemens moet te sien wees. Is dit waar van jou? Is jy gewillig en ywerig om in die fisiese en geestelike behoeftes van ander te voorsien, en doen jy dit onpartydig? Voer jy die bevel om te preek en dissipels te maak ywerig uit? (Matt. 28:19, 20). Is jou gedrag as ’n kneg van God navolgenswaardig? Indien dit die geval is, lewe jy in harmonie met die geïnspireerde woorde wat in Miga 6:8 opgeteken is.

[Prent op bladsy 13]

As ’n mens met die “goeie nuus” na elke huis gaan, toon dit onpartydigheid

[Prent op bladsy 14]

Dit was vir Jesus aangenaam om goedheid te betoon deur siekes te genees

[Prent op bladsy 15]

As ’n “prediker van geregtigheid” het Noag die mense gewaarsku dat die Vloed gaan kom

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel