Liefde in aksie
“Die liefde faal nimmer.”—1 Kor. 13:8, NW.
1. Waarom moet ons nie verbaas wees oor die gebrek aan ware liefde in die wêreld nie?
IN HIERDIE wêreld sien en hoor ons herhaaldelik die woord “liefde”. Dit verskyn in liedere, boeke en rolprente en op plakkate en knope. Nogtans bevind ons ons in ’n wêreld waar selfopofferende liefde voorwaar seldsaam is. Dit behoort ons nie te verbaas nie, want talle mense verwys verkeerdelik na hartstog en sentimentaliteit as liefde. Hulle ken nie die liefde wat ware dissipels van Jesus Christus kenmerk nie. Hierdie liefde behels meer as om jou naaste soos jouself lief te hê. Dit sluit, indien nodig, ’n bereidwilligheid in om ’n mens se lewe vir jou Christenbroers af te lê. Aldus sal ’n persoon ’n navolger wees van Jesus Christus wat vrywillig sy lewe vir die mensdom neergelê het.—1 Joh. 3:16-18.
2. Wat is die onderwerp van bespreking in Eerste Korinthiërs hoofstuk 13?
2 Christelike liefde is klaarblyklik aktief en openbaar ditself in die positiewe weldade wat dit vir ander doen. Daar dit ’n gevoel or ’n emosie is, word hierdie liefde nie maklik gedefinieer nie. Die manier waarop dit tot uiting kom, kan egter beskryf word. En in Eerste Korinthiërs hoofstuk 13 vind ons voorwaar ’n meesterlike beskrywing van die liefde wat Christene moet hê. Die klem in hierdie hoofstuk is nie op hoe God liefde aan die mensdom betoon of hoe ons liefde aan Jehovah God betoon nie. Maar die hoofgedagte van die materiaal is hoe liefde aan medemense betoon moet word.
3. Wat is party van die probleme wat in die gemeente in Korinthe bestaan het?
3 Dit is wat Christene in Korinthe nodig gehad het, want hulle het nie juis goeie verhoudinge met mekaar gehad nie. Soos uit ’n ondersoek van die hele brief van Eerste Korinthiërs blyk, het die gemeente aldaar probleme met jaloesie, tweedrag, verdeeldheid, grootpratery, onsedelikheid, oneerlikheid en die veroorlowing van onbehoorlike vryhede gehad. Party in die Korinthiese gemeente wou graag aansien hê. Hulle wou ander in die skadu stel met hulle vermoëns en gawes of talente.—1 Kor. 1:10, 11; 3:2, 3; 4:6, 7; 5:1, 2; 6:7, 8; 8:1, 2, 7-13; 11:18, 19; 12:14-18.
“’N NOG UITNEMENDER WEG”
4. Het alle Christene in die eerste eeu dieselfde gawes gehad?
4 Dit was natuurlik nie vir ’n persoon verkeerd om die groter gawes van die gees as wenslik te beskou en vir ’n man om die begeerte te koester om die gemeente as ’n apostel, ’n profeet of ’n leraar te dien nie. Maar die apostel Paulus het op die volgende gewys: “Almal is tog nie apostels nie, almal is tog nie profete nie, almal is tog nie leraars nie, almal is tog nie kragte nie? Het almal genadegawes van gesondmaking, spreek almal in tale, kan almal dit uitlê?” (1 Kor. 12:29, 30). Daar was egter iets wat almal in die gemeente kon doen. Trouens, dit was iets wat seifs voortrefliker was as die najaging van die “beste gawes”. Dit blyk uit die apostel Paulus se aansporing: “Beywer julle met die oog op die beste gawes; en ek wys julle ’n nog uitnemender weg.”—1 Kor. 12:31.
5, 6. (a) Wat het die apostel Paulus bedoel met die uitdrukking “’n nog uitnemender weg”? (b) Hoe het hy getoon dat die besit van vermoëns en gawes nie die ding van allergrootste belang vir ware Christene was nie?
5 Wat is hierdie uitnemender weg? Dit is die weg van liefde. Ja, dit was nodig vir Christene in Korinthe om “gawes” te herwaardeer en om liefde in aksie te stel. Waar hy daarop wys hoedat liefde groter waarde het as vermoëns en gawes of talente, het Paulus geskryf: “Al sou ek die tale van mense en engele spreek, en ek het nie die liefde nie, dan het ek ’n klinkende metaal of ’n luidende simbaal geword. En al sou ek die gawe van profesie hê en al die geheimenisse weet en al die kennis, en al sou ek al die geloof hê, sodat ek berge kon versit, en ek het nie die liefde nie, dan sou ek niks wees nie. En al sou ek al my goed uitdeel, en al sou ek my liggaam oorgee om verbrand te word, en ek het nie die liefde nie, dan sou dit my niks baat nie.”—1 Kor. 13:1-3.
6 As ’n Christen in staat was om ander tale benewens sy moedertaal te praat, sou dit gewis ’n waardevolle gawe wees. Die vermoë om te spreek in die taal van engele, wat ’n hoër skepping as die mens is, sou selfs ’n groter gawe wees. Maar indien die indiwidu die gawe sou gebruik om sy vernaamheid te vergroot of ’n ander verkeerde beweegrede het, sou hy nie sy medemense, sy Christenbroers inkluis, opbou nie. Hy sal net soos ’n groot lawaai wees wat deur ’n metaalinstrument of simbaal gemaak word. Daarbenewens sou die gawe van profesie, wonderdadige kennis en wonderdadige geloof, sonder die liefde, ander nie bemoedig nie. Hierdie gawes of talente sou dan nie reg gebruik word nie. Die persoon wat vrygewig van sy besittings aan ander gegee het, bloot sodat hy kon spog, sou eweneens nie bevoordeel word nie. Hy sou geen beloning ontvang nie. Gestel hy het verkies om te ly of selfs te sterf, moontlik met die doel om ’n held in die oë van mense te word. Sy bereidwilligheid om die hoogste offer te bring sou geen blywende voordeel inhou indien hy geen liefde vir God of vir sy medemens gehad het nie. Benewens die toejuiging van sterflike mense sou hy absoluut niks ontvang nie. (Vergelyk Mattheüs 6:1-4.) Aangesien liefde so belangrik is, kan ons gerus kyk hoe ons persoonlik vaar waar dit kom by die betoning van hierdie voortreflike eienskap. Jaag ons werklik die “uitnemender weg” na?
HOE LIEFDE IN AKSIE BETOON MOET WORD
7. Hoe betoon ons liefde wanneer ons beproewinge verduur?
7 Eerste Korinthiërs 13:4 sê: “Die liefde is lankmoedig en vriendelik.” Wat verg dit van ons? Hoe moet ons reageer wanneer ons uitgetart, verdruk, geïrriteer of verkeerd voorgestel word? Die lankmoedige persoon vermy oorhaastige optrede of emosionele uitbarstings. Hy sal geduldig moeilike omstandighede verduur, en dit doen in die hoop dat diegene wat vir die onaangenaamheid verantwoordelik is daardeur gehelp sal word om hulle weë te verander. Om dieselfde rede moet ons vriendelik wees, nie ongemanierd, hardvogtig of haatlik nie, maar teer, sagmoedig, innemend en behulpsaam. (Vergelyk Romeine 12:20, 21; 1 Petrus 2:18-23.) Weens opregte besorgdheid oor medegelowiges behoort ons met graagte vir lief te neem met hulle eienaardighede en enige swakhede van gewete wat hulle dalk het. Ons moet nie op ons regte aandring nie, maar ons daarvan weerhou om ons Christelike vryheid ten volle te gebruik. Aldus sal ons ander nie laat struikel en vir hulle ’n rede gee om ware aanbidding te versaak nie.—Rom. 14:1-4, 19-21.
8. Waarom is grootpratery, spoggery en jaloesie liefdeloos?
8 Ons word verder meegedeel: “Die liefde is nie jaloers nie; die liefde praat nie groot nie, is nie opgeblase nie” (1 Kor. 13:4). Hoe kan ons ooit op ons Christenbroers jaloers wees of hulle hulle prestasies, seëninge of vermoëns beny indien ons hulle werklik liefhet? Ons sal ons eerder saam met hulle verheug en bly wees oor die rol wat hulle kan speel om die gemeente te versterk (Rom. 12:15, 16). Hoe kan ons onsself eweneens voortdurend op die voorgrond stel en ons eie prestasies en ondervindinge beklemtoon? Dit kan ons hoorders ontmoedig. Hulle kan begin dink dat hulle baie min in vergelyking met ons doen. Ons grootpratery en spoggery sal ander slegs ontmoedig en afbreuk doen aan die eer wat aan Jehovah God gegee moet word. Hoe liefdeloos sal dit tog wees! Dit sal baie beter wees indien ons ons rol kleineer. Ons is bloot knegte van God, en al die eer en lof vir groei in die Christengemeente kom hom toe (1 Kor. 3:5-9). Nederigheid sal voorkom dat ons te veel van onsself dink en sal verhoed dat ons ander met ons gewaande belangrikheid probeer beïndruk.
9. Wat verg dit van ons daar die liefde ‘nie onwelvoeglik handel nie’?
9 Daarbenewens “handel [die liefde] nie onwelvoeglik nie” (1 Kor. 13:5). Wanneer ons ware liefde besit, haat ons alle vorms van boosheid. Maar meer is by die saak betrokke. Die uitdrukking “handel nie onwelvoeglik nie” kan ook beteken ‘is nie onbeskof nie’. (Kyk “The New English Bible”.) Die liefde gee in alle verhoudings aanleiding tot regte gedrag. Die liefdevolle persoon sien nie neer op die armes en behoeftiges en vermy nie hulle geselskap nie. Hy beperk nie sy omgang tot net ’n uitverkore groepie nie. (Vergelyk Jakobus 2:1-9.) Ordentlike gedrag sluit ook agting vir behoorlike gesag in. Indien ons ware liefde het, sal ons die persoon en besittings van ander respekteer. Dit sal beslis ons vergaderplekke insluit. Hoe onvanpas is dit tog vir kinders om op stoele te skryf of om rond te hardloop en moontlik selfs mense om te stamp! Sulke onbetaamlike gedrag het geen plek in die Christengemeente nie. Dit stel die wyse waarop die ouers oor hulle kinders presideer in ’n slegte lig.
10. Hoe kan ons toon dat ons nie na ons eie belange soek nie?
10 Waar hy met sy beskrywing van die liefde voortgaan, skryf die apostel Paulus: “[Die liefde] soek nie sy eie belang nie” (1 Kor. 13:5). Ja, dit stel daadwerklik in al die lede van die gemeente belang—jonk en oud, die siekes en kranklikes, diegene wat arbei in leer, in die predikingswerk en in die werk om dissipels te maak. Die liefde is wakker vir die behoeftes van medegelowiges en laat nie op hom wag om te reageer en tegemoetkomend te wees nie. Dit dring nie daarop aan dat dinge op sy manier gedoen moet word nie (1 Kor. 10:23, 24). Hierdie voortreflike eienskap het niks gemeen met die “ek eerste”-filosofie nie. Dit is geheel en al onselfsugtig.
11. Wat moet ons vermy aangesien die liefde ‘nie verbitterd word nie’?
11 Aangesien die liefde ‘nie verbitterd word nie’, sal dit gewis verkeerd van ons wees om verskonings te soek om in woede uit te bars (1 Kor. 13:5). Ons moet “stadig [wees] om toornig te word” en woede-uitbarstings vermy (Jak. 1:19). In die gesin verg dit dat almal hulle daarop toelê om mekaar se tekortkominge geduldig te verdra. En in die gemeente moet veral ouere manne ’n voorbeeld op die gebied van geduld stel wanneer broers en susters vergeetagtig of agtelosig is of versuim om Christelike verantwoordelikhede ernstig op te neem.
12. Wat sal bewys dat ons ‘die kwaad wat ons aangedoen is nie toereken nie’?
12 Daarbenewens moet ons, ooreenkomstig die Bybel se beskrywing van die liefde, ‘die kwaad [wat ons aangedoen is] nie toereken nie’ (1 Kor. 13:5). Dit sal liefdeloos wees om griewe te koester en om oortredings teen ons in die gedagtes te herleef asof ons ’n telkaart invul. Die verlede moet vergeet word, en ons moet nie goedheid terughou van diegene wat ons in die verlede kwaad aangedoen het nie.—Spr. 20:22; 24:29; 25:21, 22.
13. Wat is party van die ongeregtighede waaroor die liefde nie bly is nie?
13 Wat anders sal die liefde ook nie doen nie? Dit “is nie bly oor die ongeregtigheid nie” (1 Kor. 13:6). Die liefde sal dit dus nie verheug wanneer ander hulle aan oortreding skuldig maak, hulself in die skande steek en te gronde gaan nie. Ware Christene verheug hulle nie daaroor en sê nie dat die indiwidu die moeilikheid waarmee hy te kampe het verdien nie (Spr. 17:5; 24:17, 18). Daarbenewens moet ons ons nie verheug wanneer ’n persoon hom behendig uit ’n situasie loswikkel waar hy straf verdien het nie (Ps. 50:18). Selfs wanneer ons sien hoedat ongeregtigheid in rolprente of televisieprogramme uitgebeeld word, moet dit ons geen genot verskaf nie. Dit sal ook verkeerd wees om party te kies vir bandelose lede van die gemeente en fout te vind met die bestrawwing wat hulle kry. Dit sal die oortreder nie help om positiewe stappe te doen om ten volle te herstel van die geestelike swakheid wat tot sy wangedrag aanleiding gegee het nie.
14. Saam met wat is die liefde bly?
14 Waaroor moet ons ons verheug? Die liefde “is bly saam met die waarheid” (1 Kor. 13:6). Omdat daar in hierdie gedeelte ’n teenstelling getref word tussen waarheid en ongeregtigheid, beteken dit klaarblyklik dat ons ons moet verheug wanneer ons die kragtige invloed ter bevordering van geregtigheid sien wat die waarheid op mense se lewens uitoefen. Ons moet genot put uit alle dinge wat aanleiding gee tot seëninge, wat ’n heilsame, opbouende uitwerking op ander het en wat die saak van waarheid en geregtigheid bevorder.
“DIE LIEFDE FAAL NIMMER”
15. Watter versekering gee die Bybel ons dat ware liefde nooit sal ontbreek nie?
15 Benewens die feit dat dit ’n uitnemender weg is, sal die weg van liefde nooit tot niet gaan of ontbreek nie. Dit word mooi deur die volgende woorde onder ons aandag gebring: “Dit verdra alle dinge, glo alle dinge, hoop alle dinge, verduur alle dinge. Die liefde faal nimmer.”—1 Kor. 13:7, 8, NW.
16. Hoe ‘verdra die liefde alle dinge’?
16 Omdat dit ‘alle dinge verdra’, word ware liefde nie gou opsy gestoot, gesmoor of laat vaar nie. Dit is nie oorsensitief nie en dit kom nie gou tot die gevolgtrekking dat daar geen hoop bestaan om enige verbetering by ander te bespeur nie. Indien ons liefdevol is, sal ons voortgaan om goed te doen aan ons medemens ten spyte van hulle gebrek aan dankbaarheid.—Matt. 5:44-48.
17. In watter sin ‘glo die liefde alle dinge’?
17 Hoe moet ons die woorde ‘die liefde glo alle dinge’ verstaan? Dit beteken beslis nie dat ons liggelowig moet wees en byvoorbeeld in gebreke moet bly om te besef wat waarlik sleg is nie. Dit beteken eerder dat die liefde nie agterdogtig is nie. Selfs al sê en doen ons geestelike broers dinge wat ons seermaak, sal ons dus nie dadelik tot die gevolgtrekking kom dat hulle ons te na wil kom nie. Wanneer ons die gedrag van ander waarneem, sal ons nie dadelik die ergste vermoed nie, maar probeer om dit in die beste lig moontlik te beskou. Ons sal aanneem dat ons Christenbroers gelyk kan hê en nie bose planne of beweegredes aan hulle toeskryf nie.—Pred. 7:21, 22.
18. Wat sal liefde ons in staat stel om te doen waar dit kom by hoop en volharding?
18 Die liefde hoop eweneens dat sake goed sal verloop. Dit wil nie sê dat die liefde naïef is nie. Dit sien eerder uit na, ja, bid vir die beste uitslag. Die liefde is optimisties. Wanneer ons byvoorbeeld mense besoek in ’n gebied waar hulle nie gehoor gee nie, kan ons dit dus doen met die hoop dat party mettertyd die waarheid sal aanvaar. (Vergelyk Romeine 9:1-3.) ’n Gelowige huweliksmaat hoop tereg dat die ongelowige mettertyd die “goeie nuus” sal aanvaar (1 Pet. 3:1, 2). Hoewel ons liefde ons help om die beste te hoop, stel dit ons ook in staat om allerhande vorms van vervolging, beproewing, mishandeling en wanvoorstelling te verduur.
19. Waarom sal ons nooit spyt wees dat ons die liefdevolle ding gedoen het nie?
19 In enige gegewe situasie sal dit altyd help indien ons liefdevol is. Ons sal nooit spyt wees dat ons die liefdevolle ding gedoen het nie. Liefde, ware, selfopofferende liefde, het nog nooit ’n slegte situasie erger gemaak nie. Ons het dus goeie rede om ons hemelse Vader, wie se hoofeienskap liefde is, na te volg, nie waar nie?—1 Joh. 4:7, 8.
20. (a) Hoe lank sal die weg van liefde volgens 1 Korinthiërs 13:8-13 “’n nog uitnemender weg” wees? (b) Hoe kan Christus se ware dissipels steeds uitgeken word, al het die wonderdadige gawes van die gees verbygegaan?
20 Die liefde sal nie net in hierdie stelsel van dinge nie, maar tot in alle ewigheid die uitnemender weg wees. Dit sal nimmer “faal” of tot niet gaan. Die apostel Paulus het hierop gewys toe hy gesê het: “Profesieë—hulle sal tot niet gaan; of tale—hulle sal ophou; of kennis—dit sal tot niet gaan. . . . En nou bly geloof, hoop, liefde—hierdie drie; maar die grootste hiervan is die liefde” (1 Kor. 13:8-13). Die geskiedenis van die Christengemeente bevestig dat die wonderdadige gawes wel verbygegaan het, klaarblyklik teen die tweede eeu G.J. Ware dissipels van Jesus Christus kan nietemin tot vandag toe uitgeken word aan die liefde wat hulle onder mekaar het.
21. Watter vrae kan ons onsself afvra in die lig van die belangrikheid van liefde?
21 Wat van ons as indiwidue? Raak ons verruim in ons liefde vir ons Christenbroers? Slaag ons daarin om meer liefde te betoon op die wyse wat deur die apostel Paulus beskryf is? Dit is gewis wat ons wil doen. Bid ons, daar liefde ’n vrug van God se gees is, vir meer van daardie gees sodat ons tot ’n groter mate uiting aan die liefde in ons lewens kan gee? (Gal. 5:22). Mag die liefde steeds in ons lewe in aksie wees sodat ons tot in alle ewigheid kan aanhou lewe, ja, kan aanhou liefhê as lojale knegte van Jehovah, die God van liefde.—1 Joh. 4:20-5:3.
[Prent op bladsy 18]
Om ware liefde by Christelike vergaderinge te betoon, moet ons die kinders beheer
[Prent op bladsy 19]
Liefde in aksie word betoon deur ander te help