Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w78 12/1 bl. 21-23
  • Opmerkings oor bloedoortappings

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Opmerkings oor bloedoortappings
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1978
  • Soortgelyke materiaal
  • Sy het by haar oortuigings gebly
    Ontwaak!—2015
  • Die toenemende gewildheid van bloedlose geneeskunde en chirurgie
    Ontwaak!—2000
  • Dokters kyk weer na bloedlose chirurgie
    Ontwaak!—1998
  • Voel jy gestres?
    Ontwaak! – 2020
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1978
w78 12/1 bl. 21-23

Opmerkings oor bloedoortappings

TALLE persone het opgemerk dat een van Jehovah se Getuies se onderskeidende geloofopvattings in verband staan met bloed.

Die meeste kerke swyg oor die saak, maar Jehovah se Getuies aarsel nie om daarop te wys dat God se Woord ware aanbidders aansê om hulle ‘van bloed te onthou’ nie (Hand. 15:28, 29; Gen. 9:3, 4). Soos in die boekie “Jehovah’s Witnesses and the Question of Blood” bespreek word, skakel dit bloedoortappings uit. Die boekie bied ook mediese getuienis dat hierdie godsdiensstandpunt medies nie onredelik is nie. In so te sê alle gevalle kan die nodige chirurgie uitgevoer word sonder om bloed toe te dien indien bekwame dokters aanvaarde alternatiewe geneeswyses doeltreffend gebruik.

Is dit vir jou moeilik om hierdie kommentaar oor wat medies moontlik is te aanvaar? Dit is vir party. Maar beskou informasie wat gevind word in die Amerikaanse Raad van Chirurge se tydskrif “Bulletin” (DI. 63, nr. 6) van Junie 1978.

Hierdie nommer het gehandel oor die onderwerp “Die etiek, sedes en godsdiens van chirurgie”. En een artikel daarin met die titel “Chirurgie-etiek: Wanneer daar verder as goeie wetenskap gegaan word” is geskryf deur dr. J. E. Dunphy, wat al beskryf is as “een van die groot grysaards van Amerikaanse geneeskunde”. Hy is professor emeritus in chirurgie aan die Universiteit van Kalifornië se Mediese Skool te San Francisco. Dr. Dunphy het gesê:

“Ek meen nie dat goeie wetenskap genoeg is nie. Enkele jare gelede het lord Hunt tydens ’n lesing voor die Koninklike Genootskap van Mediese Praktisyns in Engeland gesê: ‘Geloof en godsdiens gaan hand aan hand. Ek meen nie dat ’n mens die geneeskunde, of wat dit betref, enigiets anders goed kan beoefen en ’n vol en nuttige lewe kan lei sonder geloof in iets waarop jy jou gedagtes en gedrag kan baseer nie. . . . Enigiets wat ’n pasiënt se godsdienstige geloof of sy geloof in homself, in sy behandeling of in sy dokters sal vergroot, is die moeite werd en kan gerus voorgestaan word.’”

Dit het dr. Dunphy by die geskil van Jehovah se Getuies en bloedoortappings gebring. Hy het gesê:

“Gedurende die afgelope twaalf jaar het ons ’n aantal pasiënte in ons hospitaal gehad wat Jehovah se Getuies is, en ons het sonder bloedoortappings geopereer. Ek praat onder korreksie, maar ek kan nie een pasiënt onthou wat gesterf het omdat hy nie ’n bloedoortapping gehad het nie. Ek gee egter toe dat ’n pasiënt dalk in die loop van die dag anemies geraak het.

“Ek is aangegryp deur ’n verhandeling wat pas deur [die hartchirurg] Denton Cooley gepubliseer is en wat vertel van meer as 500 groot hartoperasies op Jehovah se Getuies sonder oortappings en wat slegs ’n sterftesyfer van 5 persent getoon het. Hierdie syfers vergelyk goed met sy syfers vir pasiënte wat genoeg bloed gekry het.”

Dr. Dunphy het tot die gevolgtrekking gekom: “Oortappings laat beslis die chirurg beter voel, maar dit laat dalk nie die pasiënt beter voel nie. Moontlik het ons almal die neiging om oortappings te gee om dinge vir onsself makliker te maak. Ek meen dat wanneer ons met een van Jehovah se Getuies te doen het, ons gerus sy standpunt in ag kan neem.”

“Bulletin” het ook dr. Dunphy se antwoord bevat op die vraag wat aan hom gestel is oor wat om te doen indien ’n Getuie-pasiënt na die operasie begin bloei en nie op bloedlose plasma-uitsitters reageer nie.

“Ek meen dat ek die pasiënt sal aanspoor om van gedagte te verander en ’n bloedoortapping te aanvaar. Maar ek wil ook daarop wys dat indien ’n pasiënt—en ek praat nou van die eenvoudige operasie . . .—indien daardie pasiënt nie goed vaar nie en jy dink dat hy bloei, ’n oortapping in elk geval nie die regte ding vir hom is nie. Die regte ding is ’n operasie om die bloeding te stop. Myns insiens kan jy nog die pasiënt red indien jy vinnig optree. Dit is waarom ek sê dat ek nie kan onthou dat een van my pasiënte weens progressiewie bloeding gesterf het omdat hy een van Jehovah se Getuies was nie. . . .”

Uit ’n heeltemal ander oord het daar ’n interessante voorbeeld gekom van ’n operasie sonder oortappings. ’n Moeder in Noord-Carolina het onlangs aan die Wagtoringgenootskap geskryf:

“My negejarige dogter, Jill, het ’n sonderlinge en gevaarlike senu-operasie op die rugmurg gehad en het terselfdertyd ook ’n ortopediese operasie gehad om ’n buiging van die ruggraat reg te stel. Ek wil graag vir julle van die gebeure vertel wat aanleiding gegee het tot Jill se aangename uitslag.

“Jill is gebore met ’n ekstra halwe werwel en rib wat veroorsaak het dat haar ruggraat oorbuig. Dit het aanleiding gegee tot aangebore skoliose, of sywaartse rugkromming.

“Baie kinders ly aan skoliose. Dit kan dikwels met welslae met ’n stut behandel word. Maar aangesien aangebore gevalle moeiliker is om te behandel, is ’n operasie dikwels later nodig, en dit word aanbeveel wanneer die ruggraat meer as 30 grade oorhel. Die buigproses kan baie stadig geskied en kan dan skielik versnel. Gedurende Jill se eerste sewe jaar het haar ruggraat stadig tot 12 grade oorgebuig. Twee maande na haar gereelde ondersoek was die buiging 26 grade. En een maand later was dit 34 grade. Jill het dadelik ’n ortopediese operasie nodig gehad.

“Die ortopedis wat Jill behandel het sedert sy vier jaar oud was, het vir my en my man gesê dat die pasiënt ’n liter bloed per uur tydens ’n werwelhegtingsoperasie verloor. Die operasie sou ten minste vier uur duur. Met ander woorde, Jill sou al haar liggaam se bloed verloor. Hy het gesê: ‘Niemand sal julle help nie.’ Om te voorkom dat haar ruggraat verder buig, het hy Jill ’n stut gegee.

“Terwyl sy hiervoor in die hospitaal was, is ’n roetine-miëlogram uitgevoer. Dit het egter nie ’n roetine-uitslag gehad nie. Daar is gevind dat ’n stukkie been aan die binnekant van Jill se ruggraat uitsteek. Dit kon senuskade aanrig en sou fyn dopgehou moes word.

“Ons dokter het egter kollegas op daardie gebied geraadpleeg. Hy was vriendelik genoeg om na ’n chirurg te gaan wat gemeen het dat hy dalk vir Jill kon help, ene dr. B—, aan Duke-Universiteit se Mediese Sentrum, Durham, Noord-Carolina. Dit was egter ’n ontstellende besoek.

“Dr. B—, ’n ortopedis, het getuienis gevind dat die stukkie been begin het om Jill se regterbeen te verlam. Dit was besig om haar rugmurg af te sny! Sonder chirurgie sou Jill se hele onderlyf verlam raak. En die moontlikheid het bestaan dat Jill na die operasie alle funksies van haar onderlyf sou verloor.

“Dr. B— het ’n neurochirurg, dr. O—, ingeroep en ons verseker dat ’n operasie sonder bloed uitgevoer kon en sou word. Hy het gesê dat die neurochirurgie nie lank sou duur nie en dat indien Jill se tekens goed was, hy voort sou gaan en die buiging sou regstel deur ’n werwelhegtingsoperasie. Sodoende sou Jill slegs een operasie ondergaan.

“Vroeg op die oggend van 9 Junie 1977 het dr. O— die stukkie been verwyder. Die operasie het ongeveer een en ’n half uur geduur. Toe het dr. B— die ortopediese operasie uitgevoer. Dit het vier en ’n half uur geduur. Hy het later vir ons gesê dat Jill minder as 300 cc [minder as ’n pint] bloed verloor het, . . . nie eens genoeg om oor huis toe te skryf nie. Ses uur op die operasietafel en sy is nie eens anemies nie!’

“Maar die verslag waaroor ons ons die meeste bekommer het, het nog nie gekom nie. Voordat Jill nie in die kamer vir herstellendes wakker geword het en dr. O— neurologiese toetse op haar kon uitvoer nie, sou ons niks omtrent enige verlamming weet nie.

“Nadat ons drie uur lank in angs gewag het, het die hospitaaldeure skielik oopgevlieg. Dr. B— het met lang hale in die gang afgekom terwyl sy jaspante agter hom wapper. Met sy arms omhoog het hy ’n oorwinningsteken met sy vingers gemaak! Voordat hy ’n enkele woord gesê het, het ons geweet dat dit goed gaan met Jill.

“Jill was agttien dae lank in Duke-Universiteit se Mediese Sentrum. Ek kan nie oorbeklemtoon hoeveel samewerking en ondersteuning die personeel aldaar gegee het terwyl hulle haar versorg het nie. Sy het vinnig herstel. Om die hegting te help om te genees en die ruggraat te steun, moes Jill ses maande lank (soos ’n skilpad) in gips lewe.

“Nou is die gips verwyder. Jill se rug is mooi en reguit en sy neem aan so te sê alle bedrywighede deel. Deur die jare het Jehovah haar krag gegee om pyn te verduur en moedig ’n groot operasie te ondergaan. Ons hou haar nou dop terwyl sy loop en ons voel klein.”

Gerusstellende mediese informasie van hierdie aard kan persone help om meer aandag te skenk aan wat die mens se Skepper oor bloed sê.

    Afrikaanse publikasies (1975-2027)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel