Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w79 1/15 bl. 12-16
  • Ons keuse om saam met Jehovah God te werk

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Ons keuse om saam met Jehovah God te werk
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1979
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • DIEGENE WAT DIE REGTE KEUSE GEDOEN HET
  • WAAROM VERKIES OM SAAM MET JEHOVAH GOD TE WERK?
  • TOEWYDING EN DOOP GEBIEDEND
  • Doop ’n Christelike vereiste
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1979
  • Doop en jou verhouding met God
    Wat leer die Bybel werklik?
  • Stel jou dit ten doel om God vir ewig te dien
    Kennis wat tot die ewige lewe lei
  • ‘Kies die lewe en bly lewe’
    ie Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2006
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1979
w79 1/15 bl. 12-16

Ons keuse om saam met Jehovah God te werk

“Kies dan vir julle vandag wie julle wil dien . . . maar ek en my huis, ons sal die HERE dien.”—Jos. 24:15.

1, 2. Watter keuse het Elia sy volk Israel laat doen, en hoe?

DIE hele dag lank het die profete en priesters van Baäl rondom ’n altaar gehobbel waarop daar ’n offerande gelê het. Hulle het hulle god Baäl gesmeek om sy krag te toon deur die offerande met vuur te verteer, en het selfs sover gegaan om hulle met messe stukkend te sny. Maar alles was tevergeefs!

2 Toe was dit die beurt van die profeet Elia, Jehovah God se woordvoerder. Nadat hy ’n altaar gebou het, hout en ’n geslagte dier daarop geplaas het en dit met water deurweek het, het hy tot sy God Jehovah gebid. Die gevolg? Vuur het uit die hemel gekom en nie alleen die hout en die offerande verteer nie, maar selfs die klippe van die altaar. Daarop het die Israelitiese toeskouers uitgeroep: “[Jehovah], Hy is God, [Jehovah], Hy is God!” Jare lank het hulle op ‘twee gedagtes gehink’, maar nou het hulle verkies om Jehovah, die ware God, as hulle God te erken.—1 Kon. 18:21-40.

3. Waarom kan die mens ’n “kiesende wese” genoem word, en waarom is hy uniek in hierdie opsig?

3 Die mens se vermoë om tussen reg en verkeerd te kies, om te kies om Jehovah God te dien of om homself en valse gode te dien, toon dat hy ’n kiesende wese is wat na die beeld en gelykenis van Jehovah God geskape is (Gen. 1:27). Die diere het nie so ’n vermoë nie. Jy kan ’n hond leer om nie iets te vat nie, maar jy kan nie met hom redeneer waarom dit verkeerd is om te steel nie. Ongelukkig het die mens sowat sesduisend jaar lank sy morele vryheid misbruik, en dit is waarom die wêreld in sy huidige verknorsing is.—Vergelyk Deuteronomium 32:5, NW.

4. (a) Wie was die eerste een wat sy vryheid misbruik het, en waarom het hy dit gedoen? (b) Wie was onder diegene wat sy voorbeeld gevolg het?

4 Die eerste een wat hierdie vermoë en vryheid van keuse misbruik het, is niemand anders as die een wat Satan die Duiwel geword het nie. Hy het verkies om voor selfsugtige begeerte te swig; dit het die sonde van opstand gebaar, iets wat mettertyd aanleiding sal gee tot sy vernietiging, uitwissing (Joh. 8:44; Jak. 1:14, 15). Adam en Eva, die antediluviaanse mense in die dae van Noag, die engele wat hulle oorspronklike posisie verlaat het, Nimrod en sy handlangers na die Vloed, die inwoners van Sodom en Gomorra en ’n menigte ander dwarsdeur die eeue reg tot vandag toe—hulle het almal verkies om die voorbeeld van Satan die Duiwel te volg deur selfsugtige, verkeerde en slegte keuses te doen.

DIEGENE WAT DIE REGTE KEUSE GEDOEN HET

5. Wie was onder diegene wat die regte keuse gedoen het?

5 Abel was andersyds een wat verkies het om Jehovah God te dien, en wat dit ten koste van sy lewe gedoen het. Na hom was daar Henog, Noag en die aartsvaders Abraham, Isak en Jakob. Uit die apostel Paulus se woorde in Hebreërs 11:13-16 kan ons sien dat hierdie aartsvaders die regte keuse gedoen het. Dan was daar Moses. Hy is in die paleis van Farao grootgemaak, is in al die wysheid en kennis van die Egiptenare onderrig en was beroemd, invloedryk en welgesteld. Op die ouderdom van 40 moes hy ’n keuse doen. Watter soort keuse het hy gedoen? Hy het verkies “om liewer sleg behandel te word saam met die volk van God as om ’n tyd lank die genot van die sonde te hê, en die smaad van Christus groter rykdom geag . . . as die skatte van Egipte” (Hebr. 11:25, 26; Hand. 7:20-29). Sou jy dieselfde besluit geneem het?

6. Voor watter keuse het (a) Moses, (b) Josua die volk gestel?

6 Teen die einde van sy lang loopbaan as Jehovah se profeet en leier van Sy volk het Moses die saak van ’n keuse vierkantig voor Sy volk geplaas: “Ek neem vandag die hemel en die aarde as getuies teen julle; die lewe en die dood, die seën en die vloek het ek jou voorgehou. Kies dan die lewe, dat jy kan lewe, jy en jou nageslag, deur die HERE jou God lief te hê, na sy stem te luister en Hom aan te hang” (Deut. 30:19, 20). Moses se opvolger, Josua, het die volk Israel teen die einde van sy lang loopbaan voor ’n soortgelyke keuse gestel. Hyself het die regte keuse gedoen, en so ook die profeet Elia eeue later.—Jos. 24:15; 1 Kon. 19:10.

7. (a) Watter keuse het Jesus gedoen toe hy deur die Duiwel versoek is? (b) Watter keuse het sy dissipels gedoen?

7 Die man Jesus Christus moes ’n keuse doen toe Satan die Duiwel hom al die koninkryke van die wêreld aangebied het in ruil vir een daad van aanbidding. Jesus het die regte keuse gedoen (Matt. 4:10). Jesus se eerste dissipels het eweneens die regte keuse gedoen; hulle het hom as die Messias, die Seun van God, erken en Hom as hulle Leier en Koning aanvaar (Joh. 1:50). En so ook Saulus van Tarsus. Terwyl hy op pad was na Damaskus om Christene te vervolg, het Jesus Christus wonderdadig aan hom verskyn. Saulus het gevra: “Wat moet ek doen, Here?” Nadat hy ’n antwoord gekry het, het hy verkies om die leiding wat gegee is te aanvaar en te volg en ’n gedoopte Christen te word.—Hand. 22:10.

8. (a) Die verkondiging van die “goeie nuus” van God se koninkryk verg dat mense watter keuse doen? (b) Waarom is dit ’n dringende saak?

8 Omdat “hierdie evangelie [goeie nuus] van die koninkryk” vandag verkondig word, kom almal wat dit hoor voor ’n keuse te staan. Wat is dit? Dit is of hulle ’n weg van geregtigheid gaan inslaan en Jehovah God, die Skepper van die heelal, asook die Onderhouer en Soewerein daarvan, gaan dien, en of hulle gaan aanhou om ’n weg van selfsug onder die oorheersing van Satan die Duiwel, die “god van hierdie wêreld”, te bewandel. Hierdie geleentheid om ’n keuse te doen gaan nie onbepaald daar wees nie, want ons lewe in die “voleinding van die wêreld”, in ‘die swaar tye van die laaste dae’ soos die vervulling van Bybelprofesie duidelik toon. Ja, ons is by die saak betrokke. Die keuse moet gedoen word, en ons kan dit nie vermy nie.—Matt. 24:14; 2 Kor. 4:4; Matt. 13:39; 2 Tim. 3:1.

WAAROM VERKIES OM SAAM MET JEHOVAH GOD TE WERK?

9, 10. Watter stappe sal ’n indiwidu doen indien hy gehoor gee aan die verkondiging van die “goeie nuus”?

9 Deur gehoor te gee aan die verkondiging van die “goeie nuus” van God se koninkryk verkry ’n indiwidu juiste kennis van God se Woord en hulp om dit in sy lewe toe te pas. Dit kan weer lei tot opregte berou oor watter verkeerde weg ’n persoon ook al bewandel het, gevolg deur ’n bekering, sodat ’n weg ingeslaan kan word wat Jehovah God behaag. Dit is soos die apostel Petrus vir die Jode van sy dag gesê het: “Toon dus berou en bekeer julle sodat julle sondes uitgewis kan word.”—Hand. 3:19, NW.

10 Hierdie twee stappe behoort ’n persoon logies te lei tot die besluit om God se wil te doen, om saam met Hom te werk en om die voetstappe van Jesus Christus na te volg. So ’n keuse moet ’n onderskeie, formele stap wees, ’n stap wat Jesus self ook op die ouderdom van 30 gedoen het. Dit was by daardie geleentheid dat die volgende woorde profeties aan hom toegeskryf is: “Kyk, Ek kom—in die boekrol is dit van My geskrywe—om u wil te doen, o God” (Hebr. 10:7; Ps. 40:8, 9). Om Jesus se voorbeeld in hierdie opsig te volg, beteken dat ’n mens jouself toewy om God se wil te doen en so ’n toewyding deur waterdoop simboliseer. Hierdie stap is die waarlik verstandige, waarlik regte en die waarlik liefdevolle ding om te doen.

11-13. Waarom is die stappe toewyding en doop (a) waarlik verstandig? (b) waarlik reg en regverdig? (c) waarlik liefdevol en ’n blyk van dankbaarheid?

11 Die waarlik verstandige ding? Ja, Jehovah God weet wat vir ons die beste is. Sy Woord toon menige keer hoe dwaas dit is om ’n selfsugtige, onregverdige weg te bewandel. Dit is waarom ons lees: “Die godsaligheid is nuttig vir alles, omdat dit die belofte van die teenwoordige en die toekomende lewe het” (1 Tim. 4:8). Dit is soos Jehovah dit deur sy profeet van die ou tyd gestel het: “Ek is die HERE jou God, wat jou leer wat heilsaam is” (Jes. 48:17). Om ons te help om onsself te baat het ons die “heilige Skrifte”, die geïnspireerde Skrif (2 Tim. 3:15-17). Dit herinner ons daaraan dat “net wat die mens saai, dit sal hy ook maai” (Gal. 6:7). Ja, “die seën van Jehovah—dit maak ryk, en hy voeg daar geen smart by nie” (Spr. 10:22, NW). Die keuse om saam met Jehovah God te werk is dus waarlik die verstandige weg.

12 As ons verkies om onsself toe te wy om Jehovah se wil te doen, is dit ook die regverdige, die regte ding om te doen. Trouens, ons is dit aan God verskuldig om sy wil te doen. Waarom? Omdat Jehovah God, as Skepper van alles, hierdie aarde en alle dinge en skepsele daarop besit. Hy het ons nie net gemaak om onsself te vermaak nie, maar ook om sy doel te dien, om sy wil te doen. Hy het nie alleen in die eerste plek alle dinge geskape nie, maar hy onderhou ook alle dinge deur sonlig en reën te voorsien. Dit is waarom ons lees: “U is waardig, o Here, om te ontvang die heerlikheid en die eer en die krag, want U het alles geskape en deur u wil bestaan hulle en is hulle geskape.”—Openb. 4:11.

13 Daarbenewens doen ons die liefdevolle, die dankbare ding as ons onsself toewy om Jehovah se wil te doen en gedoop word om dit te simboliseer. Tot watter gevolgtrekking moet ons kom wanneer ons dink aan al die liefde wat Jehovah God op die mensdom uitgestort het om die lewe moontlik en aangenaam te maak (Hand. 14:17), wanneer ons dink aan sy geduld in sy handelinge met die mensdom gedurende die afgelope 6 000 jaar (2 Pet. 3:8, 9) en wanneer ons daaraan dink dat hy ons so liefhet dat hy sy eniggebore Seun gegee het om ons Verlosser en Vrykoper te wees? (Joh. 3:16). Die minste wat ons kan doen om ons selfrespek te behou is om onsself aan ons liefdevolle hemelse Vader toe te wy om sy wil te doen en dan daardie toewyding deur waterdoop te simboliseer.

TOEWYDING EN DOOP GEBIEDEND

14, 15. (a) Watter vrae opper party dalk in verband met die nodigheid van toewyding en doop? (b) Watter Skriftuurlike illustrasie toon dat ons ons formeel moet toewy om God se wil te doen?

14 Maar kan ons Jehovah God nie behaag en die beloning van ewige lewe verkry deur bloot ’n rein lewe te lei nie? in God en Jesus Christus te glo nie? met God se volk om te gaan nie? vir ander van die “goeie nuus” te vertel nie? sonder om onsself formeel toe te wy om God se wil te doen en dan gedoop te word? Daar is klaarblyklik party persone wat so dink, want hoewel hulle al hierdie ander dinge doen, wy hulle hulle nie toe en laat hulle hulle nie doop nie. Maar hierin vergis hulle hulle.

15 As ons wil hê dat Jehovah God ons moet beloon, moet ons in hom glo en hom liefhê tot die mate dat ons onsself toewy om God se wil te doen en om die voetstappe van Jesus Christus na te volg. Byvoorbeeld: By die berg Sinai het Jehovah God sy wette vir die nasie Israel uiteengesit en vir hulle vertel watter voordeel gehoorsaamheid aan sy wette inhou. Die Israeliete het formeel ingestem om God se wil te doen sodat hulle God se leiding, beskerming en seën kon ontvang. Sy knegte moet vandag eweneens so ’n verbintenis aangaan (Ex. 19:3-8). Hulle moet Jesus se bevel gehoorsaam dat diegene wat sy gebooie hou, moet begin deur gedoop te word.—Matt. 28:19, 20.

16, 17. (a) Lig die inkonsekwensie toe van diegene wat God wil dien sonder om gedoop te word. (b) Hoe kan Romeine 10:9, 10 in hierdie verband toegepas word? (c) Hoe kan party persone wat doop uitstel se gebrek aan opregtheid toegelig word?

16 Ons kan die saak so toelig: ’n Sekere man wat met ’n pad in die platteland langs loop, sien hoe ’n groot klomp mense help om ’n gewas te oes. Hy voel gedwonge om by hulle aan te sluit en help hulle dus dae lank totdat die oes heeltemal ingesamel is. Kan hy tereg verwag om enige loon te ontvang wanneer die tyd aanbreek vir die werkers om hulle betaling te ontvang? Nee, want hy is nie in diens geneem nie. Hy het geen kontrak met die meester van die oes om betaling gesluit nie. Die gewone reëling dat ’n werker betaal word, geld nie vir hom nie. Die situasie van diegene wat God se knegte word, is soortgelyk. Dit is waarom Romeine 10:9, 10 nie sommer op enige openbare belydenis van toepassing is nie, maar spesifiek van toepassing is op ’n formele openbare belydenis soos dié wat gedoen word wanneer iemand wat homself toegewy het om God se wil te doen, gedoop word. “As jy met jou mond die Here Jesus bely en met jou hart glo dat God Hom uit die dode opgewek het, sal jy gered word; want met die hart glo ons tot geregtigheid en met die mond bely ons [in die openbaar, NW] tot redding.” Daardie openbare belydenis laat almal weet dat ’n persoon die keuse gedoen het om saam met Jehovah God te werk. Ja, ons kan nie verwag dat God ons met die ewige lewe moet beloon indien ons nie as’t ware inskryf om vir hom te werk nie.

17 Of, om ’n ander illustrasie te gebruik: ’n Jong man besoek gereeld ’n jong dame. Hy verklaar plegtig dat hy haar baie liefhet. Hy neem haar uit na eetplekke en na die teater, en koop vir haar geskenke. Ander dink dat hy haar die hof maak, maar hy vermy dit angsvallig om oor trou te praat. Kan daar gesê word dat hy die jong dame liefhet? Sy wil waarskynlik graag trou. Maar hy wil nie sy vryheid verloor nie, hy wil hom nie deur haar laat “bind” nie. Al sy liefdesbetuigings is dus hol, onopreg. Dieselfde geld vir ’n persoon wat bely dat hy Jehovah God liefhet en dat hy al die dinge wat Jehovah vir hom gedoen het, waardeer. Indien hy homself nie binne ’n redelike tydperk toewy om God se wil te doen en Jesus se voetstappe navolg nie, klink sy betuigings hol en verraai hulle ’n gebrek aan liefde, vertroue en geloof in Jehovah God en kan hulle in werklikheid onopreg wees.

18. Wat toon 1 Petrus 3:21 oor die nodigheid vir ’n persoon om gedoop te word?

18 Daarbenewens is doop onontbeerlik vir ’n goeie gewete voor God. Die apostel Petrus stel hierdie punt duidelik in 1 Petrus 3:21 waar hy sê dat “die teëbeeld [van die vloed van Noag se dag], die doop, ons nou ook red, nie [bloot] as ’n aflegging van die vuilheid van die vlees nie [al is dit baie belangrik], maar as ’n bede tot God om ’n goeie gewete—deur die opstanding van Jesus Christus”.

19. (a) Hoe gepas is die simbool van doop? (b) Watter praktiese aspekte het dit?

19 Doop is ’n uiters gepaste simbool van die feit dat ons ons keuse gedoen het om saam met Jehovah God te werk deur onsself toe te wy om sy wil te doen as voetstapnavolgers van Jesus Christus. Deur in die water in te gaan, daardeur bedek te word, word ons as ’t ware begrawe. Ons sterf ons eertydse lewenswyse af; dit dui die dood aan van ons selfsugtige handelwyse, toe ons verkies het om te doen wat ONS wil. Wanneer ons uit die water opkom, is dit ’n goeie sinnebeeld dat ons lewend gemaak word om God se wil te doen sodat ons “in ’n nuwe lewe kan wandel” (Rom. 6:4). Daar kan ook gesê word dat waterdoop ’n baie praktiese aspek het, aangesien ’n persoon maklik kan vergeet dat hy mondelings ingestem het om God se wil te doen, of selfs kan vergeet dat hy eenkeer ’n vorm te dien effekte geteken het. Want hoeveel dinge vergeet ons tog wat ons gesê of selfs neergeskryf het! Maar kan ’n persoon vergeet dat hy eenkeer, nadat hy ’n dooptoespraak gehoor het, saam met ander gebid het, sy klere uitgetrek het, ’n baaikostuum aangetrek het en in die teenwoordigheid van talle getuies gedoop is? Nouliks! Nadat ’n mens so ’n stap gedoen het, staan jy onder verpligting om dit op te volg deur ’n medewerker van Jehovah God te wees. Wat dit alles behels, word in die volgende artikel bespreek.

    Afrikaanse publikasies (1975-2027)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel