Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w79 1/15 bl. 16-21
  • Doen Jehovah se werk op Jehovah se manier

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Doen Jehovah se werk op Jehovah se manier
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1979
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • GEE VOORKEUR AAN GOD SE WERK
  • GEBALANSEERDHEID EN TYD
  • DOEN GOD SE WERK VREEDSAAM EN VREUGDEVOL
  • DOEN GOD SE WERK MET REIN HANDE
  • DOEN JEHOVAH SE WERK ONSELFSUGTIG
  • “Hou julle rein”!
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1983
  • “Doen alles tot eer van God”
    Georganiseer om Jehovah se wil te doen
  • ‘Deelname aan die heilige werk van die goeie nuus’
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1981
  • Geniet jou werk
    Hoe om in God se liefde te bly
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1979
w79 1/15 bl. 16-21

Doen Jehovah se werk op Jehovah se manier

“Laat ons almal dan wat [ryp] is, so gesind wees; en . . . wat ons reeds bereik het—laat ons [ordelik] volgens dieselfde reël wandel.”—Filip. 3:15, 16, vgl. NW.

1, 2. Watter tweeledige werk moet toegewyde Christene vandag doen, soos getoon deur watter tekste?

WAT is Jehovah se werk vir diegene wat hulself toegewy het om sy wil te doen en die voetstappe van Jesus Christus, sy Seun, na te volg? Dit is ’n tweeledige werk wat deur Jesus Christus voorspel sowel as gelas is.

2 Hy het voorspel: “Hierdie evangelie [goeie nuus] van die koninkryk sal verkondig word in die hele wêreld tot ’n getuienis vir al die nasies; en dan sal die einde kom” (Matt. 24:14). Deelname aan die verkondiging van hierdie goeie nuus van die Koninkryk is dus vandag voorwaar ’n belangrike deel van Jehovah se werk. Jesus het sy vroeë dissipels ook beveel: “Gaan dan heen, maak dissipels van al die nasies, en doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees; en leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het” (Matt. 28:19, 20). Christene moenie alleen preek nie, maar moet ook vir ander mense leer wat daar vir hulle geleer is. Hulle moet ander help om dinge te doen wat Jesus sy eerste apostels en dissipels beveel het om te doen.

3. Wat toon die Skrif oor die manier waarop God se werk gedoen moet word?

3 Hoe moet Jehovah God se werk gedoen word? Moet elke Christen hierdie werk doen soos hy lus het of soos hy meen dit gedoen moet word? Glad nie. God se Woord beveel eerder hoe ons dit moet doen. Hierdie beginsel is alreeds in die dae van Moses toegelig, want in Deuteronomium 12:8 lees ons: “Julle moet nie doen net soos ons vandag hier doen nie—elkeen net maar wat reg is in sy eie oë.” Inteendeel, ons moet doen wat in Deuteronomium 6:18 beveel is: “Jy moet doen wat reg en goed is in die oë van die HERE, dat dit met jou goed kan gaan.” Die apostel Paulus toon dat hierdie beginsel ook op die Christengemeente van toepassing is: “Ek vermaan julle, broeders, . . . om almal eenstemmig te wees, en dat daar geen skeuringe onder julle moet wees nie, maar dat julle verenig moet wees in dieselfde gesindheid en in dieselfde mening” (1 Kor. 1:10). En in Filippense 3:15, 16 toon Paulus dat harmoniese denke, woorde en dade ’n kenmerk van ryp Christene is. Hierdie eenheid van doel en optrede is noodsaaklik indien ons Jehovah God se werk op sy manier wil doen.

GEE VOORKEUR AAN GOD SE WERK

4. (a) Watter plek moet God se werk in ons lewens beklee? (b) Watter dinge neem tereg van ons tyd in beslag?

4 Wat is party van die dinge wat ons moet doen indien ons Jehovah se werk op Jehovah se manier wil doen? Om maar een te noem, dit moet voorkeur in ons lewens geniet. Jesus het vermaan: “Soek eers die koninkryk van God en sy geregtigheid” (Matt. 6:33). Ons het slegs soveel tyd, soveel liggaams- en geesteskrag of -energie en slegs soveel van hierdie wêreld se goed. Daar is so baie dinge wat tereg van ons tyd in beslag neem. Byvoorbeeld: ’n vader moet vir sy gesin sorg, nie alleen op geestelike gebied nie, maar ook materiële gebied, en ’n sekere hoeveelheid ontspanning vir hulle reël. Al hierdie dinge word van hom verwag.—Vergelyk 1 Timotheüs 5:8.

5. (a) Hoe kan ’n Christen voorkeur gee aan Jehovah se werk waar dit kom by sy sekulêre werk? (b) Hoe is een vader beloon omdat hy dit gedoen het?

5 Maar selfs in die geval van sulke verpligtinge is daar gebiede waar Christene kan kies. Byvoorbeeld, om voorkeur aan God se koninkryk in ons lewens te gee, kan ons dalk die soort werk doen wat aan ons die meeste tyd moontlik sal bied om deel te neem aan die werk om te preek en dissipels te maak en om na die geestelike belange van ons gesinne om te sien. Een vader wat as ’n laboratoriumtegnikus gewerk het, het vir daardie betrekking bedank en vir homself begin werk deur allerhande los werkies te doen sodat hy meer tyd kon wy aan die geestelike belange van sy vier seuns en dogter. Die gevolg? Die kinders het ook as voortreflike Christenwerkers grootgeword.

6. Watter keuse moet ons doen wat ons vryetydsbesteding betref?

6 Dan is daar die saak van vryetydsbesteding. Ons het almal ontspanning nodig. Maar hoeveel? Beklee dit die eerste plek in ons lewens? Bestee ons soveel tyd aan ons gunstelingvorm van ontspanning dat ons geestelike belange daaronder ly? Of sien ons eers na ons geestelike behoeftes om en geniet ons daarna ’n bietjie ontspanning soos die tyd toelaat? Ons moet dikwels kies, want gewoonlik is dit nie dit EN dat nie, maar dit OF dat. Beskou ons God se werk om die “goeie nuus” uit te leef en te verkondig as ’t ware as die room van ons lewens en die ander dinge as die afgeroomde melk? Of maak ons vermaak onbesonne die room van ons tyd, energie en middele, en God se werk die afgeroomde melk? Gedra ons ons so dat ons daarvan beskuldig kan word dat ons “meer liefhebbers van genot as liefhebbers van God” is?—2 Tim. 3:4.

GEBALANSEERDHEID EN TYD

7, 8. (a) Wat verg die doen van Jehovah se werk op Jehovah se manier van ons waar dit kom by die maniere waarop ons die “goeie nuus” met ander deel? (b) Waar dit kom by tyd?

7 Jesus het gesê dat hy niks uit homself doen nie. Hy het die leiding wat sy Vader gegee het, noukeurig gevolg (Joh. 14:10). Dit is dus goed as ons sy voorbeeld deeglik bestudeer en die “goeie nuus” verkondig op die maniere wat hy dit verkondig het. Aldus sal ons Jehovah se werk op Jehovah se manier doen. Jesus het nie gewag dat mense na hom toe moet kom nie, en hy het ook nie net die “goeie nuus” verkondig aan persone wat hy reeds geken het nie. Hy het “die een stad en dorp ná die ander deurgereis en gepreek en die evangelie van die koninkryk van God verkondig” (Luk. 8:1). In navolging van sy voorbeeld het sy dissipels die inisiatief geneem om ander mense met die “goeie nuus” te nader; hulle het vir groepe in markpleine en ander plekke waar mense vergader het, gepreek (Hand. 16:13-15; 17:17-21). Jehovah se Getuies pas vandag dieselfde beginsels toe. Hulle neem die inisiatief om die “goeie nuus” met ander te deel, hetsy die persone kennisse of vreemdelinge is. Tydens hulle daaglikse lewe kom hulle in aanraking met familielede en bure, mense in die sakewêreld en by die skool; en hulle probeer om hierdie kontakte te gebruik om Bybelwaarheid op gepaste maniere oor te dra. Maar nie almal sal die “goeie nuus” hoor indien ons ons bedrywigheid daartoe beperk het nie. Daar is party met wie ons nooit in aanraking sou gekom het indien ons mense nie persoonlik by hulle huise besoek het nie. Daar hulle die soort liefde het wat verruim om allerhande persone in te sluit, wend Jehovah se Getuies die poging aan om elkeen met die Koninkryksboodskap te bereik. Getuig jou persoonlike aandeel aan hierdie bedrywigheid van hierdie gebalanseerde Christelike beskouing?—Matt. 5:46-48; 1 Tim. 2:3, 4.

8 lets wat nou verband hou met gebalanseerdheid is tyd. Daar is voorwaar ‘’n bepaalde uur vir elke saak onder die hemel’ (Pred. 3:1-8). In harmonie met hierdie beginsel is dit, wanneer ’n Christenprediker ’n toespraak hou, nie die tyd om in te sluimer, te fluister of iets te lees wat glad nie met die onderwerp van bespreking verband hou nie. Vergaderingaande is ook nie die tyd vir herbesoeke of ander Christelike bedrywighede waarna daar maklik op ’n ander tyd omgesien kan word nie. Dit wil voorkom of ouere manne veral versigtig moet wees hoe hulle hulle sake reël. Hulle kom dalk dikwels in die versoeking om reg tydens vergaderinge na gemeentesake om te sien. Maar met ’n bietjie beter beplanning kan daar maklik op ’n ander tyd na hierdie dinge omgesien word.

DOEN GOD SE WERK VREEDSAAM EN VREUGDEVOL

9, 10. (a) Waarom moet ons Jehovah se werk vreedsaam doen? (b) Waarom is dit soms moeilik?

9 Jesus het sy apostels vermaan: “Julle moet . . . vrede hou met mekaar” (Mark. 9:50). Is Jehovah dan nie die “God van vrede” en sy Seun die “Vredevors” nie? (Filip. 4:9; Jes. 9:5). En het Jesus nie gesê dat die vredemakers gelukkig is nie? (Matt. 5:9). Dit beteken dat ons daaroor besorg moet wees en pogings moet aanwend om vrede onder mekaar te handhaaf.

10 Waarom is dit soms moeilik om vreedsaam saam te werk? Een rede is ongetwyfeld dat ons almal verskillende persoonlikhede het. Moet ons dus nie bereid wees om toegewings te maak vir verskillende denk- en handelwyses en begrip aan die dag lê eerder as om krities te wees nie? Nog ’n rede waarom dit soms ’n probleem is om die vrede te bewaar, is dat ons ’n sterk begeerte het om te sien dat Jehovah se werk op die beste manier moontlik gedoen word, en ons meen natuurlik dat ons manier die beste is. Soms is dit dalk. Maar dikwels is daar meer as een aanvaarbare manier om iets te doen. Wanneer dit die geval is, is dit baie belangriker dat ons vreedsaam saamwerk as dat iets op absoluut die doeltreffendste manier gedoen word.

11. Wat moet ’n ouere man bereid wees om vredesonthalwe te doen?

11 Veral ouere manne moet nie die belangrikheid om die vrede te bewaar uit die oog verloor wanneer hulle byeenkom om gemeentesake te bespreek nie. Wanneer daar geen gebiedende beginsel by die saak betrokke is nie en dit bloot ’n geval van smaak of ’n bietjie minder of meer onkoste is, sal die verstandige persoon, om vredesonthalwe, nie die een wat sterk oor die saak voel, teëstaan nie. Indien ons voortdurend daarop aandring om ons sin te kry, kan ons kwade gevoelens wek en selfs ons broers van ons vervreem. Sal die oorwinning dan die moeite werd wees? Natuurlik nie! Om Jehovah se werk op sy manier te doen beteken dus ook dat ons ons daarop toelê om dit vreedsaam te doen, gedagtig aan Psalm 133:1: “Kyk, hoe goed en hoe lieflik is dit dat broers ook saamwoon!”

12. Waarom is dit ’n uiters redelike vereiste dat Jehovah se werk vreugdevol gedoen moet word?

12 Wanneer ons Jehovah se werk doen, is dit ook belangrik dat ons dit vreugdevol doen. Net soos ’n ongelukkige huisvrou haar man in ’n slegte lig stel, so sal dit God in ’n slegte lig stel indien ons hom sonder vreugde dien. Die apostel Paulus beveel dus uiters gepas: “Verbly julle altyd in die Here; ek herhaal: Verbly julle!” (Filip. 4:4). En hoe baie redes het Christene tog vandag om vreugdevol te wees! Die ‘waarheid het hulle inderdaad vrygemaak’ (Joh. 8:32); hulle sondes is vergewe (Hand. 13:38); hulle sien hoedat kennis van die waarheid voortdurend toeneem (Dan. 12:4); hulle het voortreflike omgang met mekaar (Rom. 1:11, 12); hulle ervaar die groter geluk wat verkry word wanneer ’n mens gee (Hand. 20:35); hulle geniet die seëninge van ’n geestelike paradys (2 Kor. 12:4); en deur onkreukbaarheid te behou, weet hulle dat hulle selfs die hart van hulle groot God Jehovah verbly.—Spr. 27:11.

DOEN GOD SE WERK MET REIN HANDE

13. In watter opsig het eertydse Israel dikwels te kort geskiet, sodat Jehovah hulle beveel het om wat te doen?

13 As ons Jehovah se werk op sy manier wil doen, moet ons dit met rein hande, dit wil sê deugsaam, doen. Hier het heelwat te kort geskiet. Ons doen dalk soveel moontlik in Jehovah se werk, maar tensy ons volgens die Bybel se sedelike beginsels lewe, is dit alles tevergeefs. Jehovah God het dit duidelik aan sy eertydse volk Israel gestel. Hy het vir hulle gesê dat hulle verskeie vorme van formele aanbidding vir hom walglik was en het toe gesê: “Was julle, reinig julle, neem die boosheid van julle handelinge voor my oë weg, hou op om kwaad te doen.”—Jes. 1:13-16.

14. Hoe het Paulus hom voorbeeldig gedra, in harmonie met watter bevel wat lank gelede gegee is?

14 Jehovah God is heilig, rein en regverdig, en hy beveel dat sy knegte eweneens heilig en rein moet wees. “Wees heilig, want Ek is heilig” (1 Pet. 1:16). Ons is almal onvolmaak en voer gevolglik ’n groot stryd om heilig en rein te bly. Soms voel ons dalk soos die apostel Paulus toe hy geskryf het dat hy nie die dinge doen wat hy wou doen nie en dat hy gedoen het wat hy nie wou doen nie (Rom. 7:19). Maar hy het nooit opgehou om teen oorgeërfde swakhede te stry nie, want hy het geskryf: “Ek kasty my liggaam en maak dit diensbaar, dat ek nie miskien, terwyl ek vir ander gepreek het, self verwerplik sou wees nie” (1 Kor. 9:27). Die Jode wat van eertydse Babilon af teruggekeer het, is beveel: “Reinig julle, draers van die heilige voorwerpe van die HERE!” Hoewel hierdie bevel moontlik hoofsaaklik na godsdienstige reinheid verwys het, geld die beginsel ook vir sedelike reinheid.—Jes. 52:11.

15. Watter bykomende rede is daar om op ons gedrag te let?

15 Dit is uiters gepas dat ons rein bly, nie alleen weens die rein boodskap wat ons dra nie, maar ook sodat ons ander nie laat struikel nie. Jesus het gewaarsku dat dit ’n allerernstigste saak is as ’n mens een van sy kleintjies laat struikel (Luk. 17:1, 2). Paulus was versigtig in hierdie verband, soos blyk uit sy woorde: “Ons lê nie die minste hindernis in die weg nie, sodat die bediening nie beklad mag word nie; maar in alles beveel ons ons aan as dienaars van God, met baie geduld, . . . in reinheid, . . . in ongeveinsde liefde.” Om waarlik Jehovah se werk op Jehovah se manier te doen, moet ons sorg dat ons Jehovah se werk met rein hande doen sodat ons Jehovah en sy gemeente nie smaad aandoen nie en sodat ons ander nie laat struikel nie.—2 Kor. 6:3-10.

DOEN JEHOVAH SE WERK ONSELFSUGTIG

16. Wat het koning Dawid God in gebed versoek om vir hom te doen, en wat het hy daarmee bedoel?

16 En dit sal ons bowenal absoluut niks baat om Jehovah se werk te doen tensy ons dit uit liefde, onselfsugtig en uit ’n rein hart doen nie. Koning Dawid het besef hoe belangrik dit is, en dit is waarom hy gebid het: “Leer my, HERE, U weg: ek sal in u waarheid wandel; verenig my hart tot die vrees van u Naam” (Ps. 86:11). As daar met ’n verdeelde hart gedien word, sal dit beteken dat daar selfsug by die saak betrokke is. Dit sal getuig van bybedoelinge. Dit is waarom ons beveel word om Jehovah God met ons hele hart, siel, verstand en krag lief te hê.—Mark. 12:29-31.

17. Waarom is dit moeilik om op ’n mens se beweegredes te let?

17 Dit is nie maklik nie. Die Israeliete het voortdurend op hierdie gebied te kort geskiet. Waarom? Omdat onvolmaakte menseharte buitengewoon bedrieglik en verraderlik is, net soos ons dan ook in Jeremia 17:9 lees. En soos Jeremia voorts toon, is dit slegs Jehovah God wat die hart ten volle kan verstaan. Dit is waarom ’n studie van sy Woord ons sal help om ons selfsugtige neigings of planne te onderskei, en om hulle met welslae te beveg. Ja, die gevalle neigings van ons harte is voortdurend daarop uit om ons goeie werke vergeefs te maak of te bederf. Selfsugtige of bedekte beweegredes was die oorsaak van die moeilikheid met die godsdiensleiers in Jesus se dag, en dit is daarom dat hulle Jesus so teëgestaan het. Dit is vandag dieselfde geval met die Christendom se geestelikes. Hulle dien God kwansuis, maar in werklikheid sien hulle hoofsaaklik na hulle eie belange om.—Matt. 23:13-33.

18. Hoe bring die apostel Paulus die gedagte tuis dat ons Jehovah God onselfsugtig moet dien?

18 Hoe duidelik stel die apostel Paulus tog die belangrikheid van ’n regte beweegrede: “Al sou ek die tale van mense en engele spreek, en ek het nie die liefde nie, dan het ek ’n klinkende metaal of ’n luidende simbaal geword. En al sou ek die gawe van profesie hê en al die geheimenisse weet en al die kennis, en al sou ek al die geloof hê, sodat ek berge kon versit, en ek het nie die liefde nie, dan sou ek niks wees nie. En al sou ek al my goed uitdeel, en al sou ek my liggaam oorgee om verbrand te word, en ek het nie die liefde nie, dan sou dit my niks baat nie”!—1 Kor. 13:1-3.

19. Watter verdere raad gee die Skrif oor die soort liefde wat ons moet betoon?

19 Paulus vermaan dus heel gepas: “Laat alles by julle in liefde geskied” (1 Kor. 16:14). Maar laat Paulus die saak daar? Nee, aangesien hy besef hoe bedrieglik ons sondige hart is, sê hy: “Laat die liefde ongeveins wees” (Rom. 12:9). Hoe maklik is dit om liefdesbetuigings te uiter wat nie werklik uit ’n hart met regte beweegredes kom nie! Dit is waarom Paulus spesifiek gesê het dat hy homself as een van God se dienaars aanbeveel deur sy “ongeveinsde liefde” (2 Kor. 6:6). Ja, ons liefde moet “liefde uit ’n rein hart” wees; en ons liefde moet, soos die apostel Petrus dit gestel het, “ongeveinsde broederliefde” wees.—1 Tim. 1:5; 1 Pet. 1:22.

20. Ter opsomming, wat verg dit van ons om Jehovah se werk op Jehovah se manier te doen, en wat sal dit vir ons tot gevolg hê?

20 Wat ’n groot gebied dek die doen van Jehovah se wil op Jehovah se manier tog! Jehovah God verwag van ons om voorkeur daaraan in ons lewens te gee, om dit verstandig, vreedsaam, vreugdevol, met rein hande en ’n rein hart te doen. As ons dit so doen, kan ons nou veel vreugde smaak, sy goedkeuring wegdra en ewige lewe verkry in ’n nuwe stelsel van dinge wat ophande is.

[Prent op bladsy 19]

Goed georganiseerde, liefdevolle diens aan God, waarin Koninkryksbelange te alle tye voorkeur geniet, kan nou sowel as in die dae wat voorlê veel vreugde verskaf

    Afrikaanse publikasies (1975-2027)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel