Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w79 3/15 bl. 5-8
  • Wat sal God se koninkryk vir jou beteken?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Wat sal God se koninkryk vir jou beteken?
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1979
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • EKONOMIESE OORVLOED
  • WARE VEILIGHEID
  • GESONDHEID EN LEWE HERSTEL
  • MENSE WAT OMGEE
  • God se regering—die mensdom se enigste hoop
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1980
  • ’n Aardse paradys is voor die deur
    Lewe—Hoe het dit hier gekom? Deur evolusie of deur die skepping?
  • Ware vryheid onder Koninkryksheerskappy
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1983
  • Die wonderlike nuwe wêreld wat God tot stand gaan bring
    Gee God werklik vir ons om?
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1979
w79 3/15 bl. 5-8

Wat sal God se koninkryk vir jou beteken?

“Soek eers die koninkryk van God en sy geregtigheid, en al hierdie dinge sal vir julle bygevoeg word.”—Matt. 6:33.

WAT sal dit vir jou beteken om te lewe onder ’n regering wat deur die almagtige God self beheer en gerig word? Hoe sal dit wees wanneer ‘God se wil op aarde geskied net soos in die hemel’?—Matt. 6:9, 10.

’n Mens kry ’n idee van wat dit gaan beteken uit die woorde van die psalmis wat van God gesê het: “U maak u hand oop en versadig alles wat lewe met welbehae” (Ps. 145:16). Dink net daaraan! Daar gaan ’n tyd kom wanneer daar in al die regmatige behoeftes en begeertes van elke persoon voorsien sal word, en waarskynlik op ’n baie beter manier as wat enigeen van ons onvolmaakte mense ons nou kan voorstel!

Om ’n idee te kry, kan jy jouself afvra: Wat sou ek gedoen het as ek die mag gehad het om toestande op aarde te verander? Watter soort mensegemeenskap sou ek gevorm het?

EKONOMIESE OORVLOED

Een van die dinge wat jy waarskynlik sou doen, is om reëlings te tref vir ’n ekonomiese stelsel wat voorspoed en bestendigheid bied. Pogings om ’n ordentlike bestaan te voer, is een van die dinge wat vandag in elke gesin voorkeur geniet. Maar nou het slegs betreklik min ’n oorvloed.

Jy sal ongetwyfeld armoede wil uitskakel en ’n oorvloed vir almal wil voorsien—nie net vir ’n paar bevoorregtes nie. Maar geen menslike regeringstelsel het dit nog ooit reggekry nie. Trouens, te oordele aan die mens se geskiedenis, lyk wêreldwye ekonomiese oorvloed dalk soos ’n onbereikbare ideaal. En dit is—uit ’n menslike standpunt!

Dink egter aan die beginsel wat deur Jesus Christus uitgespreek is: “By mense is dit onmoontlik, maar by God is alle dinge moontlik” (Matt. 19:26). Hou in gedagte dat die Skepper van die heelal wysheid en mag het wat die van enige mens verreweg oortref. Hy het daardie eienskappe gebruik om ’n ontsagwekkende heelal met tallose miljoene melkweë, elk met duisendmiljoene sterre soos ons son, te vorm, en almal funksioneer in verbasende harmonie. Hy het ook al die lewensvorms op aarde geskep, lewensvorms wat so ingewikkeld en uiteenlopend is dat wetenskaplikes hulle tot vandag toe nie ten volle verstaan nie. Dit sal dus inderdaad vir so ’n almagtige Skepper geen groot taak wees om ’n mensegemeenskap te vorm en te rig wat hierdie aarde en sy hulpbronne tot voordeel van almal sal gebruik nie.

In verband met kos het Jesus byvoorbeeld die interessante kommentaar gelewer: “Kyk na die voëls van die hemel; hulle saai nie en hulle maai nie en hulle bring nie bymekaar in skure nie, en tog voed julle hemelse Vader hulle.” Hy het ook die volgende oor klere gesê: “Let op die lelies van die veld, hoe hulle groei; hulle arbei nie en hulle spin nie; en Ek sê vir julle dat selfs Salomo in al sy heerlikheid nie bekleed was soos een van hulle nie.”—Matt. 6:26-29.

Dit toon dat die Skepper oorvloedig vir sy “laere” aardse skepping kan voorsien. Onder sy Koninkryksbewind sal God gewis hierdie vermoë teenoor sy menseskepping aan die dag lê. Trouens, hy beloof: “Die HERE van die leërskare sal . . . vir al die volke [nie net party nie] berei ’n maaltyd . . . van vetspyse vol murg, van gesuiwerde ou wyn” (Jes. 25:6). Daarbenewens sê die Bybel: “Daar [sal] volheid van koring wees in die land, op die top van die berge” (Ps. 72:16). Ja, onder Koninkryksbewind sal God toesien dat ‘die aarde sy opbrengs lewer’.—Ps. 67:7.

En sulke oorvloed sal ook nie die produk van onaangename, uitputtende, eentonige arbeid wees nie. Hoe kan ons daarvan seker wees? Wel, toe God die eerste man en vrou geskape het, het hy hulle in ’n paradys geplaas waar werk ’n genot was (Gen. 2:8, 9, 15; 1:31). En Jesus het belowe dat hierdie verlore paradys onder die bewind van God se hemelse koninkryk herstel sal word (Luk. 23:43, NW). Dit sal dan ’n genot wees om te werk. Daar sal ongetwyfeld op ongeëwenaarde wyse en met ongekende prag en presisie uiting gegee word aan vakmanskap, die kunste en ander vaardighede.

Maar van watter nut sou ekonomiese oorvloed wees indien dit elke paar jaar ongedaan gemaak word deur oorloë, onluste en rewolusies, soos dit die geval onder menseheerskappy is? Hoe kan materiële seëninge geniet word indien daar geen veiligheid is nie?

WARE VEILIGHEID

Gestel jy het die mag gehad om die dinge uit te skakel wat nou onveiligheid veroorsaak. Sou jy dit nie doen nie? Verwag jy dan dat die almagtige God anders sal optree wanneer hy aan bewind is? Nee, want hy sê vir ons dat hy “oorloë [gaan] laat ophou tot by die einde van die aarde” (Ps. 46:10). Dit sal vir die eerste keer in die geskiedenis wêreldwye veiligheid beteken, anders as vandag wanneer enige vrede of veiligheid slegs tydelik is aangesien daar so te sê die hele tyd êrens op aarde oorloë, onluste, opstande en dies meer aan die gang is.

God se Koninkryksregering sal nie net aardwyd vrede afdwing nie. Dit sal meer doen. Dit sal voortgaan om sy onderdane op te lei in weë van vrede: “Hy [sal] ons sy weë . . . leer . . . en hulle sal nie meer leer om oorlog te voer nie” (Jes. 2:3, 4). Met God as Handhawer en Onderrigter, kan jy sien waarom die Bybel sê dat mense onder Koninkryksbewind “hulle [sal] verlustig oor groot vrede”.—Ps. 37:11.

Veiligheid word ook deur misdadigheid bederf. Vandag kan menseregerings nie die gety wettelose gedrag stuit nie. Maar wanneer die aarde deur een regering, God s’n, en onder een stel regverdige wette regeer word, sal misdadigheid spoedig uitgewis word. Enigiemand wat dan wil aanhou om God se regverdige wette te verbreek sal nie toegelaat word om die vrede van daardie nuwe orde te versteur nie. Die reël sal wees: “Die kwaaddoeners sal uitgeroei word . . . die goddelose sal daar nie wees nie” (Ps. 37:9, 10). Gevolglik sal die mensegemeenskap sonder tronke, sonder polisie, sonder slotte aan deure, ja, sonder vrees wees. God se belofte is dus dat diegene wat onder sy Koninkryksbewind lewe, “sal sit elkeen onder sy wingerdstok en onder sy vyeboom, sonder dat iemand hulle verskrik”.—Miga 4:4.

Sal dit egter nie ’n jammerte wees om ekonomiese oorvloed en aangename werk in volkome vreedsame toestande te geniet net om siek en oud te word en te sterf nie?

GESONDHEID EN LEWE HERSTEL

Gestel jy is ’n dokter wat ’n permanente geneesmiddel vir elke kwaal gekry het. Sou jy dit gebruik? Nobelpryse word toegeken aan geneeskundiges wat slegs ’n geringe breukdeel van sulke voordele bring. Maar ongeag wat dokters kan doen om pyn te verlig, om die verspreiding van kwale te stuit en ’n paar jaar by ’n mens se lewe te voeg, die wrede feit bly staan dat siekte, bejaardheid en die dood onvermydelik en meedoënloos na almal kom.

Maar onder God se koninkryk ‘sal droefheid en geween en moeite daar nie meer wees nie’. “Geen inwoner sal sê: Ek is siek nie” (Openb. 21:4; Jes. 33:24). Die hele proses van siekte, veroudering en die dood sal deur God se krag omgekeer word sodat liggame en verstande met nuwe lewe besiel sal word. Hulle sal tot volkome gesondheid herstel word sodat ‘’n man se vlees frisser sal word as in sy jonkheid’ (Job 33:25). Heersende toestande sal wees soos wat in Jesaja 35:5, 6 beskryf is: “Dan sal die oë van die blindes geopen en die ore van die dowes ontsluit word. Dan sal die lamme spring soos ’n takbok, en die tong van die stomme sal jubel.”

Maar indien mense nie siek of oud word nie, sal hulle nie sterf nie. En dit sal die geval wees. Geen normale persoon wil graag sterf nie. Onder Koninkryksbewind sal persone nie hoef te sterf nie, want die belofte is: “Daar sal geen dood meer wees nie” (Openb. 21:4). Gevolglik sal “die regverdiges . . . die aarde besit en vir ewig daarop woon”.—Ps. 37:29.

Daarbenewens kan God, wat die mens uit die elemente van die aarde geskape het, hom ook her-skape. Dit is waarom die Bybel sê “dat daar ’n opstanding sal wees van die dode, regverdiges sowel as onregverdiges” (Hand. 24:15). Die dode in God se ‘geheue’ (wat baie wonderliker as dié van enige mensgemaakte rekenaar is) sal dus ook opgewek word en die geleentheid gebied word om vir ewig in ’n regverdige milieu, op ’n paradysaarde, te lewe. Wat ’n heuglike dag sal dit tog wees!

MENSE WAT OMGEE

Maar selfs met al sulke voordele kan geluk vertroebel word deur onvriendelike mense, mense wat selfsugtig is en wat nie oor jou belange besorg is nie. Dit is waarom die Bybel sê: “Liewer ’n porsie groente waar liefde by is, as ’n vetgevoerde bees en haat daarby” (Spr. 15:17). Sal God, aangesien hy vrede tussen wilde diere en mense bewerkstellig, dan nie dieselfde tussen mense doen nie?—Jes. 11:6-9; Eseg. 34:25.

Dieselfde aardwye onderrig wat mense sal oplei ‘om nie meer te leer om oorlog te voer nie’, sal hulle leer om ‘hulle naaste soos hulself lief te hê’ (Jes. 2:4; Matt. 22:39). Daarbenewens sal God se magtige werkende krag, sy heilige gees, verbasende voordele meebring wanneer dit op mense inwerk, net soos dit die geval in die diereryk sal wees. Die vrug van daardie gees is “liefde, blydskap, vrede, lankmoedigheid, vriendelikheid, goedheid, getrouheid, sagmoedigheid, selfbeheersing”.—Gal. 5:22.

Watter puik eienskappe vir mense! En hulle sal hierdie eienskappe besit, want die heersende gees van die Nuwe Orde sal God s’n wees. Met daardie krag wat op mense inwerk en met die uitwissing van die ellendige toestande van vandag wat veroorsaak dat so baie haatlik is, sal verhoudinge tussen mense ontstaan wat waarlik hartverblydend en aangenaam is. Die milieu sal dan dié wees wat deur die psalmis beskryf is: “Kyk, hoe goed en hoe lieflik is dit dat broers ook saamwoon!”—Ps. 133:1.

Vind Koninkryksbewind by jou byval? Indien wel, dan sal dit jou die moeite loon om meer daaromtrent te wete te kom. Byvoorbeeld, wie sal nou eintlik in God se hemelse regering ingesluit word? Wat moet elkeen van ons doen om God se goedkeuring weg te dra om vir ewig op aarde te lewe? Is daar nou op aarde enige blyke dat Koninkryksbewind werklik geslaagd is? Het God ooit gedemonstreer dat hy sulke verbasende dinge vir die mens kan doen, soos die genesing van siekes, die opwekking van die dode of die vereniging van mense van verskillende rasse en nasionaliteite in ware harmonie en liefde? En sal daar ’n probleem met oorbevolking wees wanneer mense vir ewig onder God se koninkryk lewe?

Hierdie en talle ander vrae oor God se koninkryk word in die Bybel beantwoord. Vra gerus een van Jehovah se Getuies om jou te help om te sien waar die Bybel hierdie sake bespreek. Wanneer jy dit doen en jy ’n volledige kennis verkry van die groot seëninge wat daar in die toekoms wag, sal jy verstaan waarom Jesus vir sy volgelinge gesê het: “Soek eers die koninkryk van God en [God se] geregtigheid.”—Matt. 6:33.

    Afrikaanse publikasies (1975-2027)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel