VOLKOME SEËVIEREND DEUR GELOOF
“In al hierdie dinge is ons meer as oorwinnaars deur Hom wat ons liefgehad het.”—Rom. 8:37.
1. Waarom kan ons moeilikheid verwag, veral nou?
JESUS het vir sy dissipels gesê: “As julle van die wêreld was, sou die wêreld sy eiendom liefhê. Maar omdat julle nie van die wêreld is nie, maar Ek julle uit die wêreld uitverkies het, daarom haat die wêreld julle. Onthou die woord wat Ek vir julle gesê het: ’n Dienskneg is nie groter as sy heer nie. As hulle My vervolg het, sal hulle jul ook vervolg” (Joh. 15:19, 20). Gevolglik kan ons moeilikheid verwag, en veral in hierdie tyd van “die voleinding van die wêreld”.—Matt. 24:3, 9.
2. (a) Waarom kan ons vol vertroue wees wanneer ons vervolging verduur? (b) Watter voordele hou sulke volharding in?
2 Ons sal dalk deur vervolging op die proef gestel word, maar God sal, soos nodig, “die krag bo die normale” aan ons gee om te volhard. Ja, ons is “vervolg, maar nie verlate nie; neergewerp, maar nie vernietig nie” (2 Kor. 4:7-9). Hoe dikwels was dit tog die ondervinding van Jehovah se Getuies in hedendaagse tye! En wanneer vervolging verduur word, kan dit ’n uiters voordelige gevolg hê. Dit voeg ’n veerkrag, ’n krag, ’n vertroue, ’n ewewigtigheid by die Christen se geloof wat uit sy hele persoonlikheid straal asof dit sê: ‘Hier is ’n getoetsde, beproefde en getroue kneg van die almagtige God, Jehovah.’ Jesus sê vir ons om ons oor vervolging te verheug. “Salig is die wat vervolg word ter wille van die geregtigheid, want aan hulle behoort die koninkryk van die hemele.”—Matt. 5:10-12.
3. (a) Watter bemoediging gee Petrus ons in verband met vervolging? (Kyk ook 1 Petrus 4:12-14.) (b) Watter beproewinge het Jehovah se Getuies in hedendaagse tye verduur, en met watter gevolg?
3 Die apostel Petrus het die saak so beskou en die volgende geskryf aan Christene “wat in die krag van God bewaar word deur die geloof”: “Daarin verheug julle jul, al word julle nou—as dit nodig is—’n kort tydjie bedroef onder allerhande beproewinge, sodat die beproefdheid van julle geloof, wat baie kosbaarder is as goud wat vergaan maar deur vuur gelouter word, bevind mag word tot lof en eer en heerlikheid by die openbaring van Jesus Christus” (1 Pet. 1:5-7). Jehovah se Getuies van vandag word steeds “bedroef onder allerhande beproewinge”. Hierdie toetse is die gevolg van geskille oor neutraliteit, nasionalisme, afgodiese seremonies, of weens teenstand deur ongelowige familielede, medewerkers of skoliere, en ander. Op watter wonderlike wyse het talle tog hierdie toetse deurstaan! Hulle is “in die krag van God bewaar” terwyl hulle voortbeur met die versekering van ’n gelukkige uitslag en beloning.
4. Watter bemoediging het ons om ‘niks te vrees nie’?
4 Die Here Jesus Christus het gesalfde Christene in Smirna verseker: “Vrees vir niks wat jy sal ly nie. Kyk, die duiwel gaan sommige van julle in die gevangenis werp, sodat julle op die proef gestel kan word; en julle sal tien dae lank verdrukking hê. Wees getrou tot die dood toe, en Ek sal jou die kroon van die lewe gee” (Openb. 2:10). Handhawers van onkreukbaarheid onder die “groot menigte” kan eweneens uitsien na ’n “kroon” van ewige lewe op ’n paradysaarde.—Jak. 1:12.
5. Watter versekering kan ons hê wanneer ons die Duiwel teëstaan?
5 Al het die Duiwel, in sy teenstand teen God se koninkryk, die verskriklike voorkoms van “’n brullende leeu”, hoef ons hom nie te vrees indien ons nugter en waaksaam bly nie. Ons is nie alleen in ons stryd met vervolginge nie. Ons word genooi om al ons bekommernis op Jehovah te werp—‘want hy sorg vir ons’. “Hom [die Duiwel] moet julle teëstaan, standvastig in die geloof, omdat julle weet dat dieselfde lyding opgelê word aan julle broederskap wat in die wêreld is.”—1 Pet. 5:7-9.
“STANDVASTIG IN DIE GELOOF”
6, 7. (a) Hoe toon die handelwyse van ons broers in Suider-Afrika dat hulle ag slaan op die goeie raad van 1 Thessalonicense 5:8, 11? (b) Hoe is Jeremia se profesie vir ons broers vervul?
6 Hoe goed beskryf hierdie woorde tog nie ons broers rondom die aarde wat hul onkreukbaarheid handhaaf nie! Die ‘beproefdheid van hulle geloof’ het ’n helder glans verkry namate hulle met hulle wapens van Christelike oorlogvoering terugveg teen die beproewinge en lyding waarmee die Duiwel hulle aanval. Verslae van-oor die hele aarde dui daarop dat die Duiwel sy teenstand verskerp. Vlamme van vervolging en geweld versprei steeds in Afrika. Uit die suide van daardie vasteland berig een land:
“Ons broers het met baie probleme te kampe gehad. Party is geslaan, ten minste vyf is gedurende die jaar gedood. Koninkryksale is afgebrand en verkondigers verstrooi, party gemeentes ontbind is. Party se lektuur is verbrand, terwyl ander vir hulle lewe moes vlug. Huis-tot-huiswerk is nie langer in party gebiede moontlik nie, hoewel die broers die “goeie nuus” getrou op enige moontlike manier met ander deel. Ten spyte van hierdie toestand bly Jehovah se Getuies standvastig in hulle geloof en gaan hulle voort om diegene te troos wat ontstel is deur wêreldtoestande. Getroue Getuies het manier gevind om te vergader en die ‘goeie nuus’ aan ander te verkondig. Een spesiale pionier het geskryf: ‘Alhoewel die mense die slagspreuk het: “Weg met die kerke en voort met die oorlog”, toon ons broers steeds sterk geloof in Jehovah.’”
7 Terwyl ’n nuwe regering voorberei het om hierdie land oor te neem, is pogings reeds aangewend om die broers te dwing om politieke partykaarte te koop. Maar die verslag het vol vertroue geëindig met hierdie verklaring: “Die geloof en volharding van ons broers bewys bo alle twyfel hoe waar ons jaarteks [vir 1978] is: ‘Hulle sal teen jou veg, maar jou nie oorwin nie; want Ek is met jou, spreek die HERE, om jou uit te red.’—Jer. 1:19.”
8. (a) Watter situasie bestaan naby die grens van Malawi, maar wat het liefdevolle “herders” daaromtrent gedoen? (b) In watter opsig het hulle dus soos die apostels ‘verdra’ wanneer hulle vervolg is?
8 Uit Mosambiek kom die verslag dat ongeveer 12 000 van ons broers uit Malawi gevange gehou word in kampe by die dorp Milange naby die oostelike grens van Malawi, en dat tussen 3 000 en 5 000 van ons Mosambiekse broers ook in kampe in daardie gebied aangehou word. As liefdevolle herders het reisende opsieners voortgegaan met hulle opbouende besoeke aan die gemeentes (1 Pet. 5:2, 3). Maar party van hulle is in hegtenis geneem, deels as gevolg van die verraderlike optrede van uitgesitte afvalliges en opstandige kinders van Getuies, wat maar te gewillig was om verantwoordelike broers aan die Frelimo te verraai. Die verslag sê:
“Twee kringopsieners is in hegtenis geneem en na ‘sentrums vir heropvoeding’ gestuur in ’n poging om hulle met Kommunistiese leerstellings te breinspoel. Een van hulle is onlangs vrygelaat, maar die ander een, wat al baie langer aangehou word, het daarin geslaag om die volgende verslag oor sy ondervindinge te stuur:
“‘Ons is met ons arms sywaarts uitgestrek op ’n paal vasgebind sodat ons na ’n kruis lyk. Nylontou of -koord is gebruik om ons arms styf vas te draai, van die vingerpunte van ons een hand rondom ons liggaam tot by die vingerpunte van die ander hand. Dit is gedoen om ons te dwing om Jehovah se wette te breek. Die gevolg was dat ek en twee ander broers se arms amper heeltemal verlam geraak en tot by ons vingerpunte opgeswel het. Toe hulle my losmaak, was my arms so geswel dat ek niks kon vashou nie. Ek kan nou eers, na 15 dae, weer ’n pen vashou.”
9. Hoe kan ons ons vervolgde broers ondersteun, en met watter versekering? (1 Pet. 5:10, 11).
9 Nadat hy verslag gelewer het oor die broers se toenemende moeilikhede, sluit die kringopsiener sy verslag met hierdie woorde af: “Julle moet asseblief nie vergeet om vir ons te bid nie.” Laat ons dus hierdie getroue broers onthou en ‘onsself inspan in gebede tot God’ vir hulle, vol vertroue dat die groot “Hoorder van die gebed” hulle in sy liefde sal bewaar en hulle las op sy bestemde tyd en manier sal verlig.—Rom. 15:30-32, NW; Ps. 65:3.
10. (a) Hoe het ons broers in die hartjie van Afrika ’n lewende bewys van Filippense 1:27-29 gelewer? (b) Waarom is dit belangrik om voor te berei deur ag te slaan op raad soos dié in Josua 1:8?
10 ’n Land in die hartjie van Afrika stuur hierdie verslag:
“Ten spyte van die verbod het Jehovah ons gedurende die afgelope jaar ryklik geseën. In een dorpie is ’n groep van 41 broers, susters en kindertjies in hegtenis geneem terwyl hulle in ’n private huis vergader het. Die susters en kindertjies is gou vrygelaat, maar die 25 broers is tronkvonnisse van twee tot ses maande opgelê omdat hulle ’n verbode geloof beoefen. Die voorbeeldige gedrag van die broers terwyl hulle uit was as lede van tronkwerkspanne het aan al die plaaslike mense ’n goeie getuienis gelewer oor hoe Bybelwaarhede daaglikse lewens moet raak. Die broers het dikwels weens hulle betroubare gedrag spesiale voorregte gekry; en verskeie owerhede, onder andere die burgemeester van die dorp, het gunstige kommentaar oor hulle gedrag gelewer.
“Die broers in die tronk het die grootste gedeelte van hierdie twee maande glad geen Bybellektuur gehad nie, maar hulle het voortgegaan om ‘mekaar wedersyds te bemoedig’. In elk van die drie selle waarin hulle was, is ’n verskillende broer aangewys om ’n Bybelteks vir elke dag uit te dink. Onder die leiding van die ouere man of bedieningskneg in die groep het elke broer dan kommentaar oor daardie dagteks gelewer. Terwyl hulle as deel van werkspanne gewerk het, het die broers ook talle geleenthede gehad om Koninkryksliedere te sing, want tronkwerkspanne in hierdie land sing dikwels terwyl hulle werk. Die streekopsiener, die enigste een van die 25 broers wat ’n tronkvonnis van ses maande opgelê is, het later verduidelik hoe uiters nuttig dit is om talle Bybelverse en Koninkryksliedere voor so ’n toets van ’n mens se geloof te leer.”
11, 12. (a) Hoe was die toepassing van Hebreërs 10:24, 25 ’n groot hulp om beproewinge van geloof die hoof te bied? (b) Hoe is Psalm 1 van toepassing op ons vervolgde broers?
11 Hierdie land waar die werk verbied is, berig dat daar ’n afname in die aantal Koninkryksverkondigers was wat gerapporteer het, maar ’n toename in die gehalte van hulle diens. Die verslag sê voorts:
“Een ding het baie duidelik geword: Diegene met goeie geestelike gewoontes en ’n innige waardering vir die waarheid het geen probleem om standvastig te bly wanneer toetse kom nie, maar diegene wat tydens ‘gunstige tye’ vergaderinge mis, ongereeld velddiens doen en vergelyke in klein geskille tref, swig dikwels tydens ’n ‘vurige’ toets. Sedert die verbod het die gehalte van studies wat gehou word grootliks verbeter, en talle maak vinnig vordering.
“Ses jong lede van een gesin het na die verbod begin studeer en geen vrees getoon nie, maar vasgestaan ten spyte van kwaai gesinsteenstand. Hulle het uit die staanspoor al die vergaderinge bygewoon en dit het vinnige vordering meegebring. Drie is nou gedoop en ’n ander een berei vir doop voor. Twee ander is besig om hulle huwelike reg te stel sodat hulle ook gedoop kan word. Hulle vertroue op Jehovah en ywer vir persoonlike studie is ’n voorbeeld vir ander in die gemeente.”
12 Hierdie getroues wat in die ban gedoen is, word steeds ryklik geseën terwyl hulle behae skep in die “wet van die HERE”. Dit word toegelig deur ’n brief van gevange Getuies in nog ’n ander Afrikaland waar Jehovah se werk verbied is:
“Ons word hier onverpoosd gemartel. Nege broers is uit ons groep weggeneem en in ’n ander sel geplaas om vyf dae aaneen gestraf te word. Party word snags wakker gemaak en geslaan; en dag na dag lyk dit asof die straf toeneem. Ons kry een maaltyd per dag, as hulle onthou om dit te bring. Daar is talle probleme; maar ons bied hulle ook die hoof. Ons slaag daarin om ons vergaderinge te hou. . . . Groot sorg word aan die dag gelê. . . . Dit is al vir vandag vanaf die 75 broers wat julle groet.”
Ongeag hoe erg die vervolging is, hierdie kosbares kan troos put uit die psalmis se woorde: “Die HERE ken die weg van die regverdiges, maar die weg van die goddelose sal vergaan.”—Ps. 1:1-6.
13. Wat het ons broers in noordoos-Afrika getoon dat hulle vasbeslote is om te doen, ooreenkomstig ander Psalms?
13 Uit noordoos-Afrika kom verslae van arrestasies in drie verskillende lande. In een van hulle was 5 persent van die broers en susters al in die tronk, en party is nog steeds daar. ’n Aantal is gemartel en drie is doodgemaak; luidens berig is twee ander die doodvonnis opgelê. Wagtoringsendelinge is versoek om die Seychelle-eilande te verlaat. In hierdie hele uitgestrekte gebied het die oorgrote meerderheid broers en susters getrou gebly en is hulle vasbeslote om Jehovah hulle vesting te maak terwyl beproewinge voortduur (Ps. 34:8, 9; 84:12, 13; 94:17-23). Party is in staat om voort te gaan in voltydse predikingswerk, en hulle sê almal dat hulle die gebede waardeer wat die wêreldwye broederskap vir hulle doen.
14. (a) Watter wonderlike verslag kom uit ’n ander land waar die werk verbied is? (b) Aan watter Skriftuurlike voorbeelde herinner die geloof van hierdie broers ons? (Hand. 4:18, 19; 5:28, 29; 8:1b, 4).
14 Kom ons wend nou ons aandag na ’n land op ’n ander vasteland waar die broers wonderlike getrouheid tydens ’n verbod aan die dag lê. ’n Onlangse verslag lui:
“Die feit dat ons broers nie gaan ophou om die goeie nuus van die Koninkryk te verkondig nie, blyk uit vanjaar se vermeerdering. Ons het amper die hoogtepunt bereik wat voor die verbod bereik is. Talle nuwelinge kom in die organisasie in, en 1 788 nuwe persone is [in net twee jaar] sedert die verbod gedoop. Daar is gemeentes wat ’n vermeerdering van meer as 100 persent gedurende hierdie tydperk gehad het. Die gevaar van arrestasie skrik die broers nie af nie.
“Toe die werk verbied is, het [een] gemeente 17 verkondigers gehad; nou rapporteer hulle 48. Tien mense is vanjaar gedoop; 11 verkondigers het hulppionierdiens gedoen, onder andere die enigste twee ouere manne in die gemeente. Vier van die broers is in hegtenis geneem en 14 dae lank in afsonderlike selle aangehou, maar dit het nie hulle voortreflike aktiwiteit en ywer vir Jehovah se diens beïnvloed nie. Die gees van hierdie broers en talle ander in die land herinner ons aan Paulus se ywer vir die ‘goeie nuus’.—2 Kor. 4:7, 16-18.”
En herinner dit ons nie ook aan die aktiwiteit en ywer van die pasgestigte Christengemeente wat in Handelinge hoofstukke 4 tot 8 beskryf is nie?
15. (a) Hoe moet ons op hierdie verslae reageer? (b) Watter rol speel gebed hierin?
15 Soortgelyke verslae kom uit talle ander lande rondom die aarde waar Jehovah se Getuies uithou ten spyte van beperkings en verbooie. Hoe moet ons op sulke verslae reageer? Hulle is, om maar een ding te meld, ’n duidelike bewys dat ons nou in “die einde van die dae” is, dat ons in die allerdringendste tyd lewe en dat ons ons moet omgord om ‘vas te staan’ tydens beproewinge van geloof (Jes. 2:2; Ef. 6:14). En net soos ons vurig bid dat Jehovah sy hand van bewaring moet hou oor ons broers wat nou vervolg word, moet ons bid dat ons hemelse Vader ons, ons gesinne en ons gemeentes—ja, al die nuwelinge wat nou ’n kennis van die waarheid verkry—van elke valstrik van “die Bose” sal verlos.—1 Thess. 1:2; Matt. 6:13.
16. (a) Watter rol het onkreukbaarheid gespeel by pogings om deur geloof te seëvier? (b) Watter ander gety dreig om God se volk te verswelg? (Vergelyk Lukas 8:14.)
16 Jehovah, die groot Hoorder van die gebed, het ons broers in oostelike Europa, in die Ooste, in Afrika en in Latyns-Amerika versterk om die oorwinning te behaal oor die gety bittere vervolging wat steeds soveel dele van die wêreld oorspoel. Die ‘beproefdheid van hulle geloof het volharding in hulle bewerk’, en as handhawers van onkreukbaarheid het hulle bewys dat die Duiwel ’n leuenaar is. (Vergelyk Job 1:9-12; 2:9, 10; 27:5; Jakobus 5:10, 11.) Maar daar is ’n ander soort gety—’n subtieler een—wat oor ander dele van die aarde, veral oor welvarender lande, spoel. Dit is ’n wêreldlike gety, met sy klem op materiële wins, op genot en ontspanning, op onsedelikheid en op die uitlewing van ’n mens se begeertes. Ongelukkig het hierdie Sataniese gety oënskynlik meer van God se volk verswelg as wat deur regstreekse vervolging verswelg is!
17. (a) Van watter dringendheid moet ons bewus bly, en waarom? (Vergelyk Mattheüs 24:36-39.) (b) Hoe kan ons die voorbeeld van ons gevange broers volg waar dit kom by die verstandige gebruik van vrye tyd? (Ef. 5:15, 16).
17 Ons moet wakker bly vir die dringendheid van hierdie “swaar tye”, vir die feit dat ons inderdaad tydens die “laaste dae” van hierdie goddelose stelsel lewe (2 Tim. 3:1-5, 13). Terwyl jy hierdie woorde lees, sit honderde van jou Christenbroers rondom die aarde in die tronk. Hulle enigste ontspanning, indien enige, is ’n wandeling in die vaal binnehof van ’n tronk, met moontlik ’n kort geleentheid om ’n woordjie oor God se koninkryk te spreek. Wat ’n aansporing is dit tog vir ons wat groter vryheid het om ’n groot deel van ons vrye tyd te gebruik om te doen wat hulle maar te graag sou wou doen—om vryelik “hierdie goeie nuus van die koninkryk” aan ander te verkondig! Die van ons wat in welvarende lande woon, sal beslis nooit wil toelaat dat die wêreld ons “sag maak” tot die punt waar ons gereeld naweke aan genot bestee, weg van ons gemeente en God se diens af nie! Dit is nie sonder rede nie dat die verslag van Jesus se groot profesie oor die einde van die stelsel van dinge sluit met ’n waarskuwing—nie teen die gevare van vervolging nie, maar—teen die gevare van diegene wie se harte “beswaar” word deur wêreldlike genietinge.—Luk. 21:34-36.
18. (a) Watter situasie nader ons klaarblyklik vinnig? (2 Thess. 1:6-8). (b) Met watter versekering kan ons Jesus se vraag in Lukas 18:8 beantwoord?
18 Onthou, “die dag van die Here kom net soos ’n dief in die nag. Want wanneer hulle sê: Vrede en veiligheid—dan oorval ’n skielike verderf hulle” (1 Thess. 5:2, 3). Dit is duidelik dat die wêreldse nasies daardie situasie vinnig nader. Namate vervolging al hoe meer van Jehovah se volk dwarsoor die aarde raak, word ons ook gedwing om die vraag te stel wat die Meester eenkeer gestel het: “Sal God dan nie reg doen aan sy uitverkorenes wat dag en nag tot Hom roep nie?” Jesus het die antwoord verstrek: “Ek sê vir julle dat Hy gou aan hulle reg sal doen.” Glo jy dat dit so sal wees? Jy behoort, want dit is in hierdie verband dat Jesus sê: “As die Seun van die mens kom, sal Hy wel die geloof op die aarde vind?”—Luk. 18:7, 8.
19. (a) Wat moet ons vaste voorneme wees wanneer ons teenstand ondervind? (b) Wat sal die gevolg wees indien ons onwrikbare geloof aan die dag lê?
19 Laat ons dan vasbeslote wees om vas te staan in hierdie geloof, ja, met die vaste voorneme om ‘in een gees vas te staan en een van siel saam te stry vir die geloof van die evangelie, terwyl ons ons in geen opsig deur ons teenstanders laat afskrik nie’ (Filip. 1:27, 28). Daar ons weet dat ons Jehovah aan ons kant het en deur hom gesteun word, kan ons saam met die apostel Paulus sê: “As God vir ons is, wie kan teen ons wees?” Ons kan vasbeslote wees dat niks—hetsy dit ’n gety vervolging of ’n gety materialisme is—“ons sal kan skei van die liefde van God wat daar in Christus Jesus, onse Here, is nie”. Mag ons almal, weens sulke onwrikbare geloof, en aktiwiteit wat op daardie geloof gebaseer is, ‘meer as oorwinnaars wees deur Hom wat ons liefgehad het’.—Rom. 8:31-39.
[Tabel op bladsye 16-20]
WÊRELDRAPPORT VAN JEHOVAH SE GETUIES VIR DIE 1978-DIENSJAAR
(See bound volume)
[Prent op bladsy 22]
Nòg vervolging nòg ’n materialistiese wêreld kan die seëvierende geloof van God se getuies verswelg