Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w79 3/15 bl. 9-14
  • Gaan voort om ‘vas te staan in die geloof’

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Gaan voort om ‘vas te staan in die geloof’
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1979
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • ’N TYD OM ‘VAS TE STAAN’
  • DIE PLAAG VAN ONSEDELIKHEID
  • VLUG VIR ‘DIE NAJAGING VAN RYKDOM’
  • BIED ’N UITDAGING DIE HOOF
  • Byeenkomste om seëvierende geloof te bevorder
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1979
  • Hoe seëvierende geloof jou kan beïnvloed
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1979
  • Beoefen geloof in Jehovah se beloftes
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe)—2016
  • “Kom my te hulp waar ek in geloof te kort skiet!”
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1991
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1979
w79 3/15 bl. 9-14

Gaan voort om ‘vas te staan in die geloof’

“Waak, staan [vas] in die geloof.”—1 Kor. 16:13, vgl. NW.

1. (a) Wat is die boodskap wat oorgedra is deur die “Seevierende Geloof ”-Byeenkomste? (b) Watter soort geloof het Jesus voorgestaan?

SEËVIERENDE geloof gedy op aarde! Dit is die boodskap wat oorgedra is deur die “Seëvierende Geloof”- Internasionale Byeenkomste van Jehovah se Getuies wat verlede jaar rondom die aarde gehou is. Vir Jehovah se Getuies is geloof nie iets wat bloot bely moet word nie. Dit moet eerder lewend en bedrywig wees en gepaard gaan met werke. Jesus het die vrug daarvan in sy Bergpredikasie beskryf: “Laat julle lig só skyn voor die mense, dat hulle julle goeie werke kan sien en julle Vader wat in die hemele is, verheerlik.” En tydens sy laaste, belangrike aand saam met sy intieme metgeselle, het hy vir hulle gesê: “Hierin word my Vader verheerlik, dat julle veel vrug bly dra en toon dat julle my dissipels is.”—Matt. 5:16; Joh. 15:8, NW.

2. Wat toon dat geloof die “deel” van Jehovah se Getuies is?

2 In hierdie moeilike tye is dit waar dat ‘geloof nie die deel van almal is nie’ (2 Thess. 3:2). Maar dit is beslis die deel van Jehovah se Christengetuies. Dit is ons lewende geloof wat ons aandryf om steeds die “goeie nuus” in die openbaar in velddiens te verkondig. Wat ’n wonderlike getuienis is tog só op die derde dag van die internasionale byeenkomste gegee! Dit is hierdie selfde geloof wat ons versterk om aan te hou om die getuienis te gee, selfs in die moeilikste gebiede, en om vas te staan tydens bittere beproewinge en vervolging. Dit stel ons selfs in staat om ons te verheug tydens beproewinge, terwyl ons met groot afwagting uitsien na die openbaring van Jesus Christus in Koninkryksheerlikheid.—1 Pet. 4:12, 13.

3. (a) Waarom kan daar gesê word dat ons geloof iets wesenliks is? (b) Hoe moet geloof oues sowel as nuwes stimuleer?

3 Ons geloof is iets wesenliks. Dit is stewig gegrond op die Here Jesus Christus, die Hoof van die Christengemeente, waarvan die lede in eenheid met hom dien. Dit is aan hulle dat die apostel Paulus die vermaning rig: “Soos julle dan Christus Jesus, die Here, aangeneem het, wandel so in Hom, gewortel en opgebou in Hom en bevestig in die geloof, soos julle geleer is, terwyl julle daarin oorvloedig is in danksegging” (Kol. 2:6, 7). En terwyl persone wat al lank in die waarheid is, voortgaan om in hierdie seëvierende geloof te wandel, is dit ons bede dat ook nuwelinge, onder andere diegene wat onlangs gedoop is, gevestig sal raak in die geloof, ja, oorvloedig sal wees in geloof. Dit is geloof wat ons almal stimuleer om “openbare belydenis tot redding” te doen deur vir ander van die goeie nuus te vertel.—Rom. 10:10, NW.

4. (a) Watter verband bestaan daar tussen geloof en gedrag? (b) Wat het aanleiding gegee tot die verklaring: “Julle gedrag is julle beste preek”?

4 Hierdie geloof spoor Christene ook tot goeie gedrag aan, iets wat die kosbare naam van Jehovah onse God in ’n gunstige lig stel (1 Pet. 2:12). Gedurende die “Seëvierende Geloof’-Byeenkoms het Montreal se “La Presse” van 8 Julie hierdie pertinente kommentaar oor Jehovah se Getuies aangehaal:

“Hulle het merkwaardige sedelike standaarde . . . op ’n persoonlike vlak, is voorstanders van gesinswaardes en teenstanders van egskeiding en aborsie. Hulle is baie besorg oor die godsdiensonderrig van hulle kinders.”a

Voorbeeldige gedrag, wat gebaseer is op hierdie waardering van sedelike waardes, was duidelik by hierdie byeenkomste te sien. Daar is gehoor hoedat ’n professor uit Rusland, wat as ’n joernalis werk, by die Münchense byeenkoms van Jehovah se Getuies gesê het: “Julle gedrag is julle beste preek.” En in dieselfde stad het die “Münchner Merkur” van 25 Julie 1978 gesê:

“Hulle is die eerlikste en pliggetrouste belastingbetalers in die Bondsrepubliek. Hulle gehoorsaamheid aan die wette blyk uit die wyse waarop hulle bestuur asook uit misdaadstatistiek. . . . Hulle gehoorsaam diegene met gesag (ouers, onderwysers, regering). . . . Die Bybel, die grondslag vir al hulle dade, is hulle steun. . . . Maar niemand moet dink dat Jehovah se Getuies dagdromers of geveinsdes is nie. Tydens ’n reuseskoonmaakkampanje het hulle al die sitplekke en toilette in die [Olimpiese] stadion binne drie uur skoongemaak. Die kampeerterrein het gelyk asof dit ‘skoongelek’ is. Hulle is realiste wat elke situasie vrywillig bemeester—want dit is wat die Bybel verlang.”

5. Hoe was Mattheus 7:16 van toepassing op Jehovah se Getuies toe hulle vergader het?

5 Soortgelyke betuigings is rondom die wêreld gehoor. Die “Corriere della Sera” van Milaan, Italië, het in sy uitgawe van 7 Augustus 1978 selfs van ’n teenstelling gepraat:

“Hulle word gerugsteun deur ’n organisasie wat so volmaak is dat hulle deur alle ander organisasies beny word. . . . Wat kan ’n mens nog oor hierdie Jehovahsgetuies sê? Hulle het getoon dat hulle ’n goedgemanierde, beskaafde volk is, dermate dat hulle gedrag amper lyk soos ’n bestrawwing van die onbeskaafdheid wat soms deur sekere Katolieke groepe aan die dag gelê word.”

Het Jesus dan nie gesê nie: “Aan hulle vrugte sal julle hulle ken”?—Matt. 7:16.

6. Hoe het die Getuies gedurende onlangse maande ’n besondere voorbeeld van ware Christelikheid geword?

6 Dit is grootliks weens die groot opkomste by hierdie byeenkomste dat die Getuies se goeie gedrag so skerp onder die wêreld se aandag gebring is. In die drie lande wat hierbo gemeld word, het ’n totaal van 140 590 in Montreal, Winnipeg, Vancouver en Edmonton vergader, 108 901 in München en Dusseldorp, en 111 320 in Milaan en Rome. Die totale opkoms vir die 68 internasionale byeenkomste wat teen September 1978 gehou is, was meer as 1 700 000. Die Christelike persoonlikhede van hierdie knegte van Jehovah is tot so ’n mate rondom die wêreld aan die dag gelê dat dit hulle ’n besondere voorbeeld van ware Christelikheid gemaak het.

’N TYD OM ‘VAS TE STAAN’

7. Waarom sal beproewinge van geloof gewis in die toekoms toeneem?

7 Beproewinge van ons geloof sal beslis toeneem in die dae wat voorlê. En waarom? Omdat die Duiwel ‘neergewerp is op die aarde’ sedert die geboorte van “die koninkryk van onse God en die gesag van sy Christus” in 1914 G.J. Hy weet dat hy “min tyd” oor het. Gevolglik neem sy toorn toe teenoor daardie knegte van Jehovah op aarde “wat die gebooie van God bewaar en die getuienis van Jesus Christus hou”—die magtige, gekroonde Koning wat hom nou voorberei om Jehovah se soewereiniteit eens en vir altyd te verdedig (Openb. 12:9-12, 17, vgl. NW). Die groot teenstander skep probleme en spanning in die wêreld, veral met die doel om hierdie “getuienis” te laat afneem of selfs te beëindig. As getuies vir God en Christus is ons in ’n ware stryd gewikkel—teen onsigbare vyande wat daarop uit is om ons geloof en werk te vernietig.

8. Hoe kan ons nou in ons geloof staande bly?

8 Dit is nie nou die tyd om passief of onverskillig te wees nie. Die apostel Paulus vermaan: “[Bly staande] teen die liste van die duiwel. . . . neem die volle wapenrusting van God op, sodat julle . . . staande kan bly. Staan dan vas, . . . Behalwe dit alles neem die skild van die geloof op waarmee julle al die vurige pyle van die Bose sal kan uitblus” (Ef. 6:11-16). Die Duiwel kan te enige tyd en uit talle verskillende rigtings aanval. Wat is party van sy metodes?

DIE PLAAG VAN ONSEDELIKHEID

9. (a) Watter verderwende invloed het die Duiwel dwarsdeur die geskiedenis gebruik? (b) Watter raad gee Judas dus aan Christene?

9 Vroeg tydens die mens se geskiedenis het die Duiwel al onsedelikheid gebruik as ’n metode om mense te verlei (Gen. 6:2-5; 18:20; Num. 25:1-3). Geslagtelike verdorwenheid het hoogty gevier tydens vroeë Christelike tye, en dit het selfs ’n groot bedreiging vir die reinheid van die gemeente ingehou. Gevolglik is Jesus se halfbroer Judas, wat graag ’n bemoedigende brief aan sy Christenbroers wou skryf oor hulle gemeenskaplike saligheid, gedwing om hulle eerder te vermaan “om kragtig te stry vir die geloof wat eenmaal aan die heiliges oorgelewer is”. Goddelose manne, met hulle losbandige gedrag, het die gemeente binnegesypel. Hulle was soos die engele wat voor die Vloed gesondig het, die liederlike bewoners van Sodom en Gomorra en die Israeliete wat deur die onsedelike dogters lei is. Hulle het die vlees verontreinig en dierlike invloede onder God se volk ingebring. Judas het Christene met skoon verstande vermaan: “Julle geliefdes, moet julleself opbou in jul allerheiligste geloof en in die Heilige Gees bid en julleself in die liefde van God bewaar, terwyl julle die barmhartigheid van onse Here Jesus Christus tot die ewige lewe verwag.”—Jud. 3-7, 19-21.

10, 11. (a) Waarom is die vermaning in Efesiërs 5:3-5 so belangrik vir Christene? (b) Op watter waarskuwing in verband met “die vrou Isebel” moet ons ag slaan, en waarom?

10 Dit is slegs deur aldus “kragtig te stry vir die geloof” dat ons kan hoop om vry te bly van besoedeling deur wêreldlike “onreinheid” (Ef. 5:3-5). In sy boodskap aan die gemeente in Thiatire sê Jesus, “die Seun van God”: “Ek ken jou werke en liefde en diens en geloof en jou lydsaamheid en jou werke, en dat die laaste meer is as die eerste. Maar Ek het enkele dinge teen jou: dat jy die vrou Isebel, wat haarself ’n profetes noem, toelaat om te leer en my diensknegte te verlei om te hoereer en afgodsoffers te eet. En Ek het haar tyd gegee om haar van haar hoerery te bekeer, en sy het haar nie bekeer nie.”—Openb. 2:19-21.

11 Die voorchristelike afgodaanbiddende Isebel, die vrou van koning Agab van Israel, was berug vir haar onsedelikheid. Toe haar seun Joram vir die gesalfde koning Jehu gevra het of hy in vrede met die huis van Agab verkeer, het hy geantwoord: “Wat? Vrede, so lank as die hoererye van jou moeder Isebel en haar towerye so baie is?” En nadat hy ontslae geraak het van koning Joram en Ahasia (van Juda), het Jehu Isebel, 70 seuns van Agab en almal wat van sy huis oorgebly het, asook alle beoefenaars van die onsedelike Baälgeloof tereggestel (2 Kon. 9:22-10:28). Mag ons vandag op hierdie waarskuwende voorbeeld ag slaan sodat ons nie die weg van geregtigheid verlaat om “die dieptes van die Satan” te deurvors nie.—Openb. 2:24.

VLUG VIR ‘DIE NAJAGING VAN RYKDOM’

12. Wat is “die liefde vir geld”, en waarom moet dit vermy word?

12 Daar is ander vorme van druk wat die Duiwel op Jehovah se getroue knegte uitoefen, almal met die doel om ons van God se koninkryk en sy geregtigheid af weg te lei (Matt. 6:33). Die apostel Paulus het gewaarsku teen die subtiele invloed wat “geldgierigheid” of “die liefde vir geld” kan hê om ’n persoon van die geloof afvallig te maak. Hierdie “liefde” kan ’n groot gebied dek, nie net geld self nie, maar al die materiële rykdom, genietinge en verstrikkings wat geld kan koop. Hierdie “liefde vir geld” kan tydrowend word, die alledaagse lewe ingewikkeld maak en dit vernietigend op Christelike geloof laat inwerk. Gevolglik kan ’n persoon “met baie smarte deurboor” word.—1 Tim. 6:10, vgl. NW.

13. Hoe kan jongmense, sowel as ouer persone, daarin slaag om ‘die goeie stryd van die geloof te stry’?

13 Die apostel Paulus het jong Timotheüs vermaan om sy oog gevestig te hou op ’n geestelik lonende doel in die lewe eerder as om rykdom na te streef: “Maar jy, man van God, vlug van hierdie dinge weg, en jaag ná die geregtigheid, godsaligheid, geloof, liefde, lydsaamheid, sagmoedigheid. Stry die goeie stryd van die geloof, gryp na die ewige lewe, waartoe jy ook geroep is en die goeie belydenis voor baie getuies afgelê het” (1 Tim. 6:11, 12). Deur op Jehovah te vertrou kan julle jongmense vandag eweneens daarin slaag om ‘daardie goeie stryd van die geloof te stry’. En so ook julle wat ouer is!

14. (a) Wat is twee maniere waarop ons ‘vir die geloof moet stry’? (b) Hoe staaf Hebreërs 13:4-6 dit?

14 Dit is opmerkenswaardig dat die Skrif ons vermaan om hierdie stryd van die geloof op die gebied van onsedelikheid en geldgierigheid te stry. In albei gevalle is dit sterk geloof, en ’n stewige greep op ons geloof, wat ons die versoekings van die Duiwel met welslae sal laat weerstaan. In Hebreërs 13:4-6 vermaan Paulus in dieselfde trant: “Laat die huwelik in alle opsigte eerbaar wees en die bed onbesmet; want God sal hoereerders en egbrekers oordeel. Julle gedrag moet vry van geldgierigheid wees. Wees tevrede met wat julle het, want Hy het gesê: Ek sal jou nooit begewe en jou nooit verlaat nie. Daarom kan ons met alle vrymoedigheid sê: Die Here is vir my ’n Helper, en ek sal nie vrees nie; wat sal ’n mens aan my doen?” Laat ons, vol vertroue op Jehovah se hulp, vasbeslote wees om die goeie stryd van die geloof reg tot by die einde van hierdie goddelose stelsel te stry!

BIED ’N UITDAGING DIE HOOF

15, 16. (a) Watter stimulus het die byeenkomste voorsien? (b) Watter bemoediging moet ons uit Galasiërs 6:9, 10 put, veral in die lig van verlede jaar se Gedenkmaalopkoms?

15 Die “Seëvierende Geloof”- Internasionale Byeenkomste van Jehovah se Getuies was ’n mylpaal in die vooruitgang van God se volk op aarde. Dit het ’n nodige stimulus voorsien. Die afgelope paar jaar was ’n tyd van heraanpassing. Talle van ons het gehoop dat ons reeds die voleinding van hierdie goddelose stelsel van dinge sou gesien het. Ons het weliswaar die grootste heraanpassing in die administratiewe organisasie van Jehovah se Getuies gesien, maar die “bose wêreld” het nog nie geëindig nie. Jehovah het klaarblyklik steeds ’n werk vir ons. “Laat ons nie moeg word om goed te doen nie, want op die regte tyd sal ons maai as ons nie verslap nie. Laat ons dan, terwyl ons geleentheid het, aan almal goed doen, maar die meeste aan die huisgenote van die geloof.”—Gal. 6:9, 10.

16 Gemeentelike ouere manne, gesinshoofde en ander span hulself steeds op uiters prysenswaardige wyse in om ‘goed te doen aan die huisgenote van die geloof’, en die goeie vrug hiervan is te sien in die band van liefde en toegeneentheid wat Jehovah se volk dwarsoor die aarde so sterk verenig. Dit kenmerk hulle as Jesus se dissipels (Joh. 13:34, 35). Hierdie wonderlike eenheid in die geloof is iets wat nie met syfers in ’n rapport gemeet kan word nie. Maar die uitstekende opkoms van 5 095 831 by die viering van die Here se Aandmaal op 23 Maart 1978 oor die hele aarde dui daarop dat daar miljoene persone is wat nog nie aan Jehovah toegewy is nie maar wat baie daarin belangstel om met God se volk te assosieer Mag hulle almal ook gehelp word om oorwinnaars deur geloof te word!

17. Hoe word Haggai 2:7 en Sagaria 8:23 steeds vandag vervul?

17 Dat hierdie nuwelinge, “die skatte van al die nasies”, nog steeds inkom, word getoon deur die feit dat 18 754 persone gedoop is by die “Seëvierende Geloof”-Byeenkomste wat reeds gehou is (Hag. 2:7). Die tabel op bladsye 16 tot 19 toon dat 95 052 nuwe Getuies rondom die aarde gedoop is gedurende die 12 maande wat in Augustus 1978 geëindig het. Ons verheug ons oor die feit dat hierdie kosbares “uit al die tale van die nasies” hulle by die gesalfde oorblyfsel in Jehovah se diens voeg en “sê: Ons wil met julle saamgaan, want ons het gehoor dat God met julle is”—Sag. 8:23

18. (a) Hoe gaan die oorgrote meerderheid voort om geloof te toon? (b) Watter Skriftuurlike waarskuwings is dringend, soos toegelig deur die tabel?

18 Hierdie tabel toon egter iets anders: Dat party gedoopte knegte van God minder begin doen het. Die oorgrote meerderheid toon steeds seëvierende geloof. In ’n aantal lande neem die aantal wat voltydse pionierdiens begin doen toe, en daar was weer eens ’n hoogtepunt van meer as tweemiljoen persone wat velddiens gedoen het. Maar dit wil voorkom of ’n aansienlike persentasie geswig het voor die druk wat die Duiwel en sy stelsel op hulle uitoefen. Wêreldlike onsedelikheid, die najaging van genot en van bedrieglike rykdom, en ’n versuim om bewus te bly van die dringendheid van die tye—al hierdie dinge het hulle tol geëis ten spyte van die duidelike Skriftuurlike waarskuwings teen sulke valstrikke (Luk. 17:26-30; 1 Joh. 2:15-17). Dit is voorwaar die tyd der tye vir ons om te ‘waak en in die geloof vas te staan’.—1 Kor. 16:13.

[Voetnoot]

a Uit “L’Eglise de Montreal”, die weekblad van die Katolieke aartsbisdom van Montreal, Kanada.

[Prent op bladsy 13]

Onsedelikheid en “die liefde vir geld” is twee belangrike metodes wat die Duiwel gebruik om Christelike geloof in hierdie laaste dae af te takel

    Afrikaanse publikasies (1975-2027)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel